SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




  Elias P Nel
word groot in Verneukpan en later in Kraaifontein. Hy is 'n pakhuisbestuurder by die Provinsiale Administrasie Wes-Kaap. Sy bundel kortverhale, Iets goeds uit Verneukpan?, het einde 1998 verskyn. Elias is ook 'n bestuurslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging.

Op pad na die groot versoening

Om by die GROOT VERSOENING uit te kom moet ons eers in onsself terugloop en gaan vasstel waarom versoening vir die Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika nodig is. Ons moet by die era van die GROOT VERDRUKKING begin. Toe daar wette in Afrikaans gemaak is wat ’n groot deel van die Afrikaanse gemeenskap asook die ander taalgemeenskappe in Suid-Afrika uitgesluit het. Die uitdrywing en verbanning het uiteraard polarisasie in die hand gewerk, ook teenoor Afrikaans. Die waan dat Afrikaans die taal van die Afrikaner is, het wyd uitgekring. En dit was soos met enige ander leuen: as dit lank genoeg as die waarheid verkondig word, begin mense dit glo. Diegene wat in Afrikaans gebore en ontvang is, begin die groot uitvaart na Engels. Die Afrikaanse spraakgemeenskap begin versplinter, maar soos Nero het die destydse magshebbers viool gespeel terwyl Suid-Afrika brand.

Die klein vuurtjies van verset wat sedert die dae van Autshomato (ook bekend as Herrie die Strandloper) begin knetter het, bars in 1976 in vuurgloed uit. En ons bevind ons toe in die era van die GROOT VERSET. Wat aanvanklik as ’n verset teen die gedwonge onderrig van Afrikaans begin het, blyk toe later meer te wees. Die algehele emansipasie van alle onderdruktes in Suid-Afrika. In die strate van die Kaapse skiereiland en elders word die stryd om bevryding meesal in Afrikaans gevoer. Dit is algemene kennis dat die gewone Afrikaanssprekende veel bygedra het om die ou bestel tot ’n val te bring.

In April 1994 beleef ons die GROOT VERKIESING. Afrikaanssprekendes swaai plakkate met Engelse boodskappe lustig rond. “A better life for all.” Almal glo onwrikbaar dat die beter lewe na die groot verkiesing ’n werklikheid sal word. Die beter lewe versuim om te kom, ten spyte van die beloftes. Die gekleurde deel van die Afrikaanse gemeenskap bevind hulself weer in die rol van pionne op die swart en wit skaakbord. Soos lewelose pionne word hulle gerangskik en herrangskik om die grille en giere van die spelers te bevredig. Die groot verset en verkiesing nou nog net ’n wrang smaak van hoe die hoop ons weer eens liederlik beskaam het.

Nou bevind ons onsself in die tydperk van die GROOT VERDEELDHEID, VERWARRING en ONVERDRAAGSAAMHEID. Die nuwe millennium het klaarblyklik die tydperk van die groot ontevredenheid ingelei. ’n Tydperk van ’n geweeklaag soos min waar klaagliedere en treurmares deel van mense se daaglikse bestaan word. “Afrikaans is besig om uit te sterf!” is die refrein wat oral weerklink en soos ’n wysielose kwaitoliedjie tot vervelens herhaal word. Hoe Afrikaans kan sterf as dit sprankelend bly voortleef op die Kaapse vlakte, Namakwaland, Boesmanland en Karoo, bly ’n ope vraag. Waarskynlik omdat die taalgebruikers in die streke nie van die rasegte stamboom van Afrikaners spruit nie. Dat Afrikaans in die nuwe bedeling slegter daaraan toe is, is ’n voldonge feit. Om dit egter as die doodsklok van die taal voor te hou, is voortydig. Afrikaans en al die ander inheemse tale bevind hulle in die posisie waar Engels ten koste van die tale bevoordeel word. Alhoewel al die elf amptelike tale in Suid-Afrika juridies gelyk is, bewys die handhawing van die gelykheid in die praktyk die teendeel. Dit is waar die uitdaging lÍ, om saam met ander taal- en kultuurgroepe te beding en te organiseer teen die bevordering van eentaligheid. Nie die stigting van eiebelangsoekende groepies wat die taal meer skade as goed berokken nie. Die boodskap wat die groepies uitstuur, is dat Afrikaans ’n onsimpatieke en selfsugtige taal is wat nie kan of wil aanvaar dat ons in ’n veeltalige land woon nie. Ek is vas oortuig dat die voortbestaan van Afrikaans as Afrikataal in die saamwerk en -praat met ander Afrikatale lÍ.

