SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Wie is die bruin gemeenskap?

Basil Kivedo

Hierdie lesing het deel uitgemaak van die Burger-Lesingreeks tydens die afgelope KKNK, onder die gesprekstema “Bruin?”. Basil Kivedo is ’n MK-veteraan.


Indien ons let op die onderwerp, kan ons tereg vra: Is dit nog in hierdie tydsgewrig in die SA politieke bestel en geskiedenis nodig en sinvol om oor ras- en etnies-gebaseerde kwessies soos “bruin” en “bruin mense” te praat? Is dit nie onvanpas en in stryd met die gees van die Grondwet nie?

Ek wil hierop onomwonde sê: “Ja, dit is nodig, want ras en etnisiteit het nooit regtig van die openbare agenda verdwyn nie.” Miskien is ons bloot besig om voor te gee dat dit wel gebeur het. Dalk is dit juis goed om nou weer reguit daaroor te praat en krities te kyk na die gees van toenadering in die land. Dalk is dit tyd dat ons ophou voorgee. Ons is soms bang om ras, etnisiteit en selfs kultuur te bespreek, omdat ons nie weet of ons dit sal kan hanteer nie. En omdat ons nie daaroor praat nie, krop dit op.

Ras en etnisiteit is tersaaklik juis omdat daar twee sterk ideologiese strominge in SA teenwoordig is, nl die van die swartbevrydingsbeweging wat ’n veelrassige samelewing voorstaan en die van die ANC wat ’n nierassige beslag daarstel.

Uit swartbewussynskringe en ook uit ander kringe is daar mense wat heel gemaklik is met konsepte soos ras, stam en etnisiteit. Daar was ’n tyd in ons land se geskiedenis toe ons reguit hieroor gepraat het, maar tromp-op politiek het skynbaar verdwyn. Alles gaan nou daaroor om polities korrek en polities doeldienlik te wees.

Gegewe alles hierdie, is dit dan hoegenaamd vreemd dat die Ngema-liedjie die lig gesien het? Dit is ook so dat die beweging na “verligting” konsepte soos globalisering, sekularisme en raslose, identiteitlose gemeenskappe verhef bo tradisionele idees van geloof, ras, stam en etnisiteit. Veroorsaak dit juis nie ’n kontekslose vakuum waarin die gesprek gevoer moet word nie? Die hedendaagse SA media toon ook ’n geneigdheid om gesprekke oor ras en etnisiteit tot sensasionele hoofopskrifte en klankgrepe af te skaal. Die probleem is nie dát ons daaroor praat nie, maar hóé ons daaroor praat. Nie net swart en bruin mense sit met etniese vraagstukke nie, maar ook wittes.

Dit is iets wat ek waardeer van Afrikaners, dat hulle as ’n groep identifiseer en onderskeibaar is van bv Jode of Iere. Myns insiens is ras en etnisiteit en die besinning daaroor vandag éérs topikaal en relevant. Ras en etnisiteit geniet tans soveel aandag omdat dit in belang van die politieke en ekonomiese elite is om dié sake op die agenda te plaas. Die elite se belang word as die nasionale belang geprojekteer en wanneer dit hierdie groepie bevoorregtes pas, word bepaalde identiteite gepolitiseer. Ek glo dat in die korporatiewe omgewing, velkleur ’n baie kosbare kommoditeit is.

Sakemanne, net soos politici ook, gebruik ras as dit op kort termyn in hul belang is. Word swart politici aangespreek oor wanadministrasie, gebruik hulle rassisme om kritiek af te weer. Hulle word ook deur partygenote beskerm en verskoon. Ons hoef hier nie verder te vergelyk tussen Tony Yengeni aan die een kant en dr Allan Boesak wat steeds deur die ANC verguis word en nog altyd wag op ’n presidensiële pardon nie. Sover vir gelykberegtiging, gelyke behandeling en “kameraadskap”.

Die fassinerende ding van die Mandela-era, wat daarop uit was om te versoen, is dat dit nie versoening gebring het nie, maar ’n neoliberale, makro-ekonomiese beleid wat gelei het tot groter polarisering, marginalisering en diversiteit. Miskien is president Thabo Mbeki reg as hy sê dat Suid-Afrika ’n land van twee nasies is. Ek dink egter nie (en mag die hoop nie beskaam nie) die een is swart en die een is wit nie. Hopelik verwys president Mbeki na twee nasies: een arm, een ryk. Dit bly vir my nog stof tot nadenke en laat ek vir eers berus in my oorle ouma se geliefde sêding: “Toemaar, my kind, die tyd sal wel leer!”

