SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




  Deon Meyer
is ’n stil man wat graag agter sy pyp wegkruip. Hy is ’n navorser en internetkenner wat verbonde is aan die maatskappy Tinderbox. Wanneer hy nie kubergemeenskappe stig nie, ry hy op sy BMW motorfiets en skryf uitstekende rillers. Met sy roman Feniks het hy die internasionale mark oorrompel. Orion gloei nou op die boekrakke.

Die boek, die skrywer en die internet

My oud-kollega Ian Douglas het die akroniem ICE teen sy kantoor se muur opgeplak gehad: Internet Changes Everything.

Ek kon my nooit met die veralgemening en strekwydte daarvan vereenselwig nie, ondanks ons gereelde, stimulerende debatte en sy aansienlike insig en intellek. My mening was en is dat byvoorbeeld die basiese beginsels van ’n gesonde sake-onderneming hoegenaamd nog nie verander het nie: ’n produk van gehalte teen ’n mededingende prys, aangebied aan ’n marksegment met ’n daadwerklike behoefte daarvoor bly steeds die kern van enige gesonde besigheidsmodel.

Feniks
Dead before dying
Orion
Nou te koop
’n Ander beswaar teen ICE is dat die begrip “Internet” eenvoudig te breed is. Vir die meeste nuwelinge tot dié domein beteken dit die koppelvlak van grafika, teks en klikbare skakels van die Wêreldwye Web — en natuurlik elektroniese pos. Vir netwerkadministrateurs hou die konsep bedienerrekenaars, IP-adresse, vuurmuur-sekuriteit en lynspoed in.

Eindelik is die internet dit alles: die ervaring van gebruikers, virtuele inligting, die programmatuur, die rekenaars, die telefoon- en netwerkkabels, die satellietverbindings, die protokolle …

In sy breedste sin het die internet sekerlik ’n invloed op alles wat ons doen — op skrywers, op uitgewers, op die kleinhandel in dié bedryf. Maar het dit werklik al iets verander?

Neem die Amazon-fenomeen as voorbeeld: As gereelde gebruiker van dié web-winkel het ek groot waardering vir die toeganklikheid tot materiaal wat nie meer op boekwinkelrakke beskikbaar is nie, vir die vinnige aflewering, selfs uit die VSA, vir die uiters billike pryse en bowenal vir die manier waarop Bezos en Kie die leser ’n stem gegee het in die resensering van boeke (gewone mense se kommentaar op Amazon is dikwels meer insiggewend en het ’n groter invloed op (my) koopbesluite as dié van akademici en professionele resensente.)

Maar het Amazon die boekkleinhandelbedryf werklik ingrypend verander? Het dit tot ’n revolusie in die bemarking van boeke of ’n insinking in die verkope van baksteen-en-beton-winkels meegebring? Het dit ’n nuwe speelveld geskep waarop onbekende skrywers, ook dié van landjies onder in Afrika, daadwerklik op gelyke voet kan meeding met die Groot Name van veral Amerikaanse fiksie?

Nog nie.

(Daar is, hier en daar, enkele gevallestudies van skrywers wat op die Internet gepubliseer het en ’n aanhang verwerf het. Die ironie is dat hul beloning ’n kontrak by ’n ou-wêreldse uitgewer was wat die werk as ’n ou-wêreldse boek van ink en papier uitgegee het.)

Ek kan nou my manuskrip aan my redakteur per e-pos stuur. Hy kan die versorging op sy rekenaar doen en dit elektronies aan die proeflesers en eindelik aan die setters en drukkery besorg. Die voorblad word op Apple Mac met Freehand en Quark Express ontwerp en ewe digitaal afgelewer. Teoreties gesproke is daar in dié proses tyd en papier bespaar, maar het dit ’n daadwerklike invloed op die produksiekoste van boeke en eindelik op die kleinhandelprys daarvan gehad?

Nie só dat jy dit sal agterkom nie.

