SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Millennium

Lodewyk Brümmer

’N BREINSTOLLENDE GEDAGTE
Mense het vroeër “vandeeseeu” vooruit verwys na spesifieke toekomstige jare van hierdie huidige eeu. Hulle het byvoorbeeld gesê: “In 1982 gaan ek aftree.” “In 1992 sal my polis uitbetaal word.” “My huis sal afbetaal wees in 1995.”
    Maar nóú praat mense baie keer slegs vaagweg van “in 2000” of selfs verkeerdelik, “ná 2000”. En dít hier kort voor die begin van die nuwe eeu! So asof daardie middernag van 31 Desember 1999 ’n afsnypunt, ’n einde, is.
    Die sekerheid van voortbestaan het verflou.
    Die toekoms wêreldwyd het onseker geword, ook hier in Suid-Afrika waar dit nodig geword het dat ekonome voortdurend mekaar oor en weer probeer verseker dat die huidige ekonomiese probleme opgelos sál word, waar politici voortdurend ’n beter toekoms belowe — hier in Suid-Afrika, die land wat derde van onder is op die ranglys van Afrikalande wat betref korrupsie, die land met een van die hoogste algemene misdaadsyfers in die wêreld, die land wat een van die laagste op die ranglys is wat produksie betref, en terselfdertyd een van die hoogste werkloosheidsyfers in die wêreld het.
    Suid-Afrika, waar ’n vrou gemiddeld elke 26 sekondes verkrag word, 30 moorde per dag gepleeg word, en een uit sewe mense reeds MIV-positief is — met ’n besmettings-toename van 1 600 tot 1 700 elke dag. In Suid-Afrika, wat een van die hoogste egskeidingsyfers ter wêreld het, eindig amper twee derdes van huwelike tussen blankes in die egskeidingshof en sulke huwelike hou gemiddeld net sewe jaar lank.
    Die hele gedoente óm 2000 is eintlik maar net ’n simptoom van ’n onrustigheid — selfs ’n vrees — wat die mens het vir die toekoms. Die oorgang na die een-en-twintigste eeu het ’n fokuspunt in die tyd geword vir daardie vrees: die mensdom het nog nooit voorheen soveel gewag gemaak van die oorgang van een eeu na ’n volgende nie.
    Ander simptome van die vrees as die simptome wat spesifiek in Suid-Afrika sigbaar geword het, is die toenemende wêreldwye onvermoë om gelukkige mense-verhoudings te handhaaf, ’n toename van siektes soos depressie en jappiegriep, die toename in die gebruik van kalmeermiddels, slaapmiddels, alkohol en tabak en ander dwelms. Groepe mense neig om laer te trek en dring oral aan op die erkenning van hulle eie etniese identiteit en selfs die onafhanklikheid van ’n eie grondgebied. Die aandelemarkte die wêreld oor het skielik ongewone op- en afbewegings begin uitvoer. Daar is ’n wêreldwye rusteloosheid en onrustigheid en ’n wantroue in instellings soos die staat, die kerk en wat hy verkondig, opvoedkundige instellings, die huwelik en enige vorm van ordening.
    Daar is natuurlik die hardgebaktes wat hulle vrees vir die toekoms baie goed onderdruk en sê dat die “2000”-sindroom maar net bygeloof is. Maar die hardgebaktes glo óf in niks nie en het dus in elk geval geen hoop op die toekoms nie, óf so nie is hulle “wetenskaplikes” wat hulle hoop gevestig het op daadwerklike optrede, want hulle weet op objektiewe gronde dat die aarde en die aardbevolking op ’n ramp afstuur as daar nie drastiese veranderinge intree nie. Mense wat, aan die ander kant, in enigeen van die erkende godsdiensstelsels glo, het geen ander keuse nie as om te aanvaar dat die voorspelling van verdoemenis in hul geloofstruktuur vervat is. Die Bybel voorspel dit, so ook die Hindoes se Veda, en Islam se Koran.
    Geen wonder nie dat mense se denke — soos wat die “gedagtes” van baie rekenaars gaan doen — stol op “2000” ... die “Millennium”.
    Dit lyk asof ons verwagtinge van die toekoms — en selfs dát daar ’n toekoms sal wees — afgeneem het. Een van die treffendste manifestasies van hierdie “stolling op 2000” is juis die feit dat biljoene rekenaars vervaardig — en gekóóp is! — wat slegs tot 31 Desember 1999 geprogrammeer is. Ons het so ’n groot deel van ons bestaan toevertrou aan daardie blikbrein agter sy flikkerende plastiekskermpie met al die pragtige, kleurvolle beeldjies en beloftetjies, wat ons kantore en ons huise volstaan ... ons het toegelaat dat hy sy mag oor ons wêreld só uitbrei dat hy chaos sou kon veroorsaak as hy nie ná 1 Januarie 2000 kan “dink” nie. Mense kan rekeninge ontvang wat skielik rente aantoon vir honderde jare, of ’n asembenemende oorbetaling; die outomatiese loodseenhede in vliegtuie kan dalk staak of heeltemal irrasionele opdragte aan die vliegbeheermeganismes van vliegtuie gee, elektrisiteitstoevoere, sirenes, en harteenhede en voedingseenhede kan dalk berserk raak met ’n onbedaarlike geflits en ’n geloei, ’n fibrillering en ’n gewurg. Motors met gerekenariseerde veiligheidstelsels kan weier om aangeskakel te word, of erger nog, skielik in hulle vier spore vassteek in die woedend toeterende verkeer op hoofpaaie ... waar die beligting pikdonkernag afgeskakel is, of wild skisofrenies flits. Broodroosters kan elke sny brood wat haastig vroegoggend 1 Januarie 2000 ingesit word, ongerooster uitspoeg — of verbete die brood verby verkool vasbyt.
    Verskeie lugrederye het reeds ’n besluit geneem om nie ’n vlerk in die lug in te steek in die ure — of dae selfs — wanneer hierdie eeu eindig en 2000 begin nie!
    ’n Span bestaande uit Amerikaanse en Russiese rekenaarkundiges het nou in Colorado byeengekom om te probeer verseker dat daardie twee lande se kernmissiele nie per ongeluk oor en weer afgevuur word op 1 Januarie 2000 nie.
    Hoekom het ons tot onlangs toe nooit eens daaraan gedink dat baie rekenaars slegs tot die einde van hierdie eeu geprogrammeer is nie? Hoekom het ons nie aangedring op rekenaars wat ook in 2000 sal kan “dink” nie? Het die vervaardigers van die biljoene rekenaars dan gedink dat die tyd sal ophou bestaan ná 31 Desember 1999?
    Hoekom het ons in so ’n groot mate ons toekoms toevertrou aan so ’n invloedryke versamelinkie van mikroskyfies en elektriese stroompies wat reken dat die tyd gaan ophou bestaan om 24:00 op 31 Desember 1999?
