ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die geur van amandels in die lug (Sisilië)

Loammi Blaauw, 2005

Dit gaan met my soos met die Russies-Joodse vrou wat eintlik na Israel wou emigreer en wie die noodlot ook op die oewers van hierdie arbeiderstad Herne, in die Ruhrgebiet, uitgespoel het. Die Neue Züricher het 'n artikel oor haar gepubliseer onder die opskrif "Herne is my Jerusalem".

Die kruks van die saak is seker dat mens jou realiteit moet skep daar waar jy heenkom, jou drome daar moet verwerklik en nie altyd na iets anders moet hunker nie. Maar met my wil dit nie heeltemal so uitwerk in hierdie ongekunstelde arbeiderstad nie. Miskien het ek nog bietjie tyd nodig om Jerusalem in Herne te ontdek. (Die stad is darem wraggies ook só lelik!)

Maar ten minste het ek my Afrika weer gevind. My Afrika is Sisilië. Die gode het dit seker so bestem dat die familie waar ek ingetrou het, al dekades gelede daar 'n huis gebou het in die wyse vooruitsig dat hierdie vrou uit die diep-diep Suide wat eendag gaan opdaag, son nodig gaan hê. Somer, son en saffier om die betteries weer op te charge vir daai vreeslike lang, grys middel-Europese winters waar dit nooit ophou reën nie.

Skaars is ek daar of dit is asof 'n stuk van my blas bleekheid oornag in songoud muteer - nes Namakwa-daisies wat by die eerste druppeltjies reën mals opslaan en hulle kelkies oopvou vir die son. Dis amper soos om tuis te kom - die mense praat net die verkeerde taal. Maar andersins is alles daar: vyebome, turksvye, appelkosies en suurlemoene. En nog vele meer. Veral olywe, amandels en die geurigste tamaties. Selfs vlieë en muskiete. En soos in Suid-Afrika, heers daar meestal ook op hierdie eiland - omring van water - waterknapheid. Die eerste ding wat ons doen as ons daar aankom, is om te kyk of daar water in die sisterna is.

Soos in die Kaap, waar water deesdae gerantsoeneer word en al hoe meer mense begin dink aan die omskepping van hul tuine na iets meer inheems, groei daar die wonderlikste plante op Sisilië wat ook in droogtetye oorlewe. Miskien moet ek 'n lansie breek vir amandelbome. Dis sulke skugter bome wat mens twee keer in die jaar oorweldig - aan die begin in die lente met 'n onvergelykbare tooisel bloeisels, en dan weer in die laat somer met die oordaad aan veelsydige neute.

Wie van ons ken nie Lawrence Durrell se eenmalige beskrywings van die amandelbloeiseltyd op Sisilië nie? Ons bly daar naby die Griekse tempels van Agrigento, waarvan hy vertel in sy reisverhaal en weer eens nie uitgepraat kan raak oor die stille prag daarvan nie. "The temples are situated, like a protective screen, tricked out with fruit orchards, with sweeps of silver olives, and with ubiquitous almond trees whose spring flowering has become as famous as the legendary town itself." En elders: "In early February it is pure wedding-cake with the almond blossom of three tones and the fabulous later flowering of an occasional Judas." Hoe aangedaan hy daaroor kon raak, merk mens duidelik as hy die ruwe landskap selfs vergelyk met die bome so tipies in die Japannese skilderkuns: "Almond and peach-blossom graze the road, as improbably precise as the décor to a Japanese play."

Hoe dit ook al sy, die onskynbare boom is die moeite werd om 'n gat voor te grawe in jou tuin, want die vars groen neute wat so soet op tong lê, kan jy lank bêre solank jy hulle in die dop los. Dis pure plesier in die lang koue winters voor 'n kaggelvuur om hulle oop te kap en saam met 'n hanepoot of sjerrietjie te geniet. Amandels knak mens naamlik nie - mens kap hulle netjies hoogkant oop met 'n hamer, twee houe, en dan breek jy die dop oop en haal die heel amandel uit. As jy die neut op sy plat sy kap, breek jy die amandel binnekant en dan is dit 'n gemors. In die somer kan jy pesto genovese daarmee maak, of eksperimenteer met Sisiliaanse pesto. Jy kan selfs die dik groen skil met sy effe rooi wangetjies waaruit die neut bars, gebruik om amandelseep te kook soos in die ou dae. Deesdae is dit met die nuutgevonde natuurbewustheid en al wat leef en beef wat op die "wellness wave" ry, weer vreeslik in om jou eie seep te maak. Met so 'n skootjie laventel- of roosolie kan jy iets baie besonders toor, nie net vir jou eie lewenskwaliteit nie, maar ook om as eksklusiewe geskenke te dien.

