SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Om die kleur van taal te kan agterhaal

Karen de Wet


Koop hier
Kleur kom nooit alleen nie
Antjie Krog
2000
Kwela Boeke

I

Klipharde kernonversetlike vers. Krag. Krog. Wat anders is daar om te sê? Oor die meesleurende vaart van narratiewe, die evokatiewe liriek, die met brutale hale oopgekerfde grein? Ek het my verset teen die sê oor en rondom en aan die hand van hierdie bundel. Tot en met die besef: hieroor sal geen sê ooit ’n klaarsê en ’n só uitsê dat volledig oopgesê, kan wees nie. Skrale, dog onwrikbare troos. Níks wat ek hier kan sê, gaan die leesplesier van die leser demp, omseil, kan ontneem nie. En met hierdie vrypas begewe ek my dan in die landskap van Antjie Krog se jongste: Kleur kom nooit alleen nie.

Die versoeking om tot byvoeglike naamwoorde (en dan spesifiek ingegee deur die skering en inslag van hierdie verse) te verval is dwingend: inkantiewe Krog, reaksionêre Krog, liriese oopklowende Krog — vir elke vers ’n eie verloop, vir elke leser ’n paadjie. Maar vir hierdie vooraf lees dan enkele waarnemings in die breë, ’n poging tot ’n soort probeer bestryk van die kleurspektrum. Want niks in hierdie bundel staan alleen nie. Nie gedigte nie, nie afdelings nie, nie refreine nie, nie allusies nie. Als kom saam — selfs die uiterstes. Daar ís nie antwoorde nie. Daar is nie één blik nie. Dis soos die hardvogtige mooie klip uit die bodem van hierdie aarde, hierdie verse. En klip is onwrikbaar klip — soek en behoef nie mooipraatjies nie. Wys kortpaadjies af. Soos waarheid en geskiedenis ook. Soos liefde en die brose en brawe (die voortvarende, die stompsinnige) mense wat dit bedryf en telkens bedroë daarvoor te staan moet kom en net so telkens ook weer verenigd en ekstaties daarvan weggaan. Dít, dink ek, is wat hierdie ongeseglike boek eiesinnig en onverskonend kom sê.

Hier is ’n soeke na sin en essensie wat taal ongenadiglik en ongenaakbaar oopbreek — van die eerste ademende sug tot die laaste ontmaskerde lettergreep daarvan (p. 58, p. 63). ’n Afwys van verfraaiing en versagting en enige iets wat maar nog net naastenby na verhulling wil ruik.

Dís die idee wat ek van Kleur het: dat dit oopskryf tot by die essensie.

Die ding met Krog is dat sy die taal so uitmekaar haal, dat sy elke greintjie krag (sêkrag, drakrag, daadkrag) so daaruit agterhaal, dat daar weinig oorbly wat mens kan sê sonder om teruggesleur te word na woorde wat sy reeds met beitelpunt geoormerk het. Reeds als tot op die naaf oopgeskaaf het. En die leser kan maar kies. Daar lê ’n magiese mat (“iets wat lyk soos ’n movie-set in die Arouane-woestyn / op ’n duin is helder bont matte oopgegooi / en lae gestoffeerde banke / die son sak soos ’n maan oor die lippe van duine”, p. 101, “10. aankoms”) hier ingeweef en oopgegooi: in die kode van kleur, in die teleks van taal. En wie kan hieroor skryf as Krog reeds die uiterste grens van elke woord tot op die spits gedryf het? Dit waarna Louw verwys, dat daar grense ís waaragter taal betekenis en bedoeling wil bly verskraal (die “nooit-gehoorde” wat gesê wil word, maar “om die grense [bly — kdw] flikker”), dat taal soos beitelpunt dalk oop kan kloof (“só moet ’n beitel slaan / wat beitel is, of hóé?”), dit het Krog nou gedoen. Sy skryf nie daaroor nie, sy breek die taal oop tot die self.

