ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die prys van jou daaglikse rys - Deel 1
(Taiwan)

Anel Heydenrych, 2003

Boendoes. As kind van Afrika het ek gedink ek verstaan die woord (het immers al selfs in Bogom in die Noordelike Provinsie van Suid-Afrika gewerk), maar toe ek in die middel van die middel van die Taiwannese ryslande die kinders Engels moes leer, toe weet ek nie net Afrika het sy boendoes nie.

Tydens my verblyf in Taiwan het twee meevallerklasse ook in my skoot geval. Die Chinese naam van die skool klink soos "Chin Gang" en die klas begin om vieruur. Mister She (Meneer Haar soos ek hom in Afrikaans gedoop het) laai my stiptelik halfvier op met sy bokwa. Voor ons vertrek, koop ek gou die Taipei Times om op pad skool toe voor te berei vir die besigheidsman wat ek saans probeer beïndruk met my beperkte kennis van besigheid (wat ek mooi toesmeer agter groot Engelse woorde en "term dropping" hier en daar van "rapport-building with Westerners").

Meneer Haar het aangekom en met al die grasie waaroor ek beskik, lig ek my romp tot bo my knieë en hop op die bokwa. Dan sit ek, soos 'n wafferse lady wat skielik belangrik genoeg geword het vir 'n chauffeur, agterin en lees die koerant terwyl Meneer Haar stadiger ry as wat hy aan sy sigaret suig. Hy praat gelukkig geen woord Engels nie, dus verdiep ek my in die besigheidseksie van die Times. Net buite Beigung beïndruk die lowergroen ryslande my soveel dat ek die koerant neersit en net daar besluit om weer groot Engelse woorde te gebruik vir die aand se les met die besigheidsman.

Net na ons die ergste groen rys verby is, tref ons die hoenders. Normale Afrika-hoenders skrik vir toeters en fladder verward weg as 'n voertuig nader, maar nie hierdie geel Taiwannese hoenders nie. Meneer Haar druk op sy toeter, maar die hoenders gaan ongestoord voort - sy harde druk op die bokwa se toeter maak geen hoender haaraf nie. Meneer Haar is nie 'n vinnige man van nature nie, selfs wanneer daar nie hoenders is nie, maar tóé gaan dit stadig. Taiwannese hoenders loop net so stadig soos die mens-kinders in die land. Skrop-skrop loop die swerm oor die pad, 'n magdom van hulle; ek begin tel, maar gee op. Ek vermoed al die hoenders wat ons in Taiwan eet, word hier geproduseer. (Slegs in die groot, groot hoenderplase in SA het ek al meer hoenders bymekaar gesien.) En hierdie hoenders is anders: met Chinese grasie kruis hulle die pad. Die leierhaan kyk gereeld oor sy skouer om te sien of sy volgelinge volg, effe slingerend asof hy ook vanoggend Beatle-nuts geëet het. Die haan het meer vroue as die gemiddelde stamleier in Afrika.

Intussen begin Meneer Haar vinniger aan sy sigaret suig en die tyd stap aan. Ek bewonder intussen die huisies en die geel rosyntjie-anties wat die dag se wasgoed tussen die ganse ophang. Lendelam draadheinings hang slaprug half in die pad in. Dis moeilik om te bepaal waar die huis ophou en waar die ryslande begin. 'n Vorm van gemengde boerdery, en nie besonder suksesvol nie, as mens na die bouvallige opstalletjies kyk.

Net toe dit lyk of die trop hoenders koers kry in die rigting van die ryslande, en Meneer Haar doelgerig die bokwa in beweging bring, kom die ganse.

Die ganse is selfs meer tydsaam as die hoenders. Omdat ek slegs 'n vae idee het van watter Engelse woorde en structures ek die geel rysland vlaktekindertjies moet leer, gebruik ek die ganstyd om na flashcards wat wissel van "who's he, he's a teacher" tot "the book is under the bag" te kyk. Ek dink nie dit kan te moeilik wees nie; vandag kan 'n boerkind dalk met min moeite haar rys verdien. Ek fokus dus weer op die ganse. Ek loer rond of daar nie moontlik 'n ganswagtertjie tussen die wasgoed uitgehardloop gaan kom nie, maar tevergeefs. Die vrede van voleindiging, soos Eybers oor Wes-Transvaal gesê het, het intussen oor die dorpie toegesak.

Meneer Haar, vir wie "saving face" en "pretend that you are in control" die enigste waardigheid is waaraan hy op die oomblik kan vasklou, klim van die bokwa af en begin in harde Mandaryns met die ganse praat. Hulle het duidelik nie 'n afspraak om na te kom nie en slinger lui-lui voort.

Ek kyk op my horlosie en sien dat ons net tien minute oor het voordat ek met die vlaktekinders se Engelse klas moet begin. Meneer Haar sien ek loer vir die horlosie, en voeg my 'n paar Chinese klanke toe. Met 'n vals glimlaggie paai ek met "May quan she", wat "Don't worry" beteken. Dit laat hom uiteindelik ontspan en so gebeur dit dat ek en Meneer Haar saam op die bokwa 'n rustige sigaretjie sit en rook terwyl die dorp se gansbevolking hul middagwandeling oor die pad neem.

Ek bekyk die spulletjie vir 'n ruk en is meteens nie oortuig daarvan dat die wandeling nie georkestreer is nie. Die Taiwannese hou van straatoptogte en doen dit op begrafnisse, troues, Sondae en enige dag wat lyk asof dit 'n optog nodig het. Daar is egter nie optog-klappers nie, dis net die geluid van die ganse en my en Meneer Haar se suig aan ons sigarette wat die lug bo die groen ryslande vul. Ek sit terug, maar toe het Meneer Haar duidelik genoeg gehad en stoom hy sonder seremonie met daardie bokwa deur die oorblywende ganse.

Toe die wa deur die gansdrif is, tref die noute ons. Ek weet nie of Meneer Haar 'n ompad gekies het omdat hy nie weer kans gesien het vir 'n vertraging nie, en of die paaie hier maar almal so nou is nie. Ek vergaap my aan wat in die voorhuise aangaan. Ons skuur so naby aan die huisies verby dat ek wonder of iemand ons gaan innooi vir tee. Maar te oordeel aan die onverstoordheid van die tannies wat langs die Boeddha-tempeltjies in die voorhuis sit en Chinese sepies kyk, is hulle gewoond aan bokwaens wat so dan en wan deur hulle huise ry. Een tannie rek tog haar nek toe sy besef dis 'n rooikop Westerling wat agter in die bokwa sit.

'n Goeie vyftien minute oor vier sien ek steeds net grys steenhuisies en ryslande in die agtergrond. Ek begin tog 'n prentjie in my kop vorm van die standaard van Engels wat hierdie geel vlaktekinderjties moet besig.

Net toe my verbeelding goed op loop is en ek visualiseer hoe ek in die middel van een van die ryslande met die ganse as toeskouers op die damwal Engels teach, toe duik die skool voor ons op.

Flashcards en al is ek met 'n bokspring van die bokwa af, reg om die kinders se geletterdheid 'n hupstoot te gaan gee.

As ek gedink het die reis tussen die ryslande was onortodoks, dan was dít wat binne die skool vir my gewag het, selfs vir hierdie taaljuffrou amper onbeskryflik …



LitNet: 15 Junie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.