    En verder: ons het — gereken in terme van die eeue — nog slegs ’n paar dae oor voor die datum waarop talle rekenaars gaan ophou om logies te dink. Dit het alreeds biljoene gekos, en sal nog biljoene kos om al ons rekenaars te verander sodat alle mense kan reken op hulle rekenaars se voortrekening vanaf 12:00 op 31 Desember 1999. Daar word aanmekaar links en regs verklarings uitgereik oor rekenaarstelsels wat “Y2K-gereed” is — en net soveel onheilspellende waarskuwings dat dit nie so is nie. Die ding kom net nie rég nie, sodat ons vir seker kan weet dat alle rekenaars gereed is vir die jaar 2000. Hierdie onberekenbare gesukkel met die onrekenlike rekenaars laat dit lyk asof baie mense se ondernemingsgees met die koms van 2000 verlam geraak het, en daarmee saam hulle geloof en vertroue in die toekoms. Hulle kan net nie tot by daardie punt kom waar hulle kan glo dat die wêreld gereed is vir die nuwe eeu en dat die lewe sal voortgaan met reëlmaat en in veiligheid nie.
    Daar is ’n traagheid by die mens en sy masjiene om logies te dink aan die tyd ná 31 Desember 1999, asof ... amper asof die tyd daarna nie meer gaan bestaan nie.
    Daar is aan die een kant fantaserende boeke en rolprente wat aan die woord “millennium”, wat eintlik maar net “eenduisend” beteken, ’n spesiale, selfs mistieke, selfs skrikwekkende of fatalistiese betekenis heg. Sommige mense is besig om blikkieskos, komberse en kerse op te gaar vir ’n moontlike katastrofe. Miljoene rande is reeds deur die buitelandse beleggers onttrek uit die “ontwikkelende lande” soos Suid-Afrika, omdat rekenaarongelukke veral in ontwikkelende lande gevrees word. Mense is besig om derduisende rande uit banke te onttrek en in kontantvorm tuis te berg, net vir ingeval. Finansiële rubrieke adviseer mense om veiligheidshalwe skriftelike bewyse te bekom van hulle aandele, bankstate en alle ander transaksies.
    Israel verwag miljoene toeriste wat glo hulle gaan die Wederkoms daar inwag. Dáár loop bebaarde, langhaar-profete op straat rond en profeteer dat die Einde gaan kom om middernag op 31 Desember 1999.
    Aan die ander kant word reeds voorbereidings getref vir groot feeste in die laaste paar uur van Desember 1999 en die eerste paar uur van 2000.

SKULD WEK VREES
Die onsekerheid oor rekenaarstelsels is maar net één simptoom van ’n oplopende angs en wantroue en onsekerheid oor die toekoms.
    So onberekenbaar is mense se benadering tot die koms van die nuwe eeu dat dit wil voorkom asof mens nie soseer die geluid van die laaste tik van die horlosie van die laaste minuut, middernag op 31 Desember 1999 moet vrees nie, maar wél wat die mensdom gaan aanvang net vóór en net ná daardie laaste tik. ’n Pragtige, doodgewone, ordentlike Afrikaanssprekende vrou in die kafee het vanoggend gesê sy is “gelowig” en dat sy haar nie steur aan die “2000-watsenaam-onsin” nie ... en toe sê sy dat sy “dáárdie nag” baie vonkelwyn gaan drink en dan gaan slááp!
    Die ironie (wat op sigself nog verder verwarrend en vreesaanjaend is) is dat dit nie eens seker is dat 31 Desember van hierdie jaar wél die einde van 2000 jaar ná Christus is nie. Toe die kalender van Pous Gregorius VIII die Romeinse kalender vervang het, het daar onsekerheid ingetree oor presies wanneer die eerste dag van Januarie in die eerste jaar van ons tydsberekening was. Dit kan dus gebeur dat ons gaan vrees en gaan bely en gaan vier en daarna sal voortgaan met die lewe. Ons sal kan juig Niks Het Toe Gebeur Nie. Ons hoop op ’n beter toekoms het weer eens herleef. En dan ... en dan ... dán breek die Nuwe Jaar eers wérklik aan.
    Of miskien breek die Nuwe Jaar aan nog voordat die horlosie sy laaste tik vir 1900 slaan.
    Die oorsprong van vrees vir die toekoms — soos alle vrees — is in daardie gevoel van skuld wat so ingeburger is by sovéél mense. Daardie skuldgevoelens en die vrees is nou, ná nog ’n millennium van menswees, groter as aan die einde van enige vorige jaar, en enige vorige eeu, enige millennium. En wanneer die vrese eers gesak het, sal die verligting en die uitgelatenheid ook nóg groter wees as nog ooit vantevore. Drankvervaardigers verwag ’n wins soos nog nooit vantevore nie. Die grootste bottels bier, vonkelwyn en Franse sjampanje ooit word vervaardig. Daar sal natuurlik méér padongelukke, skietongelukke, aanrandings, selfmoorde, moorde en verkragtings wees as ooit vantevore aan die einde van enige vorige jaar in die mensdom se geskiedenis. En in die middel van Londen staan die geweldige groot gespeekte wiel gereed om honderde mense al in die rondte te swaai — ’n simbool van die kringloop van die eeue. ’n Kringloop wat nooit einde kry nie ... totdat die wiel eendag afgeskakel gaan word.
    Dit gaan ’n wêreldwye fees der feeste afgee: ál die vorige einde-van-die-jaar-feeste gaan kulmineer in ’n gemors der gemorste.

ONS PLUK ONS HARTE UIT
Ingrypende emosionele en geestelike omwentelinge het plaasgevind by die oorgang van elkeen van die millennia waarvan ons rekords het. En die dinge wat dáár gebeur het, het die geskiedenis van die mens, en sy verwagtinge, tot vandag toe ingrypend beïnvloed.
    2000 v.C.
    Daar word deur die antropoloë en geskiedkundiges gereken dat Abraham, die aartsvader van die Joodse volk, ongeveer in die jaar 2000 voor Christus, of net daarná geleef het. — Hoe dit ook al sy, dit was in daardie tyd dat die volk van God uitgeroep is uit die gebied wat ons vandag Irak noem — die Bybelse Chaldeë — om hulle af te sonder vir Hom as Sý volk in die Beloofde Land. Ironies was dit juis die vestiging van die Jode in Israel wat die konflik begin het tussen die Jode en die voorvaders van die moderne aanhangers van Islam: daardie konflik tussen die twee seuns van Abraham, Isak en Ismael, is vandag nog steeds met ons.
    1000 v.C.
    Koning Dawid van Israel het geregeer oor die nuutgevestigde koninkryk van Israel vanaf 1011/1010 tot 1971/1970 vóór Christus. Daar is geen rekord van ’n spesiale viering van die oorgang van die millennium in daardie tyd nie — mense het toe nog nie soos ons vandag ’n fokuspunt in die tyd gehad van waar hulle die duur van die mensheid bereken het nie. Mense was blykbaar toe ook nog nie so begaan oor die verbygaan van die tyd soos ons nie. Maar die uitverkore volk het wél groot rede gehad om die oorgang van 2000 tot 1000 jaar af voor Christus te vier. Want Dawid het in daardie tyd die verenigde koninkryk van Israel in die Beloofde Land gestig en Jerusalem as sy hoofstad daarin gevestig. Onder die koningskap van Dawid het die invloed van die Joodse volk uitgebrei totdat dit die gebied ingesluit het van die noordelike grense van Egipte af tot by die boonste loop van die Eufraat. Bo alles het Dawid in daardie tyd, aan die begin van die eerste duisend jaar voor Christus, die godsdienstige en kulturele raamwerk gevestig van dit wat tot vandag toe nog die aanbiddingserfenis van die ganse Christelike wêreld is. En dit is juis daardie erfenis wat vandag onder druk is soos nog nooit vantevore nie.
