SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Bidsprinkaan een van André P Brink se beste romans in jare

Andries Visagie

Klik en koop hierdie boek nou!
Brink, André P
2005
Bidsprinkaan, 'n ware storie.
Kaapstad & Pretoria: Human & Rousseau
ISBN
0 7981 4524 2
251 bladsye
Prys:
R140

Die publikasie van André P Brink se jongste roman, Bidsprinkaan, 'n ware storie, val saam met sy sewentigste verjaardag wat onlangs landwyd gevier is met 'n bekendstellingstoer van die roman in onder meer Kaapstad, Durban, Bloemfontein, Port Elizabeth, Pretoria en Johannesburg. Boekwinkels is opgetooi met Brink-uitstallings en Brink-verjaardagkoeke en selfs Brink-plastieksakke en -hemde was beskikbaar. Dit is beslis gepas dat een van Suid-Afrika se belangrikste skrywers met 'n literêre loopbaan wat teruggaan tot die 1950's op so 'n feestelike manier geëer word. Brink het Bidsprinkaan (die Engelse weergawe heet Praying Mantis, uitgegee deur Secker & Warburg) spesifiek geskryf met die oog op sy sewentigste verjaardag. Terselfdertyd het hy daarin geslaag om ook sy beste roman in jare te skryf.

Bidsprinkaan is 'n meesleurende en verbeeldingryke teks wat die leser terugneem na die Kaapse koloniale geskiedenis, 'n periode uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat Brink met onderskeiding beskryf het in romans soos Houd-den-Bek (1982) en Inteendeel (1993). Bidsprinkaan is Brink se vertelling van die lewensverhaal van Kupido Kakkerlak, die Khoikhoi-bekeerling wat onder die leiding van eerwaarde James Read 'n prediker en later ook 'n sendeling geword het. Kupido Kakkerlak is omstreeks 1760 gebore en teen 1801 het hy in Graaff-Reinet vir die eerste keer in aanraking gekom met Read en Van der Kemp van die Londense Sendinggenootskap. As 'n toegewyde bekeerling en begaafde prediker word hy uiteindelik deur Read aanbeveel om die leiding oor te neem van die sendingstasie Dithakong, vandag naby Mafikeng. Hierna het hy uit die geskiedenis verdwyn.

In 'n nota agterin Bidsprinkaan vermeld Brink dat hy gebruik gemaak het van onder meer VC Malherbe se navorsing oor Kupido Kakkerlak, "The Life and Times of Cupido Kakkerlak" wat in 1979 in Journal of African History verskyn het. Hy voeg egter by dat "die raaisel van iemand se lewe […] eintlik net deur die verbeelding benader [kan] word". Brink se roman is inderdaad 'n heerlik verbeeldingryke fiksionalisering van Kupido Kakkerlak se lewe, maar die historiese konteks word nooit uit die oog verloor nie.

Die eerste deel van die roman is 'n uitbundige vertelling van Kupido se jeug as veewagter en buitengewoon suksesvolle jagter in die Karoostreek wat as die Koup bekend staan. Hy het grootgeword met die verhale van die Khoikhoi-mitologie en hy het selfs die persoonlike beskerming van die mitiese Heitsi-Eibib geniet. Hy trou met die Boesmanvrou Anna Vigilant, wat bekend is vir die onverbeterlike seep wat sy kook. In die tweede deel van Bidsprinkaan, myns insiens die sterkte deel van die teks, verander die toonaard van die narratief drasties wanneer die ingetoë James Read begin vertel hoe Kupido hom tot die Christendom bekeer het en in Bethelsdorp opleiding ontvang het om 'n prediker te word. Die derde en laaste deel van die roman is 'n verslag van Kupido se ontberings as 'n sendeling in die afgeleë Dithakong. Die betowerende slot van die roman is 'n meer uitgebreide (en aansienlik verbeterde) weergawe van Brink se romanfragment oor Kupido Kakkerlak wat reeds in 1986 in Standpunte verskyn het. Brink is ten volle in beheer van die indrukwekkende en goed gemotiveerde stilistiese variasie wat die drie romangedeeltes van mekaar onderskei.