Amandelbome het min water nodig en is boonop mooi. Hulle behoort goed in Suid-Afrika te groei en eintlik is ek bietjie verwonderd dat daar so min amandels aangeplant word. Die klimaat is ideaal. Dit het seker iets te doen met wat ons Europese voorvaders geken het en wat nie. In elk geval: vir almal wat hulle tuine met meer droogtebestande plante wil uitlê, is dié lente 'n gulde geleentheid om 'n amandelboom te plant.

Die enigste nadeel van 'n amandelboom is dat jy nie in sy skaduwee kan sit nie. Die gasvrye boom wat haar skoonheid en vrugte so spandabel deel, is dikwels ook die tuiste van muggies. Dis hoekom jy moet weet: een keer in 'n jaar is dit ook nodig om bietjie hardhandig om te gaan met dié skoonheid in jou lewe. Dis 'n treitering wat baie ná aan foltering kom om die amandels per hand te pluk, want 'n plaag muggies gaan op jou toesak! Hulle kruip oral in - in jou neus en ore, in jou nek in - kortom, in net waar hulle ook al kan. Dis die heel beste om ou lakens onder die boom uit te sprei en 'n lang riet te neem en die amandels mooitjies op 'n afstand af te slaan met jou stok. Daarna samel jy die oes in en gaan gooi die hele kaboedel op jou stoeptafel uit. Nou's dit tyd vir baie geduld en 'n yskoue bier: die amandels moet van die sagte dik, groen skil rondom dit bevry word. Dis ook dringend nodig, want allerhande insekte lê graag hulle eiers mooi tussen die groen skil, nes hy oopbars, en die neutedop.

Dis nogal tricky om presies te skat wanneer die tyd gekom het om die neute te oes. Amandels lyk bietjie soos groen appelkosies met rooi wangetjies, en mens moet wag dat die lippies oopgaan en hulle tande wys - met ander woorde, mens moet die neute bietjie tyd gee sodat die groen skil kan los kom van die neut af sonder om uit te droog. As die skil eers bruin geword het, sit hy so vas soos gom en dan bederf die neute. Ons buurman sê mens moet na die blare kyk. Nes hulle bruinerig word en lyk asof hulle so spikkelrig wil verdroog, het die regte oomblik gekom. Dis nogal harde werk om die neute uit hulle groen skil uit te dop, maar 'n biertjie help! Dan moet die neute net nog in die son droog, minstens 'n week lank. Eers dan kan jy dit in 'n kartonnetjie stoor - iewers waar muise nie daarop afkom nie!

In Sisilië toor hulle behoorlik met amandels. Hulle word versuiker met 'n soort hardeversiersel en dan gekleur - vlamrooi vir 'n graad, sagte kleure vir 'n doop, wit vir troues - en dan in organza-sakkies gebind vir die gaste sodat hulle ná die tyd nog die lekkerte van die okkasie op die tong kan rondrol en onthou. Vir kinders is daar amandelmelk, so 'n dik stroop wat met water verdun word en so soet is dat jy tot in jou tone gril. Vir toeriste en ingewydes word dit yskoud met melk gemeng as aperitivo.

Die kroning is egter die dolci di mandorla - die beroemde amandelkoekies. Die heel beste dolci di mandorla maak hulle in Agora, 'n bar in Villagio Mosé waar mens eweneens die heel beste ystee met granita (Sisiliaanse suurlemoensorbet) kry. Definitief die moeite werd om jouself mee te sterk voor jy jouself dit aandoen om in die bloedige hitte die Griekse tempels van Agrigento op jou kultuurprogram te plaas ... Hulle is peperduur, maar elke sent se genot werd. Dis nou sinlikheid puur - buite bros en binne sag, nes die hart van 'n vrou wat verlief is.

