ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Besoek een van die wÍreld se voorste rooiwyngebiede (Devonvallei)

Johann H Crafford, 2005

Jy's eers 'n Matie as 'n akker op jou kop geval het. So het die storie gelui. Maak nie saak hoe lank ek onder 'n verskeidenheid akkerbome gestaan het nie, daar wou net eenvoudig nie een op my kop val nie. Rondom my, ja, baie!

Toe hoor ek daar's 'n alternatief. Drink 'n bottel Tassies in 'n uur en as jy dan nog enkel kan sien, dan's jy 'n Matie!

En so het ek toe amptelik 'n Matie geword. Die feit dat ek alles enkel gesien het, selfs dit wat in meervoud daar was, het eenvoudig nie saak gemaak nie. En so het my vriendskap met Bacchus begin. Vir baie jare was ons eintlik net kennisse. 'n Vriend is mos iemand wat jy goed ken, warts and all.

So 'n handvol jare gelede studeer ek 'n bietjie toerisme. Die kursus sluit 'n gedeelte oor wyn in. En daar byt die gogga my en raak ek en Bacchus vriende. Goeie, hegte vriende.

Ek begin aan die Kaapse Wynakademie studeer en besluit op 'n dag om al my kennis op 'n meer praktiese en bruikbare wyse te benut. Ek is per slot van rekening ook lief vir kos en kosmaak, en wie is dan nou nie lief vir reis nie? En so besluit ek om al my passies in my kar se bagasiebak te gooi en die Kaapse wynlande behoorlik te besoek.

Daar is egter soveel dagtoere opgesluit in die wynlande dat 'n mens maklik 'n paar jaar lank elke maand 'n ander roete met ander plase, wyne en eetplekke kan besoek. Om nie eers te praat van al die natuurskoon en die ander besienswaardighede nie.

Wat 'n wonderlike gedagte, reken ek toe, en besluit om my nuwe lewensavontuur net buite Stellenbosch af te skop in die Devonvallei.

Een heerlike sonskyndag vroeg in Januarie - dit was 'n weeksdag - het ek en 'n vriend van byna 'n kwarteeu lank al, die pad uit Kaapstad gevat Stellenbosch toe. (Terloops, die Stellenbosse Wynroete is die oudste roete in Suid-Afrika en is in 1971 gestig.)

Die pragtige Devonvallei lÍ net buite die dorp op die pad na Kuilsrivier, aan die Eikestad se westekant. Van die N1 af vat jy Uitgang 39 na Stellenbosch, volg die rigtingwysers na die R301 en Kuilsrivier deur die dorp totdat jy by die afdraaipad na die Devonvallei kom. Dis net-net verby Distell en Oude Libertas. Van die N2 se kant af vat 'n mens Uitgang 33 en die R310. Net voor Stellenbosch draai jy dan links na die Devonvallei.

Druiwe word reeds sedert die 18de eeu in hierdie pragtige vallei aangeplant en dit spog vandag met sowat 700 hektaar wingerd. Danksy 'n rits gesogte toekennings word die Devonvallei al hoe meer beskou as een van die wÍreld se premium-rooiwyngebiede.

In 1997 het die vallei se wynbouers die gebied as 'n wyk laat afbaken sodat hulle met trots die naam op hul etikette kan gebruik.

Die kronkelende pad vat jou verby kilometers se wingerde en boorde en verby die bekende baken, die Devon Valley Hotel, totdat jy jou vasry in die Huis van JC le Roux, die makers van skitterende vonkelwyne. Hier het ons dag amptelik begin met ontbyt in JC le Roux se restaurant bokant die indrukwekkende proelokaal.

Ek en vriend Chris het ons tuis gemaak op die terras van die restaurant, omring deur die rustigheid van die Devonvallei en die kalmerende invloed van plaasgeluide. Die restaurant het 'n stewige ontbyt-spyskaart, asook ligte middagetes.

Die eerste proe van die dag was in JC le Roux se pragtige proelokaal op die grondverdieping, en hier het 'n kundige en vriendelike meisie ons deur die verskillende soorte vonkelwyn gevat. Daar is geloer na die kleur en helderheid, geruik, geproe en gespoeg vir 'n vale, en ons twee is veel wyser manne vort.

Net so terloops, vonkelwyn is die enigste van Bacchus se voggies wat vier sintuie bekoor. Jy kyk vir die kleur en helderheid, jy ruik die geure, jy laat jou palet 'n vrugtereis onderneem en dan luister jy hoe die borreltjies baljaar - oŽ, neus, mond en ore in harmonie. Siedaar!

JC le Roux bied ook keldertoere aan. Vir meer inligting, skakel hulle gerus by 021-865-2590.

Op pad terug, en op soek na ons volgende wynproe, het ons gou by die historiese Devon Valley Hotel gaan inloer. Vir rustigheid en landelikheid, gaan kyk onder Devon Valley Hotel in die woordeboek. En van sy pragtige, skaduryke terras af, waar mens heerlike ligte etes kan geniet, insluitende tapas, het jy 'n asemrowende blik op die vallei en die berge rondom Stellenbosch. Sulke tye bloei mens se hart vir mense wat nie hier in die Kaap bly nie!

Die hotel, wat op die Sylvanvale-landgoed geleŽ is en omring word deur wingerde, is in 1947 gebou en is 'n bekende en geliefde baken vir baie mense, inwoners van die dorp, sowel as besoekers. Dit bied ook 'n restaurant met 'n meer tradisionele spyskaart, terwyl Sylvanvale se wyne hier te koop is.