    Die jaar 0-1.
    Jesus die Christus is geoffer aan die begin van ons huidige tydstelling, aan die begin van die eerste millennium, en die boodskap van verdoemenis, wat voorheen nog maar vaag was, het toe sterker begin opklink: die Ou-Testamentiese boodskap is bevestig en beklemtoon dat ’n nuwe aarde en ’n nuwe hemel op pad is in ’n nuwe, tydlose bestel.
    Toe Julius Caesar op 15 Maart 44 n.C. — óók aan die begin van die eerste millennium n.C. — in die Romeinse senaat doodgesteek is, was die hele Europa onder Romeinse beheer. Julius Caesar se bloedige loopbaan was die hoogtepunt van die Romeine se onversadigbare, dominerende, patriargale, moorddadige magsuitbreiding waartydens duisende mense deur die Romeinse swaard omgekom het, tydens die oorgang van die millennia.
    Twee van die grootste verwikkelinge in die mens se geskiedenis het dus aan die begin van ons tydstelling plaasgevind: die vestiging van ’n onderdrukkende wêreldryk en die groot, alles insluitende Offerande vir verlossing. Die Imperialistiese denkwyse wat in die Romeinse Ryk sy beslag gekry het, lééf vandag nog voort, terwyl die boodskap van verlossing. van ’n nuwe aarde en ’n nuwe hemel en ’n nie-imperialistiese bestaan nog steeds elke Sondag in Christelike kerke regoor die aardbol gepredik word. Hierdie twee dinge: die belofte van versoening en verlossing, en die bedreiging van oorheersing en onderdrukking, het vir die afgelope tweeduisend jaar in konflik saam met die mensdom geloop. En net ’n uitwissing van daardie onoplosbare konflik kan ’n werklike oplossing bring, kan die lammetjie laat wei saam met die leeu en die mens weer onbevange in die Tuin laat wandel in die geselskap van sy Skepper ...
    In die jaar 27 v.C. is die Romeinse Ryk gevestig. Die tempel in Jerusalem waarvan die herbouing onder Herodes in 20 v.C. begin is, is in die jaar 70 n.C. verwoes deur die Romeine, en die Jode se soewereiniteit is ’n nekslag toegedien. Die gevolg was dat beide Islam én die Christene ook húlle belange op Jerusalem kon vestig. Israel het uiteindelik in 1948 weer ’n soewereine Joodse staat geword, maar die onverbiddelike, botsende aansprake op Jerusalem — beide die geografiese stad en “Jerusalem” as simbool van drie groepe se hoop op die toekoms — het sedertdien net eenvoudig méér intens geword. Jerusalem is vandag — aan die einde van die tweede millennium — ’n politieke en godsdienstige tydbom wat te eniger tyd kan ontplof en die hele aardbol in vlamme kan hul.
    1000 n.C.
    Die begrip dat die tyd vir die mensdom op aarde beperk is, tot ’n einde moet kom die een of ander tyd, was dáár reeds duidelik sigbaar. Aan die einde van die eerste duisend jaar ná Christus — die einde van die jaar 999 — was die wydverspreide, rituele, gesamentlike skulderkenning en belydenis ’n yslike gedoente. Mense het van oral oor in Europa en in Bisantyne na kerke en kloosters gestroom. Hulle het as “offerande” juwele, manuskripte (selfs titelaktes), wávragte vol goedere kerk toe gebring om te probeer om in ’n staat van genade te kom. Want hulle het gedink die Oordeelsdag sal aanbreek saam met die einde van daardie éérste millennium na Christus.
    Op 31 Desember 999 het die kerkklokke gelui, en die adel het vir ’n kort tydjie hul adellikheid vergeet en saam met die laestand op hulle knieë die Einde ingewag ... en toe naderhand, toe niks gebeur nie, half verdwaas opgestaan en huis toe gegaan. Eers daarna het die uitspattige feeste van verligting vlamgevat. Daar was wêreldwyd orgieë van dronkenskap, selfmoorde oor onbetaalbare skuld wat nou skielik nie meer ontduik kon word nie, onberekende en ongewenste bevrugtinge, ongelukke van buitensporigheid en algemene hygende, domme, ongegronde blydskap — en ’n verwagting van ’n “beter” toekoms ...
    Die “beter” toekoms? Die euwels van die afgelope duisend jaar is té veel om op te noem. Natuurlik was daar “ontwikkeling”, maar vir elke nuwe uitvindsel en elke stukkie nuwe kennis wat die mens verkry het, was daar ’n bittere teenkant. Die tegnologiese vooruitgang het óók “beter” wapentuig gebring, en die besinking van die mens se kunsuiting óók die betwyfeling van die bestaan van God. Daardie biddende mense van die einde van die jaar 999 se hoop op ’n “beter toekoms” het uitgeloop op die klimaks van ons huidige eeu aan die einde van hierdie tweede millennium vanaf Christus. — Ons skandebevlekte eeu wat nóú genadiglik tot ’n einde kom, is ’n klad op die ganse bestaan van die mensdom. Ons eeu was die mees bloeddorstige eeu ooit, die eeu waarin die mens met sy nuutverkreë tegnologiese vermoëns ’n verwoester van die aarde geword het en met sy wapens ’n moordenaar sonder weerga van sy medemens. Hier aan die einde van die 19de eeu, die laaste eeu van die tweede millennium, sit ons met VIGS en ander ongeneeslike siektes en ’n skielike opwelling van tering. Die gekerm van miljoene mense wat sterf van honger klink op deur ’n verflenterde osoonlaag. Daar is nou, juis in die triomftyd van die mediese wetenskap, siektes en peste wat ons nog nie eens kan identifiseer nie — wat nog te staan behandel. Die 20ste eeu was inderdaad die eeu van skandelikhede wat vroeër, in die tyd van Abraham, Dawid, Caesar en die biddende kerkgangers van 999 nooit eers bedink sou kon word nie. In Kosovo, Rwanda, Algerië en Oos-Timor lê die oorblyfsels van verwoeste, verbrande geboue te midde van die stank van die verrottende lyke van mans wat doodgeskiet, doodgewurg, geslaan en gesteek is, en vroue wat eers gemartel, verneder, verkrag en vermink is en toe agtergelaat is om te sterf, omdat dit te veel moeite was — en ook genadiger sou gewees het ... ménsliker — om hulle om die lewe te bring met ’n enkele koeël, ’n laaste skop of ’n messteek. En terwyl daardie laaste stinkende reste van verwoesting nog lê en smeul, het hernieude woede en verwoesting nou reeds weer losgebreek oor Tsjegnië.
    Die onvermydelike vraag is natuurlik nou: in die lig van die wesensbelangrike dinge wat plaasgevind het by elke oorgang van die vorige millennia waarvan ons weet ... wat gaan nóú by hierdie oorgang na 2000 n.C. gebeur?
    2000 n.C.???
    Daar is nou, net soos aan die einde van 999, ’n verwagting dat iets ingrypends móét gebeur by hierdie komende oorgang van die tweede na die derde millennium ná Christus. Die verwagting is nou sterker as ooit tevore.
    En as daar weer eens niks ingrypends gebeur nie, sal daar wéér uit verligting feesgevier word, soos aan die einde van die vorige millennium en aan die einde van elke jaar.