In die laaste verkiesing is beweer dat sogenaamde bruin mense en Indiërs teen die ANC gestem het. In der waarheid het die meer gegoede bruin mense en Indiërs vir die ANC gestem en die armes vir die DA, die NNP en ander partye regs van die ANC.

Die feit is dat arm mense bedreig voel deur regstellende aksie; in ’n gemeenskap waar vaardighede skaars is, is dit die maklikste om mense sonder vaardighede te vervang. Arm mense word beroof om arm mense by te staan.

Die doel met ekonomiese beleid moet nie wees net om groei te bewerkstellig nie, maar om armoede geheel en al uit te wis. As dit nie die geval is nie, sit jy met ’n beleid wat moreel problematies en fundamenteel gevaarlik is, veral as dit die effek van rassepolarisasie het. Ironies genoeg is dit juis ook so ’n wyse “wake-up call” aan die regering deur Jeremy Cronin van die SAKP wat aanleiding daartoe gegee het dat president Mbeki hom beskuldig het van “ultralinksheid” en “wit Messianisme”. My oorle ouma sou hierop gesê het: “Maaind djoe!”

Politici wat hul kieserskorps as vanselfsprekend aanvaar, speel ’n groot rol in die formulering van beleid wat arm mense aan die kortste end laat trek. Die ANC weet daar is nie ’n alternatief vir die meerderheid swart mense nie, en daarom hoef hulle nie konsessies aan hul kieserskorps te gee om hul steun te behou nie. Dit kan lei tot die ontstaan van ’n parlementêre opposisie links van die ANC wat armoede sal takel en ras sal onderspeel.


Wie is die bruin mense?

In hierdie geval sal ek die terme bruin en kleurling afwisselend gebruik. Eintlik maak die onderskeiding tussen dié twee begrippe vir my nie eintlik saak nie, omdat dit dieselfde is soos om ’n roos ’n blom te noem.

Die vraag het betrekking op ’n soeke na antwoorde op die vrae oor wie ons is, wat ons graag wil wees en hoe ons bekend wil staan. Dit gaan ook oor hoe die bepaalde groepering hulleself sien, asook hoe hulle hul rol in en bydrae tot nasiebou in ’n nuwe Suid-Afrika sien.

Myns insiens vorm die kleurlinge nie ’n etniese groep óf nasie nie. Verder kan die groep sigself nie ’n nasionale minderheidsgroep noem nie. Ons is van verskillende sosiale klasagtergronde en manifesteer nie ’n spesifieke en enkele klas nie. Inteendeel, ons is ’n samelewing binne ’n samelewing. Daar bestaan geen aspirasie om ’n etniese groep of ’n nasie te wees nie. Die kleurling wil eenvoudig ’n gerespekteerde en legitieme deel van die demokratiese proses wees. Ons mot onsself vergewis daarvan dat die kleurling van Afrika, Asiatiese en Europese oorsprong is.

Die lyne van ons Afrika-herkoms word versinnebeeld in die Khoi, San en Xhosasprekende swartes.

Ons Asiatiese oorsprong kom by wyse van Indië, Indonesië, Maleisië en waar ook al die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie hul slawe, sowel as Europeërs kon vind. Ons ontstaan uit onderlinge troue, kohabitasie en dikwels deur verkragting, prostitusie en informele geslagsomgang.

Ten spyte van ons diverse kontinentale erfenis en herkoms is ons mense van Afrika. Ons is van hierdie land. Ons het van hierdie grond geleef en doen dit nog steeds. Ons het hierdie Suid-Afrikaanse lug vir meer as 350 jaar ingeasem. Die rotstekeninge van Namakwaland — een van die gebiede van ons oorsprong — is meer as 1 000 jaar oud. U kan gerus daardie rotstekeninge van Namakwaland gaan besigtig en die estetiese vermoëns van ’n protobeskawing bewonder.

In die resente geskiedenis het ons ons oorsprong uit oorname, oorheersing, slawerny en onderdrukking. Die grond wat eens deur die Khoi en San bewoon was, is as gevolg van dwang, endemiese siektes en swak oordeel deur die Europese setlaars in besit geneem, dws die primêre bate van kapitalistiese moderniteit, naamlik grond en landboukundige vaardighede, was nou in die hande van die Europeërs. Die kleurlinge kon slegs hul goedkoop arbeid aanbied deur die grond te bewerk, gewasse aan te plant en wyn te gis. Moslems uit Asië, sowel as swart Afrikane wat as slawe ingevoer was, het uiters gesogte beroepe bekom. Hulle het letterlik Kaapstad gebou.