Alvorens ons by die punt kom waar daar kollektief vir die beter posisionering van die ander tien landstale beding kan word, moet daar eers bestekopname gedoen word. In die Afrikaanse spraakgemeenskap is daar gans te veel verdeeldheid, beledigings, onverdraagsaamheid, kwaadstokery, meerderwaardigheid en voorskriftelikheid. Dis deesdae die inding onder Afrikaners om “gatvol en die bliksem in” te wees. Maar dit beteken nog nie dat die wesenlike probleem waarvoor ons staan daardeur opgelos gaan word nie. Die houding werk eerder verdere skeiding in die reeds sensitiewe verhoudinge binne die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskap in die hand. En laat ons maar eerlik wees, die wankelende verhoudinge binne die Afrikaanse spraakgemeenskap is juis as gevolg van die diversiteit daarvan. Kortom, dit gaan om kleur. Die voorheen bevoordeeldes wil nog steeds vanuit ’n posisie van mag met medetaalgenote onderhandel. Eintlik is onderhandel ’n verkeerde woordkeuse, want die “onderhandelinge” is gewoon voorskrifte wat ten doel het om eie gewin vir die Afrikaner te verseker en vrees in te boesem. Presies dieselfde strategie as met die destydse Rooi gevaar en die mees onlangse Swart gevaar. Vir die meeste Afrikaners is dit nog steeds te moeilik om taalgenote uit die bruin gemeenskap as gelykes te aanvaar en te behandel.

Die redenasie mag wees dat die bogenoemde stelling verouderd is, maar die teendeel is waar. Die werkersklas in ons land, waarvan ek onlosmaakbaar deel is, ondervind hierdie meerderwaardige optrede nog daagliks. Onderhandeling en samewerking vanuit ’n ondergeskikte rol is selfmoord. Daar is te veel wonde wat nog nie behoorlik genees het juis as gevolg van die “samewerking ter wille van”, waar diť in die mindere magsposisie geen voordeel uit die samewerkingsooreenkoms gekry het nie. As gevolg van die weiering om saam te werk word die bruin gemeenskap daarvan beskuldig dat hulle apaties teenoor die taal staan. Dit is egter nie so eenvoudig nie. Benewens die skeptisisme is daar ook nog ander bydraende faktore wat die taalstryd nie prioriteit nommer een by ons maak nie. Die meeste van die bruin gemeenskap voer nog ’n sukkelbestaan wat in die hand gewerk is deur ’n beleid wat deur Afrikaners op hul afgedwing is. Die stryd om oorlewing (brood-en-botterkwessies) weeg dus by die meeste swaarder as om by ’n stryd om taal betrokke te raak.

Dit beteken nie dat daar nie in Afrikaans geleef word in die gemeenskap nie. Die werkersklas se hele bestaan is Afrikaans. Vir baie is Afrikaans hul eerste en enigste taal. Maar die vele projekte wat in Afrikaans aangepak word, word nie aan die groot klok gehang nie. Die redes daarvoor mag miskien die vrees vir verkeerdelike assosiasie wees. Wie wil dan nou ook net omdat jy Afrikaans leef met ultra-verkrampte mense en organisasies soos die Afrikaner Weerstandsbeweging, Boere Weerstandsbeweging, Herstigte Nasionale Party en menigte ander geassosieer word? Nog ’n rede is dat die aggressiewe bemarking van Afrikaans soos dit deur die meeste Afrikaners voorgestaan word, in die meeste gevalle aanstoot gee. In die bemarking geld die reŽl van “Wit is reg en goed” teenoor “Swart is verkeerd en sleg”.