    Maar, wat word nou eintlik gevier aan die einde en aan die begin van elke jaar? Aan die einde van elke eeu? En nou aan die einde van die millennium?
    Die eerste stukkie eienaardigheid wat mens opval, is dat die gevoel van oorlewing wat die mens vandag aan die einde van elke jaar openbaar nie in die algemeen so sterk was in die tyd vóór Christus nie. Ons het vandag rekords van die geskiedenis van die mens van min of meer 4 000 jaar vóór Christus af. En daar is geen rekord van wêreldwye feeste wat die oorgang van die millennia gevier het nie, want mense kon eenvoudig nie dink in terme van nóg ’n millennium wat verby is nie, omdat die beginpunt vir ’n “aftelling” van die tyd eers ingestel is by die geboorte van Christus. Mense was nie so dringend bewus van die “verbygaan” van die tyd nie: hulle het nie die jare “afgetel” van ’n beginpunt af asof daardie jare beëindig sal word nie. Daar was ook nog nie so ’n wydvertakte inligtingstelsel waardeur mense mekaar kon opsweep nie. Dit lyk asof die mens sedert die aanvang van ons tydsaftelling sy tyd op aarde bereken in millennia en asof hy die einde verwag tesame met die einde van ’n millennium.
    Van die begin van ons tydstelling af word dit ’n spesiale prestasie geag, ’n geleentheid vir viering, dat die mensdom dit ternouernood reggekry het om nóg ’n jaar, nog ’n eeu, nóg ’n millennium te oorleef. Is ons dan so swartgallig oor ons voortbestaan dat ons elke keer ’n sug van verligting slaak en dit moet vier wanneer die nuwe jaar oor die horison daag? Die 2000-feesvieringe gaan nog méér oordadig deklamatories van “oorlewing” wees as enige vorige eeufeesvieringe of einde-van-die-millennium-vieringe. Want nou gaan twéé millennia — of, afhangende van hoe mens daarna kyk, sesduisend jaar — van prekêre mensbestaan gevier geword: twintig eeue van oorlewing van die mens nádat ons tydsaftelling begin het ... oorlewing ten spyte van die oorheersende magte wat die mens se bestaan voortdurend bedreig.
    Aan die einde van elke jaar sing ons altyd so roerend, “Sal ons ou kennisse ooit vergeet?” Die lied het vir my nog altyd ’n ondertoon van belydenis gehad — ’n poging van die mens om sy verlede te bely en so sy voortbestaan te verseker. Dis asof ons pleit dat ons ons “kennisse” — die mense en die dade, die goeie en gehuldigde dinge, die liefde, maar óók die oplopende gruwels en die sondes — van ons verlede nie sal vergeet nie. Dit is asof ons die kennis van ons verlede wil vóórhou as ’n belydenis, as beskerming vir ons toekoms. Ons het deur die laaste eeu al meer en meer die tragedies van die verlede begin vereer asof ons offerandes aanbied om ’n beter toekoms te bepleit.
    Die ou Indiaanse stamme van Suid-Amerika het omstreeks 1200 jaar gelede ’n obsessiewe vrees gehad dat die wêreld vernietig sou word. So het die ou Meksikaanse stamme op die mees grusame wyse lewende mense geslag as offerandes aan die gode aan die einde van elke jaar, om te probeer verhoed dat die aarde vernietig word. Hulle het die bebloede, kloppende harte van duisende, nog lewende, slagoffers uitgeruk en op ’n offerbak neergelê. Een van daardie klipofferbakke word vandag nog steeds deur die 1200 jaar oue klipbeeld van Chacmool in die stad Chichen Itza voor die ou half vergane Tempel van die Vegters op sy klipmaag vasgehou, asof hy nog steeds offerandes vra om namens die mens by die gode te pleit om nie die wêreld te vernietig nie.
    En mense ruk nog steeds aan die einde van elke jaar hul harte uit om dit aan te bied as skuldoffer vir ’n beter toekoms. Die toenemende bewustheid van die feit dat die mens se voortbestaan prekêr is en al meer onseker word, noop die mens om homself telkens te ondersoek, skuld te pleit en te sug van verligting en al meer uitspattig fees te vier as die wêreld nie vergaan nie.
    Aan die einde van die jaar 1999 behoort dit in elk geval — of die wêreld nou vernietig gaan word of nie — die grootste belydenis ooit te wees wat die mensdom doen, want Julius Caesar was ’n naïewe beginnertjie in vergelyking met Hitler. En daardie beangste, biddende mense van die nag van Desember 31, 999, was onskuldige Sondagskoolkindertjies in vergelyking met ons.
    31 Desember 1999. Dán gaan die grootste skuldbelydenis van alle tye gedoen word, en daarna, as ons nog hier is, die grootste feesvieringe ooit.
    Die vrees en die verwagting van katastrofe — die skuldgevoel — is nou sterker as ooit. Want die mensdom het nóg ’n verdere duisend jaar se misdrywe méér op sy kerfstok.

ONS PROFETEER ONS EIE VERDOEMENIS ...
Dat die katastrofe sal plaasvind ... dit wéét ons, want elke mens dra van kleins af die wete van sy eie komende sterwe én die onvermydelike sterwe van alle ander lewende dinge in hom om. Dáárom is daar feitlik geen mens wat nie nog altyd bewustelik of half bewustelik die verwagting van verdoemenis gehad het, gewéét het dat iets skrikwekkends sál gebeur wat ’n einde aan die mensdom sal maak nie. Daar is wydverspreide voorspellinge van vernietiging wat deur die vorige millennia gemaak is. Daar was van die begin af, en is nog steeds, in verskillende kulture van oor die wêreld ’n eenstemmige opvatting dat ’n wêreldwye kataklisme aan die kom is.
    Die mens voorspel eintlik al van die begin van sy bestaan af sy eie uitwissing.
    Daardie opvatting van uitwissing is vervat in profesieë in die Bybel ... én ook in buite-Bybelse voorspellinge, oorleweringe, en in mites en legendes, wat almal sê dat daar ’n einde gaan kom aan die huidige skeppingsbestel. Die meeste van hierdie voorspellinge dui nie ’n spesifieke tydstip vir die einde aan nie. Veral die Bybel voorspel nie ’n spesifieke eskatalogiese datum nie. Maar daar is wél ’n aantal buite-Bybelse voorspellinge wat meer spesifiek die “Einde” aandui as rondom die jaar 2000.
    Mens kan natuurlik hoegenaamd nie dogmatiese doemvoorspellinge maak oor die presiese datum nie. Maar daar is, sáám met die profesieë, beslis logiese, feitelike rede om na te dink oor die moontlikheid van omvattende, finale rampspoedige gebeure wat binnekort kán plaasvind. Die merkwaardige, samehangende tema van straf en uitwissing in voorspellinge wat van die begin af wêreldwyd gemaak is, is ’n bewys van die verwagting wat van die begin af in die mens se bewussyn was, die onbetwisbare verwagting van ’n verdoemenis wat nog altyd vir die aarde op pad was. Maar nou, in ons tyd, is daar ook ál meer wetenskaplik aanvaarde inligting beskikbaar wat die moontlikheid aandui dat so ’n katastrofe binnekort kán gebeur.