Die slawe was bedrewe vakmanne in boukonstruksie, houtwerk, metaalwerk en wamakery. Swart Afrikane was ’n integrale deel in die ontstaan van die kleurlinge. Slawe uit Sentraal- en Oos-Afrika, bekend as die Vry Swartes en woonagtig langs die Liesbeeck-rivier, was binne die kleurlingbevolking geabsorbeer.

Terselfdertyd het dieselfde tendense op die grensgebiede van die Oos-Kaap plaasgevind. Dié besondere kulturele milieu van kleurling-swart-interaksie was gekenmerk deur ’n Europeër-gebaseerde beroepsarrogansie. Swartes wat oor bepaalde vaardighede beskik het, was deug — vandaar dat die “Vry Swartes” totaal in die arbeidsmark ingelyf was. Vakbonde bestaande uit wittes en kleurlinge het daadwerklik swartes uit hul geledere uitgesluit. Verder was die milieu ook gekenmerk deur bepaalde kleurlinge wat naarstiglik gepoog het om as wit deur te gaan.

Die Europese kultuur, maniere, gedragspatrone en gewoontes van die Europese meesters was slaafs nageboots en nagevolg. Wit mense, veral die Engelse, was deur die kleurlinge in hulle privaatheid as paternalisties uitgekryt, maar in die publiek aangeprys. Hierdie “play for white” was ’n patologie wat gesinsverhoudinge tot in sy fondamente geskud het. Binne een gesin was daar openlik gediskrimineer tussen die donkerder en ligter kinders. Die donker kinders is uit die oog gehou en tot die heel laagste rang van die gesinshiërargie gereduseer. Binne sodanige gesinsopset was swart wees as ’n vloek beskou — ’n bron van seksuele skande. Dit verdien ook vermelding dat kleurlinge toenemend net onder hulself gesosialiseer het.

Hulle het gaandeweg redelik losse solidêre netwerke begin vorm. Persoonlike sowel as sosiale affiniteite was eerder na binne as na buite gerig. In ’n sin het die kleurlingbevolking ’n samelewing binne ’n groter samelewing geword, ’n samelewing sonder gedemarkeerde grense. In die proses is sekere swartes binne die kleurlinggroep geabsorbeer en toegang tot en beweging binne die wit woongebiede het dikwels voorgekom. Sekere onderskeidende kenmerke het gaandeweg na vore getree: die Afrikaanse taal, ’n patois, ’n musikale tradisie, spesifieke voedsel en spyse en ’n besondere wyse van integrasie met die amptenary — alles hierdie het bloot tot ’n subkulturele innovasie van ’n breër milieu gelei. Die kleurling was nou werklik niks wat ’n mens ’n onderskeidende etniese groep met ’n onderskeidende taal of politiek kon noem nie.

Daar was egter ’n gemaklike ontspannendheid in soverre dit identifikasie tussen kleurlingsamelewing en Suid-Afrikaansheid betref. Ten einde etikettering vry te spring, het baie kleurlinge verkies om hulself as Suid-Afrikaners te identifiseer. Om kleurling te wees binne die kleurlinggemeenskap en Suid-Afrikaans buite die gemeenskap was bloot ’n teoretiese probleem. Mettertyd het apartheid enige vorm van kontak tussen die verskillende etniese groepe verbied, en dmv statutêre beplanning is onderskeidende etnisiteit aan die verskillende bevolkingsgroepe opgedwing, en dmv die wette op rasseklassifikasie en groepsgebiede is gesinne en woonbuurte verbrokkel. Die onderdrukking teweeggebring deur apartheid het egter sy nagevolge gehad.

Mense het begin om op ’n heel natuurlike wyse te hergroepeer en sodoende nuwe realiteite geskep. In sommige gebiede, byvoorbeeld Manenberg, Hanover Park, Lavender Hill ens, kon nie koherende binding bewerkstellig word nie en gevolglik het genoemde gebiede bendeneste geword. Die beklemmende greep van apartheid het ook ’n teenoorgestelde as die bedoelde uitwerking gehad: ’n skaal en intensiteit van politieke verset en weerstand soos nog nooit vantevore deur die kleurlinge gedemonstreer is nie.

Die destydse regering se poging om ’n onderskeidende etniese groepering te skep het tot gevolg gehad dat dié groep hulleself in ’n hegte eenheid gemobiliseer het, nie as ’n manier om ’n eiesoortige identiteit te formaliseer nie, nie om hul eie volkstaat te eis nie, nee, eerder om vir hulself ook ’n plekkie in die son te kry. Uitvloeisels hiervan was die stigting van die United Democratic Front (UDF) in 1983 in Rocklands, Mitchell’s Plain — die grootste massabeweging wat die kleurlingbevolking bereik het en waarmee hulle hulself maklik kon vereenselwig, sowel as gekommitteerdheid en lojaliteit toon.

