SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




  Jeanette Ferreira
is gebore op 20 April 1954 op haar familieplaas naby Tzaneen in die Laeveld. Sy studeer aan die universiteite van Pretoria en Rhodes. Sy het al by verskeie universiteite Afrikaans gedoseer en opgetree as uitgewer by die destydse Perskor. Sy het talle boeke in ’n verskeidenheid genres geskryf, boeke geresenseer en saamgestel. Haar mees onlangse publikasie waarvan sy samesteller en redakteur is, is Liefde loop ver, uitgegee deur Human & Rousseau. Sy woon tans in Pretoria en skryf voltyds.

Vaders en moeders

Riempiesbanke waarvan die rieme uitgedien is. Dít het ons van die vaders en moeders geërf. En ’n verslete politieke bedeling wat nie meer vir swaargewigte sitplek bied nie. Daarom is ons druk besig om uit te gooi en ons te verset teen sitplekke wat ons op ons nagedagtenis laat val. Dis tyd vir restourasie en instandhouding en regstelling.

Die Afrikaanse Skrywersgilde is uit protes gebore. Hulle het egter ook slypskole gereël, boeke versprei en skrywers aan die woord gestel. Maar toe sensuur nie meer daar was om te beveg nie, het daar ’n verslae stilte ingetree, baie min van die Skrywersgildelede wat ek verlede jaar geraadpleeg het, kon nog nut in die voortbestaan daarvan sien. Daarom is Litnet se poging prysenswaardig en hoop ’n mens daar gaan meer produktiewe voorstelle as protes daaruit voortkom.

Ironies dat dit waartéén die Skrywersgilde was, die erfenis was van ’n samelewing wat téén iets was: téén vryheid van spraak, téén literatuur wat téén die heersende regering was, téén vieslikhede in die Afrikaanse taal, téén Engels, téén “die totale aanslag”, téén alles wat nie deur die Afrikaanse kerk onderskryf is nie - die kerke onderling ook weer téén sommige van mekaar se standpunte. Sáám as gevolg van téén.

Charlotte
Catharina
Die onsterflikes
Liefde loop ver
Nou te koop
Dis seker goed om ’n ergerlike brief aan ’n instansie te skryf om aan te dring op ’n Afrikaanse kennisgewing. Dié protes sal meer effektief wees as so ’n ontstigte mens Afrikaanse boeke koop; vriende na ’n Afrikaanse teateropvoering neem; die vrou wat na die kinders kyk en Afrikaans praat maar dit nie kan lees of skryf nie, een aand per week na ’n geletterdheidsprogram stuur en self na die kinders kyk. En die aand as sy na die kinders kyk en jy gaan eet in ’n restaurant waar jy nie op Afrikaans bedien word nie, is dit effektief om daaroor te protesteer hoewel dit meer effektief sal wees as jy die kelner bedank vir sy skewe en krom Afrikaanse poging. Dit kan nie-Afrikaanssprekendes laat vermoed dit gaan vir die Afrikaanssprekendes oor mense en nie oor ’n taal nie. ’n Mens hoop nie so ’n vermoede is misleidend nie.

Soos Annesu de Vos en Chris Louw, het elkeen sy eie stuk pyn wat uit die apartheidsjare dateer.

In my laerskooljare is ons eendag aangesê om grootpouse in die skool se vierkant te vergader. Daar het die hoof ons meegedeel dat ’n mens se skoolbaadjie, jou skoolkleure en jou skoolwapen kosbaar is - wat uiteraard so is. Waarop hy ’n skoolbaadjie in die lug gehou het en gesê het die baadjie is by ’n swart kind gekry. Nee, die kind het dit nie gesteel nie, die vrou by wie sy ma werk, het dit vir hom gegee want dit is te gehawend vir haar eie kind om nog te dra. Die vrou het goed bedoel, het die hoof gesê, maar ’n mens mag nooit, nooit jou skoolklere vir ’n swart kind gee nie. Toe is daar ’n egskottel nader gebring, vuur gemaak en die skoolbaadjie is seremonieel verbrand. Die rook het gestyg teen die blou lug waarteen die Suid-Afrikaanse vlag aan die skool se vlagpaal gewapper het. Ons moes trots wees daarop.

Daar was nog ’n hoof, in my hoërskooljare. Ons moes elke oggend op aandag staan as die trompetters Die Stem speel. Die hoofmeisie en hoofseun het elke jaar onder die landsvlag op die ossewa voor die saal hulle beleidstoespraak gemaak. Ons het dit aan ’n vergeeflike eksentriekheid van die hoof toegeskryf, want hy was ’n uitstekende onderwyser, mensliewend en het opregte belangstelling in elkeen van sy leerlinge getoon. Elke jaar het hy ’n groep leerlinge op ’n kultuurtoer Pretoria toe geneem. Hy kon lang stukke Afrikaanse literatuur uit sy kop resiteer. Sy boekery was sy kosbaarste besitting. Hy het ’n wye kennis van filosofie gehad en dit aan ons oorgedra. Hy was ’n wit Afrikaanssprekende wat vír iets was.

Ek dink nogal dikwels aan hom as ek leeskringe toespreek. Die vaders ontbreek jammerlik; leeskringe bestaan hoofsaaklik uit vroue. Spytig dat daar tussen sowat twintig vroue net twee of drie is wat die boek gekoop het waaroor ek hulle moet toespreek. Die meeste van hulle is egter vurig kwaad oor wat deesdae met Afrikaans gebeur.