    Die aarde gaan verbrand, het die Apostel Petrus én die Mayas voorspel. Die volksmond profeteer grappenderwys “berge val op ons en heuwels bedek ons”, sonder om te besef dat daardie woorde elke keer ’n profesie is oor die einde van die aarde se bestaan wat so ligtelik geuiter word.

VIR HOE LANK KAN DIE MENS NOG MENS BLY?
Selfs al tref verwoestende rampe nie die aarde nie, laat die radikale sosiale veranderinge wat nou plaasvind ’n mens wonder vir hoe lank ons in staat sal wees om volgens die konsep van “lewe” wat ons tot dusver gehad het as “mense” voort te leef. Niemand sal ontken dat onomkeerbare veranderinge plaasvind in die mens se selfbeskouing nie. Hoe dan anders, as die mens nou met sy kennis van die biogenetika die vermoë verkry het om met die lewe sélf te peuter? Selfs net die móóntlikheid van mense wat deur die proses van kloning presiese “afskrifte” van hulself kan laat vervaardig in die laboratorium, en ouers wat die haar- en oogkleur en karaktertrekke van hul kinders kan bestel, is al genoeg om die mens se idee van wat ’n mens is heeltemal te verander. Muise, varke, beeste en skape is alreeds gekloon. En menslike embrio’s is alreeds gekloon in Korea en in Amerika en toe vernietig, hoofsaaklik omdat die huidige wetgewing — en etiese normestelsels — nie gereed is vir gekloonde mense nie. Die ydele argument was ook dat, omdat die menslike embrio eers veertien dae ná sy ontstaan vasheg aan die wand van die baarmoeder, daardie embrio’s nie “mense” was nie en dit dus nie oneties was om hulle binne veertien dae te vernietig nie. Ons hét nou al surrogaatmoeders beleef, die gebruik van bevrore sperme, en nou het die moontlikheid bygekom dat vroue op 70 geboorte sal kan gee, of selfs kinders kan hê lank na hul dood met die gebruik van bevrore eierselletjies. Wetenskaplikes is besig om ’n genome van die mens, ’n volledige kaart van die mens se chromosome saam te stel. Die gedagte is dat ons, as ons eers al die chromosome ken, elke siekte en karaktertrek van die mens sal kan beheer. As die mens eers homself in volle beheer begin ag van die biologiese aspek van die mens se lewe sal dit nog makliker wees om te vergeet dat die mens nie slegs ’n samevoeging is van DNS nie — nie net ’n stuk vlei s waarin die selle deur elektriese strominge geprikkel word nie.
    En as mense nou binnekort met die oorgeplante hart in hulle sal kan leef van ’n spesiaal geteelde en geneties behandelde vark — daardie dier wat nog altyd deur minstens die Joodse en Islamitiese kultuur en ook ander kulture as die simbool van onreinheid beskou word? Is dit nie eienaardig dat juis die vark die mees geskikte dier is vir orgaanoorplantings op mense nie?
    Vir hoe lank kan die mens nog “méns” wees in die sin van ’n wese wat glo en liefhet, wat getrou is aan vrou en kind, wat ’n eie onskendbare identiteit het waarvan hy seker is en waarop hy trots is?
    Op die minste sal die mens in die volgende millennium ’n heeltemal nuwe konsep en ’n nuwe standaard vir menswees moet daarstel.

DIE KONING VAN DIE FORTE
Op politieke gebied is die huidige ontwikkeling van die beginsel om ’n militêre mag saam te stel vanuit verskeie lande wat dan vrede gaan “bewaar” in gebiede waar daar probleme is, soos in Bosnië, Kosovo en nou weer in Indonesië, oënskynlik ’n goeie ding. Die gevaar is egter dat so ’n mag kan ontwikkel tot ’n gepoogde wêreldoorheersing, ’n poging om wêreldkonformisme af te dwing deur onderdrukkende militêre mag ... in die naam van vrede. Daniël, wat in die jare 600-530 v.C. gelewe het, het in die Ou Testament geprofeteer dat daar in die “laaste dae” ’n heerser sal wees wat alleen die “god van die forte” sal aanbid. Die Imperialistiese ideaal is vir altyd in die mens se politieke denkwyse gevestig in die Romeinse Ryk. Die mens glo onwrikbaar dat goedheid en vrede deur oppergesag afgedwing kan word en nie dat die mens innerlik deur die Skepper verander kan word tot goedheid nie. Daniël se profesie kan gelees word as verwysende na ’n oorheersende, onderdrukkende, wêreldwye mag wat uitsluitlik van militêre geweld gebruik sal maak om vrede af te dwing: kom die reëls na wat ons ingestel het, of so nie skiet ons jou dood, bevries jou organe vir meer nuttige gebruik, of versprei jou vlees in die velde vir bemesting. En Daniël se profesie en die uiteinde van die Imperialistiese denke word bevestig en uitgebeeld deur Openbaring, die laaste boek in die Bybel, die boek wat die uitwissing van die mensheid soos ons hom ken, profeteer as die logiese einde ná wêreldwye oorheersing en verdrukking.
    Watter beter verskoning kan daar wees vir die samestelling van ’n wêreld-oorheersende, onderdrukkende militêre mag, as die ideaal om vir goed “vrede” te bewerkstellig? Dit is tekenend dat die saamgestelde militêre mag nog onlangs in Kosovo opgetree het onder die vaandel van die Verenigde Nasies as ’n “Vredesmag”, maar dat daar na die huidige mag in Oos-Timor verwys word as bloot ’n “multinasie-weermag”. Hierdie keer is hul mandaat vir militêre optrede ook wyer: hulle skiet om dood te maak by enige teken van verset. Rusland is eintlik besig om ’n soortgelyke verontagsaming van die regte van ’n land en sy mense te openbaar in Tsjegnië as wat Milosevic se magte, en die soldate van Indonesië gedoen het in onderskeidelik Kosovo en Oos-Timor. Gaan daar nou ook pogings wees om die mense van Tsjegnië te beskerm? En wat gaan die gevolge wees as ’n saamgestelde militêre mag van, sê nou maar, die VS en Europa, weer gestuur word om Rusland te keer?
    Sjina het nou net sy 50ste verjaardag gevier. Die grootste nasie op aarde, met die grootste eenvormige taalgroep, Mandaryns, het nou ontwaak uit sy lang slaap. Toevallig is dit die Sjinese wat derjare gelede die vernietigende krag van buskruit ontdek het. Dit is tekenend dat die klem tydens die Sjinese feesvieringe so sterk geval het op Sjina se militêre vermoë en mens onthou skielik dat Mao Tse Toeng destyds gesê het dat vrede uit ’n geweerloop kom.
    Dit lyk asof die mens nooit aan die vloek sal ontsnap om geweld met groter geweld te onderdruk nie, bloedvergieting met groter bloedvergieting, die beskerming van menseregte deur ’n groter vertrapping van menseregte ... om skuld te betaal met die aangaan van nog groter skuld.
