SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Jan-en-Jorie — ’n gedugte vennootskap

Amanda Botha

Praatjie vir die Cederbergfees — Kunshuis, Clanwilliam op Vrydag, 3 Mei 2002

Jan-en-Jorie, met koppeltekens geskryf, soos Chris Barnard sê, het binne die Afrikaanse literêre wêreld — en ook buite die grense daarvan — ’n eenheid geword wat huishoudelike name is. Daar sou ook net soveel stories rondom hulle vervleg kan word, as wat daar mense was wat hul pad gekruis het — elkeen het ’n eie indruk en ’n eie herinnering. Op die vlak kan ek vanaand nie meeding nie — ek het ook, sedert ek hulle in die vroeë sewentigerjare aan die huis van Klaas en Elsa Steytler ontmoet het ook eie ervarings en herinneringe wat steeds vreugde gee.

By hierdie spesiale geleentheid wil ek eerder probeer om ’n paar kwashale te gee op ’n breë doek, oor die wêreld waarin hulle beweeg het en die invloed wat blywende waarhede ingeskerp het met diegene wat in die dampkring gestaan het.

Ek begin met Jan Sebastiaan Rabie — die man wat lewenslank getrou gebly het aan die insig wat hy ’n motto gemaak het: “Lewe is gewete”. Vir hom was die lewe ’n spel van verantwoordelikhede. Dit was daar om geniet te word, almal weet hoe hy dit kon vier met viskos, wyn en stories by die dosyne. Hy was ook die oorspronklike natuurkind, ’n ontdekker en verkenner en vlak onder sy vel was hy ook die ewige onderwyser wat altyd iets blywends wou deurgee — oor die see, die berge, die natuur as ontvlugting en voedingsbron. Hier het hy met sy jeugboeke, Die twee strandlopers en Seeboek van die sonderkossers grense verskuif en ’n hele geslag skoolkinders met ander oë na die wêreld rondom hulle laat kyk. Hier was lewe ontdekking, avontuur en oorlewing. “Die aarde is deel van ons, ons is kind van die aarde, dit is fasette van ons. Dinge is nie los van mekaar nie”, is ‘ n herhalende refrein van Jan.

“As ’n man nie ’n bietjie van ’n seun bly nie, gaan dit swaar later. Die berge, die see en al die dinge ... Ek wil mos ’n hele planeet besit ...” (Gesprekke met skrywers 3, 1973 p 98.)

Maar deurgaans het dit vir hom gegaan oor ’n eie roeping, selfopgelegde sendingmissie — en Goddank daarvoor! Vir hom was dit rondom die dringendheid om Afrikaans as die belangrikste taalprestasie van Afrika te vier — ’n taal van die kontinent wat diversiteit omvou en onderstreep het. ’n Jong soepel taal wat die beiteltjie van NP van Wyk Louw moes word. ’n Taal wat grense en verskille transendeer. Die harttaal van mense aan die suidelike punt van die kontinent — alle mense wat gevoelens en ideë hierin wou uitdruk.

By hom was daar lewenslank die strewe na hierdie erkenning — die losmaak van Afrikaans uit diegene wat dit wou opeis sonder reg en wat Afrikaans ideologies vir mag wou uitbuit.

Jan was die eerste wat hierteen gewaarsku het en met benoudheid in 1948 al gesê het dat Afrikaans nie witmansgoed is nie, maar allemansgoed en die ontstaan en groei van die taal binne die leefruimte van Afrika geplaas het.

Hierdie oortuiging het geleidelik vir Jan verander na wat hy self genoem het “’n hartstogtelike Afrikaans-wees, my-taal-wees, ’n korreksie op Afrikaner-wees, witman-wees.”

Skaars vyf maande na die Nasionale Party oorwinning in 1948 skryf Jan in sy dagboek wat sy toekomstige taak sou wees: “Wanneer ek terugkeer in Suid-Afrika, sal ek ons enigste probleem, ons enigste toekoms, in die oë moet kyk. Ek sal moet stelling inneem oor (die) kleurkwessie. Kos wat dit moet. Want ek moet volgens die beginsels en asemhalinge van my siel lewe (al is dit die van ’n petit bourgeois), al kos dit die brood van my en myne.” (Paryse dagboek, 30 Oktober 1948.)

