SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad





Foto: Tafelberg-Uitgewers
  Tom Dreyer
matrikuleer aan Paul Roos Gimnasium en studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy voltooi ’n nagraadse kursus in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Van sy poŽsie en kortverhale is opgeneem in verskeie bundels. Sy nuutste werk is sy tweede roman, Stinkafrikaners.

’n Nuwe argitektuur

Erdvarkfontein
Stinkafrikaner
Nou te koop
Die Land Cruiser se bande skop rooi stof uit die grondpad. Deur die agterruit kan die insittendes ’n kroon stof agter hulle sien, soos dit ook agter die Jeep voor hulle hang. Schalk krap aan die vrat op die rug van sy hand, verstel dan aan die truspieŽl om die son uit sy oŽ te hou.
     “Hoe ver is dit nog?” neul Marinda vanuit die agtersitplek. Haar kuif hang in twee boŽ oor haar wange, en vee oor die blinkertjies wat sy daar opgeplak het. Sy tik ongeduldig teen die ruit. Gerhard, wat langs haar sit, staar ’n oomblik na die plastiekringe aan haar vingers en na die hoŽ spleet in haar romp, bepaal hom dan weer by die duinlandskap agter die ruite. Hy sluk aan die naarheid wat deur die eindelose styg en val van die 4x4 in hom gewek is. “Toe ons netnou petrol ingegooi het, het Roelf gesÍ dis nog so tagtig kilo’s. En hy ken hierdie wÍreld.”
     “Gelukkige hy,” prewel Marinda voor sy weer op die barre landskap fokus. Die lae hoek van die son laat selfs die laagste duinkam ’n skaduwee gooi. Schalk vroetel aan die stelknop van die radio, maar behalwe vir grepies in ’n onverstaanbare taal, kry die Pioneer niks opgevang nie. Later skakel Schalk maar af. Die passasiers het nou een vir een stil geraak, die son van Afrika vir oulaas warm op hulle nekke.

Toe die Toyota die gladder oppervlak van die soutpan tref, verander die toonhoogte waarteen die bande ruis. Almal sit regopper, en sien dan in die verte Roelf se Jeep wat hulle staan en inwag. Toe hulle stilhou, kom diť kÍrel met sy kortgeskeerde hare deur die bestuurdervenster leun. “Welkom,” sÍ hy, en beduie glimlaggend na die bykans afwesige landskap. “Maak julle tuis.”
     “Oh, my word,” kreun Marinda, en trek haarself van die klewerige sitplek los. Ook die ander klim uit. Schalk is bly om uit die beknopte kajuit te wees. Hy buk af en wroet met sy vingers in die bros grond, bring dan ’n paar korrels na sy tong om die soutigheid te proe. Gerhard staar met ’n gevoel van onwerklikheid na die hittevlae in die verte. Hy hou nie van lugspieŽlings nie: dit maak alles vloeibaar en vaag, en jy kan op niks peil trek nie. Sy blik kruip terug na die groepie mense saam met wie hy grootgeword het.
     Die groep se stilte word deur die gebrom van ’n naderende motorfiets verbreek. Hulle sien hoe ’n pluim sout en stof geleidelik die vorm van Leonard en sy motorfiets aanneem: swart valhelm en handvatsels wat bo ’n koplig krul. Hy skuif langs hulle tot stilstand. Sy baadjie is rooi van die stof, en as hy sy rybril afhaal, sit daar twee wit sirkels om sy oŽ. “DŰnner,” sÍ hy. Hy betrag die troostelose omgewing ’n oomblik met die houding van ’n pas uitgespoelde drenkeling. “Hoekom het ons nou weer hiernatoe gekom?” vra hy.
     Schalk kyk na die prentjie van Afrika op die Yamaha se brandstoftenk, en na die wit stippellyn wat aandui watter spore hy al deur diť kontinent gejaag het.
     “Nee, ek spot net, ou Paula,” sÍ Leonard dan en kry vir Paul, wat uit die rigting van die Jeep nader gekom het, onder oŽ. “Ons is hier om vir jou en Anita ’n afskeids-bash te gee wat julle nie gou sal vergeet nie. Ons wil tog nie hÍ julle moet daar in die vreemde sÍ dat ons Suid-Afrikaners nie weet hoe om ’n behoorlike paartie te gooi nie.”
     Roelf glimlag ingenome en slaan sy arm om Paul se nek. Dit was sż idee dat hulle uit die Kaap opruk na diť godverlate pan in die hart van die Kalahari. ’n Afskeidspartytjie vir Paul en Anita wat hulle einde vandeesmaand in Montreal gaan hervestig. Vanaand moet diť twee vir oulaas hul geboorteland se grond onder hulle voete voel, sy lug inasem en opkyk na die blou sterre waaronder hulle gebore is.

