SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Bruin?


Danny Titus

Hierdie lesing het deel uitgemaak van Die Burger-Lesingreeks tydens die afgelope KKNK, onder die gesprekstema “Bruin?”. Dr Danny Titus is ’n menseregtekenner verbonde aan die Technikon Suid-Afrika.

1. Inleiding

Die e-pos van Johann Rossouw lees dat hulle graag my standpunt wil hoor oor: “Bruin?” (Wie is die “bruin gemeenskap?” Wat is hulle kwessies? Wie is hulle intellektuele en leiersfigure?)

Ek vra myself toe: Wat nou? Wat spesifiek moet ek aanspreek? Wat van die bruin mense in die Karoo, die bruin mense op die Kaapse Vlakte, bruin mense in die ekonomie, sport, politiek, onderwys? Want sien, bruin mense laat hulle nou eenmaal nie definieer nie.

Die Britte en Apartheid het dié probeer: Coloured, Cape Coloured, Baster, Other Coloured, Mixed, Gemeng, Kleurling, Gekleurdes, Mense van kleur, Agtergeblewenes ... “Het houdt gewoon niet op!” sal die Hollanders sê.

Dit is so maklik om die bruin mense aan die Wes-Kaap vas te maak. Die meeste van hulle kom tog hiervandaan? En wat van die bruin mense in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal (ons praat so baie van die aanvalle op plase, maar hoeveel aandag word spandeer aan die aanvalle op bruin en Indiër-boere, spesifiek in KwaZulu-Natal?). Wat van die bruin mense in Gauteng, die Vrystaat, die Noordwes, Mpumalanga en Limpopo? En in die Noord-Kaap?

Die verhaal word vertel van die jong student wat hier op ’n volstruisplaas op Oudtshoorn kom werk soek het. Hy kom by die boer en sê: “Oom, ek wil graag hier op die plaas kom werk. Ek is pas afgestudeer en ek het my papiere.” “Jy wil wát doen?” vra die boer. “Ek wil kom werk, Oom,” sê hy terwyl hy so ’n rooi hoedjie op sy kop vashou. Die twee gaan toe in ’n stewige woordewisseling en terwyl hulle so aangaan, breek een van die wyfievolstruise los. Sy vind die rooi hoedjie heel interessant en pyl direk op ons afgestudeerde student af. En hy begin te hol, en sy al agter hom aan. Hy hou sy hoedjie vas met die een hand en skree: “Asseblief Oom, kom help!” Die boer kyk hom so en skree terug: “Wys hom jou papiere!”

Ek kry die indruk dat die gesprek oor “Bruin?” ook so ’n bietjie lê tussen ons papiere oor bruin en die konkrete ervaringe en belewenisse van gewone mense. Ek hoop om die aanbieding ook in dié konteks te bring.

Ek wil my in hierdie aanbieding hoofsaaklik fokus op die “wie” in die bruin gemeenskap en so ’n bietjie oor hul kwessies. Die leiers en intellektuele laat ek maar vir die oomblik buite rekening.


2. Definisies of klassifikasies

Kom ons kyk eers na ’n paar definisies of klassifikasies:

  1. Die Bevolkingsregistrasie Wet 30 van 1950 het dit verpligtend gemaak dat mense geklassifiseer moet word.
  2. Die Wet 30 van 1950 het sewe kategorieë gehad: Kaapse Kleurling; Maleier; Griqua; Chinees; Indiër; “ander” Asiaat; “ander” kleurling.
  3. Maar, sê die Theron-verslag in 1976, daar is grensgevalle waar die klassifikasie “kleurling” afhanklik is van die definisies van wat is blank of “Bantoe” (sic). So oppas, daar is ’n groep grys gebiede.
  4. Verder het Artikel 5(1) van die Wet gelees as volg: ’n Blanke persoon word gedefinieer as bedoelende ’n persoon wat in voorkoms ooglopend ’n blanke persoon is, of wat algemeen aanvaar word as ’n blanke persoon, maar sluit nie ’n persoon in nie wie, alhoewel in voorkoms ooglopend ’n blanke persoon, algemeen aanvaar word as ’n kleurlingpersoon. (My vrye vertaling uit die Engels.)
  5. Artikel 19(1) is selfs meer interessant: dit sê dat ’n persoon wie in voorkoms ’n wit (ekskuus, blanke) persoon is, sal vir die doeleindes van die Wet geag word ’n blanke te wees totdat die teendeel bewys word. Ek herhaal: totdat die teendeel bewys word. Kyk so ’n bietjie rond in die saal. Soos Credo Mutwa sê: “The past is alive and watching you.”
  6. Dominee DP Botha spreek hom as volg uit in 1972[1]: Vanuit ’n rasse-oogpunt weerstaan die kleurling as groep alle klassifikasie. Kleur kan ook nie as ’n maatstaf geld nie. Die Kleurlinge kan nie bloot as “bruin mense” gesien word nie, omdat hulle kleur varieer van wit tot swart. Die ontoereikendheid van so ’n maatstaf word verder beklemtoon deur die feit dat baie wit mense donkerder is as ’n groot aantal Kleurlinge en tog word hulle nie hul plek ontneem in die wit samelewing hieroor nie.
    ’n Wit persoon sal vir die doeleindes van die Wet geag word ’n blanke te wees totdat die teendeel bewys word.


