SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

'n Nagmerrie waaruit 'n mens nie kan wakker word

Deborah Steinmair

Dis ek, Anna

Dis ek, Anna
Skrywer: Elbie Lötter
Uitgegee deur: Tafelberg
ISBN: 0-624-04226-X
Bladsye: 213

“Dis ek, Anna” – die woorde wat ‘n vrou vir die stiefpa wat haar vanaf agtjarige ouderdom gemolesteer en verkrag het, wou sê wanneer sy hom na jare konfronteer, rewolwer in die hand.

“Dis ek” impliseer ‘n terugeien van die self, ‘n terugeis van die gesonde selfbeeld en identiteit wat klein-klein doodgegaan het. In die woorde van Esmé van Zijl aan Rapport: “Imker Marais Hoogenhout het my as kind vermoor. Hy het my doodgemaak. Ek moes baklei om tot hier te kom. Ek moes elke moontlike dwelm vat om die seer dood te maak ... Nou voel ek vir die eerste keer ek is besig om iewers te kom. Dit het my 52 jaar gekos om te voel ek is iets.” Esmé van Zijl het die moed gekry om te praat oor wat met haar gebeur het, toe sy op ‘n dag vir Oprah Winfrey hoor sê: “Kyk vir my, ek is swart, ek het ‘n vet agterstewe en ek is gemolesteer as kind. En kyk waar is ek vandag.”

Oprah se oopheid het wêreldwyd damwalle laat bars. Volgens ‘n artikel oor kindermolestering deur Sharon Lewis aan die einde van Dis ek, Anna word vier persent van alle meisies en twee persent van alle seuns voor die ouderdom van sestien seksueel misbruik. Dit is natuurlik net die puntjie van die ysberg, aldus Sharon: “Statistiek weerspieël beslis nie die omvang van hierdie misdaad nie, omdat dit deur geheimhouding omring word.”

Esmé van Zijl appelleer tans teen die wet wat bepaal dat ‘n mens slegs binne drie jaar na jou 21ste verjaardag ‘n kindermolesteringsaak verder mag voer. Sou haar appèl slaag, kan dit lei tot regsaksie deur baie mense wat hul verskrompelde kinderjare agter hulle aansleep.

Dis ek, Anna is gebaseer op ‘n ware verhaal. Dit is ‘n sober, feitelike relaas ontdaan van tierlantyn of bespiegeling. Dit is devastating. Ek het laas met Alison se boek I have life gestik aan soveel verontregting – die Engelse woord bly opkom: outrage. Verontwaardiging word dik in die leser se keel terwyl trane van skok, afgryse en woede onwillekeurig opspuit. Die leser word intiem betrek by die kind se skemerwêreld van skande, afdreiging, swye; by die versmorende angs wanneer die oom met sy ding in die hand die slaapkamerdeur oopstoot – die oom wat ‘n gesagsfiguur is, wat mag het oor die lot van die familie, wat onaantasbaar is. Wanneer die kind uiteindelik vir haar ma vertel, word sy nie geglo nie. Wanneer sy met die hulp van ‘n goedgesinde volwassene ‘n saak aanhangig maak, word dit uitgegooi … Die oom is immers ‘n ouderling en gesiene man in die samelewing.

Die verhaal lees soos daardie nagmerries waaruit ‘n mens net nie kan wakker word nie, waar jy magteloos, sonder ‘n kriesel energie, neersyg terwyl die monster in jou nek asemhaal. Die verpletterende impak van die boek slaan besonder hard op diegene wat nie gelukkig genoeg was om in die 96 persent van onaangeraaktes te val nie. Vir diegene wie se monde reeds jare lank gesnoer is, klink die oom se voetstappe weer in die gang, hort sy suur asem weer in jou kinderore.

Dit sou onvanpas wees om mens uit te spreek oor die literêre waarde van hierdie boek. Dit gaan hier om ‘n boek wat geskryf MOES word – wat tegelyk katarsis, terapie en besieling is. Die blote feit dat iemand daarin geslaag het om die gebeure in ‘n helder stem en sonder selfbejammering te boekstaaf, is verstommend.

Turksvytemas word aangeraak, soos: Waar is die God wat belowe dat nie ‘n haar van jou hoof sal val sonder dat hy daarvan weet nie, wanneer ‘n kind in die nag verkrag en gesodomiseer word, dag na dag en jaar na jaar? Op bl 94 sê die skrywer: “Here? Hoe kan u toelaat dat die vark dit met my, aan my doen? Waar is U snags? Ek het regtig soms daaroor gewonder. God slaap nie! het ek die dominee se stem hoor bulder. God slaap! wou ek terugskree. God slaap wanneer my kamerdeur nag vir nag oopgestoot word. God slaap wanneer hy oor my buk. God slaap.” In die nawoord vind die skrywer berusting, konstateer sy die volgende: “Want ja, Hy is daar vir ons. Hy luister. As ons maar net met Hom wil praat, as ons maar net wil vra.” Verre sy dit van my om iemand wat soveel deurgemaak het, te kritiseer vir die manier waarop sy, hoe ook al, ‘n mate van heling kon vind.

Alison het haar babaseun Daniël genoem, wat beteken: God is die regter. Hierdie filosofie het haar gehelp om uit te styg bo haar nagmerrie-ervaring. Die verwoording van die onnoembare, die konfrontering van die demoon bring ‘n mate van genesing en afsluiting.

En tog. Die letsels bly. Esmé van Zijl sê dat sy vuil voel en nie kan ophou om haar hande te was nie. Die skrywer van Dis ek, Anna moet vandag nog met ‘n lig aan slaap. In die woorde van Leonard Cohen: “There’s a piece that was torn from the morning and it hangs in the gallery of frost.” Of dié van William Blake: “Rose, thou art sick/ the invisble worm/ that flies in the night/ in the howling storm/ has discovered thy bed/ of crimson joy/ and his dark secret love/ dost thy life destroy”.

In ‘n gebroke werklikheid is Dis ek, Anna ‘n verpletterende, inspirerende boek wat deur ieder en elk gelees moet word. Want dis ek, Deborah. En Susan, Thebogo, Louise, Pieter, Monica, Kobus, Pakiso.

 

LitNet: 06 September 2004

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe

 

 


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.