Anita, wat nog voor in die Jeep sit, hou haar vriende in die grimeerspieŽltjie dop. Sy byt op haar lip, vou dan die sonskerm terug en druk die deur oop. Sy stap skamerig, op stewels wat byna onsigbare spore op die grond agterlaat, nader, en vermy oogkontak met die ander. Haar blik is op die duine in die verte, waarbo die yl boog van die maan pas sigbaar geword het. “Groot-Geneul,” sÍ sy. “Ons is naby Groot-Geneul. Ek het die naam op ’n bordjie gesien net voor ons gestop het.”

Vir die volgende kwartier is die pan die toneel van ongekende aktiwiteit. Gerhard pak die vuur. Hulle het lekker droŽ doringhout by die garage op Springbok gekoop — ruwe knoetse wat hulself geensins leen tot die geometriese konstruksie wat Gerhard probeer oprig nie. Die son rus klaar op die lyn van die horison en dit sal nou vinnig donker raak. Gerhard knak sy Zippo oop, rol die flintwiel onder sy duim, en bring die vlam na die Army-issue vuuraansteker wat met ’n suis ontbrand.
     Die res van die span het reeds alles wat hulle vir die aand se kuier benodig uit die karre gelaai. Hugo en Marinda het grondseile langs mekaar uitgegooi, en wanneer die mense hulleself kom tuismaak, lig Roelf ’n sestal Black Labels soos ’n tros piesangs uit die koelboks.
     “Jei, nou is hierdie outjie darem lekker,” sÍ Schalk na ’n paar stewige slukke.
     “Moedersmelk,” beaam Gerhard. Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy lippe, maak dan met sy krapstok ’n klein verstellinkie aan die tuimelende argitektuur van die vuur.
     Leonard het eindelik sy lÍplek na sy sin ingerig, en skil nou sy skoene en sokkies af. Hy steun geluksalig terwyl hy sy tone wikkel.
     “Oppas vir skerpioene,” fluister Marinda.
     Onmiddellik verstil Leonard se tone, en hy betrag die grond rondom hom met ’n wantrouige oog.
     “Wat’s dit daai?” roep Schalk dan skielik uit. Sy vriende se koppe draai na waar hy met sy bierbottel beduie. Op die gesigseinder skitter iets soos ’n spieŽl in die son, byna asof iemand met ’n helioskoop na hulle toe sein.
     “Ek dink dis ’n windpomp,” merk Anita op. “Ek het dit gesien toe ons hier aangekom het. Dit moet die son wees wat die lemme so vang.”
     “’n Windpomp?” sÍ Hugo en fluit deur sy tande. “Jeesh. In hierdie geweste?”
     “Mens kry die goed orals,” antwoord Schalk. “Oral waar ons volkie deur die land getravel het, het hulle diť menere geplant.”
     Dit is duidelik ’n idee waarby Leonard aanklank vind. “Windpompplanters,” prewel hy, ’n filosofiese lig in sy oŽ. “Dis nogal ’n nice simbool vir ons Afrikaners, so ’n windpomp. Daar is mos iets byna onhoudbaar sad en vereensaam aan een van daai babies. En bekyk jy hom van naderby, lyk dit na ’n helse geswoeg en gekarring, maar tog gebeur daar nie veel nie.”
     “Kry vir jou nog ’n bier,” stel Hugo voor.

