ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

In Virginia (VSA)

Willie van Staden, 2003

Die afgelope Saterdag het ek iets gesien wat ek amper nie kon glo nie - 'n motorfiets met ‘n sleepwa. Dit was 'n Harley-Davidson met twee mense op, en 'n platbak-, tweewiel-sleepwa agter aangehaak. Daar was nogal 'n vrag op: 'n groot Coleman-tipe houer, en 'n kan of klein drommetjie.

Ons vriende het Vrydag veilig hier aangekom, en Saterdag is die vyf van ons vroeg na Virginia toe om die Luray Caverns te gaan sien. Dit was net meer as twee ure se ry. Henning het 'n rekenaarprogram wat die roete presies uitwerk en vir mens 'n kaart en aanwysings gee om te volg.

Ek is baie beïndruk met die Ford Focus. Dis 'n ruim en lewendige kar. Die vyf van ons het gemaklik ingepas. Hier moet 'n ryding vinnig kan versnel wanneer mens op 'n snelweg klim, en die Focus slaag elke toets met lof. Dit het ook 'n baie ruim bagasiebak. Die Amerikaners noem dit 'n trunk. Die enjin bly voor, onder die hood. 'n Bonnet is iets wat 'n dogtertjie op Paassondag op haar kop kerk toe dra.

Saterdag was blykbaar 'n daguitstappie vir Corvette-eienaars, want daar is 'n hele klomp van die groot, elegante sportmotors by ons verby, en ons het heeldag lank meer van hulle gesien as gewoonlik. Nes mens dink helderblou is nét die kleur vir 'n Corvette, dan kom daar 'n swarte of 'n liggele verby. Mooi was nog nooit lelik nie. Jare gelede was daar in 'n Wits-joolblad 'n variasie van die Engelse spreekwoord wat sê “Beauty is in the eye of the beholder”; die Wits-gesegde was: “Beauty is in the Corvette of her boyfriend.”

Na die laaste keer wat ek in grotte was - Sterkfontein - het ek vir my vrou Adrie gesê ek wil nie weer na grotte toe gaan nie. Saterdag het ek my sterk gehou en saamgegaan, en ek is bly ek het. Oral loop mens op 'n gelyk baksteengeplaveide paadjie, met handrelings waar nodig. Die grotte is ook slim verlig sodat daar nooit lig in mens se gesig skyn nie, so ek was nie so gedisoriënteerd soos in Sterkfontein nie. Ek het my kop net een maal gestamp, en nie eers baie hard nie.

Dit is lank sedert ek laas in Sudwala of die Kango-grotte was, so dis moeilik om te vergelyk. Luray is minstens net so mooi soos enigiets wat ek nog gesien het, en die formasies is baie mooi behoue. Daar is 'n groot, hoë saal wat die Cathedral genoem word, en daar is natuurlik ook 'n lelike wit spook. Mens sien baie van die dun, amper deurskynende formasies wat soos voue materiaal hang – baie meer as wat ek al ooit elders gesien het – en daar was iets anders wat 'n eerste vir my was: 'n ondergrondse waterpoel waarlangs mens loop, en dan sien mens die spieëlbeeld van die stalaktiete wat buite gesigsveld bo die poel hang. Die water is agter 'n wal langs die paadjie, en die vlak van die water is so om en by mens se middel, so jy kyk af in die "spieël" in. Die beligting is so slim dat mens nie die wateroppervlak kan sien nie, net die weerkaatsing. Dit lyk soos torinkies in kristal, kompleet soos ‘n miniatuur-weergawe van Oxford.

In die “katedraal” het iemand 'n orrel-klawerbord gebou, met hamertjies wat op verskillende plekke teen die stalaktiete tik om altesaam 37 note te maak. Dis nie eintlik genoeg note vir akkoorde nie, en mens moet maar baie verbeelding gebruik om 'n redelike laerskool-slagorkesagtige weergawe van "Oh Shenandoah" uit te maak.

Uit die pragtige blou Wishing Well het hulle verlede jaar meer as $100 000 se munte gehaal. Die grotte is, soos alle besienswaardighede hier, ook toeganklik vir mense in rolstoele. By steil plekke kan rolstoele die trappe op en af gehys word, en die paadjies se hellings is sodanig dat ook gestremdes die grotte kan geniet.

Na die grotte was ons goed honger. In die kitskos-eetplek het 'n reisgenoot hoendergereg gekoop, en die res van ons het Barbequed Pork and Chips bestel, die dag se special. In die praktyk was dit 'n hamburger-broodjie met fyngekookte, gegeurde varkvleis op, en 'n pakkie aartappelskyfies. Chips is hierso pakkies skyfies. As jy tjips wil hê, bestel jy fries.

Luray het ook 'n Car and Carriage Museum. Die ou waens en perdekarre is mooi. Die Freight Wagon laat mens nogal dink aan die transportwa wat ons in ons museums sien, maar hulle trekwa, die Conestoga Wagon, verskil van ons s'n, want dit lyk glad nie soos 'n kakebeen nie. Die tent is baie langer as die wa, so die tent hang ver oor na voor en na agter, met skuins lyne van die punte van die tent af in na die korter onderstel toe. Die drywer sit ook nie in die oopte nie, maar onder die tent wat so oorhang. Dit lyk ook groter as die Voortrekkerwa, en die wiele lyk vir my heelwat groter en breër. Die trekdiere was natuurlik perde, nie osse nie.

Ons het ook 'n rooi Stage Coach gesien, en 'n prentjiemooi “Surrey with a fringe on top”. Oral in die uitstalling is daar winkelpoppe in periode-kostuums.

Die motorvoertuie wissel van 'n 1892 Benz tot 'n 1941 V12 Lincoln, en sluit voertuie in waarvan ek nog net gehoor het, soos 'n Baker Electric en 'n Stanley Steamer. Die uitstallers het nogal 'n humorsin ook, want tussen 'n massiewe, lang 1932 Rolls-Royce en 'n ewe imponerende Mercedes van dieselfde jaar staan daar 'n klein driewiel-Morgan-karretjie uit die jare dertig.

Al die kultuur is weer met natuur afgewissel, want ons het deur 'n deel van die Shenandoah Park gery, die sogenaamde Skyline Drive, kruis en dwars deur en oor die Appalachiese Gebergte, tot so hoog as 3 400 voet bo seespieël. Dit klink miskien nie baie hoog nie, maar dis 'n redelike hoogte relatief tot die kusvlakte.

Die herfskleure is pragtig, en word by die dag mooier. Daar in die berge was dit naderhand baie stil in die motor, want mens het nie meer woorde gehad nie. Ek is so bly ons het dié tyd van die jaar gekom kuier, want die Amerikaanse fall is mooier as wat ek ooit kon dink. 'n Fliek kan mens 'n idee daarvan gee, maar om die hele ervaring met die vars lug en die koeligheid op jou vel saam met die klanke en geure van ryp najaar te beleef is niks minder nie as 'n Hemelse geskenk.





LitNet: 02 Augustus 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SÍNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.