ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Van punt A tot by … punt A

Nita de Wet, 2005

Aan die einde van verlede jaar besluit ek om saam met my oudste seun, Wikus, sy sussie en sy meisie in die natuur te gaan bond. Die twee generasies moet gaan stap - op 'n skone staproete by Renosterpoort in die Waterberge, nie ver van Modimole nie. Dis die ideale geleentheid om ons mooie land te sien, die sonskynweer te geniet en nader aan die natuur én mekaar te kom.

Dit sou gaan oor die reis self, nie die bestemming nie. Ek het gedink dis 'n baie diep gedagte en het dit met my medestappers gedeel wat net gesnork het en gesê het ek moet dalk 'n paar aande om die blok gaan stap vir oefening. Ek het die opmerking nie waardig geag nie, dit geïgnoreer en kombuis toe gegaan om te kyk of daar iets soets in die yskas is.

My gees was dus gewillig - eintlik méér as gewillig. Só entoesiasties oorgewillig dat enige gedagte aan die vlees onderdruk is. Die einste vlees wat, om dit sagkens te stel, effens verdag is; dis 'n ewige stryd om die laaste vetrolletjies ná my jongste se geboorte af te skud. Sy is nou vyftien, en vyftien jaar van boerekos en boereporsies het 'n manier om 'n merk te laat.

Anyway. Stap sou ons stap, en bond sou ons bond.

Het ek maar geweet wat vir my voorlê. Ek het so amper daar duskant Modimole, onder 'n rooiwarm Afrika-son en ver van almal, my Heiland ontmoet.

Lang storie kort. Dit was veronderstel om 'n 8 kilometer "medium tot redelik moeilike" stap te wees; maar soos ek agterna gesê het: "se gat". Berg op en berg af, oor rotse en takke en deur dale en slote het ek al stappende geval. Of al vallende gestap. Ek glo nie eens die Voortrekkervrouens sou kans gesien het vir hierdie tog nie.

Ek was nog nooit so na aan my dood nie. Ek het op 'n stadium gedink ek gaan nou onder 'n bossie inkruip en my laaste asem uitblaas. Daar was egter nie eintlik meer asem om uit te blaas nie, en ek het besef ek sou maar net gaan lê en sag heengaan. Wikus moes my vanaf die 2 kilo-merk letterlik van agter stoot en van voor af trek.

Die roete het ook 'n ekstra 4 kilo diversion wat jy kan stap as jy sou wou, en ons het natuurlik ons bes gedoen om dit te vermy. Die geluksgodin het ons egter opgemerk, grynslaggend haar vriendin in die ribbes gepomp en ons reguit in die 4 kilo-paadjie in gelei.

Op 'n stadium besluit ons toe, boggher dit, en donder daar in 'n kloof af om kortpad te vat. Toe ons onder kom, besef ons dis nog kilo's en kilo's na die waterval waar ons sou ontspan voordat ons die laaste maklike kilo terug kamp toe sal "stroll".

Ek het 'n grondpad gewaar en net daar besluit tot hiertoe en nie 'n tree verder nie. Ek het terstond baie hard begin huil (ek kan nie sag huil nie en was buitendien sonder enige hoop). Die arme kinders was teen dié tyd al raadop en hulle is toe padlangs om die kar te gaan haal.

Met die belofte van hulp wat op pad is, het ek besluit om onder 'n bossie in te kruip en te wag vir die dood of die kar, wat ook al eerste sou kom. Ek het nie regtig meer omgegee nie.

Die een uur na die ander het verbygesleep met net myself en die raserige sonbesies as tekens van lewe - 'n flouerige teken in my geval. Net toe ek dink ek begin sien die video van my lewe afspeel - haai kyk, daar is my eerste skooldag! - hoor ek voetstappe. Ek kyk op en sien my eersgeborene voor my staan, sonder sy hemp met die sweetstrome wat hom aftap en sulke wrede bloedhale oor sy rug en arms soos die takke hom beetgekry het.

Die kar se battery is pap.

Ons besluitnemingsvermoëns was teen hierdie tyd aangetas en ons besluit om min of meer in sy voetspore terug te stap kamp toe.

Majestueuse oordeelsfout.

Dit was hel. Eintlik erger - die spul in die hel het 'n koel tyd teen die tyd wat ek gehad het. Natuurlik het my maag ook begin seer word en daar was nie 'n manier wat ek 'n veltie kon doen in die toestand waarin ek was nie. Knyp-knyp en sukkel-sukkel terug was dus my voorland.

Op 'n stadium moes ek by rotse af sonder enige vashouplek en net daar verloor ek heeltemal kop en gaan sit soos 'n steeks donkie en prewel: "Kannie, kannie, kannie." Wikus het my letterlik daar afgetel - hóé weet nie een van ons vandag nie, want hy het op daardie stadium geen energie oorgehad nie.

Ons het die kamp twee ure later bereik, neergesyg en groot winde gesluk soos ons ons aan liters en liters water oorgegee het.

Ek het nie krag gehad om te staan en stort nie en het dit dus sommer so sittende gedoen. Van slaap was daar ook nie sprake nie - my lyf was te seer en ek te moeg.

In die lang, doodse nagstilte het ek besluit om in die toekoms eerder in die veiligheid van die stad, of nog beter, die gemak van my eie sitkamer, met die volgende generasie te bond.



LitNet: 19 Mei 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.