Die vuur brand nou hoog — geel-rooi vlamme wat die chroombeslag van die motors, die uitlaatpyp van Leonard se scrambler en die uiteenlopende gesigte van die groep vriende verlig. Roelf besluit dat dit tyd geword het vir die eerste rondte springbokkies. Hy bring ’n bottel pepermentlikeur, asook ’n bottel Amarula Cream te voorskyn. Gerhard pak ’n streep totglasies voor hom uit.
     “Waarop drink ons?” vra Marinda, toe sy haar shooter aanvat.
     “Op Paul en Anita, en hulle nuwe begin daar oorkant,” sÍ Roelf en lig sy glasie na bo. “Op Paul en Anita,” herhaal almal, klink dan hul glasies teen mekaar en slaan die soet vloeistof weg.
     “Op saamwees in Afrika,” sÍ Paul, na Roelf nog ’n rondte geskink het.
     Schalk staar na die wit en groen lae van sy drankie, en dink aan die naambord waarvan Anita vertel het. Op Afrikaans wees in Afrika, dink hy.

Die naghemel bo hulle het reeds ’n kwartsirkel gedraai, en drie leŽ Tassenbergbottels is al eenkant toe geslinger, toe Leonard na die sebravelsakkie reik waarin hy sy rookgoed bÍre. Hugo sit ook nader, want om die spliffs voor te berei presies soos hulle daarvan hou, is ’n delikate proses. Met vingers wat net so gekonfyt is daarmee om te blaai deur bladsye bedruk met Brink of Breytenbach se woorde, of om die snare te pluk soos Koos en Valiant dit doen, pik hy die daggapitjies tussen die rookbare materiaal uit. Die pitjies kan ’n man glo steriel maak, en dis iets wat hy graag wil vermy. Sy oŽ talm op die welgevormde kurwes van Marinda wat luidkeels lag vir iets wat Paul kwytgeraak het. Hy gooi die hand vol pitjies tot ver buite die ligkring.
     Terwyl Leonard die Rizzla, hoog gelaai met Malawi Gold, natlek en versigtig toevou, kom vlei Marinda haar tussen hom en Hugo neer. Leonard vat ’n trek, hou dan die spliff na Marinda toe uit. Haar kop draai reeds van al die likeur en Tassenberg en bier, tog lig sy haar wang van die slaapsak af op om sy aanbieding te aanvaar. “Afrikaners is plesierig,” prewel sy, terwyl Hugo se hand stadig oor die ronding van haar heup beweeg.
     “Onthou julle daai plek waar ons altyd bankies gekoop het toe ons studente was?” sÍ Leonard dan. Hy rangskik sy lyf in ’n gemakliker posisie. “Op daai plaas uit op die Somerset-Wespad. Ou Mees het nog altyd so gepanic dat die boer sal begin wonder oor die spul karre voor die volkshuise.” Leonard staar ingedagte na die kooltjie van die skyf wat Hugo na sy lippe bring. “Daai was lekker dae,” sÍ hy. “Dit was nou vir jou saamwees in Afrika, daar onder daai afdak, met Jimmy Hendrix in die agtergrond, en ons — wit en bruin en whatever — wat saam rook en lag — en in Afrikaans nogal, never you mind.”
     Marinda vlei haar stywer teen Leonard aan.
     “Dit was net ’n droom,” sÍ Schalk, “’n illusie.” Hy was ook destyds saam op een of twee van hierdie daggakoop-ekspedisies, en ook hy het al ’n uur of wat saam met kunsstudente, plaasarbeiders en rastafarians onder ’n sinkdak sit en kuier. “Jy weet tog dinge is nie rÍrig so nie.”
     “Ja, ek weet,” sÍ Leonard, sy oŽ ’n oomblik reguit in Schalk s’n. Hy streel oor die blinkertjies op Marinda se wang. “Maar dit het real genoeg gevoel.”
     “Nou ja toe,” sÍ Schalk en klap met sy plat hand op sy knie. Hy staan op om nog ’n stomp op die vuur te gaan gooi.