    Die volk wat die grootste invloed gehad het in hierdie tyd op die etiek en die moraliteit van die wêreld — die Amerikaners — het hul President “onskuldig” bevind aan dinge wat voorheen as heeltemal onvergeeflik beskou sou gewees het en hom daarna nog meer as tevore vereer. Die Amerikaners, wie se ekonomie die aandrywer van die hele wêreld se ekonomie is, is die volk wat aan die VN die grootste bedrag vir lidmaatskap skuld. Juis Amerika wil hom nie verbind tot uitsprake van ’n Wêreldhof wat menseregte verhoor nie, omdat die Amerikaanse soldate wat in ander wêrelddele veg dan kwansuis beskerm moet word. Juis die Amerikaners het omtrent 90% van hulle geld op die wisselvallige aandelebeurs belê en nie in meer standhoudende dinge soos vaste beleggings en vaste eiendom nie. En juis Amerika weier nou om die verdrag téén verdere kernwapenontwikkeling te onderteken!
    En juis die VSA se militêre, kulturele en finansiële wêreldoorheersing het ’n wrewel veroorsaak by ander nasies wat die potensiaal het — en ook die ambisie het — om wêreldmagte te word. Dit is kenmerkend onheilspellend van hierdie ambisie dat daar altyd by die triomfantelike “prestasie” om kernwapenmissiele op te rig, as ’n “maatstaf” afgekondig word dat die missiel die VSA sou kon bereik.

DIE AARDE IS ONS WOONPLEK NIET
Moeder Aarde sélf is glad nie so vas en seker as wat ons altyd gedink het nie, afgesien van die bedreigende bedrywighede van die mense op haar oppervlak. Eintlik is sy maar ’n klein, onskuldige, onbenullige, dansende ou meisietjie in die hemelruim tussen baie groter, baie ouer, uitgediende planete en ’n verskriklike son wat onophoudelik woedende vlamme uitbraak. Sy draai en sy swaai haar blou en groen rokkie van seë en woude vrolik deur ’n vyandige milieu, en ons besef nie hoe prekêr, en in werklikheid hóé bedreig, haar voortbestaan is nie.
    Wetenskaplikes is verdeeld oor die voortbestaan van die aarde. Die aanhangers van die uniformitarianisme reken dat verandering in die hemelruim — wat die vergaan van die aarde kan insluit — ordelik en oor ’n lang tydperk verloop. Daar was eendag ’n groot ontploffing, so lui die teorie van die uniformitarianisme, en toe het die aarde en die ander planete uit die son ontstaan. Die hele stelsel is nou al miljoene jare besig om al groter te word, met planete wat ál stadiger om die son tuimel. Êrens in die verre toekoms, gelukkig so ver dat ons nie daaroor bekommerd hoef te wees nie, sal die hele proses weer in trurat begin swaai en tuimel en draai ... terug en terug, al vinniger en vinniger ... totdat al die planete en die son in ’n astronomiese swart gat van niks sal verdwyn. Die katastrofiste reken, in teenstelling hiermee, dat iets radikaal skielik kan skeefloop en dat die aarde in ’n oogwenk vernietig kan word.
    Die jongste houding van wetenskaplikes is dat nie een van die twee teorieë absoluut waar kan wees nie, maar ’n mengsel van die twee. ’n Skielike fatale katastrofe is dus wel moontlik binne die stadig bewegende gang van die hemelruim.
    Vir hoe lank sal die mens nog ’n woonplek in die hemelruim hê?
    Daar is ’n paar voorspellinge wat baie onheilspellend voorkom indien hulle met betrekking tot die geologiese gebeure in ons tyd bekyk word.
    Die Mayas, daardie ou Indiaanse stam van Sentraal-Amerika, wat in die verre, onbekende verlede ontstaan het, maar wat ’n goue era beleef het in die jare 600-800 n.C., het ’n hoogs gesofistikeerde kalenderstelsel gehad. Daarvolgens het hulle bereken dat die aarde soos ons hom ken in die jaar 2012 op 22-23 Desember vernietig sal word deur aardbewings. Waarom op die aarde sou hulle, lank nog vóór die ontstaan van kernwapens, en al die ander bedreiginge wat ons nou ken, aan soiets gedink het?
    Die Christengelowige en siener Edward Cayce het in 1934 geprofeteer dat die pole van die aarde in ongeveer die jaar 2000 sal verskuif, met katastrofale gevolge. Dit word vandag algemeen aanvaar dat die kontinente voortdurend besig is om te verskuif weens die immer opbouende en dan weer afnemende middelpuntvlietende krag wat op die massa van die vastelande uitgeoefen word en wat deur die wenteling van die aarde veroorsaak word. Daar is ook selfs ’n minder bekende teorie dat die polariteit van die aarde al verskeie kere in sy bestaan verander het tesame met ’n radikale verskuiwing van die kontinente.
    Daar word nou aanvaar dat die tektoniese plate van die aardkors, die sogenaamde litosfeer, gedurig teen mekaar vryf en dat vastelande voortdurend besig is om te verskuif. Sommige wetenskaplikes meen dat die verskuiwing van minstens een vasteland, die een wat onder ys bedek lê by die Suidpool, nou skielik besig is om te versnel. Hier aan die einde van 1999 meen sommige wetenskaplikes dat die onlangse aardbewings in Turkye die gevolg is van die feit dat Eurasië en Afrika besig is om nader aan mekaar te skuif en dus Turkye as ’t ware uit hul geledere druk. Daar was ook onlangs aardbewings in Griekeland, in Taiwan, in Mexiko en in Los Angeles.
    Cayce het óók voorspel dat daar opstotinge van die aardkors sal wees in die Arktiese en Antarktiese streke, dat vulkane sal voorkom, dat die noordelike dele van Europa in ’n oogwink verander sal word, dat die Weste van Amerika aan stukke sal breek en dat ’n groot deel van Japan in die see sal verdwyn. Vulkane, aardbewings en opstotinge van die aardkors om berge te vorm word veroorsaak wanneer die tektoniese plate van die aarde teen mekaar verskuif. Daar ís juis ’n breuk in die aardkors, die sogenaamde San Andreas-breuk, wat van noordwes na suidoos deur San Francisco loop. Japan word as die land van aardbewings beskou, omdat dit so gereeld daar plaasvind en nou, na die onlangse aardbewing in Taiwan, oefen die Japannese landwyd hulle veiligheidsprosedures vir wanneer die volgende aardbewing plaasvind. Die mees onlangse aardbewings in Mexico en in Los Angeles was naby aan waar ons weet die San Andreas-breuk is. Die ander bekende skeur in die aardkors loop vanaf Israel tot in die noorde van Afrika ... en daar is voorspellinge in die Bybel dat die Olyfberg in Israel sal oopskeur by die wederkoms van Christus.
    Die profesie van Jesus in Mattheus 24, wat aan die begin van die eerste eeu gemaak is, kán ’n beskrywing wees van aardkorsverskuiwing en die gevolge daarvan. Eerstens sê Jesus uitdruklik dat die hemel en aarde wél sál verbygaan. Hy voorspel dat daar aan die “einde” aardbewings sal wees, dat die son en die maan verduister sal word, dat die sterre sal val en dat die kragte van die hemele geskud sal word. As ’n kontinent skielik drasties sou verskuif, sou dit wél vanaf daardie kontinent lyk asof die sterre val, en die stofdamp wat veroorsaak sou word deur die gewelddadige beweging en die skeuring van die aardkors sou die son en die maan onsigbaar maak. Jesus se profesie is voorafgegaan deur ’n soortgelyke profesie van Jesaja, wat in die jare 700-600 v.C. gelewe het.
