RiemTelegram - warm boekenuusArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

RiemTelegram

Erns Grundling

Fokofhemeltoe?

Toktokkie en kattekwaad is taboe. Saans vertoef ons binnenshuis. Kyk maar TV of speel Playstation 2 agter slot en grendel, die gordyn slegs op ’n skrefie vir die noodwendige kat wat tog net nie weer in die huis moet pis nie. Pappa se Outlook Inbox kreun boepens, Mamma beoefen reiki of lees die nuutste Deepak Chopra. Boetie trek draad met ’n frons en Sussie verstel haar Dream Catcher. Dr Phil gaan nou-nou ’n paar gedragsprobleme die nekslag toedien in die heruitsending ... dis veilig in die voorstad.

Skielik breek alle hel los. Glyende bande, remme wat runnik voor ’n hond wat reeds die hiernamaals druipstert inwag. Durbanville word in puin gelê ... want Fokofpolisiekar jaag rond in ’n lykswa, en Francois Breytenbach Blom van Kobus! sit agter die stuurwiel!

Fokofpolisiekar!Liewe leser, dit klink dalk na ’n brokkie vergesogte fiksie, maar dit is helaas grotendeels waar. Want die mees oneerbiedige punkgroep in Afrikaanse menseheugenis is tans besig om hul eerste musiekvideo van die treffer “Hemel op die platteland” te skiet (klik hier vir die lirieke). En ja, dis waar, hulle jaag op onwillekeurige tye in ’n lykswa deur die andersins gemoedelike strate van Durbanville. Ter wille van die video, bygesê.

Albert du Plessis van Rhythm Records wou nie heeltemal die aap uit die mou laat nie, maar het gerugte van ’n lykswa — met Kobus! se hoofsweep aan die stuur van sake — bevestig. Volgens Albert is die video ’n somber gedoente, ’n “parodie op die bourgeoisie se siening van doodgaan en in ’n kis gebêre word”.

  • Die musiekvideo van “Hemel op die platteland” word saam met ander beeldmateriaal vertoon op 26 Mei 2004 om 21h00 in Mercury Live, De Villiersstraat, Kaapstad. Die video is vervaardig deur Johan Nel van Scratch Media. Na die vertoning vind ’n live gig plaas.

    ***

    Suidooster@Sheraton

    Moenie vrees nie, die weervoorspeller slaap rustig. Geen stormwinde gaan die luukse Arabella Sheraton Hotel se fondamente op 23 September 2004 skud nie. Want die Kaapse Dokter gaan vir homself ’n glanspakkie aantrek en saam met uitgelese gaste rondkerjakker by Die Burger Suidoosterfees se Openingsbal.

    Hierdie geleentheid is ter viering van die Suidoosterfees se eerste verjaarsdag. Die fees vind weer eens vanjaar plaas op 24 en 25 September 2004 by die Skiereiland Technikon (Pentech), Bellville.

    Volgens Anet Pienaar, een van die feesdirekteure, wou hulle die Openingsbal aanvanklik by Pentech gehou het. “Die lokaal is egter te klein en dit sou heelwat duurder uitgewerk het. Die Sheraton het ons tegemoet gekom deur die orkes te borg, gratis parkering en voorafdrankies te bied,” het sy gesê.

    Baldadige danseGaste sal tydens die bal getrakteer word met ’n driegang-maaltyd en ’n dansorkes wat deurlopend optree. Volgens Pienaar is daar reeds 17 tafels verkoop. As 300 kaartjies verkoop word, behoort die feesbegroting te klop. Die koste per tafel is R3 200 vir agt mense, of R400 per persoon.

    “Ons moedig verskeie korporatiewe maatskappye aan om kunstenaars “aan te neem” by hul tafels, sodat hulle ook die Openingsbal kan geniet,” het Pienaar gesê.

    Navrae rakende die bal kan gerig word aan (021) 406-3396 of cgrobler3@media24.com. Die volledige feesprogram word op 27 Augustus bekend gemaak. Besoek gerus die feeswebwerf vir meer inligting.