Aan die ander kant van die vuur is dinge eweneens aan die gebeur. Gerhard het oudergewoonte te straf gedrink, en die Klipdrift, wat hy eers saam met Coke, later skoon, en nog later direk uit die bottel geniet het, stroom onstuitbaar deur sy are. Saam met die geknetter van die vuur en die wydheid van die nag rondom hulle, het dit ’n blokkasie of twee in sy brein losgeskud, ’n paar deure oopgetrek wat normaalweg op grendel bly. Nou borrel ’n diep woede teenoor die ou bedeling, teenoor die korporaals en kapelane en pakdraers wat sy lewe so opgedŰnner het, oor sy lippe. Sy woorde is woorde van verset teen die uitsigloosheid waarin hy en soveel van sy vriende verval het. Die opmerking wat Leonard vroeŽr oor die windpomp gemaak het, het klaarblyklik ook ’n groot indruk op hom gelaat, want, met strak oŽ en ’n bottel hardehout wat lossies tussen sy vingers hang, is hy nou oorgehaal om hom op die staalkonstruksie in die verte te gaan wreek.
     “Ko’ ons gaan maak die bliksemse ding gelyk met die grond,” stotter hy en rig die brandewynbottel soos ’n 9mm op die onsigbare windpomp in die verte. “Hy staan so blÍrrie penorent en trots. Asof niks skeel nie. Asof die land nog is nes die dag toe hy staangemaak is.”
     “Kom nou, kÍrel,” paai Roelf, sy een hand op die rukkende skouer van sy vriend. Ook Schalk is by en probeer diskreet die Klipdrift-bottel bykom. “Wat gaan nou met jou aan?”
     “Ek’s gatvol, man!” skree Gerhard en skud hom los van sy vriende se hande. “Gatvol voorgegee dat alles okay is.
     “Die jirre hoor my, vanaand sit ek my voet neer,” sÍ hy, struikel dan oor een van Leonard se skoene en ploeg tussen ’n hoop toksakke in. Hy probeer verdwaas regop kom, maar toe Roelf hom met ’n behendige beweging van sy brandewyn ontneem, verloor hy sy fut. Hy kan aan sy maagwand voel hoe die aarde onder hom draai, en besluit dat dit dalk beter sal wees om eers ’n bietjie plat te lÍ.
     Met die heerlike koelte van die soutpan teen sy wang, gee hy hom oor aan die stroom beelde wat deur sy gedagtes gly. Hy sien hoe hy met ’n oorlogskreet in die Land Cruiser spring, dan voet in die hoek sit oor die bleek uitgestrektheid van die pan. Hy sien hoe hy voor sy bestemming remme aanslaan, die raam van die windpomp blouerig in die straal van die jagligte. Hy kan die nat suiggeluid van die suier hoor soos dit moeisaam in die grond wegsak en weer lig. Bo sy kop ruis die woedende lemme, tog voel hy hoe sy drif en wilskrag met elke omwenteling styg. En dan kan hy dit nie langer vat nie, en lig sy gebalde vuis na bo. “Fok jou!” skreeu hy uit teenoor hierdie simbool van Afrikaners, Afrikaans, Afrikanerskap. “Fok julle!” Hy voel hoe die bloed in sy slape klop terwyl hy die punt van ’n sleepkabel aan een van die windpomp se staalbene vasmaak, en die ander punt aan die Toyota se towbar. Die 4x4 se bande skree en skiet weg, en vier ton staal sidder toe die kabel styftrek. Gerhard rat af eerste toe en sit weer sy voet neer. Weer en weer laat hy die windpomp dit ontgeld.
     En toe dit eindelik lÍ, ’n geknakte skelet van stutte en stange, stap hy na daar waar die verfrommelde lemme in die stof gebyt het. “Jou moer,” sÍ hy en laat ’n dun sliert speeksel tot op die verbleikte staal drup. Dan draai hy om om sy hande in die koel swart water van die sementdam te gaan was.

“Net vir die interessantheid,” sÍ Leonard toe daar weer ’n kalmte oor die geselskap kom. Gerhard het in ’n alkoholiese slaap versink en Schalk en Roelf het hulle by die rokers kom aansluit. Ook Paul en Anita lÍ in ’n slaapsak en luister. “Hoe sou ’n mens so ’n windpomp uitvat? Gestel jy wou bitter graag daarvan ontslae raak om plek te maak vir ’n nuwe outjie?”
     “Ek scheme ’n man sal moet grawe,” stel Hugo voor en streel nadenkend oor sy dag-oue baard.
     “Plofstof,” verklaar Leonard. Sy stem is nugter, maar daar speel tog ’n glimlag oor sy lippe. Hy voel-voel vir die spliff wat hy op die bek van ’n leŽ bierbottel gebalanseer het.
     “Waarom sou ’n mens so iets wou doen?” vra Anita, maar sy word deur Schalk in die rede geval.
     “Leonard ...” sÍ hy. “Jy onthou wat jy vroeŽr gesÍ het: oor die windpomp en waarvoor dit als staan. Hoe gemaak as jy daai goed met iets wil vervang wat nie so geslyt is nie?”
     Leonard sÍ niks. Paul en Anita fluister onderling, maar niemand antwoord nie.
     Schalk vou sy arms oor mekaar. Dit is asof dit skielik kouer geword het. Dit is asof sy bewussyn tot ’n enkele punt saamgetrek word, wat dan stadig in die naamlose, taallose nag oplos.

