SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




  Gunther Pakendorf
is tans medeprofessor in die Duitse afdeling van die Departement Moderne en Klassieke Tale by die Universiteit van Kaapstad. Sy belangstellings dek ’n wye veld, van Goethe en die roman van die Realisme tot Brecht en Grass, asook die koloniale letterkunde. Hy is besig met ’n navorsingsprojek oor die geskrifte van Duitse sendelinge van die negentiende eeu in Suid-Afrika. Hy is betrokke by vertaalwerk, en het in 1990 ’n bundel Afrikaanse vertalings van Duitse gedigte die lig laat sien. Hy het onlangs gedigte van Charl-Pierre Naudé‚ vir Poetry International na Duits vertaal.

Hibriditeit

Van die oomblik af dat die Europese ontdekker, reisiger of koloniseerder die oseaan oorgesteek en in ’n nuwe en vreemde wêreld voet aan wal gesit het, word sy voorstelling van sy eie identiteit aan ’n konstante toets onderwerp. Die ek is skynbaar nog die ek, maar die omgewing is anders en die mense wat hy ontmoet, maak van hom ’n vreemdeling wat sy eie identiteit telkens opnuut moet (her-)definieer en bevestig. Maar aangesien daar vir Europeërs — van Kolumbus se dae af al — net een waarheid en een maatstaf vir reg of verkeerd, goed en sleg, is, word die ánder as die vreemde waargeneem wat van die enigste norm wat daar is, die Europese, afwyk: Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie! Die ander moet dus noodgedwonge en onvermydelik, hetsy deur die dwang van onderdrukking, geweld en arbeid, hetsy deur ’n beleid van kerstening en opvoeding, by hierdie norm aanpas.

Dit was veral Frantz Fanon, die filosoof van die Algerynse weerstand teen Franse koloniale beheer, wat op hierdie grondliggende aspek van die kolonialisme attent gemaak en dit tot die hoeksteen van sy denke verhef het. Vir Fanon, wat vandag aanvaar word as dié denker van die anti-kolonialistiese revolusie, asook, meer onlangs, as die belangrikste voorloper van die post-kolonialisme, is die koloniseerder se doelbewuste pogings om van die gekoloniseerdes mense met ’n “swart vel, wit maskers” — aldus die titel van een van sy geskrifte — te maak, nie die opheffing van die “primitiewe” volkere onder blanke voogdyskap, soos die koloniale propaganda beweer nie, maar inteendeel die vasskryf van die “ander” in ’n permanente toestand van minderwaardigheid. Volgens die Marxis en psigoloog Fanon gaan die sielkundige aanvaarding van hierdie toestand en die uitbuiting van die gekoloniseerdes op ekonomiese vlak hand aan hand.

Vir hierdie situasie gebruik hy die term Manicheïsme, wat hy aflei van die denkrigting wat gebaseer is op die gedagte van ’n onversoenbare teenoorstelling van goed en kwaad. Die hele praktyk van die kolonialisme kom volgens hom op ’n poging tot permanente skeiding — van koloniseerders en gekoloniseerdes, werkgewers en werknemers, wit en swart — neer, en apartheid is net die mees radikale uiting hiervan. Die doel van kerstening en opvoeding is dus bloot om die inheemse bevolking aan sy eie minderwaardigheid en slawerny onder die in alle opsigte meerderwaardige Europese beskawing te laat glo. Fanon se oplossing is eenvoudig: aangesien die situasie inderdaad só is dat wit en swart nie by mekaar kan uitkom nie en die koloniale bewind boonop noodwendig op geweld aangewese is, moet die gekoloniseerdes dit gewoon omkeer en hulle Europese bewindhebbers met geweld uit die land verdryf.

Fanon se teorie is veral so aantreklik omdat dit so kompromisloos radikaal is. (En net so aanloklik vir romantiese intellektueles soos Marx se beroemde woorde dat die filosofie die wêreld altyd net verklaar het, maar dat dit die wêreld voortaan moet verander.) Tog is dit in der waarheid simplisties, en veral om twee redes aanvegbaar: Eerstens neem dit kernidees van die kolonialistiese ideologie heelhuids en onkrities oor, asof dit die waarheid is. Die postkoloniale teorie is in hierdie opsig baie meer subtiel en gedifferensieerd — ek dink hier in die eerste instansie aan Abdul JanMohamed wat die manicheïese antinomie as ’n sentrale kenmerk van die koloniale diskoers (nie werklikheid nie) ondersoek het. Tweedens is hierdie óf-óf-denke kru en ongenuanseerd, omdat dit juis die middeweg, as die volgende stap in die dialektiese progressie, ontken. Hiermee is hy dan nie ver verwyder nie van ’n soort essensialisme wat van die beweerde onveranderbaarheid van die wêreld, in die eerste plek natuurlik van menslike gemeenskappe en etniese groeperings, uitgaan: East is East and West is West.

Die koloniale werklikheid dui egter op ’n ander rigting in die ontmoeting tussen die Europese self met ander volke. Dis nie net dat akkulturasie, die aanpassing van een kultuur by ’n ander, nooit ’n eensydige proses is nie, maar ook en veral dat etniese identiteite nooit suiwer is en dus nooit suiwer van mekaar geskei kan word nie. Die “derde weg” is die weg van die “natuur” of, om met Bakhtin te praat, die karnavalistiese mengelmoes, die dialogiese gesprek of selfs veelvoud van tale in weerwil en verwerping van die sentralistiese en hegemoniële wet wat wil afbaken en beperk en beheer. Dit word deur ideoloë verfoei, deur rassiste gehaat en deur koloniale minderhede gevrees.