    ***

    Lag-lag met Laugh It Off

    Noem hulle culture jammers (kultuurkonfyters?), kwaadstokers, koggelaars, antikorporatiewe hofnarre ... net wat jy wil. Justin Nurse van Laugh It Off deins nie terug vir hofsake of enige dergelike dreigemente en aksies nie ... hy en sy span beur voort met die fakkel van vryheid van spraak en opspraakwekkende satire.

    Laugh It Off AnnualDie Laugh It Off Annual, wat einde laasjaar deur Double Storey Books uitgegee is, was ’n topverkoper en die hele oplaag van 7 000 is uitverkoop. Daar is reeds geleentheid vir skrywers, joernaliste en grafiese ontwerpers om bydraes vir hierdie jaar se Annual voor te lê.

    Behalwe T-hemde en die baie gewilde borsspelde begin Laugh It Off al hoe meer boeke uit te gee. “Oor drie weke voltooi ons die Oppikoppi se tienjaar-herdenkingsuitgawe, en publiseer later vanjaar ’n digbundel deur Kgasela Oa Magogodi, sowel as Hagen Engler se nuwe roman,” het Nurse gesê.

    Die T-hemde verkoop steeds flink, en Laugh It Off gaan weer opruk na die Grahamstad-kunstefees, daar waar alles jare gelede begin het toe hulle nog Rhodes-studente was.

    Klik hier om Laugh It Off se webblad te besoek.

    ***

    Plaaslike waaghals in Troy! (Bron: News24)

    Tyrell Kemlo is dalk nie die tipe naam wat jou dadelik opval nie. Maar hierdie gebore Durbaniet het al skouers geskuur én saamgewerk met van die wêreld se bekendste akteurs.

    Trojaanse trampolienNoem hulle maar op: Pitt, Michael Caine, Selma Hayek, Colin Farrell, Dennis Quaid, Lou Diamond, Vinny Jones ...

    Kemlo is ’n waagkunstenaar (“stuntman”) wat sy dae spandeer deur waaghalsige toertjies op rolprentstelle uit te voer. Die mees onlangse rolprent waarby hy betrokke was, is die lokettreffer Troy, waar hy die stel met sterre soos Brad Pitt en Orlando Bloom gedeel het.

    Volgens Kemlo was die mees uitputtende deel van sy werk om saam met 2 500 ander ekstras op ’n strand in Mexiko rond te hardloop.

    Klik hier om die volledige artikel te lees op News24.

    ***

    Die Sama-finaliste is bekend! (Bron: News24)

    Miriam MakebaDie South African Music Awards (Sama) se toekenningsgeleentheid vind vanjaar op 29 Mei plaas in die Sun City Superbowl. Die geleentheid word lewend uitgesaai op SABC 1.

    Klik hier om die finaliste se name op News24 te lees.

    Die publiek word genooi om te stem in drie van die kategorieë:

  • Song of the decade
  • Song of the year
  • Artist of the year.

    Klik hier om Sama se webblad te besoek.

    ***

    Hit me gaybe one more time? (Bron: News of the World)

    Nooi(t)!Dit gons op die web nadat die superster Britney Spears ’n luukse klub in Kopenhagen, Denemarke, met ’n poniestert-poppie aan haar sy verlaat het.

    Omstanders het verbaas toegekyk hoe ’n giggelende en duidelik uitgelate Britney hand aan hand met die onbekende nooi in die vroeë oggendure in ’n slap swart motor verdwyn.

    Sleeping in my car?

    Om alles te kroon was Britney se kêrel, Kevin Federline, ook saam met hulle in dieselfde klub.

    Nou wonder mens of Britney nie dalk ’n treffer “Hit me gaybe one more time” gaan opneem nie? Maybe?

    Klik hier vir die volledige storie op News of the World.



    LitNet: 18 Mei 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.