'n Fassinerende aspek van Bidsprinkaan is Brink se omgang met die raakpunte tussen geskiedenis, godsdiens en die narratief. Vir die meeste mense is hulle geskiedenis en hulle geloof die basis van die sekerhede wat hulle in die lewe koester. Maar wat is die rol van stories in die prosesse waardeur godsdienste en die geskiedenis hulle beslag kry? Dit is hierdie vraag wat telkens na die oppervlak beur in Brink se roman. In sy onlangse werk keer Brink in sy romans gereeld terug na 'n besielde ondersoek van die narratief as een van die belangrikste denkstrategieë tot ons beskikking om onsself en die wêreld rondom om ons te verstaan. Die eerbiedige vertroue wat hy in die narratief stel, verkry soms die aanskyn van 'n absolute, selfs 'n soort religieuse waarheid, en dit is daarom nie verrassend dat hy nou in Bidsprinkaan die spanning tussen geloof en narratief sterker ontgin nie. In Waarom literatuur (1984) het Brink reeds verwys na die roman as iets van 'n religieuse ervaring, maar dan wel as 'n sekulêre religie waardeur uitgereik word na die Ander. Die motto voorin Brink se nuwe roman kom uit White Noise van Don DeLillo en gee (weliswaar op 'n teësinnige manier) erkenning aan die belang van die religie in Bidsprinkaan:

The non-believers need the believers. They are desperate to have someone to believe […]. It is our task in the world to believe things no-one else takes seriously. To abandon such beliefs completely, the human race would die. This is why we are here. A tiny minority. To embody old beliefs. The devil, the angels, heaven, hell. If we did not pretend to believe these things, the world would collapse.
Die heel eerste sin van Bidsprinkaan berei die leser daarop voor dat verhale, net soos die ontstaansmites waarop die meeste godsdienste gevestig is, oor die mag beskik om die fisieke dimensie van die menslike bestaan te transendeer:
Kupido Kakkerlak is nie op die gewone manier uit sy ma se liggaam gebore nie, hy het uitgebroei uit die stories wat sy vertel het.
Vir Kupido word sy ma se storie dat hy teen die einde van sy lewe deur 'n arend weggevoer sal word, byvoorbeeld deel van sy toekomsverwagtinge. Sy identiteit kry gestalte deur die stories oor Heitsi-Eibib en Tsui-Goab; Heitsi-Eibib word selfs sy gids op die jagveld. Dit is van Heitsi-Eibib persoonlik dat hy die slagtand van 'n leeu ontvang om die kwaad van hom af weg te hou.

Kupido se kennismaking met die Christelike geloof is egter die begin van 'n nuwe fase in sy lewe waarin hy vasgevang is tussen twee botsende narratiewe, naamlik die Khoikhoi-wêreldbeeld van sy jeugjare en die Christelike geloof, waaraan hy hom toenemend toewy, ondanks Anna Vigilant se voorbehoude. Die Bybelverhale waarmee Kupido heropgevoed word, word sy nuwe godsdiens. Die Woord van God word vir hom so 'n ernstige saak dat hy selfs sy eksemplaar van die Bybel bladsy vir bladsy opeet sodat die Woord van God altyd by hom sal wees. Hy begin om ywerig die klipstapels wat ter ere van Heitsi-Eibib opgebou is, af te breek in 'n gebaar wat sy verwerping van sy vroeëre Khoikhoi-gelowe moet aandui.

In die derde deel van Bidsprinkaan ervaar Kupido as sendeling op Dithakong (sonder die beskerming van James Read) toenemend die wantroue van blanke sendelinge soos eerwaarde Moffatt. Katryn, Kupido se tweede vrou, maak die gevolgtrekking dat hulle velkleur die rede is vir die Londense Sendinggenootskap se versuim om hulle in hul sendingtaak by te staan. Vir Kupido en Katryn word dit duidelik dat die narratiewe wat hulle geloofslewe bepaal het, nie in isolasie bestaan van die magsverhoudinge wat die koloniale bestel in Suid-Afrika bepaal het nie.

Kupido se verlies aan vertroue in sy blanke opdraggewers gaan gepaard met 'n kwynende vertroue in die Woord van God. Hy keer terug na die Khoikhoi-mites waarmee hy grootgeword het en begin om die bestaan te interpreteer met verwysing na sowel dié mites as die mites en vertellings waarop die Christelike geloof berus.