In die jare voor sy terugkeer om hom permanent weer hier te vestig, het hy dikwels geskryf en gepraat van sy kommer en besorgdheid oor sy “volk” — oor die Afrikaner en sy toekoms wat hy gevrees het, gedoem was solank as wat die bruinman uitgestoot is en segregasie die basis van mag was.

Jan het oor “sy volk” gepraat en stelling ingeneem as ’n vegter — vir vryheid, sy keuse was onbewustelik in die tydsgees van vandag om stryder te wees — ons eerste Afrikaanse struggle kunstenaar. “Geregtigheid en ’n suiwer hart en ’n liefde groter as my vrees, sal ek myne maak sover ek kan. Ek sal sê wat ek dink en voel met wat groter is as ek, ek sal doen wat ek vind om te doen.”

Dit is sy verklaarde voorneme — op skrif gestel iewers in Februarie 1953 (Paryse dagboek, p 268).

Skryf het binne die gegewe vir hom ’n ambag geword — dit was die oopskryf om houding in te neem teenoor die sosiale wêreld rondom hom. Só stel hy dit etlike weke later: “Die oneerlikste lede van ons volk is juis ons, die skrywers, die denkendes, ons wat die minste agter onkunde kan skuil. Aan ons estetiese stofskoppery, aan ons oneerlikheid en stilswye, kan ons volk eendag strewe.” (Paryse dagboek — p 270/1.)

Dit was Jan Rabie se werk — om dinge op sy naam te noem — om vrees vir stelling inneem te besweer deur eerlik en reguit te praat — en die gevolge daarvan te dra. “Dinge”, het hy dit op sy eie manier gestel, moes gesê word “om nie die naam Afrikaans ’n skandnaam in die geskiedenis te laat word nie.” (Paryse dagboek — p 270.)

Lank voordat die openbare debat in die sestigerjare begin is rondom begrippe wat ’n volk sou wees en watter grense ’n gemeenskap sou dra, het Jan in 1953 hieroor besin. Heel filosofies vra hy:”Wat is my gemeenskap? En is die vernouing tot ’n bloedgemeenskap nie net ’n gemaskerde vrees nie? Die oudste beswering? My gemeenskap is nie net my taalgroep nie ( bloed-groep bestaan skaars). As my gemeenskap homself vernou tot ’n onderdeel van verdrukking, afskeiding en vyandskap, is dit gevaarlik vir my gemeenskap, vir my. Wie vandag se gemeenskap as plaaslik sien, sal deur die geheel uitgewis word. My gemeenskap is die hele wêreld.” (Paryse dagboek, p 274.)

Hier, in 1953, het Jan reeds die konsep van ons “global village” beet. Hy het dit altyd geglo en dit só verwoord in ’n gesprek met Elsa Joubert: “Ek het ’n planetêre bewussyn. As iemand iets in China doen, is ek aandadig daaraan. Die hele planeetjie is maar klein en word kleiner, is deel daarvan, maar hoe meer ek planeet-bewus word, hoe meer het ek my wortel hier. Ek is ’n Afrikaner, ek is nie eers ’n Suid-Afrikaner nie.” (Gesprekke met skrywers 3 — p 92.)

Die sewe jaar in Parys en op ’n afstand kyk na Suid-Afrika, het Jan reeds daar — vóór sy tuiskoms — laat besluit dat hy as skrywer “eintlik bestem is: l’engagement — betrokkenheid. In geen party of groep nie, maar teen l’injustice et el malheur (onreg en teëspoed).”

Wat Jan wou doen — en gedoen het en vandag kan ons met vrug en bewondering by hierdie lewenstaak stilstaan — is om “Suid-Afrika op skrif te stel”. Hy stel dit so — en hieraan het hy enduit getrou gebly: “Ek het net een droom en dit is as Afrikaner wil ek iets oor die Afrikaner sê, in hierdie tyd, in hierdie geskiedenis, sodat hy nie uitsterf nie.” (Skrywers en boeke — 3 p 80.)

Hy was ’n man wat oor Afrikanerskap graag gesels het. Hy wou die verdelende invloed van ’n magspolitieke bedeling neutraliseer en ’n samelewing skep waarin taal en behoort aan Afrika Afrikanerskap definieer. Hierdie konsep is gevoed deur sy diepe oortuiging dat ’n mens aan sy wortels getrou moet bly — en dat getrouheid ’n verantwoordelikheid impliseer. En vir hom was — ondanks sy wêreldburgerskap — Suid-Afrika en Afrikanerskap wat vir hom eerste, dit wat “bo alles staan.” (Gesprekke met skrywers 3 — p 81.)