Daar is heelwat negatiewe tendense wat soos ’n groot vrot oor die Afrikaanse spraakgemeenskap spoel om dit onherstelbaar te laat verrot. Baie van die uitsprake werk nie tot die bevordering van Afrikaans nie, eerder tot die versplintering van die taalgemeenskap. Die volgende klomp is voorbeelde daarvan: Die Boetmans wat nou ewe skielik so die bliksem in is, nadat hulle hul aan die vetterigheid van die land ten koste van ander verlustig het. Die meerderwaardigheid waarmee die poŽsiebundel van Gerrit Komrij hier te lande begroet is. Hierdie afkeuring het myns insiens grootliks daarmee te make dat ander Afrikaanse digters ook in die bundel opgeneem is. Die tendens wat daar bestaan om Afrikaanse skrywers as gevolg van hul velkleur te kategoriseer. Iets wat nie gebeur met skrywers uit die wit gemeenskap nie. Weer die reŽl: Skrywers is wit en almal en alles wat volg, is nie volbloedskrywers nie, maar bruin of swart skrywers. Die gedwonge aanvaarding van die skrywers wat aan die gruwelike klassifisering onderwerp word. Hulle wat agter hul hande ten hemele skree oor die onreg, maar later weer bakhand gaan staan om weer en weer geŽtiketeer te word. Die verwaandheid van Afrikaners om aan die bruin gemeenskap te wil voorskryf hoe hulle die hel van apartheid sou ervaar het en hoe pateties hulle is omdat hulle nie as taalstryders na vore tree nie. Die miskenning van die rol wat Afrikaans gespeel het om die nuwe politieke bestel te bespoedig deur die regering van die dag. Die strafmaatreŽls wat teen Afrikaans toegepas word net omdat die uitsiglose leiers van gister diskriminerende wette in die taal uitgevaardig het. Snaaks dat dieselfde nie vir Engels geld wat ons ook polities en ekonomies ontmagtig het nie. Die opvatting wat daar bestaan dat om Afrikaans te wees, per se beteken om pro-Boer te wees en dat jou intellektuele vermoŽns verdag is. Die verenigings en aksies wat soos paddastoele verrys en ten doel het om vir Afrikaans te veg. (Praag, die Goep van 63 en ander.) Dat dit gewoonweg middeljarige wit Afrikaanse manlike intellektuele is wat hierdie inisiatiewe loods wat veel eerder skeiding bring en skade berokken, is nie ’n verrassing nie. Diegene wat veronderstel is om verlig te wees wat in ’n oomblik van onnadenkendheid argaÔese terme soos “kleurling” en “bantoe” besig.

Dit is die hekkies en struikelblokke wat oorkom moet word alvorens ons die euforiese fase van die GROOT VERSOENING kan betree. Hef aan lÍ dus voor om nuwe beweegruimtes te beding waarin die verskille en strydpunte van vandag, gister en eergister verval.

By geleentheid het ek in ’n skrywe aan Die Burger gevra:

    “Waarom kan Afrikaans nie as die vriendelike taal (wat dit wel is), die brugbouertaal (wat dit kan wees) en die versoenende taal (wat dit wil wees) bemark word nie?”

’n Praktiese doenlys vir almal vir wie die bevordering van Afrikaans hul erns is, mag dalk so lyk:

  1. Gesprekke moet op alle vlakke in die Afrikaanse gemeenskap gevoer word om ’n holistiese beeld van die stem van die Afrikaanssprekendes te kry. Nie net die menings van intellektuele wat nie weet wat dit beteken om net jou gebrekkige streektaal as bemagtigingswapen te hÍ nie.

  2. Dat die werkplanne vir die bewaring / bevordering van Afrikaans minder voorskriftelik moet wees. Die sogenaamde liberale wat teen die Nasionalistiese dwangbeleid was, doen nou presies dieselfde deur bruinmense te dwing om by die taalstryd betrokke te raak. Gun mense die reg op eie keuse, dis waarom ons kinders se bloed die strate van die Kaapse vlakte bevlek het.

  3. Daadwerklike pogings moet aangewend word om die talle nie-lesers in ons gemeenskappe te bemagtig. Nie ’n doellose gespeel met woorde nie, maar ’n daadwerklike inspring en werk.

  4. Die tyd, geld en energie wat spandeer word om optogte te reŽl en eindelose debattering oor die toekoms van Afrikaans sou dalk beter aangewend kon word om mense se sosio-ekonomiese lewensomstandighede te verbeter. Indien daar nie afstand gedoen wil word van die fondse nie, moet dit vanuit ander bronne verkry word. As ons werklik so begaan is oor die voortbestaan van Afrikaans, sal ons ons medetaalgenote se hulpgeroep hoor en ’n Moses wees om hul uit hul ellende te bevry.

  5. Moenie Afrikaans gebruik om sensitiewe verhoudinge te versteur nie, gebruik dit eerder om mense te bemagtig en nuwe vriende vir die taal te wen.

  6. Afrikaans moet die leiding neem om te bewys dat die ou beleid van “elke taal in sy hoekie” saam met apartheid (as dit werklik dood is), die Nasionaliste en ander gesneuwel het. Afrikaanssprekendes moet begin om hul belange in ’n breŽr verband te sien. Ons moet begin wyer uitreik, oor taal en kultuurgrense heen, nie noodwendig op die voorwaardes van ander nie, maar met die wil en wete dat Afrikaans kan bydra om die veel geknelde land te help genees.

  7. As gelyke vennote moet alle Afrikaanssprekendes begin deelneem aan ’n gesprek wat die nuwe rol van die taal in Suid-Afrika moet herdefinieer. So ’n stap sal noodwendig ’n diepgaande sielsondersoek by alle Afrikaanssprekendes teweegbring.

Eers na die reiniging van die gemoed sal ons kan begin met die hef aan wat ons uiteindelik by die GROOT VERSOENING in die Afrikaanse taalgemeenskap sal bring.

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SÍNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.