    Indien die aarde deur die aantrekkingskrag van die ander planete uit sy baan getrek sou word, soos wat Berossus voorspel het, sou mens wél kon sê dat die kragte van die hemele “geskud” word.
    Die historikus, sterrekundige en siener Berossus, wat in die derde eeu v.C. in Chaldeë geleef het, het voorspel dat die aarde sal verbrand wanneer die vyf planete en die aarde in een lyn gaan kom. En juis op die vyfde Mei, 2000, gaan die swaartekrag wat op die aarde uitgeoefen sal word heeltemal uitsonderlik wees: op daardie dag gaan die planete Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Uranus en Neptunus in één lyn wees aan dieselfde kant van die son. Mercurius en Venus is natuurlik tussen die son en die aarde en Mars, Uranus en Neptunus is in daardie volgorde verder van die son af as die aarde. Kan dit beteken dat die kragte van die hemel deur daardie ongewone intensivering van trekking op die aarde geskud sal word soos wat die Bybel voorspel?
    Die aarde en sy bewoners kén aardbewings en ander groot katastrofes. Maar nou, hier aan die einde van die 20ste eeu, was dit nou onlangs nodig vir wetenskaplikes om ’n verklaring uit te reik om mense gerus te stel dat die onlangse aardbewings in Turkye en Griekeland, Taiwan en Suid-Amerika nie ’n algemene nuwe, oplopende tendens aandui nie. Want mense vrees die toekoms.

SES DAE HET GOD GEARBEI EN OP DIE SEWENDE DAG HET HY GERUS
Die getal sewe het van oudsher af ’n spesiale betekenis gehad in baie verskillende kulture. Die betekenis wat aan die getal sewe geheg word, hang saam met ’n numerologie wat al vir baie lank wyd aanvaar word, sowel binne as buite die Christelike Kerk. Hiervolgens word getalle gesien as die simbole van die fundamentele werklikhede van die skepping in samehang met mekaar. Daar is oorvloedige gebruik en verwysing na die getal sewe, en veelvoude van sewe, in die Bybel. In die Ou en Nuwe Testamente word die betekenis van volmaaktheid, van voltooiing en vervulling, aan die getal sewe geheg. Volgens Genesis het God die aarde geskape in ses dae en op die sewende dag gerus. Daar is ’n teorie dat die huidige skeppingsbestel vir sewe “dae” — seweduisend jaar — sal voortgaan voordat daar, ná ’n groot omwenteling, ’n sewende eeu van rus sal aanbreek waarna dan verwys word as die “duisend vredige” jare. Die Nuwe Testament, in Hebreërs, voorspel dan ook ’n “sabbatsdag”, ’n sewende “dag” van rus vir die gelowige mens. Die apostel Petrus sê in sy Nuwe-Testamentiese boek dat ’n duisend jaar in die oë van God soos een dag is. Hy sê ook dat daar vantevore al hemele en ’n aarde was en dat ons huidige hemel en aarde vernietig sal word. Dit is dus moontlik om die betekenis van die ses “dae” van “arbeid” — dit wil sê, die opbouing van die huidige bestel, van die mens te heg aan die tydperk van sesduisend jaar, waarna daar dus eenduisend jaar van “rus” sal aanbreek.
    Maar, of 31 Desember 1999 die einde van die sesduisend “dae”, of jaar, van “arbeid” van die mens en die skeppingsaktiwiteit van die Skepper sou kon beteken, hang af van die datum van die ontstaan van die mens. Hieroor is daar geensins sekerheid nie. Van die belangrikste faktore wat die berekening van die tyd oor die lange eeue voor Christus bemoeilik, is dat die oud-Joodse berekening van tyd anders is as ons s’n, en dat die “jare” in die oudheid bowendien baie keer slegs aangedui is met verwysing na ’n regeerder se bewindtydperk. ’n Verwarring het ingetree toe die Gregoriaanse kalender Caesar s’n vervang het; gevolglik is niemand vandag seker van die presiese datum van een enkele dag nie. Maar gestel nou maar dat die mens vierduisend jaar v.C. ontstaan het? Dan is ons nou aan die einde van die sesde “dag”. En dan sou dit beteken dat die “sewende dag”, die dag van voltooiing, van vervolmaking, die sewende dag van rus, in die nuwe millennium sou kon aanbreek.

HOMO SAPIENS?
Daar was al wél pogings om die ontstaan van die skepping en die mens te bereken. Niemand aanvaar egter meer vandag die gevolgtrekking van biskop Ussher van Armagh, dat die huidige skepping en die mens soos ons hom ken om 12:00 middag op 23 Oktober in die jaar 4004 v.C. ontstaan het nie. Die Joodse kalender plaas nog steeds die skepping van die aarde in die jaar 3761 v.C. en die Agbare Sint Baeda, die historikus en Benediktynse monnik, die bekende teoloog van die 18de eeu, het gereken dit het in die jaar 3952 plaasgevind, maar ook hierdie twee datums word nie meer algemeen aanvaar nie. Tog is dit baie interessant dat al drie hierdie berekeninge die datum van die ontstaan van die mens op ongeveer vierduisend jaar voor Christus plaas.
    Die kwessie van die tyd van die ontstaan van die mens maak ons bewus van verdere interessante moontlikhede. Teoloë en geskiedkundiges kon tot dusver slegs met ’n relatiewe mate van sekerheid vasstel dat Abraham in die tyd van ongeveer 2000 tot 1850 v.C. gelewe het, dat die eerste dinastie van Babilon vanaf 1894 tot 1595 v.C. geduur het en dat die eerste dinastie in Egipte vanaf 2134 tot 1991 v.C. geduur het, maar hierdie datums is slegs by benadering. Tog word die datums — wat almal dui op ’n soort “skepping” van die mens soos ons hom ken, en die aanvang van ons geskiedenis — deur die antropologie bevestig. Die datums van wat vóór daardie benaderde datums plaasgevind het, is in duisternis gehul. Antropoloë het ook bewyse ontdek dat die mens, of voorlopers van die mens, baie duisende jare vroeër reeds bestaan het, maar hoedanig daardie voorlopers van die mens was, is nie duidelik nie.
    Die eintlike probleem is dat niemand seker is oor wat ’n “mens” nou eintlik is nie, dus kan daar nie beslis word wanneer die mens ontstaan het nie. Die ontdekkings van menslike beendere en fossiele, soos die van Australopithicus, Homo Habilis en ander voorlopers van die mens, verwar net die kwessie van wanneer die mens as mens — Homo Sapiens — nou eintlik ontstaan het.  Daar is tekens gevind dat die mens reeds derduisende jare gelede in die een of ander vorm gelewe het. Maar, het die “mens”, die sentrale wese van ons geskiedenis, ses “dae”, dit wil sê sesduisend jaar, gelede ontstaan? Of was dit baie, baie jare vroeër, byvoorbeeld ’n veelvoud van ses- of seweduisend jaar?
    Volgens Genesis het die mens ontstaan toe God Sy asem in die lewelose hoop klei se neusgate ingeblaas het. En dit is tekenend dat Jesus oor sy dissipels geblaas het en toe gesê het “Ontvang die Heilige Gees”.