Die UDF was egter ’n breë front van gemeenskapsorganisasies wat ook ander bevolkingsgroepe ingesluit het. Die oorgrote meerderheid kleurlinge het die UDF met Allan Boesak as leier as hulle politieke tuiste beskou. Ek weet, en dit is geen geheim nie, dat baie kleurlinge vandag nog bitter is dat die UDF net voor die bewindsoorname van die ANC deur laasgenoemde ontbind is. Baie kleurlinge voel ook dat hul politieke reg deur so ’n stap ondermyn is. Baie van ons mense toon steeds ’n versugting, veral as hulle op die Kaapse Vlakte en veral aan die Kaapse Weskus sê: “Bring die UDF en vir Boesak t’rug!”

Ek moet ook haas om te sê dat niemand wat deel was van hierdie beweging, vir ’n onderskeidende kleurlingidentiteit geveg het nie. Die tagtigerjare was polities turbulente jare, gekenmerk deur optogte, demonstrasies, politieke geweld en buitelandse sanksies teen Suid-Afrika wat so te sê eiehandig deur een man, Allan Boesak, georkestreer is. Daar was tye toe hy ook eiehandig die Wes-Kaapse politieke protesaksies onderneem het.

Baie kleurlinge was ook lede van Umkhonto we Sizwe (MK), die gewapende vleuel van die ANC; en laat dit maar nou een keer gesê word dat die heel eerste MK-kader wat gesneuwel het (in die destydse Rhodesiese bosoorlog), was ’n bruin man genaamd Basil February — dat hy nie veel prys en hallelujas van sy “swart comrades” en ook die huidige regering kry nie, is wat my betref te verstane. Ekself, as lid van die Wes-Kaapse MK Militêre Veterane-vereniging, was drie maande gelede by ’n Nasionale Algemene Raadsvergadering, bygewoon deur meer as 250 afgevaardigdes, die enigste bruin oud-MK-kader teenwoordig. Laat mens dink!

In die post-1994-tydperk was daar ’n paar pogings om ’n sogenaamde kleurling-chauvinisme aan te wakker; veral die Wes-Kaapse ANC was in ’n greep van kleurbeheptheid vasgevang. Dink aan die rassistiese uitval tussen Tony Yengeni en ’n geëerde bruin MK-aktivis, Cecil Esau, wat tot laasgenoemde se bedanking gelei het; Tokyo Sexwale se hewige vuurspoeg teen die kleurlinge van Westbury in Johannesburg wat oor verhoogde huishuur geprotesteer het; ook president Mandela se voorverkiesing-roadshows, waar hy altyd baie apologeties aan die aanwesiges verduidelik het dat die ANC nie slegs vir “Africans” is nie, en om sy punt te staaf, altyd bygevoeg het: “Look at people like comrade Cheryl Carolus and comrade Trevor Manuel. So Coloureds do not have to fear the ANC.” My vraag is: as ons nierassigheid propageer, is sulke stellings mos heeltemal onvanpas en ongevraagd.

Dit is om hierdie rede en ander redes dat bruin mense begin laer trek het.

Ongelukkig het dit met xenofobie en haatspraak teen swartes gepaard gegaan. Dink aan swartes se besetting van huise in Delft wat aan bruines behoort het. Dink aan die oproer tussen swart en bruin in Mitchells’ Plain (UDF se geboorteplek) en Mandalay. Bruin mense het weer begin praat van die stigting van ’n Coloured People’s Congress. Daar was die Betty’s Baai-bosberaad waar bruin intellektuele en gemeenskapsleiers koppe gestamp het; daar was die groepie bruin oud-MK-kaders wat tweeweekliks in Eersterivier byeengekom het om strategie vir die bruin mense te bespreek; daar was selfs ’n militaristiese groep, die Kleurling-weerstandsbeweging, ’n gewapende vleuel, onder leiding van twee geestelike leiers van die Paarl wat myns insiens sommer die bruin Evangelie wou inskiet!

Laat verlede jaar het die vuurvreter-aktivis en oud-MK-bevelvoerder, mnr Reggie September, tesame met die rektor van die UWK, prof Brian O’ Connell, ’n groepie by die UWK byeengeroep om oor die posisie en posisionering van die bruin mense binne die nuwe Suid-Afrikaanse politieke bestel te besin. Vandat die Theron-verslag oor die posisie van die kleurlingbevolking in 1976 die lig gesien het, het Al Venter se Coloured: A Profile of 2 million People, dr Richard van der Ross se breedvoerige geskrif oor die geskiedenis van die kleurlinge, en nou, in 1998, dr Zimitri Erasmus (red) se Coloured by History, Shaped by Place: New Perspectives on Coloured Identity in Cape Town verskyn.