Noudat ek eenmaal Louw opgehaal het: ’n studie wat lê en wág op aandag, is die voortsetting wat poësie soos dié van Krog en Breytenbach en Stockenström maak op iets wat mens by die Veertiger-vernuwing van Opperman kan gaan haal: die werk met die konkreet aardse (soos Kannemeyer dit sê), die fokus op die barre, ongenaakbare aardse van Afrika. En in Kleur kom hiervoor heelwat perspektiewe by. Veral in die werk met klipmetafore en spesifiek dan in verband met ’n soeke na hoort in Afrika en ’n strewe na (aard in) taal — iets wat hier heel verder oopgemyn word as wat nog in bv. “Te klip om te boom” gebeur. Krog laat die klip teel. Sowaar (1).

II

Dis die twintigste van Oktober van Tweeduisend. Ek staan in die Poëziecentrum in Gent. Dis die titel wat my oog vang — dié reël ken ek mos? Maar só? Dis ’n versameling Krog. “Samenstelling, vertaling en nawoord” deur Robert Dorsman (2). Die titel: Om te kan asemhaal. (“… asemhaal, asemhaal, was taal nog nooit nutteloos of prutsel nie, maar al”, dein die res van die reëls uit Lady Anne in my binne-oor.) Dis ’n paralleltalige publikasie. En daar’s ’n “ekstra” gedig in. Uit die “Jaarblad van die Kroonstadse Hoërskool, 1970”. Ek staan in Gent tussen die tongval van Vlaandere en tussen rakke vol Nederlandse poësie, en Krog kom praat uit 1970 asof sy in Tweeduisend skryf:

    Kyk, ek bou vir my ’n land
    waar ’n vel niks tel nie,
    net jou verstand.
    Waar geen bokgesig in ’n parlement
    kan spook om dinge permanent
    verkramp te hou nie.
    Waar ek jou kan liefhê
    langs jou in die gras kan lê
    sonder om in ’n kerk “ja” te sê.
    […]
    Waar swart en wit hand aan hand
    vrede en liefde kan bring
    in my mooi land.

Negentien sewentig. Suid-Afrika. Dieselfde Krog, sien ek later die aand, toe die kosbare koerierpakkie met die pasvrygestelde Kleur uit Suid-Afrika reeds in Leuven se Blijde Inkomststraat op my terugkeer lê en wag. Dieselfde Krog. Slimmer aan die woord. En gladder, en heler. Meer geslepe, meer uitgelese. Vaartbelyn en onverskrokke onverskonend. Maar in die murg nog dieselfde. Dís dalk wat sy dan doen, hierdie vrou van drie dekades se poësie. Sy groei haar verse soos die weefsel waaroor sy dit in hierdie bundel (die maaksel, die weefsel, die weefwerk) het. En tussendeur sit sy ook daarvoor en kyk, bestuderend bedag op die skryf van poësie, die skryf óór poësie — beoefen sy dus ook die histologie.

Mondweefsel, wondweefsel, sgraffito, bindweefsel. Die titels van die afdelings in Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie. In “Mondweefsel” word daar vertel deur dié wat naaste aan die belewenisse en wetes staan aan die woord te stel — óók deur hulle taal en taalgebruik aan die woord te stel. “ses narratiewe uit die Richtersveld” heet die reeks waarmee Kleur open: verhalende verse waarin die orale stem kry lánk voor daar oor die tema van oraliteit en orale digters (soos “4 griots”, p. 89) gedig word. Die bundel begin met “die Groot Gariep” (p. 13), die “Oer-Oranje”, “Die Rivier” wat gebore word wanneer ook kontinent Afrika en die suidpunt daarvan ontstaan: “los van ander skiet suider-Afrika die lug in / bibberend van losse vryheid”. ’n Belangrike begin vir die bundel, hierdie geboorte van rivier. Later, in die “Bindweefsel” van die slotafdeling, word dit teruggeroep in die reeks “van litteken tot rivier”, omdat dit ten slotte in en deur die rivier (hierdie keer meer noord: die Niger) is wat die wordende redding kom waarna daar dwarsdeur die bundel gesoek word:

    ek plet myself oor die rivier van gebare en verrukking
    van spoel en glip en vloei en gly
    tussen lug en silwer skaats ek geluidloos lig in taal

    dit gebeur
    as rivier geliefde word
    met woorde loop ek op die water
              (“7. rivier”, p. 98)

    die rivier ken geen grens nie
    die rivier raak altyd alle kante
    die rivier maak meer as een wees
    moontlik

    in hierdie breë skittering van water en lig
    maling en loom
    kom al die rowe in my los
    iets — nie van wees nie
    maar van word

    [...]
    nie van wees nie
    maar word
    baie worde
    baie baie worde
              (“8. boot”, p. 99)

Maar dit is om voortydig die bundel vooruit te loop. Eers is daar verskeie gedaantes van afrekenings, ontblotings en ontboesemings wat oopgeskryf moet word. Eers is daar die ononderbroke worstelstryd met taal, die kompromislose oopkloof van geskiedenis (die heel nááste soort), die uitmergelende afrekening met, en verkenning van ’n ongenaakbare kontinent, die durende pad-uitkap na hoort.