    Antropoloë het al verskeie “toetse” probeer aanwend — sonder om finaliteit te bereik — om te probeer bepaal wanneer die mens méns geword het, byvoorbeeld dat hy regop geloop het, ’n groot brein gehad het, gereedskap kon gebruik — dit wil sê, ’n “tegnologie” ontwikkel het — dat hy sy vleis gaargemaak het, dat hy rituele, en dus ’n abstrakte etiese geloofstelsel gehad het. Die onvermydelike gevolgtrekking ná al daardie toetse is dat die mens maar net ’n meer gevorderde dier is — bloot ’n soort aap met motorsleutels, of ’n geweer, in sy hand.
    Ironies genoeg word daar na ons, die vernietigers van mekaar, van ons enigste woonplek in die hemelruim, en van onsself, verwys as homo sapiens — die “wyse mens”. Is dit voortspruitend uit ’n blote verbeeldingsvlug om te sê dat homo sapiens ontstaan het — en nog steeds ontstaan — wanneer God se Gees in hom kom woon? En dat dít die enigste ding is wat ’n onderskeid kan bewerkstellig tussen mens en dier?
    Daardie handeling van die Skepper wat beskryf word in Genesis kón vir die eerste keer sesduisend jaar gelede plaasgevind het.

ELKE DING IN HIERDIE WÊRELD HET SY TYD
Vir hoe lank nog kan die mens nog méns bly?
    Vir hoe lank sal hy nog ’n woonplek hê? Die lewe bestaan uit siklusse, of dit nou die lewe van een enkele mens is, die vrug wat aan ’n boom groei, die boom self, ’n gebou, ’n berg, die aarde of die sonnestelsel.
    Solank die tyd bestaan, is daar vir alles ’n tydstip van ontstaan en ’n tydpunt waarop daar ’n einde kom. Maar die tyd sélf moet uiteraard onderworpe wees aan die wesenskenmerk van die tyd, naamlik dat die tyd tydelik is, eindig is. Ook die tyd self het ’n siklus van begin en einde.
    Die probleem van wanneer die einde van ons skeppingsbestel sou kon aanbreek, word éérs interessant indien mens die siklus van die beweging van die aarde en die ander planete bestudeer. Die aarde se posisie in die hemelruim, die ander planete en sterrestelsels, verloop oor ’n siklus van min of meer 25 000 jaar. Ons aarde is nou juis besig om weer in te beweeg in die posisie waarin dit 25 000 jaar gelede was, met betrekking tot die Pisces- en Akwarius-sterrestelsels.
    Dit gaan nie om die astrologiese betekenis van die einde van die Pisces-era en die begin van die Aquarius-era nie. Dit gaan oor die feit dat die voltooiing van die Vis-era van ons sonnestelsel binne sy siklus en die einde van die eerste tweeduisend jaar van die Christelike era saamval. Niemand weet wat gebeur het by die aanvang van die siklus nie, of selfs of die Aquarius-era duisende jare gelede wél die begin van die siklus was nie. Niemand weet of die siklus homself oor die eeue maar net sonder enige spesiale veranderinge in die masjinerie van die hemele bly herhaal nie, en of die sikliese gang van die hemelruim in ’n stadium sal eindig nie. Máár, elke era van die diereriem duur ongeveer tweeduisend jaar en die ongeveer tweeduisend jaar oue era van Pisces, die Vis, kom nou tot ’n einde. Die beoefening van die Christelike geloof op aarde is nou ook net mooi tweeduisend jaar oud. Is dit bloot toevallig dat die Christene nog altyd — vir die afgelope tweeduisend jaar — die “teken” van die vis gebruik het as simbool van hul Christelikheid? Die “era” van die Ram het Pisces voorafgegaan en (toevallig?) het die simboliek van die ram ’n groot rol gespeel in die Ou-Testamentiese godsdiensrituele.
    Ons weet vandag dat ons bestaan op die aarde eintlik maar baie prekêr is, en onderworpe aan ’n hele klomp faktore wat in ’n fyn balans met mekaar is. Indien net een faktor verander, sou dit katastrofiese gevolge kon hê. Maar ons weet nie eens wat al die faktore is nie — wat nog te sê wat hulle uitwerking op die aarde is.
    ’n Groterige asteroïed sou byvoorbeeld die aarde uit sy baan kon stoot, aan stukke kon stamp of in vlamme kon laat ontplof. Die aarde se vorm is nie konstant nie. Sy oppervlak verander gedurig deurdat die vastelande verskuif. Dit word ook aanvaar dat die pole voortdurend verskuif. Ons planeet bestaan uit lospassende tektoniese plate, die aardkors — genoem die litosfeer — wat op die plastiese, meegewende astenosfeer dryf, op sy beurt weer gedraai óm die innerlike kern van die aarde, wat bestaan uit ’n siedende massa wat om die binneste harde gloeiwarm kern van die aarde kook. Hy bult uit by die ewenaar weens die middelpuntvliedende krag van sy tolling. En hierdie onewewigtige planeet van ons stommel sy weg deur die knarsende masjinerie van die hemele teen ’n duiselingwekkende snelheid.
    Terwyl ons hier naby die ewenaar in Suid-Afrika op ons beddens slaap, vlieg ons in werklikheid teen ’n snelheid van ongeveer 1 600 kilometer per uur saam met die oppervlak van die aarde óm en óm die aarde se as. Die aarde waggel voort deur die hemelruim soos ’n tol wat ál stadiger draai: die mikpunt van sy vertikale, suid-noordpool-as verskuif voortdurend en teken ’n bewende sirkel in die hemelruim. Bowendien vlieg die aarde, al tollende en waggelende, met ons daarop, teen ongeveer 106 560 kilometer per uur deur die hemelruim in sy baan om die son.
    Ons is bewoners van hierdie tollende, waggelende, vliegende stukkie planeet waarvan die vorm voortdurend verander, in die onmeetlike hemelruim waarvan ons, relatief gesproke, niks weet nie.
    Ons, klouende aan ons stukkie onwaarskynlikheid in die hemelruim en in die tyd, is inderdaad vlietend gebore en getoë.
    Die aarde, wat biljoene jare oud is, wat ons geklee het, en gevoed het en beskerm het, die aarde wat elke gebeurtenis in die bestaan van die mens beleef het, die aarde wat ons enigste woonplek is in die ganse, onmeetlike, onherbergsame hemelruim, se eie voortbestaan is inderdaad nou nog meer onseker as ooit.
    Die mens verwag die aarde se vernietiging. Die mens het ook nog altyd sy eie uitwissing voorsien — het dit nog altyd verwag. Die mens het deur al die eeue heen hierdie onontwykbare voltrékking van die verloop van tyd en alle aardse dinge in sy diepste innerlike nog nooit betwyfel nie. Hy het dit nog altyd bedink en dit voorspel, somtyds met afgryse en vrees ... en somtyds met ’n blye verwagting van die uiteindelike koms van ’n nuwe, volmaakte, vlekkelose, tydlose, heeltemal núút geskape bestaan. Die Woord, wat aan die begin die hemel en aarde geskape het, profeteer nog altyd en oral, in die Bybel en in die mond van buite-Bybelse profete, in die groeiende wetenskap van die mens en ook in die mensdom se diepste innerlike, die einde en die uitwissing van die huidige eeubeslaande, tydgebonde, áfgemete.
    In die mond van Johannes wat Openbaring geskryf het, belowe die Woord vir ons ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.
    Ons weet dát dit gaan kom.
    Net wannéér dit gaan kom — dít weet ons nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.