3. Vermenging as realiteit

Prof Vernie February is baie duidelik in sy Mind Your Colour[2] dat die geskiedenis van die “Kaapse Kleurling” een is van vermenging oor ’n periode van drie honderd jaar, dws vanaf die tyd van Van Riebeeck tot vandag. Vermenging, sê hy, het op verskeie vlakke plaasgevind in daai vroeë jare:

  • Integrasie tussen die Europeërs en die Khoi
  • Integrasie tussen die seemanne en soldate met die Khoi en slawevroue, en
  • Integrasie tussen die slawe en die Khoi.

    Hy verwys na die verslag van Jan van Riebeeck gedateer 22 Augustus 1660. Van Riebeeck het die woonkwartiere van ’n konstabel Willem besoek en daar vind hy die konstabel in sy bed met die slawevrou Maria. [3] Verder skryf Van Riebeeck in dieselfde 1660 van vryburger Elbertsz wat op heterdaad betrap is met sy slaaf Adouke. Sy het in sy huis gewoon en dit het aan die lig gekom dat hy gereeld haar man uit sy bed verjaag het om by haar te slaap.[4] Praat nou van die fondamente van die volksplanting aan die Kaap!

    Volgens February[5] word dit geraam dat gedurende die eerste twintig jaar van die Kaap se bestaan, nie minder nie as 75 persent van die kinders gebore in die Kaap van gemengde afkoms was.

    Die straat van hierdie fees is die Baron van Rheede-straat. February neem ons terug na dieselfde baron in 1685. Hy haal ’n verslag aan van kommissaris Baron van Rheede tot Drakenstein waar die kommissaris skryf oor sy besoek aan die slawekwartiere in 1685:[6]

    … die slawevroue ten einde hulle te beskerm teen die koue was geklee en bedek met verskillende tipes ou klere en afvalmateriaal. Baie van hulle, veral die jongeres, was bedek met uniforms van soldate en seemanne. Onder hulle was daar klein kinders, seuns en dogters so wit soos Europeërs en daar was baie moeders besig om te werk met kinders vasgebind op hulle rûe … die kinders het veel meer gelyk na kinders van Hollandse moeders as die van slawevroue. (Vry vertaal.)

    Dit lyk amper of kommissaris Baron van Rheede tot Drakenstein iets gehoor het van “Die hand vol vere”:

    … die Boland se volkies dra geleende klere
    en jy’t verniet gestry
    en jy’t verniet gestry
    solank as die kind in die tjalie lê
    dan lyk hy net soos jy.

    Ons is nie God se stiefkinders nie, Sarah Gertrude Millin, ons is deel van God se familie. Saam met Allan Boesak[7] is ek oortuig dat God ons doelbewus gemaak het. “De-li-be-rate-ly.” Ons is deel van God se familie en ons is deel van die Suid-Afrika-familie. En niemand, niemand gaan ons dit ontsê nie.

    Ek sien dat oom Paul Kruger ook nie aantrekking van die donker vrou kon weerstaan nie.[8] “Dis onmoontlik,” sê die Krugerhuis in Pretoria. “Ons het rekord van al sestien sy kinders.” Ja-ja, maar heel duidelik nie van die sewentiende nie.

    “Sy was half wit, half swart met sagte, reguit hare. Sy kon geen taal beter as Afrikaans praat nie,” vertel die 59-jarige kleinkind van haar ouma Madipholo. “Haar trane het altyd gerol as sy oor haar verlede gepraat het, veral oor die tyd toe sy as slaaf in Kruger se huis gewoon het.”

    ’n Nasaat van Paul Kruger, dr Theuns Eloff, rektor van Potchefstroom Universiteit, word aangehaal waar hy sê[9] hy kan nie op die waarheid van die bewerings kommentaar lewer nie. Hy verwys na die 1984-boek van HF Heese wat praat van die rassevermenging van “goeie boerevanne soos Coetzee en Venter en Kruger waarskynlik ook”. En dan kom hy tot die voor die hand liggende slotsom: “… ek kan maar net ’n bietjie skertsend sê as dit so is, dan het ek nie ’n probleem daarmee nie. Dit versterk net die bloedlyn!”