Wat is die kwessies onder bruin mense?

  • Identiteitskrisis

    Na 350 jaar weet die kleurling nog nie werklik wie óf wat hy is nie. Tog is identiteit hoog op die prioriteitslys. Soms net godsdiens wat dit oortref. Wat is ons? Kleurlinge, Bruin, Ander Kleurlinge, Gekleurde Anderskleuriges, Khoi-Hotnot, Malau, Ama-Coloured, Ama-Bushi, Gam-sogenaamde, Coconut? Jammer, dr Desmond Tutu, vir jou reënboognasie-skepping. Die kleurlinge was en is ’n reënboog op hul eie. Ons is nie Coloured People nie, maar Colourful People. Hopelik sal ons dit binne die volgende 350 jaar uitgesorteer kry.

  • Taal

    Die kleurlingbevolking is hoofsaaklik Afrikaanssprekend. Volgens proff Hein Willemse en Jakes Gerwel het die groep lank gelede vrede gemaak met hul taal. Bruin mense is nie militant by die taalstryd betrokke nie, want hul voortbestaan word nie deur die afskaling van Afrikaans bedreig nie. Vir die kleurling is dit ’n kommunikasiemiddel en kan geen eksistensiële konnotasie daaraan geheg word nie. Die hele kwessie van Afrikaner-nasionalisme wat so dikwels veral deur mense soos Dan Roodt by die Taalstryd betrek word, is iets wat die bruin mense nie erg aan het nie.

    Die gebrek aan toegang tot amptelike regeringsdokumentasie in Engels word as onreg beskou. ’n Soort van politieke onderdrukking. Ek wonder soms hoe die ongeletterde antie van Putsonderwater die hoge Ingels van die hoge mense in hul hoge stoele verteer. Slegs toegang tot regering deur middel van uiters geradbraakte Engels is in wese oppressief. Sodaniges word eintlik polities gemuilband en kan soms nie eens sê hoe hulle steeds die onderdrukking, net soos van ouds, aan die lyf voel nie — en dit alles oor taalongevoeligheid aan die regering se kant. Geen wonder nie dat ek glo dat die bevryding by baie van ons mense verbygegaan het. Juis vanweë hul ideologiese ongeletterdheid kan hulle in elk geval nie hul nuutgevonde vryheid geniet nie. “So it cuts no ice.” Vir hulle is dit: “Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.” Gaan lees gerus vir Terence Booysen, die jong digter van Williston, wat hy in sy bundel, Khoi-Khoi: As die wiel eendag draai (oproep van die Khoi) geskryf het, en veral die gedig met die titel, “Die reën het nie by ons gereën nie” (oor beloftes wat die ANC voor die eerste verkiesing aan bruin mense gemaak het en dit nie nagekom het nie). En voordat enigeen vir Terence wil kruisig oor ’n miskien anti-ANC-sentiment, net dit: Terence was op sy dag seker een van die vurigste ANC-aktiviste in die Noord-Kaap.

  • Politiek

    Politieke marginalisering en ’n gebrek aan representasie in die hoogste regeringsgesag is hoog op die prioriteitslys van griewe onder bruin mense. Bruin mense is té bewus van die Xhosa Nostra in die Mbeki-kabinet. Hulle praat moerig oor die feit dat daar nie ’n enkele bruin ambassadeur huidig is nie. Voormalige ambassadeurs, oa Conrad Sidego, Franklin Sonn, is terug; dr Frank Quint is oorlede; dr Richard van der Ross het afgetree; en Cheryl Carolus is nou by die Nasionale Toerismeraad en dr Allan Boesak moes sy koffers wat alreeds vir Genève ingepak was, weer uitpak.

    Dit laat mens dink! Bruin mense praat van die feit dat ons maar weer aan die agterspeen suig. Hulle sê: “Dit is weer die sny wit brood aan die eenkant en die sny swart brood aan die anderkant en ons is maar net weer die peanut butter in die middel.