Net so opgerui was ’n ander vaderlike Afrikaanse vereniging wat ek by geleentheid toegespreek het oor Afrikaanse oorlogliteratuur. Dié groep het duisende rande bymekaargekry om ’n hofsaak te maak teen ’n instansie wat weier om Afrikaans te gebruik. Dié aand is daar sowat drie Afrikaanse boeke verkoop. Die geld vir daardie hofsaak sou ten minste een Afrikaanse drama kon finansier.

Die verskil tussen die openbare kommentaar van Chris Louw en Annesu de Vos is dat Chris Louw benewens sy kritiek op die erfenis hier gebly en aanhou werk het vir ’n beter toekoms, en dat hy kan onderskei tussen wat goed en sleg was. Daarom dat hy in sy ope brief met agting verwys na die kwaliteite van Louis Trichardt, Christiaan de Wet, Louis Botha en Jan Smuts.

Nie alles omtrent hierdie historiese figure se beleid en lewe was goed nie. Soos dit die geval met Paul Kruger was. Kruger het dit waarskynlik besef toe hy geskryf het: Zoekt in het verlede al het goede en schoone, dat daarin te ontdekken valt, vormt daarnaar uw ideaal en beproeft voor de toekomst dat ideaal te verwezenlijken. Waaruit ek meer vír as téén aflei en waaruit ek ook aflei die verlede moenie tot niet gemaak word nie maar met ’n gesonde oordeel tussen goed en sleg verwerk word. Dit wil gedoen wees. Aan watter kant van die apartheidslyn jy jou ook al bevind het, dit wil gedoen wees om te kan onderskei en veral om te behou.

Toe ’n lafaard in die parlementsgebou op ’n skryfbord ’n obsene opmerking oor meneer Mandela gaan skryf het, het Mluleki George beswaard opgemerk die feit dat dit in Afrikaans geskryf is, bewys net weer hoe sterk rassisme nog staan.

Dis moontlik dat die oortreder se motief rassisme was, maar dit sal ons eers weet as die oortreder in hegtenis geneem, verhoor en na behore gestraf word. Inmiddels is daar meer as drie miljoen moedertaalsprekers van Afrikaans wat slagoffers van rassisme was, en is ’n deel van die Afrikaanse literêre erfenis skrywers - nie almal wit nie - se protes teen rassisme. En is dit ook so dat ’n openbare figuur om meer as een rede ongewild kan wees.

Wat my bring by monumente; ook deel van die vaders en moeders se nalatenskap. Goed dat daar nuwes opgerig word, jammer dat ander tot niet gemaak word. As die Nazi-kampe byvoorbeeld tot niet gemaak is, sou ons nie die volle omvang van die onreg teen Joodse slagoffers besef het nie. Net so met die sel waarin meneer Mandela aangehou is. Net so met ongewilde staatsmanne uit die apartheidsera wie se standbeelde verwyder word. Wat vandag gedoen en gesê word deur wie ook al, kan hoogstens bepaal watter erfenis ons nalaat, nooit wat daar vir ons nagelaat is nie.

Boeke waarin daar rassistiese verwysings voorkom, is ongelukkig ook deel van ons erfenis. Om hierdie verwysings te skrap of te vervang, is welmenend maar dit is implisiet ook ’n manier om te sê ons vaders en moeders het nooit hierdie woorde gebruik nie; ons wil nie onderskei nie; ons wil liewer vergeet.

Nog ’n onverkwiklike aspek van ons apartheidserfenis was die onderwyssisteem. Dit het meegebring dat miljoene hardwerkende, intelligente mense ontneem is van die beste beskikbare onderrig waarop elke landsburger geregtig is. Dit het ook meegebring dat die beste onderrig vir miljoene ander mense gereserveer is. Dit is die aaklige werklikheid van ons erfenis. Net so aaklig is dit dat die bevoorregtes in hierdie proses van ongelyke onderwys uitmuntende kennis en ervaring verwerf het en dat dit nou met pakket, baba en badwater uitgesmyt word terwyl dit tot voordeel van alle landsburgers aangewend kon word.

As die huidige vaders en moeders seker is dat die beste onderwysers vandag besig is om al die kinders van Suid-Afrika vir ’n beter toekoms op te lei, sal daar wanneer hierdie kinders poste moet begin erf, mos aanstellings gemaak kan word waarin die kandidaat se historiese benadeling nie so ’n sterk oorweging soos sy of haar bekwaamheid is nie?

’n Riempiesbank waarvan die rieme uitgedien is, word byvoorbeeld nie bruikbaar gemaak deur iemand anders daarop te laat sit nie. Dis ook nie sinvol om die bank in sy geheel te verwerp en vir brandhout op te kap nie. Nog minder sal dit help om in ’n verenigde front teen versletenheid die gate te probeer toesit sodat niemand dit kan sien nie. ’n Mens kry nog van die goeie ou leerriempies en daar is nog vakmanne wat weet hoe om behoorlik te riem.

Gaan ons vir ons kinders ’n kitsproduk van plastic nalaat? Of gaan ons ophou vir die ma’s en pa’s skreeu ons het deurgeval, ons val nou deur, ons gaan weer deurval? En dan verantwoordelik begin restoureer aan dit wat wel behoue gebly het?

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.