Kupido vind dit uiteindelik onhoudbaar om sy geloofslewe aan 'n enkele narratief te koppel:

Maar stadigaan […] het Kupido begin dink, soos Anna Vigilant hom jare terug al voorgesê het, dat dit dalk nie eintlik soveel saak maak as Tsui-Goab een ding praat en Tkaggen 'n ander ding en die Here-God weer 'n ander nie. Vir al wat hy weet is daar op ander plekke ook nog ander gode. Mens kan nooit na almal luister nie. Jy kan nie eens van almal weet nie.
Kupido is uiteindelik oorweldig deur die veelheid van religieuse narratiewe wat elkeen sy eie aansprake maak. Hy reik uiteindelik uit na 'n "anderkant" wat herinner aan die karakter Martha in Albert Camus se drama Le malentendu (Die misverstand) wat ook verlang na 'n "anderkant", 'n wêreld vol beloftes van geluk, omdat die voortdurende appèl van God of gode afwesig is.

Kupido bevind hom uiteindelik "anderkant die woord" - nie net anderkant die Woord van God nie, maar skynbaar ook anderkant die woorde waaruit die taal bestaan, en selfs anderkant die narratief wat immers slegs deur woorde beslag kan kry. Dit wil voorkom asof Brink hier daarvoor kans sien om sy eie opvatting oor die waarde van die narratief krities te ondersoek deur te wys op 'n ander dimensie - of ten minste die verlange na 'n ander dimensie - wat verder in die verskiet lê en die belang van die narratief moontlik kan relativeer.

Veral in die eerste deel van Bidsprinkaan toon die karakter van Kupido Kakkerlak ooreenkomste met die tipiese hooffiguur in die pikareske roman. Kupido is 'n rakker wat betrokke word by allerlei avonture, met soms verregaande resultate. Sy seksuele verowering van Anna Vigilant word byvoorbeeld 'n skouspel wat letterlik die vonke laat spat.

Na sowat honderd bladsye verlos Brink sy lesers van 'n oorversadiging aan skelmstreke en uitspattige kinkels in die verhaal (oorvertel in 'n ruie, gemeensame Afrikaans) wanneer hy in deel twee die bedaarde James Read as verteller aan die woord stel. Uit sy nota agterin die teks blyk dit dat Brink daarteen wou waak om met sy uitbeelding van Kupido Kakkerlak terug te val op die stereotipe van die "jollie Hotnot" wanneer hy opmerk: "Kupido Kakkerlak kon spontaan en ongekunsteld wees, maar hy was nie 'n harlekyn nie."

Die verskillende vertelperspektiewe dra daartoe by dat Kupido in Bidsprinkaan ontwikkel tot 'n komplekse karakter wat uiteindelik veel meer is as die stereotipiese "jollie Hotnot" met sy kwansuise voorliefde vir drank, pret en veelvuldige seksuele avonture.

Soos dikwels in die verlede, het Brink ook sy jongste roman tegelykertyd in Afrikaans en Engels geskryf. Hoewel ek groot bewondering het vir sy vermoë om met soveel gemak in Engels te skryf, dink ek tog dat Kupido Kakkerlak heelwat beter uit die verf kom in Bidsprinkaan as in Praying Mantis. Die veelseggende Afrikaanse ondertitel, "'n ware storie", ontbreek byvoorbeeld in die Engelse weergawe, waarskynlik omdat "a true story" al iets van 'n cliché geword het, terwyl "'n ware storie" (waarheid en storie) in Afrikaans op 'n baie effektiewe manier die naasliggendheid van waarheid en fiksie vasvat. In die baldadige hoofstuk "Witter as sneeu" word Anna Vigilant se seepkokery in kleur en geur beskryf, soms met die gebruik van ouderwetse uitdrukkings en informele segswyses. Ook die Engelse beskrywing van die seepkokery is sjarmant en oortuigend, maar die taalgebruik is soberder en baie Engels-korrek. In Afrikaans kry die leser van Bidsprinkaan dus iets meer pasella as die leser van Praying Mantis.

Met Bidsprinkaan is dit duidelik dat André P Brink se kreatiewe energie steeds onstuitbaar is. Brink se lesers kan daarna uitsien om in Bidsprinkaan die bekende Brink-tematiek in 'n verfynde en beleë vorm terug te vind. Hopelik is hierdie roman nie Brink se laaste ekskursie in die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie. Hy kuier goed saam met die geskiedenis.

  • Andries Visagie doseer Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van KwaZulu-Natal in Durban. visagiea@ukzn.ac.za


    LitNet: 13 Julie 2005

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.