Toegegee: tegnologie in die breë het die manier hoe skrywers navorsing doen en skryf oor die algemeen ongetwyfeld beïnvloed. Elektroniese knip-en-plak in Microsoft Word of Wordperfect of WordPro is ’n wonderwerk, vergeleke met die oortik (of oorskryf met die hand) van groot gedeeltes van ’n hoofstuk of, soms, ’n hele boek. Spelspeurders kan my tikfoute regmaak en my beskerm teen die verleentheid van taalblapse — virtuele proeflesers wat ’n manuskrip netjieser en vinniger in aflewerbare vorm kan kry.

Ek hoef nie meer ’n vlees-en-bloed-kenner van ’n obskure vuurwapen te gaan soek om geloofwaardige inligting daaroor te bekom nie — ’n soektog op die Web plaas binne minute meer inligting in my hande as wat ek kan gebruik.

Aan die ander kant: Het die tegnologie regtig ’n invloed gehad op die aard van die storie, die kreatiewe proses, die worsteling met woorde?

Nog nie.

Maar ons is nog in die prehistoriese fase van die Nuwe Ekonomie. Die vraag is natuurlik wat die toekoms vir ons inhou.

Die kort antwoord is: Niemand kan met sekerheid sê nie. Tegnologie bring vandag nie meer die soort afgemete baken-revolusies wat soos enkele knalle in die gange van die geskiedenis weergalm nie: Gutenberg, die Industriële revolusie, die binnebrandenjin … Dit het ’n rollende donder van reëlmatige vooruitgang geword, ’n masjien wat op homself teer om daagliks nuwe deurbrake op feitlik elke terrein te bewerkstellig wat bloot die dolle voortstoom se rigting met enkele grade verander. Daar’s die digitale bladsye wat Xerox pas ontwikkel het, wat elke dag of elke uur of minuut ander elektroniese inligting kan bevat, maar jy kan dit blaai soos ’n boek. Daar’s e-Boeke, handgrootte “lesers” waarop jy vyf of tien of vyftien vollengte romans kan laai en die hele vakansie daaraan lees. Daar’s Flash en WAP en nanotegnologie en die steeds toenemende snelheid van prosesseerders en elke ander toepaslike tegnologiese ontwikkeling in en om ons bedryf. Maar gaan dit ons lewens as skrywers en uitgewers en boekwinkels en (veral) lesers binne die volgende drie, vyf, tien jaar só verander?

’n Mens kan bloot spekuleer. En hoe wyer jy spekuleer, hoe groter is die kans dat jy met een van jou profetiese insigte die pot kan raaksit.

’n Gevallestudie soos die musiekindustrie skree oorverdowend dat ons lig moet loop — enigiets is moontlik. MP3 het logge digitale musieklêers in verslankte, vinnig aflaaibare brokkies saamgepers. Webruimtes soos MP3.com en Napster.com het nie net ’n nuwe dimensie aan uitruilbaarheid op die Internet gebring nie, maar aan obskure musiekmakers die geleentheid gegee om hul werk internasionaal bekend te stel, aan ’n gehoor van miljoene.

Die platebedryf is in rep en roer. Benoud. Paniekerig. Hulle dagvaar, hulle sleep hof toe, hulle maak planne en hou berade en kongresse en seminare en hulle sweet, want daar is biljoene dollars op die spel en niemand weet wat die uiteinde gaan wees nie.

Hulle ontwikkel inderhaas sekuriteitstelsels om die uitruilbaarheid van musiek te probeer beperk, om kopiereg te probeer beskerm, om tantieme te probeer red. En dan kan hulle nie ooreenkom oor watter standaard om te gebruik nie, maar eintlik maak dit nie saak nie, want krakers het reeds hul sekerheid ontrafel.

Is dit boeke se voorland? Daar is dan juis groot ooreenkomste tussen dié musiekfiasko en die boekbedryf: Romans, kortverhale, essays, gedigte is net so digitaal soos musiek, kan net so maklik en blitsig deur die kuberruim versprei. E-Boeklesers, soos MP3-spelers, is klein, kompak, sakgrootte, mobiel, maklik laaibaar.

Dit is nie onmoontlik nie, net onwaarskynlik.

Romans, novelles, kortverhale, essays en gedigte het net nie dieselfde reuse-, passievolle aanhang van byvoorbeeld rockmusiek nie. Skrywers is oor die algemeen nie dieselfde demigode van die wêreld se jeug soos musieksterre nie. Jy kan nie jou e-Boek lees terwyl jy op jou Apple of PC of skootrekenaar werk nie, of in jou motor ry of op jou rolskaatse nie. Maar jy kan na MP3’s op jou oorfone luister.

