ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Tussen Ovahimba en Herero

Lize Odendal

Elke reisiger het sekerlik 'n lysie van plekke wat sy wil besoek voor die groot donkerte toeslaan. Soos Timboektoe, 'n Wêrelderfenisplek iewers in Sjina, 'n yshotel, 'n byeenkoms van die Toearegs in die Sahara.

Hoog boaan my lys was nog altyd die Ovahimba in die noorde van Namibië. Die foto's van die rooibruin mense wat met sulke stylvolle haardosse spog, die lenige lywe, die mans wat lyk of hulle gereed is om in 'n GQ-advertensie in te stap (sou hulle pakke aangehad het), die juweliersware wat met modder geseël word - kortom, alles omtrent dié stam het my nog altyd geboei.

Toe Willem de Wet van Namibia Country Lodges (www.nambiacountrylodges.com) dus die oggend vroeg by die ontbyttafel by Twyfelfontein (www.namibiancountrylodges.com/twyfelfontein) sê ek moet spring, hy's op pad na sy nuwe hotel in Opuwo, toe sit ek in die vliegtuig voor hy nog klaar is met die vlugplanne opstel. So 'n geleentheid mis ek vir niks ter wêreld nie.

Tipies Willem is alles gereël toe ons neerstryk. Die gids van die hotel, Zaimy Nakale, wag reeds. Hy't Mr Tjibosa, onderhoofman van die dorpie Ovinjange, laat weet ons is op pad. Ek klim uit, kamera gereed, notaboek onder die arm, hoed op die kop en met my vrye hand vryf ek sonskerm in. Die son steek al is dit vroeg September.

My oë begin my gedagtes van die besoek aan die dorpie aflei. Opuwo se strate is vol kopers, al is dit vroegoggend op 'n Maandag. Dis 'n totaal surrealistiese gesig: rooibruin vrouens met net-net die nodige aan loop skouer aan skouer met Herero-vrouens wat van kop tot tone in linne bedek is.

Ek wys die wys die teenstrydigheid aan Zaimy uit. Hy glimlag net. "Ons is eintlik almal familie," verduidelik hy, "neefs en niggies." Hy verduidelik dat die Ovahimba vroeër as die arm Herero's bekend gestaan het. "Dis wat hulle naam beteken," sê hy.

My gedagtes dwaal terug na 'n gesprek met Naomi Kutako, 'n Herero-vrou wat by Penduka (http://www.universal.nl/users/penduka) in Windhoek werk. Sy het verduidelik dat een rok uit 8-12 meter materiaal bestaan en jy vyf onderrokke onder jou romp dra as jy na 'n deftige geleentheid toe gaan. As jy sommer werk toe kom of in die huis besig is, dan trek jy net een onderrok aan. 'n Goedgeklede Herero-vrou se uitrusting bestaan uit 'n bloes (gemaak uit 22 stukke, sonder die knope), 'n romp, en 'n kopstuk wat lyk soos 'n beeshoring. Die horing word gevorm deur 'n stok dwars voor in te steek en die res dan van koerantpapier te vorm. Volgens haar is die uitrusting nie warm nie.

Dis ook nie goedkoop nie. 'n Gewone rok se materiaal alleen kan maklik R500 kos en 'n blink partytjierok sommer by die R1 000 verby. Dan het 'n vrou gewoonlik so 'n stuk of tien uitrustings in die kas ...

Aikôna, stry Tara Muukua, 'n personeellid op die Desert Express (www.desertexpress.co.na) met wie ek later sit en gesels. As moderne Herero-vrou trek sy gemakliker aan wanneer sy werk of by die huis is. Haar uitrustings dra sy na huwelike of begrafnisse toe. "Jy vrek van die hitte, maar dra sal jy hom dra. Die manne hou daarvan. Kyk, jy loop saggies soos 'n bees wanneer jy jou rok dra," demonstreer sy op die luibewegende trein.

Zaimy sê heelwat van die Himba-vrouens wie se mans staatsamptenare word en verwag dat hul vrouens dié kleredrag, wat van die Duitse sendelinge se vrouens se klere af kom, moet dra. "Hulle kan mos nou nie kaal by 'n geleentheid opdaag nie …"

Ek probeer my bes om taktvol by die dorpie een van die vrouens te vra of sy ek-weet-nie-eintlik-wat-nie … gemaklik voel in haar vel? Zaimy verkies om te maak of hy my nie verstaan nie en vertaal niks nie. Volgens hom is daar geen teenstrydigheid tussen die vrouens nie.

Ek lees dieselfde in 'n glansboek op die koffietafels by die Opuwo Hotel. Volgens die skrywer werk die vrouens so saam, sy aan sy, en die een dink nie die ander is immoreel of vreemd of barbaars nie. Live and let live, seg sy seg hulle …

Vir my bly dit 'n teenstrydige situasie. Ek probeer 'n Hererovrou en Himbadame langs mekaar staan maak vir 'n foto, maar skielik is die strate leeg gevee. Nêrens kry ek 'n Hererovrou te siene nie en die Himbadames stryk doelgerig met plastieksakke in die hand met die pad af na 'n ander bestemming. Al wat ek ruik, is die reuk van galsterige vet en sien net vinnig 'n sontraal blink op 'n stuk staaljuweliersware. Dan is die straat doodstil. Tiipies.

Willem begin aanjaag na die vliegtuig toe. Ons moet voor sononder terug wees in Twyfelfontein, want hy wil my nog Brandberg gaan wys.

Ek laat die stil dorp agter. Met die opstygslag stap twee uiteenlopende vroue onder die vliegtuig langs die vliegveld verby. Ag ja.

En my besoek aan die dorpie? Dis 'n ander storie …

Besoek die Himba by:
http://www.namibia-travel.net/northnamibia/himba.htm
http://www.on-the-matrix.com/africa/himba.asp
http://www.ifrc.org/docs/news/03/03092301/
http://www.cinephil.co.il/Index.asp?ArticleID=325&CategoryID=68&Page=1 - (klink na 'n boeiende dokumentêre rolprent).



LitNet: 15 November 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.