    Bruin mense is ook alte bewus dat die rassekaart telkemale vir politieke doeldienlikheid gespeel word. Hier kan die volgende voorbeelde genoem word: die voorstelle vir die “verafrikaansing” van die ANC was deur baie bruines gesien as net nóg ’n poging om die bruin stem in te win; die feit dat James Nckula vir Ebrahim Rasool in die laaste ANC provinsiale verkiesing teengestaan het, omdat laasgenoemde volgens Nckula “té veel na die pype van die bruin mense dans”; die oproep van ’n prominente ANC-leier tydens die 51ste Nasionale Kongres van die ANC te Stellenbsoch dat die provinsiale ANC in die Wes-Kaap sterker onder die bruin mense moet mobiliseer, sodat alle bruines vir die ANC moet stem. Die bruin mense in die Wes-Kaap is volgens dié hooggeplaaste ANC-lid óf “politically ill-informed” óf “politically ignorant”. Hierdie het vir my na ’n soort van verskuilde agenda, bedekte dreigement en ultimatum aan Rasool geklink.

  • Swart bemagtiging

    Daar is ’n groeiende gevoel onder bruin mense dat ekonomiese swart bemagtiging nog net tot die middelklas-swartes beperk is en ’n ryk swart elite genereer. Baie bruines voel ook ongemaklik met “regstellende aksie”, en in ons eie geledere is daar stemme wat opgaan en praat van omgekeerde rassisme, veral wanneer hulle kla dat hul eie kinders veral ná matriek nie vir enige betrekkings aansoek kan doen nie, want een van die eerste vereistes is juis Xhosa-vaardigheid.

    Tot nog onlangs was daar krapperigheid en bitter woorde tussen swart en bruin spelers in die nasionale krieketspan, sowel as in Bafana Bafana, waar laasgenoemde dit gehad het teen die feit dat daar té veel bruines in die nasionale span was. Hulle wou weet wie dan nou eintlik “black players” is. Soos te verstane het die afrigter, Jomo Sono, dit afgemaak en afgelag as ’n bietjie (kleinlike) politiek, maar niks ernstig nie. “The spirit in the camp between brown and black players is good. That’s all I can say.” Aldus mnr Sono. Dit is te verstane, want hierdie ongelukkige gebeure het juis in dieselfde tyd gekom toe die ANC-Jeugliga prontuit gesê het dat “Coloureds and Indians are not African.”

  • Gebrek aan sinvolle leiding

    Die meeste bruin mense voel leierloos en polities haweloos, omdat hulle glo dat hul gemandateerde leiers hulle dikwels en soms té veel in die steek laat. Baie van hierdie leiers se woorde en dade, sowel as aand- en môrepraatjies, stem dikwels nie ooreen nie. Soms is daar ook groot vraagtekens rondom hul moraliteit, integriteit, verantwoordbaarheid, deursigtigheid, ens. Bruin mense glo dat baie van hierdie leiers nie eintlik vir die gemeenskap werk nie, maar eerder vir hulle eie “sak en saak”.

  • Miskenning van bruines se deelname aan die bevrydingstryd

    Hierdie is ’n baie teer punt onder bruin mense. Dit word al duideliker dat die bruines se bydrae tot die bevrydingstryd, wat die gewapende stryd insluit, geringgeskat of totaal deur hul eertydse swart “comrades” genegeer word. Bruin mense voel oor die algemeen dat swartes nou die politieke oorwinning slegs vir hulself opeis en daarvoor gekompenseer moet word. Hein Willemse in Dinsdag-Aktueel (Die Burger, 18/02/2003) verwys juis na verskeie gevalle waar van sy aktiviste-vriende met snedigheid en bitterheid om die kampvure na hul marginalisering uit die hoofstroompolitiek verwys en dit half gelate aanvaar dat hulle deur die ANC-regering tot die rang van Ama-Coloured gereduseer is.

  • Stemgedrag

    Bruin mense besef dat hulle in die Wes- en Noord-Kaap ’n “swaaistem” het. Hulle is alte bewus dat bepaalde politieke partye wat nie eintlik oor hul lot bekommerd is nie, wel net na hul stem vry. Dié aantyging dat bruin mense teen die ANC stem op grond van swart gevaar, xenofobie, ens is twak. Hulle het eerder ernstige probleme met die ANC-regering se beleid rondom godsdiens, homoseksualiteit, pornografie, ens. Bruin mense is oor die algemeen sedig, geestelik en gereelde kerkgangers, en baie van hulle probeer om altyd moreel korrek te wees.

  • Maatskaplike kwessies

    Bruin gemeenskappe word al meer tronke waarin bendes regeer. Hulle voel dat die regering die wil ontbreek om die geweldsmisdaad stop te sit. En ek, wat my menings kry van beide bruin prinse en bruin boemelaars, sowel as in veilige én gegoede buurte én in daggahole, het seker die lisensie om te sê wat hulle sê: “U sien, hulle, die regering, voel dié gemors nie aan eie lyf nie. Hulle is agter hulle hoë fênse, tinted windows, bodyguards en electronic gates”; maar toemaar, sê my respondente, “hulle sal weer kom inloer wanneer dit voting time is.”