III

Daar is baie vorme van oopskryf in Kleur, baie aangesigte, baie manifestasies. Een van die wat ophefloos kloof tot waar dit nooit weer onaangeraak kan wees nie, lê in “Wondweefsel”. Ná “Mondweefsel” se direkte aanspreek deur die vertellings, is dit nie net die tema van die gedigte in “Wondweefsel” wat in die lewe in sny nie, maar waarskynlik lê ’n groot deel van die impak daarvan ook in die ongeïllustreerde blote opstapelings wat aangebied word. Nie meer orale meedelers nie, maar nou fragmentariese opstapelings uit dagboeke. Asof om self-te-sê hier eenvoudig onmoontlik is. Asof enigiets meer as bloot opnoem, énige vorm van poog om die ellende te probeer be-sê, heiligskennis sal wees. En in elk geval: uit die gebrutaliseerde verlede is fragmente wel al wat oorgebly het. En verder: níks kan méér sê as hierdie skraal stukke konsentrasiekamptaal nie:

    3. kry maaiers
    kry kewers
    stukkies glas
    vishoek

    4. die kinders grawe die karkasse van skape op
    die kinders string die derms aanmekaar
    die kinders braai dit in die as
              pp. 29-30

Maar dis nie waar dit bly nie. In ’n stilistiese greep van gelykstelling, deur iets so eenvoudig soos parallelle titels, kom skryf Krog in “Wondweefsel” twee reekse gedigte kommentaarloos na mekaar — en doen die werk wat die literatuurgeskiedskrywers nou al vir jare afskeep (nalaat?) (3), kommentaarloos en meer effektief. Kom druk die “nasionale” empatie met die konsentrasiekamp-afgryse en die haat teen die kolonialiseerders aan die begin van die eeu deur die bewussyn van vandag se (wit) leser na dit wat régtig (o, o regtig — die waarheid, die verminkte geweldaangedoende, gewelddadige waarheid), na dit wat aan die einde van die eeu in townships en shacks ervaar is. En skielik is dit, hierdie twee stelle dagboeke en die onuitspreeklike afgryse daaroor, die onophoudelike leed daarin, vir álmal waar. Nie net vir daardie uiteenlopende “álmal” wat “direk” daarby “betrokke” is nie, en ook nie net vir (literatuur-)historici wat agternabeskou tendense in ’n taal se verse kom sien nie. Skielik is dit daar. Hier. Kom maak Krog die ontken, die ignoreer, die blinde oog draai, die doodswyg, onontkenbaar oop. In blootse uitsê en meedeeltaal. In poësie sonder om poësie daarvan te maak. Selfs in ’n soort inkantief treurende taal — sodat van die rouliedere selfs die verskriklike teenoorgestelde van prysliedere raak. Twee reekse gedigte dus, twee gelykluidende titels, twee parallelle geskiedenisse van verskrikking: “dagboeke uit die begin van die twintigste eeu”, “dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu” heet dit.

    6. hulle sleep hom aan sy bene soos ’n hond
    hulle skraap sy brein in ’n gat in die grond
    hulle trap dit vas met hulle stewels
    dit was helder oordag
    en stikdonker
    dit hou nooit op in my hart nie
    dit kom altyd terug
    dit vreet my uitmekaar
    Sonnyboy, rus in vrede my kind
    ek vertaal jou vir vandag uit die dood
              (p. 34)

    13. die liggaam beroof
    die blind gefolterde keel

    die prys van dié land van dood
    is groot soos ’n hart
              (p. 36)