Hierdie konsepte kristaliseer helder in al sy werk — die eerste reeds in sy Paryse roman Mens alleen (1963).

En heel tereg het Elsa Joubert in 1973 opgemerk dat Mens alleen, as dit nie eers byna tien jaar na voltooiing verskyn het nie, ook — soos sy veelgeprese Een-en-twintig — ’n baanbreker sou wees. Daarna sou ’n polemiek in die briewe-kolomme van veral Die Burger volg oor Jan se boek Ons, die afgod. Hierdie boek het Jan as “n rebel” gekenmerk en hom na die kantlyn geskuif. Maar hy is wel dopgehou, soos hy self gesê het, “want die kudde-instink wat die individu verpes”, het hom in ’n wêreldjie wou indruk wat politici, kerkvaders en selfs ywerige kultuurleiers later verwysings sou maak na “vuil spuite” en “riool letterkunde”. Tereg het Jan eendag gesê:” ... liefde is krities benader, krities instel, en leef met en binne ’n ding.” (Gesprekke met skrywers 3 — p 82.)

Sy skrywersvriende het hy probeer “bekeer” — “ons moet dié ding oopskryf — oop dink” het ek hom hoor sê. Hy was in hierdie opsig die inisieerder van Sestig — nie net was sy bundel Een-en-twintig die voorloper nie, maar dit is sy “missie” om skrywers te maan om te skryf oor wat in Afrikaans geskryf moes word — boeke, het hy geredeneer wat die tyd van ’n politieke era verby sal steek en as getuienis sou staan om Jeanne Goosen se woorde te gebruik dat “ons is nie almal só nie.”

Hy was krities teenoor sy skrywersvriende en het reguit gesê dat hulle nie betrokke skryf nie omdat daar nie geld in steek nie, daar nie eer en pryse is nie en omdat die sensors hulle sou dophou. Vir hom was dit om binne die Afrikaanse letterkunde “’n tradisie” op te bou. En die “tradisie” moes menslike verhoudinge verken en blootlê buite die veilige velde van “eie siel goedjies” soos hy dit soms gestel het. In sy eie werk, veral sy Bolandia trilogie bou hy die verhoudinge uit — herskep hy ’n geskiedenis van saamwees, veral met die bruinman en die rol en invloed wedersyds. Hy, Jan, was immers die man wat toe ons die Wonder van Afrikaans in 1960 glorieryk gevier het, gesê het dat ons die bruinman se aandeel in die skepping daarvan moet erken — “Afrikaans het nie as wit taal ontstaan nie” het hy gesê. Dalk was dit in die olifant se geheue toe die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl triomfanklik ingewy is — en Jan en sy skrywersvriende nie genooi is nie.

Die kleurkwessie moes oor geskryf word, het Jan geglo. Hy het die uitdaging aanvaar en geglo dat dit moet, “omdat dit ons lewe” is. In 1973 verantwoord hy homself en sê dat hy steeds probeer om hieroor te skryf: “Ons weet mos dit is soos ’n donkerwolk op die horison wat oor ons hang.” (Gesprekke met skrywers 3 — p 85.)

Jan het gepleit dat daar nie “weggekyk moet word van die lewe rondom ons nie” — dit moes oop geskryf word — hier ter lande en veral in Afrikaans. En as hy só gepraat het en medeskrywers hom sonder woorde aangeluister het, het hy soms gemompel: “Soms dink ek, ek is die enigste Afrikaanse skrywer in die land.” (Gesprekke met skrywers 3 — p 83.)

Jan het ook sy definisie van ’n skrywer se rol gehad — dalk nie soos “woordkunstenaars” dit sou wou beskryf nie, maar tog: “Ek sou sê hy ( die skrywer) is ’n Don Quijote wat reise ontdek, ’n muskiet wat gesondheid steek, ’n hond wat stertlek as hy nie behore blaf nie, ’n verantwoordelike purgasie, ’n liefderike doring van ’n gewete, soms ook ’n skreeu wat van ’n gevaarlike stilte getuig.” Dit was vir Jan, soos hy dit genoem het: “die ideale geraamte van die maer ridder.”