    Maar dan is dit ook soos die Bybel sê: “Vir ’n klein tydjie sal julle my sien en vir ’n klein tydjie sal julle my nie sien nie.” Maar iemand anders korrigeer en sê: “Nee, dit moet eintlik wees: ‘Vir ’n klein tydjie sal julle my sien en vir ’n baie lang tyd sal julle my nie sien nie.’” Ja, dink ek, dit klink vir my nader aan die waarheid.

    Gaan lees verder wat sê die digter Peter Snyders in sy bundel “Tekens van die tye”, waar hy veral praat van die “skeefgetrekte demokrasie”. Dan glo ek sal dinge vir ons duidelik word.


    Wie is die bruin mense se intellektuele, sake-, sport- en politieke leiers?

    Wat intellektuele leiers betref, is daar vele. My twee medereferente is dr Zimitri Erasmus, senior lektor in Sosiologie aan die UK, en dr Danny Titus, dekaan van die Fakulteit Regte en Veiligheidstudies aan Technikon SA.

    Vir my is die kersie op die koek intellektuele leiers uit ons eie geledere wat deur die bastions van voormalige wit instellings gebreek het en nou daar topposte beklee — en let wel, nie “kwotaspelers” is nie, maar suiwer op meriete gekies. Hier volg ’n paar: proff Hein Willemse (Departement Afrikaans, UP), Russel Bothman (viserektor, US), Julian Smith (viserektor, US), Aubrey Redlinghuis (viserektor, RAU), Jonathan Jansen (dekaan van Opvoedkunde, UP), Hannes Adonis (Teologie, US), dr Nico Koopman (Teologie, US), dr Christa van Louw (Diversiteit, US), dr Edna van Harte (Rektoraat, US), dr Jimmy Ellis (Openbare Betrekkinge, RAU).

    Ander besondere leiers wat op hul eie werf naam maak, is UWK-rektor, prof Brian O’ Connell, Pentech-rektor, prof Brian Figaji, dr Charlyn Wessels (direkteur: Ilwimi-sentrum vir Veeltaligheid, UWK), me Ria Olivier (hoof: Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans).

    Ons literatore, dramaturge, skrywers, digters, ens is legio. Dink maar aan Elias Nel, Floris Brown, Willem Fransman, Peter Snyders, Clinton V du Plessis, Vincent Oliphant, John Boyes, Karen Newman, Florence Filton, Kirby van der Merwe, Ronnie Phillips, Jakes Gerwel, Peter Braaf, Keith Thomas, Lloyd Davids, EKM Dido, Marius Vraagom, Jeremy Dampies, Speedo Wilson, Zebulon Dread, Noël Oostendorp, Shaleen Surtie-Richards, Denise Newman, June van Merch, Simon en Alvin Bruinders, Goliath Davids, wyle Patrick Pietersen, André Boezak, Ronnie Burton, Hein Coetzee en vele ander.

    In die sakewêreld het dr Franklin Sonn voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut geword. Mnr Chris Nissen is verkies tot voorsitter van die Kaapse Kamer van Koophandel. Ook moet die naam van mnr Conrad Sidego, hoof: Korporatiewe Dienste by Media 24 (Naspers) gemeld word. Die vermaarde joernalis Max du Preez het op ’n slag spottenderwys gesê dat hierdie bruin intellektuele en sakelui wat nou so deur die granietmure breek, juis in dié poste aangestel is “om die boere te bevry”.

    Op sportgebied spog ons in rugby met Enrico Januarie, Bolla Conradie, Conrad Jantjés, Gavin Parsens, Ricardo Laubscher, Breyton Paulse, Wylie Human, Ashwin Willemse en vele ander. Let wel dat hierdie nie “kwotaspelers” is nie, maar hulle is die beste in hul onderskeie posisies, al sê bitterbekke soos Percy Montgomery en sy ander SARVU-trawante ook wat, want hulle verdien óók hul plekke in die Springbokspan, nie altyd op verdienste nie, maar op grond van hul “naam en ook somtyds op hul haarstyle” — om nie eens te praat of daarvan melding te maak van die ou SARU-spelers van formaat nie, wat eintlik die hoeksteen gelê het vir Suid-Afrikaanse rugby en ook menigmaal hul heil oorsee moes gaan soek, soos oa ’n Green Vigo, David Barends, Peter Newman, wat oorsee helde geword het.