    Vir die doeleindes van die Wet sal jy ’n blanke geag word, totdat die teendeel bewys is.


    4. Maar wat van die ander kant?

    Ons het nou redelik omvattend gepraat van wit wat eintlik bruin is, maar wat dan nou van swart wat bruin word? Hoeveel Mtimkulu’s het Grootboom geword en hoeveel Ndlovu’s Olifant? En met die koms van die nuwe Suid-Afrika, hoeveel Grootbooms het weer Mtimkulu geword en hoeveel Olifante Ndlovu’s?

    Die verhaal word vertel van die twee vriende, een bruin en een swart, wat geoefen het om die swart broer bruin te laat verklaar. “Leer my net daai woord van shakalaze, daai djakkalas van djulle. Hulle vra daai woord.” Die twee het goed geoefen en “jakkalas” het ’n perfekte “jakkals” geword. Toe kom die toets. En die bruin broer wag, maar die swart broer kom nie terug nie. Heel later kom hy wel, sy kop hang en hy skop sommer ’n blik dat hy doer trek. “Wat is dan nou verkeerd?” “Hau,” sê hy, “ek het gefail. Jy leer my die hele tyd van jakkals, maar toe hulle vra my om te sê wollof!”

    Herklassifikasie van swart na bruin was om dieselfde rede as herklassifikasie van bruin na wit: om die hardheid van apartheid te ontvlug.

    In die Nederlandse bundel Suid-Afrikaanse kortverhale, Een kwestie van Identiteit, onder redaksie en in die vertaling van Vernie February en Robert Dorsman, word prof Eskia Mphahlele soos volg aangehaal:

    Het is verleidelijk om zich te laten classificeren als “kleurling” (dat wil zeggen als gemengd), want dan hoeft men geen pas meer te dragen. Maar zo simpel is het ook niet, want dan moet Karel alles opgeven: zijn vrienden, zijn vrouw, zijn leven in het zwarte getto.

    Tog bly die vraag: hoeveel swart mense is nie eintlik bruin nie? Ons hoor vandag so gereeld dat die bruin mense aan die agterste speen moet suig, dat hulle “non-Africans” is, nie swaar genoeg gestruggle het nie, ens ens. Tog moet ons bly vra: hoe bruin is bruin? Hoe bruin is swart? Of moet ons nie maar terug gaan na ons 1950 Wet nie en sê: Jy sal geag word swart te wees tot die teendeel bewys is. En waar gaan ons dan heen?

    Nee, nee, sê onse president Thabo: Luister ’n bietjie!

    I am an African.

    I owe my being to the hills and the valleys, the mountains and the glades, the rivers, the deserts, the trees, the flowers, the seas and the ever-changing seasons that define the face of our native land. …

    I owe my being to the Khoi and the San whose desolate souls haunt the great expanses of the beautiful Cape …

    I am formed by the migrants who left Europe to find a new home on our native land. Whatever their own actions, they remain still, part of me. In my veins courses the blood of the Malay slaves …

    I am the grandchild of the warrior men and women of those that Hintsa and Sekhukhune led, the patriots that Cetshwayo and Mphephu took to battle, the soldiers Moshoeshoe and Ngungunyane taught never to dishonour the cause of freedom.

    I am an African.

    Klink vir my eerder Thabo is ’n “coloured”! Met so baie bloed wat in sy are vermeng is, moet hy ’n bruin man wees. Maar Thabo sê ons is nou Africans, en Thabo is ’n “honourable man, so are they all, all honourable men.”

    Die ervaringe van bruin mense en swart mense buite die Wes-Kaap is veel meer een van tussenkulture. Praat mekaar se taal, deel in mekaar se gebruike, en erken dat ons mekaar se bloedlyne versterk. Ons het ’n natuurlike gemeensaamheidsbasis, veel meer wat ons bind as dit wat ons skei.


    5. Maar word ons aanvaar in hedendaagse Suid-Afrika as volwaardige burgers?

    Dit is natuurlik ’n verhaal op sy eie. Maar luister hoe dit in Brittanje gaan waar Clare Gorham[10] enkele punte aansny:

  • Om gemeng te wees beteken jou swart wees word bevraagteken.
  • Jy voel nooit volledig aanvaar aan beide wit of swart kante nie.
  • Wit mense oor die algemeen sien almal as swart, terwyl swart mense na jou kyk in terme van grade van swart, en in die meeste gevalle aan die verkeerde kant van swart.
  • Sal ek ooit aanvaar word in die Britse samelewing se wit en deur sy swart?