Baie later, toe die naghemel al gedraai het dat die Suiderkruis onderstebo staan, is die vriende om die vuur steeds wakker. Die nanag se koue is oor die veld, en in die ooste dreig dit om ligter te begin raak. Gerhard steun in sy slaap en rol oor op sy ander sy.
     Leonard is besig om in die sykompartement van sy sebravelsakkie te grawe, versigtig om nie vir Marinda wat teen hom opgekrul lÍ, te veel te versteur nie. ’n Bietjie perspektief, ’n breŽr siening — dis wat hulle nou benodig, en niks werk beter as high-grade Tara’s nie.
     Hugo hou sy Rizzla uit, en nŠ Leonard rojaal groengoed daarop gestrooi het, rol hy dit tot ’n spliff wat ’n merkwaardige ooreenkoms met ’n Scud-missiel vertoon. Hy laat die malse rook vir ’n wyle deur die holtes van sy longe walm. “Leonard,” sÍ hy dan, in ’n stemtoon wat verraai dat ’n grootse uitspraak op hande is. “Leonard,” herhaal hy en hoes eers ’n bietjie. “This is good stuff, man. Waar het jy dit gekry? Langstraat?”
     Leonard se oŽ draai na Schalk toe. Hy onthou hoe Schalk hom vroeŽr vanaand vervies het toe hulle oor die aande daar onder die dealer se afdak gesels het. Hy is op die punt om sy skouers verontskuldigend op te haal, maar dan is dit Schalk wat begin praat.
     “Dis ’n lekker plek daai Langstraat,” sÍ hy, sy blik op die vuur wat nog net hier en daar ’n rooi kooltjie lewe vertoon. Sy aandag verskuif na Paul en Anita wat in mekaar se arms lÍ en droom, nes hulle dit vir die res van hul lewens onder vreemde sterre sal doen. “Ek en ’n meisie wat saam met my werk, was nou die aand in Mama Africa’s,” vervolg Schalk, “(ek weet nie of julle dit ken nie, daar skuins oorkant Long Street Cafť). Dis ’n interessante plek, so ’n weird mengsel van Afrika en Europa. Baie toeriste. Anyway, ons sit nog so en gesels, toe klop hierdie swart man my op die skouer. ‘Hello, my name is Jeromy,’ sÍ hy toe hy my hand skud, ‘and this is my girlfriend Nina. Do you mind if we join you?’ Sy metgesel het skamerig aan haar bril gestel. Toe die twee hulle sit gekry het, leun Jeromy oor na my toe vir ’n vertroulike woordjie. ‘I don’t know how you feel,’ sÍ hy en beduie na die troppe toeriste wat entoesiasties wuif en dans en voete stamp — gretig om een te word met die geheimsinnige ritmes van Afrika. ‘But these Europeans irritate the living daylights out of me. Always on the look-out for something exotic, you know, THE authentic African experience. Hell! So when Nina and I walked past you guys and heard you speaking Afrikaans, we thought: thank God, a couple of real Africans.’
     Schalk raak stil.
     Leonard knik sy kop stadig vorentoe en agtertoe. “Real Africans,” sÍ hy. “Miskien. Wie weet.”
     Dan, stadig, asof dit ’n ritueel van uiterste belang is, ’n ritueel waarvan elke beweging perfek reg uitgevoer moet word, leun hy oor na die hoop braaihout langs hom, en soek drie stompe uit. Al drie is op verskillende maniere krom, maar tog pas hulle bymekaar. Hy buk oor die vuur en pak hulle in ’n netjiese, stewige torinkie.

14 Julie 2000

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SÍNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.