    Op die gebied van atletiek is Janice Josephs tans die SA kampioen oor die kort afstande. Haar manlike eweknie is Sherwin Vries. Paul Gorries hou die junior wêreldrekord in die 200m. Farwa Mentoor was die eerste vrou oor die wenstreep in die 2002-Comrades, terwyl Ivan Syster in 2001 die Boston-marathon met geleende hardloopskoene gewen het; en om nie eens te praat van die vermaarde Kosie Koopman, wat nou nog aktief deelneem aan die marathonnommers waarin hy in die verlede bekend was as die eerste kaalvoetatleet van sy era nie. Worcester spog ook met die senior SA kampioen oor die kort afstande, Ivan Klein. In sokker spog ons met Bennie McCarthy, Quinton Fortune, Steven Pienaar, André Arendse, Delron Buckley en vele ander.


    Wie is die bruines se politieke leier?

    Hier wil ek net sê: “Your guess is as good as mine.”

    Vra enige bruin mens op straat: “Meneer / Mevrou, neem my na jou leier, asseblief,” en aanskou die grootste konsternasie. Ja, want ons hét leiers, mísleiers en vérleiers. Ons het diegene wat beárbei en die wat bemóérbei. Waar trek ons die streep?

    In die Wes-Kaap speel die politieke leiers musical chairs. Daar was ’n stadium toe dit bra moeilik was om te sê wie premier en wie burgemeester van die Wes-Kaap was. Ek sweer dié antwoord was so moeilik, dit is eintlik makliker om die Lotto-nommers korrek te voorspel.

    Wat die politiek betref, stem ek saam met Max du Preez as hy onomwonde sê dat net een man, Allan Boesak, ons uit die geroesemoes in dié droewige land van ons kan lei. Dit is ook wat die digter Terence Witbooi in sy gedig, “O, waar is Boesak?” uitbasuin. Hierop sê ek persoonlik, “Ja en Amen”.

    Daar is veral hoop in die Wes-Kaap as ’n mens kyk na die pragmatiese, deursigtige en toegewyde aksies, projekte en pogings van politici soos ministers Marius Fransman, Cobus Dowry, Tazneem Essop en andere, veral in terme van hul “hands on”-benadering. Hier dink ek veral aan die voedselsekerheid-projek, die Laingsburg-ondersoek na massagrafte, ens.

    Wat leiers betref, laat ons ook ’n gedagte spaar vir die vele onbesonge helde wat nooit of weinig die media haal of in die openbare oog verskyn nie: Mario Wanza, wat bykans eiehandig die geweldsmisdaad in Manenberg op sy kop wil keer; die antie van Kreefgat in Ocean View, wat met haar pensioengeldjies honger kinders in ’n sopkombuisie voed; die 68-jarige dame van Moorreesburg, wat deur wind en weer analfabete leer lees en skryf as haar bydrae tot menslike bemagtiging; Ivan Waldeck, ’n voormalige bendelid wat nou voltyds en gratis motiveringspraatjies by skole op die Kaapse Vlakte hou; Jonavan Cloete, ’n aangehoudene wat medeprisoniers oplei; Barend Malgas, pas vrygestel na ’n lang tydperk van gevangehouding, wat nou geletterdheidsprojekte in die Stellenbosch-omgewing onder leiding van ’n besondere gemeenskapsaktivis, -leier en -opvoeder, Quentin Newman, aanbied; pastoor Clayton, voltydse geestelike leier by Pollsmoor Korrektiewe Dienste en voorheen self ’n aangehoudene daar; pastoor Klein van Ravensmead, wat nou die saak van jong kinders wat in die kruisvuur van bendegevegte sterf, aan die kraag beetkry.

    Daar is nóg vele ander. Die vraag is: Is hulle nie die ware en outentieke leiers binne ons gemeenskappe nie — juis omdat hulle die hartklop van die gemeenskap voel, ken, dit volkome verstaan en proaktief sonder enige basuingeklank iets daadwerkliks daaraan wil doen?


    Slotgedagte

    Ek glo nie die herinstelling van ras en etnisiteit is in belang van die vooruitgang van die land nie. Ek dink dit is ’n gevaarlike oefening, veral in ’n omgewing waar al hoe meer mense die etniese kaart speel. As ons nie die rassekwessie te bowe kan kom nie, sal ons vir altyd “gyselaars” wees.

    Uit die swartbewussynskamp gaan stemme op wat sê dat om ras te bowe te kom, is ’n lugkasteel. Hulle sê egter verder die uitdaging is hoe ons gemaklik raak met onsself en ander mense se identiteite en leer om met mekaar in een gemeenskap saam te leef.

    (Lesers word uitgenooi om die gesprek verder te voer deur briewe te stuur vir SêNet by katvis22@yahoo.com.)

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.