    Ons moet egter erken dat ons veel verder in hierdie opsig is as Brittanje, ander Europese lande en die VSA.

    Pres Mbeki is korrek as hy sê:

    The constitution whose adoption we celebrate constitutes an unequivocal statement that we refuse to accept that our Africanness shall be defined by our race, colour, gender or historical origins.

    It is a firm assertion made by ourselves that South Africa belongs to all who live in it, black and white.[11]

    Maar dit bly ons verantwoordelikheid om daai grondwet te laat werk. En dit sukkel maar, dit sukkel maar behoorlik.

    Ons het vir te lank ons toekoms in die hande van politici gelaat. Dit is tyd dat ons opstaan, ons stemme terug kry en praat vir ons mense. Kom ons wees eerlik oor wie ons is en waar ons vandaan kom, sodat ons kan weet waarheen ons met hierdie land gaan.

    James Matthews skryf in sy gedig:

    Can the white man speak for me
    Can he feel my pain when his laws
    Tear wife and child from my side
    And I am forced to work a thousand miles

    Can the white man speak for me?”

    Ons is nou al byna tien jaar in ons demokrasie en dit lyk of Matthews se vraag ’n ander kleur gekry het:

    Can the black man speak for me, and can he feel my pain?

    So baie keer hoor ons dat die bruin mense die worsie in die middel van die worsbroodjie is, altyd maar onder; of wit nou bo is en swart onder, en of swart nou bo is en wit onder. Ons kan maar net nie wen nie, word gesê. Ons bly maar in die verdomde middel!

    Maar dis tog gewoon nie waar nie! Want wat sal die worsbroodjie wees sonder die wors? Nog steeds ’n worsbroodjie? Not ’n dêm! Suid-Afrika kan nie bestaan sonder sy bruin mense nie: nie sonder die bruin bruines nie, nie sonder die swart bruines nie, nie sonder die wit bruines nie - en ja, hulle is daar ook, ook nie sonder die Indiër-bruines nie.


    6. Konklusie

    Ek dink onwillekeurig aan ’n boek wat my so gefassineer het: ’n Stringetjie Blou Krale van EKM Dido. Die tog van die bruinvrou terug na haar Xhosa “roots”. “Buyelwa ekhaya” was die woorde wat die verlossende moment gebring het, die kairos-oomblik. “Buyelwa ekhaya” - “Kom huis toe.”

    Ek het so ’n mooi slot hierop gebaseer, dat ons almal moet terug na ons Suid-Afrikaanse huis toe. Tot ek gister op die vliegtuig lees dat mnr Peter Marais sy nuwe party baseer op die leuse “Come home.” [12] Die boek van Dido is vir my dié boek van die 21ste eeu en ek wil dit sterkste aanbeveel as verpligte leesstof, ook vir mnr Marais.

    ’n Ander slot dus: meer ’n uitdaging aan hierdie gehoor, aan die bruin mense van Suid-Afrika en aan die jong ontwikkelende Suid-Afrikaanse nasie. Ons is mekaar se bloed, swart, wit, bruin, Indiër, mekaar se bloedfamilie. Kom ons staan uit Adam Small se klippe uit op, en kom ons versterk die land se bloedlyn. Kom ons help pres Mbeki en die ANC om, met ons almal, weer Africans te word.

    [1] In MG Whisson & HW Van der Merwe, Coloured Citizenship in South Africa (Kaapstad, 1972), 77.
    [2] VA February, The ‘Coloured’ Stereotype in South African Literature (Kegan Paul International, Londen, 1981), 12.
    [3] Ibid. 13 mvn Dian Joubert, Met iemand van ’n ander kleur (Kaapstad, 1974), 12.
    [4] Ibid.
    [5] ibid. 13.
    [6] JLM Franken, Die taal van slawekinders en fornikasie met slavinne, in: DF Malherbe (red.), Tydskrif vir Wetenskap en Kuns (Bloemfontein, 1927), 6.1:22. Februarie 13.
    [7] Allan Aubrey Boesak, From Uhuru to Black Power, 2003, ongepubliseerd.
    [8] www.news24.com/Rapport/RapportArchiveArticleDispley
    [9] ibid.
    [10] Will mixed-race Britons ever find acceptance in that society? Mail & Guardian, Maart 14-19, 2003, 26-27.
    [11] Supra.
    [12] Marais plans his own party, Mail & Guardian, 28 Maart-3 April 2003, 9.

    (Lesers word uitgenooi om die gesprek verder te voer deur briewe te stuur vir SêNet by katvis22@yahoo.com.)

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.