Pas ná die verslag uit dagboeke, woed hierdie wetes van verskrikking ook op ’n ander manier uit. Die derde reeks in “Wondweefsel” heet: “land van genade en verdriet”. En hier word die poësie toegelaat tot ’n stem — een van passie en pyn, een van: waarheen om te gaan, wat om te doen:

    3. woordeloos staan ek
    waar sal my woorde vandaan kom?
    [...]

    wat sê ’n mens?
    wat de hel dóén ’n mens
    met dié drag ontkroonde geraamtes, oorsprong, skande en as

    die land van my gewete verdwyn sissend
    soos ’n laken in die donker
              (p. 38)

En:

    4. ons dra die dood
    in duisend klowende gedaantes
    drummelend
    droef
    dra ons die dood

    [...]
    die dood klap sy beroulose kleppe in ons taal
    ja, die onverdrote deeglike dood.
              (p. 39)

Op ’n soortgelyke manier as wat daar in die bundel gevorder word vanaf die plaaslike (die “Suid-Afrikaanse”) “Oer-Oranje” ( p. 13) tot die groter verband van die kontinent (“Afrika” se) “Nyl van die Neger / n’ger-n-gereo / Niger” (p. 97), word hierdie evokasies rondom geweld, taal en dood in Suid-Afrika later in die bundel ook in die groter geheel van die kontinent ingebed. Word woede en bloed betrek, sodat roulied en “klaaglied” (p. 77) saam begin bestaan:

    geruisloos draf die dood deur die donker
    draf die dood die kappende, dolwende dood
    (daar’s gister en môre, maar nou is ondraaglik)
    deur voetsool en kraakbeen druis dood deur die donker
    dis die gouddonker hart van Rwanda
             op ’n godlose nag in April

    die lank ingehoue skreeu skreeu

    uit vrees, uit waansin, uit skuimende angs
    val gekaptes in omhelsings van bloed

Terug in Suid-Afrika, by “land van genade en verdriet”:

    2. in die begin is sien
    […]
    by sien word eindelik woord gevoeg
    en die oog stort af in die woedende wond

    hoor! hoor die opwel van medemenslike taal
              in haar sagte weerlose skedel
    en hoor die stemme van die land
              almal gedoop in die lettergreep van bloed en hoort
    be-hoort die land uiteindelik aan die stemme wat daarin woon
    lê die land aan die voete van verhale
              van saffraan en amber
    engelhaar en kwets
    dou en eer en draad
              (p. 38)

In ’n gedig soos hierdie is die spore van wat later op groter skaal teen die einde van die bundel in “Bindweefsel” gebeur, reeds sigbaar — naamlik hoop. Hoop op versoening en saambestaan, hoop op word en hoort. En durf mens inversies van, pendante vir “Amakeia” in die verse van “slaapliedjies vir Ntombizana Atoo” (pp. 79-83) sien:

    sj-sj
    stil maar
    soet
    slaap sag
    slaap heel
    en swart gekantel

    [...]
    kindertjie swart kindertjie veld
    kindertjie niemand
    vir niks vermeld
    kindertjie bors kindertjie dors

    2. die wind is die hemel vol
    met my stem op pad na jou toe
    [...]

    hou vas liewe kind
    teen alles in

    dat jy die aarde kan sien
    saamgekleef met sonne en mane en komete en meteoriete
    die windgesyferde lug
    [...]
    jy moet sién
    jy moet hóór hoe die wind die son oor jou drumpel dra
    próé hoe water in die ondergaande son ivoor word

    kindjie die grond gloei van hemel

    3. ek sal jou kom haal uit beendere en koeëls en geweld en vigs
    uit stomheid en domheid uit die korrupte gesigte van mans
    [...]

    want jy móét dit anders sien
    ons van die afgrond
    moet almal ánders sien
    die vasteland wat soos ’n groot swart hart op die aardbol dryf
    vasteland wat óns is
    [...]

    ek lê my wang teen joue
    en wil in jou inblaas
    gee om
    gee om
    sj-sj