Druiwe word sedert 1960 hier verbou op die suidoostelike hellings met die ryk, rooi grond en koel Atlantiese seebries. Die landgoed is bekend vir sy unieke "vine-dried"-wyne en produseer sowel 'n Chenin Blanc as 'n Pinotage wat in hierdie styl gemaak is, terwyl 'n puik Cabernet ook op die wynlys verskyn.

Wynbouer Lorna Hughes het nie net 'n rol gespeel in die restourasie van die eiendom nie, maar haar program van streng gehaltebeheer met streng troskeuse regdeur die jaar het gelei tot die diep vrugtegeure wat die landgoed se wyne kenmerk.

Vir meer inligting oor Sylvanvale se produkte en die Devon Valley Hotel, skakel 021-865-2012.

Hiervandaan ry jy 'n entjie terug in die rigting van Stellenbosch tot by die afdraai skerp na regs na Clos Malverne en Louisvale. So 'n kilometer of twee verder vind jy Clos Malverne aan jou regterkant. Clos beteken "omvou" of "omring" - in hierdie geval deur ander wynplase, en daar is glo 'n dorpie in Frankryk met die naam Malverne. Dis nou soos die baie kundige en vriendelike dametjie in die proelokaal aan ons verduidelik het.

Hoe dit ook al sy, Clos Malverne (tel 021-865-2022) is 'n pragtige wynplaas met 32 hektaar onder druiwe, maar die Pritchards, die eienaars sedert 1969, spesialiseer in Kaapse versnit-rooiwyne (Cape Blend), met meer as 60 persent van hul wyne wat van Pinotage, die enigste rasegte Suid-Afrikaanse kultivar, of 'n Cabernet/Pinotage-versnit gemaak word. Hul vlagskipwyne is die Auret, wat reeds by die bekende wynkenner John Platter vyf sterre gekry het, en die Pinotage Reserve.

Ry by Clos Malverne se hek uit en draai regs. Die pad vat jou kronkelend na Louisvale, net 'n klipgooi of twee verder. Louisvale (tel 021-865-2422) is ook 'n boetiek-wynplaas met sowat 26 hektaar onder wingerd, wat veral bekendheid verwerf het vir sy puik Chardonnays wat hy sedert 1989 die lig laat sien. Daar is gehoute Chardonnays en Chardonnays wat geen hout ervaar het nie. Proe na hartelus en besluit self wat spreek die hardste tot jou.

Sowel Clos Malverne as Louisvale het 'n volle reeks wyne, wit en rooi, maar vra gerus vir die kundige meisies agter die toonbank waarna om te ruik of waarvoor om te proe. Daai kennis verbeter die ervaring veelvuldig. En moenie jou blind staar teen vlagskipwyne nie. Onthou, die beste wyn is die een waarvan jy die meeste hou.

Die geproe en gespoeg het ons teen hierdie tyd al baie lus gemaak vir sluk! Maar ons moes darem eers by die Mombergs van Middelvlei gaan inloer vir 'n laaste proe en spoeg. Om by hierdie wyndlandgoed uit te kom wat soos 'n hoefyster teen die noordelike hange van die Papegaaiberg lÍ, moet jy terugry tot by die R310, links draai in die rigting van Stellenbosch en by die eerste verkeerslig weer links draai en verby Oude Libertas ry totdat jy in Middelvlei vasry.

Middelvlei (tel 021-883-2565) is reeds sedert 1919 in die besit van die Mombergs en is 'n allemintige 160 hektaar groot, waarvan 130 hektaar onder wingerd is. Drie wit kultivars word aangeplant, maar slegs een witwyn word geproduseer, 'n Chardonnay wat delikaat verhout is. Die rooi kultivars is Cabernet Sauvignon (my gunsteling), Pinotage, Shiraz, Merlot en Tinta Barocca.

Dit was nou reeds byna anderkant etenstyd en ons moes besluit tussen middagete by die Devon Valley Hotel, op die wynlandgoed Neethlingshof op die pad na Kuilsrivier of by 'n relatief nuwe plek waarvan ek toe pas gehoor het, Thirty Three Stellenbosch by Vlottenburg. Ons het op laasgenoemde besluit.

Om by Thirty Three Stellenbosch (tel 021-881-3793) uit te kom, ry jy in die rigting van Kuilsrivier en draai links na Vlottenburg net voordat die dubbelpad enkel word, byna regoor die afdraaipad na Overgaauw, Uiterwyk en Jordan. Die restaurant lÍ so 'n paar honderd meter verder aan jou regterkant. By Thirty Three Stellenbosch is dit amper 'n geval van die kos komplementeer die wyn. Wat diť eetplek se omvattende spyskaart buitengewoon maak, is die feit dat daar by feitlik elke gereg een of meer voorstelle vir wyn is wat die spesifieke gereg eer sal aandoen. En daai wynlys is genoeg om enige mond te laat water.

Nouja, alle goeie dinge kom mos tot 'n einde, of so vertel die mense wat weet. Maar hierdie goeie ding - dis nou die wyn-en-eet-trippies - se einde is beslis nog nie in sig nie.


Johann Crafford is 'n kommunikasiekonsultant, vryskutjoernalis, skrywer en toergids wat in wyntoerisme spesialiseer.



LitNet: 03 Oktober 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SÍNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.