En Jan sê die “maer ridder” moet “die volle heelheid van die lewe deur sy kuns oproep, goed en boos, want juis in die letterkunde word die mens se hele ervaring aan die meer duursame spraak van skrif getoets.” (Die sestigers — p 161.)

Vir skrywers maan hy op die omstrede Simposuim oor die Sestigers in 1973: “Laat ons dit nie misverstaan nie: as skrywers nie onafhanklik kan wees, nie ’n menslouterende letterkunde kan skep nie, dan misluk hul taal, en hy sal sterf. Hier in Suid-Afrika.” (p163)

Maar Jan het nooit moed verloor vir sy taal, Afrikaans, sy volk, die Afrikaner en sy land, Suid-Afrika nie. “Ek het baie goeie moed. Ek dink die Afrikaners is fantastiese pioniers, baster-goed toegerus vir verandering en groei. Ons het net die Bybel verkeerd gelees: Ons laat ons talente te veel onder die Keiser se maatemmers verroes.” (Die sestigers — p 164.)

In 1975 voor die Afrikaanse Skrywersgilde — ’n jaar voor Soweto en wat daarop sou volg — sê Jan: “Maar oor een ding is ’n skrywer ook vas. Hy weet taal is alles, dra alles. Ons eerste prioriteit is om ons wortels breër, vaster in te slaan en alle Afrikaanssrpekendes één te maak. Onmiddellik kleurdiskriminasie uit ons taal te haal. Anders is dit nie ons erns met Afrikaans in Afrika nie.” (Skrywer en gemeenskap — p 39.)

Jan sy tyd vooruit — dalk 15 jaar of meer? Ja beslis, maar vandag is dit vir ons almal belangrik dat die “maer ridder” gesê het wat hy gesê het. Dat hy ook gewete vir ons was.

Dat dit ’n eensame weg is, is waar. Dat so ’n pad blootgestel is aan miskenning en ontkenning en dat ’n kantlynbestaan uitdaginge stel, is waar. Maar vir Jan het dit alles anders gewees. Hy het op 21 Februarie 1949 sy “Skotse skilderessie” in die persoon van Marjorie Wallace ontmoet. Dat dit nie ’n liefde met die eerste opslag was nie en ook sy storm en drang geken het, sal nie ontken word nie, maar Marjorie het van beter geweet — sy het geweet dat die “maer ridder” ideale gekoester het waaraan sy beslag kon gee. En sy hét dit ook gedoen.

In hierdie wêreld — veral na hul terugkeer na Suid-Afrika om hul hier te vestig — was dit belangrik dat die kombinasie Jan-en-Jorie ’n gedugte eenheid moes word. Majorie het hierdie rol volkome besef en in die geestesfeer wat Jan met sy sendingmissie onderneem het, ruimte geskep vir hom as klankbord, as maat, as broodwinner en self as sendeling — om deur gee en gestalte te gee aan die land waarin ons woon en om die mense wat die deel bevolk, te dokumenteer. Haar kunswerk getuig van ’n verruimende invloed waarin sy haar — en Jan — se tyd gedokumenteer het.

Haar werk van die plekke wat hulle besoek het — Jan het eens ’n tog onderneem van Plettenbergbaai rondom die kus tot by Lambertsbaai om onder meer so seeterme van vissers en ander in Afrikaans aan te teken — uiteindelik het hy ’n pak kaartjies van 2 200 woorde by die Woordeboek vir die Afrikaanse Taal op Stellenbosch ingehandig — was Majorie daar, dalk nie elke dag nie, maar daar om met pen en kwas vas te lê, ’n wêreld wat andersinds nie so gedokumenteer is nie.

As hulle gereis het — binnelands na sê Vanwyksvlei, het Marjorie die mense — dikwels bruin mense — in haar werk vasgevang. In die buiteland het sy pragtige werk gemaak wat die elke daagse lewe rondom hulle sou verbeeld.

Hier sou ’n hele diskoers gelewer kon word oor hoe Marjorie na veral bruin mense in haar skilderwerk kyk. Nie met die subjektiewe afstandelikheid van ’n onderwerp nie — wat sy dan op so ’n wyse in haar werk besit nie — maar met ’n deernis en empatie. Mense wat sy, as ’n mens na haar Hawstone skilderye sou kyk, veral die “prettige begrafnisse” soos sy dit self noem, is hier ’n onbewustelike identifikasie met die mense as “eie mense van haar”.