IV

En nou het ek nog lank nie eers begin raak aan afdeling III nie. Aan “Sgraffito” nie. Liefdesverse Krog. Waarvan die eerste reeks (“skilderysonnette e.a.”, pp. 51-62) met beeldgedigte liefde maak soos Afrikaans dit nog nie gesien het nie. Walter Battiss, Marlene Dumas, Pablo Picasso. En dan “skryfode” (pp. 66-74). Mens kan nie hieroor sê nie. Die swye word jou van nuuts af aan opgelê. Ook deur die blote onversteurbare vaart van vers. Die o so gemaklike natuurlikheid, die onkeerbaarheid daarvan. Soos die water van die riviere waaroor die bundel dit het — wat deur eeue heen ’n pad deur rots heen kaart, en nou vanselfsprekend en eiegeregtig daardeur loop. In die voetpad van die eie voetval loop:

    om te kan skryf moet ek myself binne kom
    deur my te buite te gaan

    [...]
    (die wingerd teen die hange neem ’n verorberende groen eed
    dat niks tot niet sal gaan onder hierdie styfgespanne winddeurwaaide lug nie
    op maanlignagte kan jy die hoewe teen die klippe hoor sterremaak
    maar wat sê dit?
    hoeveel kleur bind jy hierin saam)

    [...]
    soos jy behoort ek aan die aarde
    en die letsels daarvan

    [...]
    ek skryf: jy eet asof jy feesvier
    ek skrik vir my hongerte na jou geplette enkels
    die aarde is warm met klein paddatjies

    ek het alles te verloor
    ek gee niks op nie
    ek balanseer tussen wonde, rowe en keloïed

V

Maar wat my die langste sal bybly uit die spektrum van Kleur kom nie alleen nie, is die gefokusde en nimmer verslapte klipharde oopskryf van dit wat in die binneste is. Die essensie, dus. En miskien kan mens hierna verwys deur die vyfde gedig van die reeks narratiewe uit die onherbergsame Richtersveld metafories as voorbeeld te gebruik. In ’n gedig soos “5. narratief van klip” sou baie beitelpunte kon breek. (En ja, Louw se beiteltjie en Opperman se klip word hier bygehaal.) Maar nie hierdie bundel s’n nie. Nie die stem van hierdie digter nie. Die manier waarop die uitdaging aanvaar word om die grondigste van alles (elke liewe tema en nuanse en belewing) tot in die onaansienlike wese daarvan ín te kyk, en huiweringloos onverbloemd óóp te , dít is wat (in hierdie gedig, deur hierdie bundel) werklikwaar verbluffend is. Om die uitdaging van die kontinent wat sig verset tot bewoon en benoem, om hierdie uitdaging in sy mees ongenaakbare vorm te aanvaar, naamlik in terme van klipharde onversetlike klip, en om dan daarmee sukses in en deur die taal te behaal, dít is verdienstelik. Dít boei.

In “5. narratief van klip” word die kryt uitgelê, die stryd aangesê:

    ’n landskap soos dié maak my bang
    reeds tussen Brandkaros en Bloeddrif steek dit jou onder klip
    “dé ek is klip,” sê dit
    “net klip
    in sy lelikste klipste klip
    ja, vatso, ek is fokkenklipdiklelik
    ék smyt die eerste klip [...]

En wys die klip benoeming af:

    gee my taal vir klip pleit ek
    na ’n dag roepend in die Richtersveld bergwoestyn
    ek soek taal
    soos: die skitterende wit gebit van klip
    soos: klipwaterval kanteldam
    hoe lê die klipkraag van verdriet
    skrobbeer vandag die hanekam

    dit bliksemswil rym!
    Ek’s ding, hoor jy!
    kyk my in die oghe, face my
    ek is ding
    ek verweer brutaal
              tot klipskilfers teen kaal helse skuinstes
              vieslike deurmekaar klipbleddievlokke
    geen klipwoorde gaan jy ooit uit my tap nie
    nooit my tot taal kap en kaap nie

Wat hier verwoord word, raak dan binne die bundel metafories van die kaalvuisgeveg daarvoor om elke liewe verhulling af te sweer en oop te breek. Iets wat in hoogspanning deur die bundel bly loop. Óók waar die woorde en die tema’s en die toonaarde lirieser en ligter raak. Mens sou selfs kon opmerk dat daar teen die einde van die bundel ’n soort uitoorlê kom, wanneer iets so onvaspenbaar (en “sag”) as water nou ook met meganismes wat gewoonlik vir metale reserveer word (“plet”), aangedurf word:

    ek plet myself oor die rivier van genade en verrukking
    van spoel en glip en vloei en gly
    tussen lug en silwer skaats ek geluidloos lig in taal
              “rivier”, p. 98

