SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Brink stuit vir geen duiwel nie

Carina Diedericks

“Nege-en-vyftig jaar oud, ’n vrou weggeloop met iemand anders, twee kinders wat my onder my gat geskop het, die sieldodende job by die koerant, al my juniors lankal by my verby op pad boontoe, ’n royal fokop van ’n lewe. Met net een voorneme, so-help-my-God: nou is dit alles of niks, dis double of quits, dié keer vat ek my kans, ter wille van die rot wat weer knaag, die donnerse ou droom wat ek gedink het lankal gaan lê het.”

’n Anti-held is Flip Lochner beslis. Met sy bruingerookte vingers, pers spinnerak oor neus en wange, bloedbelope oë, stoppelbaard en lewervlekke, besluit hy om na dertig jaar in die duiwelskind se klou te klim en die Duiwelskloof en sy mense in die annale van die geskiedenis op te teken.

Die Duiwelskloof is ’n gebied naby die Swartberge, weggesteek in ’n skeur omring deur donker ruigtes en ongelooflike kranse versier met ’n mosaïek van rooi, oranje, bruin, skimmelgrys en swart.

Die inwoners is glo almal afstammelinge van Lukas Lermiet, wat saam met Gerrit Maritz uit Graaff-Reinet weg is, maar later stry gekry het met Erasmus Smit en toe hulle eie koers ingeslaan het. Vandag, na generasies se ondertelery, is die Duiwelskloof ’n bymekaarkomplek van alles wat Pandora so sorgvuldig weggesteek het.

André P. Brink, sekerlik een van Suid-Afrika se grootste skrywers (sy werk is immers al in nagenoeg dertig tale vertaal), se oeuvre neem met Duiwelskloof ’n interessante wending. Brink distansieer homself moontlik vir die eerste keer van die politiek en issues wat hy so graag in sy werk verweef en spits hom toe op die vertel van ’n verhaal.

’n Mens kan selfs so ver gaan as om te sê dat Brink sy hand gewaag het aan ’n postmodernistiese teks. Die Duiwelskloof en sy inwoners word op ’n amper magiese wyse uitgebeeld, met karakters wat vrylik tussen die lewe en die hiernamaals beweeg; nimfagtige figure wat Flip Lochner in sy drome teister maar wat altyd ’n “aandenking” as ’n surrealistiese herinnering die volgende oggend los, en ’n kunstenaar wat elke dag portrette skilder — oor en oor die vorige portrette.

Die eienaardige karakters van Duiwelskloof word beskryf uit die oogpunt van Flip Lochner, die geharde misdaadjoernalis, wat besluit om tog na dertig jaar die spoor van die Lermiet-familie te gaan volg nadat hy ’n afstammeling, Klein-Lukas, op Stellenbosch raakloop.

Die karakters wat op Flip Lochner in die Duiwelskloof wag, is ’n ietsie Tolkien, ’n tikkie Pratchett, ’n knypie Breyten en selfs ’n stuk of wat Márquez. In die afwesigheid van dagboeke, joernale, transportbriewe, aktes of enigiets wat ’n aanduiding kan wees van enige vorm van waarheid, moet Flip Lochner op die legio fantastiese vertellinge en koggelstories van die Lermiete staatmaak om by ’n begin, ’n middel en ’n einde te kom.

Brink se figure is egter nie net ’n spul magiese karakters wat die leser binne die bestek van 363 bladsye aan ’n ongelooflike wêreld voorstel nie. Dis ’n wêreld dié van meisies met vier borste, van toordery en openbare teregstellings, van dooies wat praat en doodskiste as trougeskenke. Daar is meer, veel meer. Hier zijn duvelen. Dit is soos tant Poppie Vollemaan tereg gesê het: “En miskien moes jy maar bid dat jy nié eendag alles sien nie.”

Dit was egter Brink se bedoeling: die leser word deur ’n hand vol onwaarskynlike prototipes gekonfronteer met die norme en standaarde van die Duiwelskloof — eintlik van enige samelewing. Sy politiek en issues is dus steeds daar, alhoewel Brink homself na Brecht gewend het om sy statements te verdoesel met ’n slinkse verwerking van Verfremdungseffekt.

Brink gebruik ’n onwaarskynlike katalisator, in die vorm van Flip Lochner (wie se vrou hom beskryf het as iemand met “sifilis van die siel”), om die spreekwoordelike duiwelsadvokaat te speel en die karakters oor te haal om hulle kwesbaarhede bloot te lê, wat die leser sal dwing tot self-refleksie.