Soos Jan in woordbegrippe en -menings sou vaslê wat vandag vir die Afrikaner ’n uitkomkans bied — ons het geweet en sommige het gepraat — het Marjorie in haar skilderkuns ’n verbygaande stuk plattelandse lewe vasgelê met sosiale gebruike wat getuig dat die deernis wat hierdie filosofie wat sy so innig met Jan gedeel het,onderstreep het.

Marjorie was vir Jan ’n hawe, ’n tuiste. Ruimte kon sy skep vir hom om in te werk en enduit het sy haar onvoorwaardelike geloof in hom as skrywer en denker behou. Lojaal was sy — ons wat Skrywersgildeberade en ander skrywersfunksies bygewoon het, kan ruimskoots getuig hoe sy hom in woord en daad — en dikwels woord uit pas uit — ondersteun het. Dit was nie net ’n Jan mening nie — dit het die stempel van Majorie ook gedra.

Self het ek net bewondering en waardering vir die skilderwerk van Marjorie. Vir die lig in haar werk, die vrolikheid, die stuk lewe wat sy daarin omhels en vier, maar wat ook gesê en hard gesê moet word, is haar vakmanskap. Sy kan teken — soos ’n skilder Herman van Nazareth eens opgemerk het: “Marjorie se werk is ’n les vir elke kunstenaar. As sy ’n koppie teken en op ’n tafel plaas, staan die koppie op die tafel. Dit hang nie met ’n geluk van swaartekrag daar nie!”

Marjorie se werk — die kunsskepping van sê rondom 1953 tot vandag — en ek het heelwat daarvan gesien en bestudeer — getuig daarvan dat haar werk — dalk meer as enige ander kunstenaar s’n — duidelik outobiografies is. Sy het die wêreld rondom haar — haar en Jan se belewing daarvan — vasgevang. Só het sy die gebeure wat hulle lewe raak, vergestalt — of dit die roerende sterfbedtoneel van haar vader is en of dit Jan by sy skryftafel op Onrus is. Haar werk was ook ’n soort fotoalbum. Die mense wat hul pad gekruis het, het ook plek in die skilderye. Baie se portrette is geskilder — Uys Krige, Ingrid Jonker — almal wat hulle in die vyftigerjare in Parys besoek het — en so ook hul feesgeleenthede aan hul huis op Vermont.

Hulle huis was ’n deurloop vir al hul vriende — en die kring was inderdaad so wyd soos die Heer se genade. Almal wat dit beleef het, kan van hul gasvryheid getuig, van Marjorie se voortreflike cuisine, van Jan se perlemoen- en seebamboesjellie en van gesels. As ’n mens in die kring vriende gesit het wat Nuwejaar saam gevier het of enige ander geleentheid daar, bly dit herinneringe wat met die oproep daarvan altyd helder bly omdat dit blywende waarde gehad het.

Ek was bevoorreg om Jan goed te ken en saam met hom te werk en om baie herinneringe te kan oproep van Marjorie se werk en haar Kaapse uitstallings waarvan ek deel was.

Aan Jan-en-Jorie het ons in Afrikaans ’n kleinnood. Hulle is mense wat die lewe vier — soms in Jan se geval brommerig en Jorie se geval babbelend.


Bronnelys:
Jan Rabie: Paryse dagboek (versorg deur André P Brink); Human & Rousseau 1998
Jan Rabie: Mens-alleen; Perskor, 1963
Jan Sebastiaan Rabie: Een-en-twintig (Inleiding deur Uys Krige); Human & Rousseau, 1961
Die sestigers — Verslag oor die simposium die sestigers, Redakteur:J Polley; Human & Rousseau, 1973
Skrywer en gemeenskap — Tien jaar Afrikaanse skrywersgilde; Redakteurs Charles Malan en Bartho Smit; HAUM Literêr, 1985
Gesprekke met skrywers 3; (Jan Rabie in gesprek met Elsa Joubert);Tafelberg, 1973
Sestigers in woord en beeld: Jan Rabie; Perskor 1986
Klein koninkryk — vertellings uit die jeugland; Tafelberg 1981
Jan Rabie: Parys se sestigers, De Kat, September 1980
Aantekeninge uit onderhoude en gesprekke met Jan Rabie en Marjorie Wallace deur Amanda Botha (1974 — 2002)

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.