En die grootste jubeling hiervan is dat hierdie meegewende sagtheid van water, die smeebaarheid, die “glas” daarvan (“dryf ons in stilte op glas”) — glas wat boonop immers uit vuur en die sand van klip voortgeblaas moes word — dat dit dan nie aanleiding gee tot ’n terugval op die “maklike” verleiding van rym (soos waarteen die klip vroeër moes verset) nie, maar dat taal en poësie bewys dat dit geleer het om te verruim:

    dit ruim
    dit ruim uiteindelik
    in my desperaat varende hart

Dis nie net kleur wat nooit alleen kom nie. Dis ook leef en lees. En mense en waarheid en verdigsel en die nonrymende vaart van verlossende vers.

’n Digter wat dit alles, en só, kan doen binne die vaartbelynde grasie van die soort vers wat in Kleur staan? Dan kan die leser sig net met dankbaarheid skaar by die slotvers. Instemmend knik: daar ís

    niks by te voeg
    niks toe te voeg
    oor hoe diep dit lê
              (“niks by te voeg”, p. 104)

nie, niks by hierdie verse, hierdie sêe, hierdie blootlê van wees nie.

En já, wil ons steeds instemmend (en ’n klein bietjie dankbaar ook, na die afranselings wat dikwels en genadeloos deur die bundel gekom het) saampraat met Jakoobs se uitspraak waarin ons uitgelese ore reeds die bekende salwing van “hoe diep my liefde vir jou lê” seëvierend raak wil hoor. Ja, dankie tog, wil ons vooruitgryp: daar’s niks by te voeg nie, dit ís hoe diep die liefde lê (en die redding en die hoop, die ganse poësie). En dis net hier waar die “deurdagte digter” (Lady Anne) vir oulaas staal wys, die herneutermes draai. Langs die “(ruggelingse murmel)” van kanaalwater vir Jakoobs laat sê: “mits deze” wil ek vir jou sê: ““waar mense is / is altyd mos ongemakke””.

Tot aan die einde dus, die heel, heel oplossende en liriese einde:

    (as) klanke soos vere val
    in Baadjiesvlei en Biedousrivier
    so soos ’n asemveeg so lig

tot aan hierdie einde is daar dus niks méér te sê as die diepte van liefde en die ongemakke van mense nie. En die oopgebreekte blootsgeryde taal van een vrou, een gedigbegenadigde stem, wat in ’n kontinent leer word. “baie worde, baie baie worde”. Amen. Wil mens sê. Dis hier waar die veelkleurigheid lê.

Aantekeninge

1. Nou eers kantaantekening. Mens moet jouself soms keer om te wonder oor die epidemiese (?) afmetings in die Afrikaanse poësie wat so deurtrek kan raak van kniebuigings en weer- en teësprake wat die poësie van voorgangers betref. Maar wanneer ´n digter uit die glippende gladheid van Jonker se stromende “Mos waterval kantelson” ’n weerklank kan omklink na die klipheid daarvan: “ek soek taal / soos: die skitterende wit gebit van klip / soos: klipwaterval kanteldam” (p.19), en daardeur beide soliedheid en ontglipping, en van beide gedigte, vas kan vang, dan, dan.

2. Krog, A. 1999. (samest. & vert.: Dorsman, R.) Om te kan asemhaal. Amsterdam/Antwerpen: Atlas.

3. Die voor die hand liggende materiaal lê daar — oor hoe gedigte uit en oor die Anglo-Boere-oorlog en gedigte oor die versetstryd en die pyn as gevolg van apartheid, na mekaar roep oor die brug van ’n eeu se jare. Dit lê al lank daar. En dit is nie hier die plek om dit op te skryf nie, maar dink aan al die reaksies op byvoorbeeld Leipoldt se ‘Nuwe liedjie op ’n ou deuntjie’, aan Vernon February se reaksie met ‘Met ekskusies aan oom Gert vertel’, dink aan Mathews Phosa se opmerkings — die lys is lank.

Karen de Wet
Universiteit van Pretoria/
Katholieke Universiteit Leuven
Oktober 2000

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.