Toegegee, Stephen King het ’n relatief suksesvolle eksperiment agter die rug met die stuk-stuk uitreik van nuwe werk in digitale formaat en daar word nog van dieselfde beplan. Die Harry Potter-fenomeen het al die sexy aantrekkingskrag van ’n nuwe Ricky Martin-snit en sal bes moontlik ook as elektroniese boek ’n mate van sukses kan bereik.

Maar: daar is nog nie ’n ooreengekome, eenvormige e-boekstandaard nie (daar’s drie, wat twee te veel is). En wie gaan Harry Potter and the Goblet of Fire aflaai en op ’n drukker uitdruk en dan met die spul los papiere strand toe gaan?

En hoe keer jy iemand om die manuskrip vir halfprys aan al sy vriende te e-pos?

Hier droog my spekulasie op. Ons wag vir die “Next Big Thing” vir die boekbedryf, daardie stukkie tegnologie, of losstaande stukkies wat skielik een oggend bymekaar gaan kom om ons in volkome chaos te dompel en soos die musiekbedryf te laat skarrel om op te vang, by te bly, voor te kom.

Laat ons ons liewer bepaal by sekerhede:

  • Enigiemand kan sy skryfwerk nou goedkoop, dikwels kosteloos, op die Web publiseer. En dié wat wil, doen dit reeds. In honderde duisende persoonlike webruimtes en biljoene vonkposstukke dig hulle, vertel hulle stories en skryf hulle romans en brokkies en staaltjies en lirieke. Daar’s geen voor-die-hand-liggende onderskeid tussen gehalte en snert, die literêre en die toeganklike, die diepe en vlakke nie. Dit is net dáár, dikwels in die stowwerige hoekies van hierdie digitale doolhof, om ontdek te word, om gelees te word of om heeltemal geïgnoreer te word. Die beskikbare geskrewe woord het miljoenvoudig toegeneem.

  • Die internet het die veilige afstand tussen skrywer en leser laat verdwyn, of dan minstens vervang met niks meer as ’n papierdun lagie silikon nie. Wat ons as skrywers skielik skrikwekkend nader aan ons lesers bring. Geen redakteur of boekbemarker wat die brose ego kan beskerm teen die potensieel snydende opmerking of vernederende aanmerking nie. En die temerige stroompie briewe van lesers sal bes moontlik in ’n stortvloed van e-pos kan ontaard wat beantwoord moet word. Vinnig. Behendig. Vriendelik. Want vir die leser is e-pos maklik, vinnig, kort en jou adres maklik opspoorbaar.

  • Lesers is bemagtig. Om met hul muis te stem, om by Amazon te gaan resenseer en sodoende jou werk op te hemel of af te takel. Of om op gespreksforums jou boek te kelder of die hype aan die gang te sit wat dit in ’n blitsverkoper kan omskep. Die gladdebek Engelse nuutskepping “word of mouse” wat op die USENET en webruimtes en e-pos ’n skrywer kan maak of breek binne ure, reg oor die aarbol.

  • O, die pyngedagte: Skrywers sal nou hulself en hul werk moet bemark (en nie meer die uitgewers vir hul beweerde gebrekkige pogings kritiseer nie) deur self in kletskamers aan gesprekke te gaan deelneem, deur binne die verwagtinge van dié medium hulself en hul boeke ten toon te stel met die bou of laat bou van webruimtes, ’n immer-beskikbare virtuele winkelvenster, ’n kuberbinnekamer waar jou lesers kan kom sit en reguit sê en reguit vra. Waar jy met die skaamteloosheid van ’n tweedehandse motorverkoopsman jou pennevrugte moet reklameer, waar jy met die behendigheid van ’n spindokter ’n persona moet skep — ’n handelsmerk. ’n Brand.

Ons is nog nie by Ian Douglas se ICE nie. Nog nie heeltemal nie. Maar ons is op pad. Ek wens net ek het geweet waarheen. En hoe dinge gaan lyk en werk as ons daar kom.

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.