Sy naam is verbastering, kreolisering, sinkretisme, of in die taal van die postkoloniale teorie: hibriditeit. (Die term wat meestal in die Angelsaksiese teorie gebruik word, is “hybridization”, oftewel hibridisering.) Hibriditeit is natuurlik ’n term uit die biologie en verwys na kruisteelt, die vermenging van verskillende spesies. Hibriditeit is dus, nes sy teenoorgestelde, outentisiteit, ’n metafoor vir ’n waargenome toestand, en dus sonder suiwer empiriese of ontologiese waarde en kan derhalwe vanuit verskillende ideologiese rigtings as ’n retoriese middel gebruik word (vgl byvoorbeeld swart bewussyn en apartheid wat beide op outentisiteit steun). In die breë kan ’n mens egter seker beweer dat die retoriek van die imperialisme en die kolonialistiese ideologie van ’n denkrigting van afsonderlikheid uitgaan, terwyl hibriditeit deur voorstanders van pluralisme en duldsaamheid verkies word.

Op die huidige situasie in Suid-Afrika toegepas, is daar ’n aantal ironiese konsekwensies van ons eie postkolonialiteit wat die kompleksiteit van die hele konsep van hibriditeit verder onderstreep. ’n Mens sou aanneem dat die einde van apartheid ook die verwerping van afsonderlikheid en etniese suiwerheid sou beteken. Daar is uiteraard min blankes wat openlik so ’n posisie sou wou verdedig en dit lyk asof ons in die baie meer subtiele en moeilik bepaalbare gebied van die onbewustelike of ondergrondse voortleef van hierdie denkrigting inbeweeg, die “subliminal racism” wat deur die Menseregtekommissie as ’n euwel in die beriggewing van die media geïdentifiseer is, en onlangs ook teen sekere politici (wat Mugabe se optrede teen blanke boere gekritiseer het) gerig is.

Maar rassisme het van kleur verander, en interessant genoeg het die kritiek vanuit die geledere van die voormalige bevrydingsbewegings teen apartheid-voorstanders van etnisiteit na rassisme verskuif. Die nuwe maghebbers het naamlik ’n deel van die ou etnisiteit-outentisiteit-ideologie van die apartheidsera vir hulle eie politieke filosofie gekoöpteer en daarmee is hibriditeit van sy werklik bevrydende en kreatiewe krag ontneem. Om dit anders te stel: die “Afrika-renaissance” berus op ’n afsonderlike Afrika-identiteit wat nader aan Senghor se voorstelling van Négritude is as aan byvoorbeeld Césaire se kreoolse mengelkultuur. In die retoriek van die hedendaagse Suid-Afrika staan die — dikwels vaag omlynde — begrip swart voorop; hibriditeit is eerder ’n ongemaklike konsep wat nie mooi in die politieke program van post-apartheid pas nie.

’n Heeltemal ander situasie blyk onder Afrikaanssprekendes te heers. Hier het die besef dat etniese afsonderlikheid nie (meer) ’n politieke opsie is nie, klaarblyklik onder die meeste Afrikanerleiers posgevat. Al die groeperings en individue wat in die afgelope twee, drie jaar die ontwikkelinge binne die Afrikanergemeenskap bepaal het — van die Stigting vir Afrikaans, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die Groep van 63 tot individue soos Willem de Klerk, Van Zyl Slabbert of Z B du Toit — beklemtoon die noodsaaklikheid van ’n inklusiewe Afrikaner-identiteit, weg van apartheid-beperkinge. Interessant genoeg blyk die meeste leidende figure in die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap hierdie toenadering egter met skeptisisme te bejeën. Terwyl die Nuwe Nasionale Party in sy kort bestaan skynbaar die naaste nóg gekom het aan wat ’n veelrassige politieke party met ’n redelike breë magsbasis kan wees, word die samesmelting met die DP daarenteen deur sommige kommentators as ’n verdere stap in die rigting van polarisering op rassegrondslag, en dus téén hibriditeit in die politieke praktyk, gesien.

Vir “die volk daarbuite” (maar blykbaar nie vir die bruin Afrikaanssprekendes nie) is die stryd, as ’n mens slegs die briewekolomme in Afrikaanse koerante volg, egter nog lank nie gewonne nie. Wat beteken dit om ’n Afrikaner te wees? Hoe gaan die taal oorleef? En wat van die minderheidsregte wat dan in die grondwet verskans is? Teen die enkele stemme wat die hibridiese herkoms en ontstaan van die Afrikaner en sy taal beklemtoon, is daar die groot menigtes vir wie die suiwerheid van die taal onverhandelbaar is, waarmee implisiet ook die (etniese) suiwerheid van die volk self bedoel word. Reeds in 1973 het Breyten Breytenbach, in sy beroemde toespraak tydens die UK se Somerskool, die gemengde en kreoolse aard van die Afrikaner en sy kultuur beklemtoon. Dat hy dit destyds doelbewus uitdagend geformuleer het, doen min afbreuk aan die geldigheid van die standpunt, en ’n mens wonder hoeveel blanke Afrikaners vandag, 27 jaar later, bereid sou wees om met hom saam te stem — én die konsekwensies te trek. Dit verdien in ieder geval om as vertrekpunt in ’n ware debat rondom Afrikaner-identiteit bygehaal te word:

    Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om weer in ander vorme te kan bind. Net, ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind kom. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid. (...) Ons het van ons andersheid die norm, die standaard gemaak (...) En soos alle basters — onseker oor hul identiteit — het ons die begrip van suiwerheid begin aanhang. Dit is apartheid. Apartheid is the law of the bastard.

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.