Ek soek nou al lank na 'n resep daarvoor, maar dis glad nie so maklik nie. Die meeste resepteboeke bied alles moontlik aan rare spesialiteite - net nie Sisiliaanse dolci di mandorla nie! En as jy vir die vrouens daar - die meeste van hulle uithalerkokke - 'n lofrede aanstem oor hoe wonderlik hulle koekies is, neem hulle die lof soos 'n kroon uit lourierblare aan, maar as jy uitvis oor die resep, dan raak hulle doof …

Dié somer het ek egter heel onverwags 'n kans gekry om 'n troefkaart te speel. Ons buurman is 'n figuur wat so reg uit een van Pirandello se novelles kon tuimel. Eendag kom hy agter sy rooi weglêsnor ('n genetiese erflating van die Noormanne wat die eiland tydens die kruistogte ingepalm het) en laggende skrefiesoë daar aan met 'n emmertjie turksvye wat hy daar vir ons begin skil met die opdrag om hulle in die yskas te sit vir nagereg. In my hart het ek seker maar iets van 'n boeretannie oorgehou en ek betuig my dank toe met 'n botteltjie vyekonfyt, nes my ma dit altyd gekook het met die heel vrugte wat goud deurskyn as jy die botteltjie so teen die son hou. Só iets het selfs 'n ingevleisde Sisilianer nog nie gesien nie, en sy vrou wou partout die resep hê. Dis toe dat my groot kans kom om uitéindelik na vyftien jaar aan die begeerde en immer ontwykende resep te kom!

Dis een van daai resepte wat mens eintlik in die geheime argiewe van sindelikheid moet bewaar en met jou moet saamvat graf toe, nes die tannies uit my kindheid met hulle koeksisterresepte. Dis so eenvoudig en tog absoluut geniaal. Probeer dit gerus! En as amandels te duur is, plant 'n boom.

Dolci di Mandorla

1,2 kg amandels, reeds ontdop
800 g suiker
1 t vanieljegeursel
gerasperde skil van 1 suurlemoen
5 eiers
'n bietjie melk (hoogstens 50 ml)
versiersuiker of strooisuiker om die koekies mee te bestrooi

En so maak mens dit:

  1. Sit die amandels in 'n groot skottel en gooi kookwater daaroor. Laat dit 'n rukkie staan en druk dan die wit amandels uit die bruin velletjies uit.
  2. Brei die amandels op 'n skinkbord uit en laat dit in die son staan om te droog.
  3. Maal die amandels fyn in 'n voedselverwerker. Meng die amandelmeel met die suiker in 'n mengbak en maak 'n holtetjie in die middel.
  4. Voeg die geklitste eiers, melk, vanieljegeursel en gerasperde suurlemoenskil in die holte en knie die deeg tot 'n pasta.
  5. Maak okkerneutgrootte bolletjies en druk hulle effe plat (so met 3 vingers om die bolletjie) op 'n gesmeerde bakplaat. Laat genoeg spasie tussen die koekies.
  6. Bak die koekies in 'n voorverhitte oond by 250° C tot hulle goudrooi glim. Oppas, dit gaan vinnig - kyk deur die oond se venster! Hulle mag nie aanbrand nie, moet net mooi bruin word. (As jy liewer aan die versigtige kant wil bly, gaan vir 'n oond van 220° C ... dis ook nog warm genoeg.)
  7. Sodra hulle effe afgekoel het, word dit met strooi- of versiersuiker bestrooi. Onthou om hierdie koekies vinnig binne 'n paar dae op te eet. As hulle oud word, is dit hard en dan smaak hulle nie meer soos die sindelike soene van daai verliefde vrou van voorheen nie ...

    Vir almal wat lus gekry het om Sisilië te ontdek, snuffel bietjie onder http://www.bestofsicily.com.



    LitNet: 08 November 2005

    Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

    boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.