Flip Lochner word ontvang deur Grootvaar Lukas Lermiet, eintlik so ’n stuk of honderd jaar of wat al dood, wat hom groet met die woorde: “Ek had hier gesit wag vir jou.” Grootvaar Lukas se gewoonte om in en uit die graf te beweeg is duidelik Flip Lochner se eerste geloofsbeproewing. Lochner se legitimiteit in die skepties-van-vreemdelinge-samelewing van die Duiwelskloof is danksy Lukas Dood — ’n Bybelse Rigters-figuur wat as poppemeester die struktuur van die Duiwelskloof in stand hou deur middel van die Raad van Justisie, die Politieke Raad, die Kerkraad, die Begrafniskomitee, die Waterbestuur, die Sendingaksie en die Kamer van Koophandel. Die gesag wat Lukas Dood uitoefen, is vergelykbaar met dié van die dominee, die dokter en die skoolhoof, wat so prominent in ons samelewings gefigureer het.

Soos in enige magstruktuur lê die mag nie noodwendig gesetel in die ooglopende gesagsfiguur nie, en die Duiwelskloof is geen uitsondering nie. Met haar kruie en amp as ontvanger (of wegdoener) van babas, is tant Poppie Vollemaan ’n klassieke Jungiaanse argetipe. Haar ambivalente rol as wyse ou vrou en heksagtige figuur stel Lochner ook in staat om die ambivalensie — die lig en die donker — in die Duiwelskloof uit te lig.

In teenstelling met tant Poppie Vollemaan staan Emma, wat die Jungiaanse argetipiese sirkel voltrek en die jong dame voorstel. Natuurlik is sy dan ook die een waarop Flip Lochner sy hart en objektiwiteit verloor. (Wat sal ’n Brink-roman tog wees sonder liefdesintriges?)

Soos in Sandkastele word die kwessie van huishoudelike geweld ook op die voorgrond gebring in die vorm van Jurg Water, wat sy gesin aanrand en sy dogter prostitueer — met die wete (en goedkeuring) van die samelewing. Die lot van ’n vrou in die patriargale bestel word ekstreem uitgebeeld deur Bettie Tiet, wat met ’n kind aan elke bors wag vir die prediker, Soon Heilig, om ’n toevoeging tot die kroos te maak. Isak Smous sit dag in en dag uit en tel geld wat hy nooit sal uitgee nie, en Gert Kwas werskaf by die skilderye wat hy nooit gaan klaarkry nie, omdat hy altyd nuwe gesigte bo-oor die oues verf.

Soos De Saint-Exupéry se Klein Prinsie, wat prototipe op prototipe op planeet na planeet verken, moet Flip Lochner die prototipe op prototipe van deur tot deur in die Duiwelskloof verken.

Duiwelskloof bly egter nie net ’n verkenningstog deur die universele menslike psige nie, en Flip Lochner word self getransformeer van die joernalis / geskiedskrywer / Oprah-figuur na Hercule Poirot wat ’n raaiselagtige moord moet oplos.

Sy rol word selfs uitgebrei na Hollywood-aksieheld wat moet vlug vir sy lewe, die heldin moet red en vlieënde koeëls moet ontduik. Dit is nie net vir die arme Flip Lochner ’n onmoontlike taak om al die rolle baas te raak nie maar ook vir die leser. ’n Mens voel selfs dat Brink sy literêre stempel wou afdruk op elke genre, elke modegier, elke issue wat hy moontlik kon vasvang op die bladsye van sy roman. Of dalk kan dit bloot toegeskryf word aan ’n poging van Brink om ’n vervaging-van-grense-vermenging-van-genres-postmodernistiese teks te skep om sodoende sy posisie as voorloper op die Afrikaanse literêre toneel (weer eens) te probeer konsolideer.

Dit is eksistensiële vrae soos: “Wat was eerste: die hoender of die eier?” en “Kry blare seer as hulle val?” wat ’n mens kan wakker hou in die nag. ’n Kortkop agter is die vraag: “Waarom het Brink nog nooit die Hertzog-prys gewen nie?” Die dae is verby dat Brink as politieke of volksbedreiging beskou kan word en die vraag ontstaan nou: staan persoonlike vetes of die kwaliteit van Brink se werk in die pad? Dertig taalgemeenskappe sou egter laasgenoemde betwis, maar slegs die Letterkundige Kommissie van die Akademie sou kon sê of Brink se bydrae die afgelope amper veertig jaar genoegsaam is vir die Hertzog-prys om lonkend vir Brink te wink al dan nie.

Duiwelskloof is nie noodwendig die toonaangewendste werk wat vanjaar op die letterkundige toneel verskyn het nie, maar dit is ’n werk wat aan die leser ’n smakie gee van die vindingryke skryfwyse van die Franse en Suid-Amerikaanse skrywers in die taal van ons bewussyn.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.