ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Meiringspoort

Dries Brunt, 2005

Daar is plekke in ons land wat 'n mens deur hul grootsheid oorweldig. Berge, vlaktes, klowe en wye horisonne wat op 'n vreemde manier iets in jou bewussyn wakker maak, iets vertel van 'n ver verlede toe oerkragte die land geknie en gevorm het. Op sulke plekke besin jy oor wonders van die natuur en kan jy jou eie voorstellings maak oor hoe die land miljoene jare gelede daar moes uitgesien het.

Meiringspoort is so 'n plek.

Ry jy met die motor van Johannesburg na Kaapstad en net verby Beaufort-Wes, kry jy 'n pad wat links na Oudtshoorn afdraai. Op 'n warm somersdag tril die hitte oor die oop vlakte wat daar voor jou uitstrek en sien jy kort voor lank die buitelyne van die Swartberge in 'n blou wasigheid teen die horison afgeëts.

Miljoene jare gelede was die berge duisende meters hoog, toring sneeubedekte toppe tot in die wolke en vorm hulle die noordelike grens van 'n hoë platogebied waar die Klein Karoo vandag lê. Dit was soos die landskap wat jy vandag by die Himalajagebergte kry met die Tibetaanse hoogland daaragter.

Volgens 'n natuurwet word elke berg, elke hoogtetjie mettertyd deur wind en water tot een plat vlakte afgewerk. Dit is besig om met die Swartberge te gebeur. Eeue se verwering gee die Swartberge die aansien wat hulle vandag het en miljoene jare van nou af gaan dit soos die Karoovlaktes lyk. Met daardie gedagte moet 'n mens vertroud raak. Hoe lank is 'n miljoen jaar? Niemand weet nie. 'n Miljoen rand is maklik, want jy het 'n verwysingsraamwerk. Vir 'n miljoen rand koop jy 'n agterplasie in Houtbaai. Maar 'n miljoen jaar? Wat gebeur in 'n miljoen jaar? Die Swartberge is 250 miljoen jaar gelede gevorm. Die Himalajas is (maar) 60 miljoen jaar oud. In die teenwoordigheid van sulke geskiedenis word jy bewus van jou eie nietigheid.

Jy ry deur die vlakte, by Klaarstroom verby, en by die berg begin jy klim. Nie veel nie, want die pad deur Meiringspoort gaan onder deur, al langs en oor die kronkelende Grootrivier wat deur die poort loop. Van nou af is daar 'n magdom indrukke wat jy moet verwerk, ry jy stadig deur 'n beskermde natuurgebied wat uniek in sy skoonheid en geologiese oorsprong is. Die kranse, verwronge opeenstapeling van gesteentes, toring hoog en ru aan weerskante van die pad, vertoon 'n kleureprag wat wissel van geel tot warm bruin tot blougrys. Die sonskyn skilder die verskillende rotslae elkeen in sy eie kleur en wys hoe hulle deur- en oormekaar lê soos dit in die oertyd gevorm is.

Op party plekke is Meiringspoort amper beklemmend. Hier ervaar jy die kontras tussen die oop vlaktes van so ewe en die engte van die poort waardeur jy nou ry. Langs jou kabbel die water van die Grootrivier. Vandag is die rivier 'n toonbeeld van vredigheid, skep dit 'n prentjie van idilliese rus en lieflikheid. Tog kom die rivier by tye in 'n rasende en verwoestende vloed af wat in die ou tyd die pad talle kere verspoel en selfs totaal vernietig het. Die laaste groot verspoeling was so onlangs as 1996.

By elke draai 'n drif, by elke drif 'n draai, het Langenhoven van hierdie pad gesê, en dit is presies soos dit is. Vyf en twintig laagwaterbrûe gaan jy oor, elkeen met sy eie naam wat jou iets vertel. Wat 'n mens opval, is dat hier nie "VIP's" vernoem is soos wat dit by ander plekke gaan nie. Nee, dis Wasgat, Pereboom, Langstraat, Uitspandrif, en so ry jy deur tot by Spookdrif net voor jy by De Rust uitkom. Tog, nie so vinnig nie! Jy moet darem eers by Waterval stilhou, uitklim, 'n koffietjie drink, die berg en die klowe hier met jou laat gesels en kan jy sommer kyk na die ander skoonheid van hierdie natuurwonder.

Meiringspoort is 'n unieke faunagebied met sy eie mikroklimaat. Hier kry jy rivieroewerplante, bergfynbos,, spekboomveld, tipiese Groot en Klein Karoo-plantegroei en selfs Knysnawoud-fauna, alles bymekaar. Name soos klapperbos, waboom, wildevy, keurboom, kamferbos, vaderlandse rooihoutlepeltjieboom lê sommer lekker op die tong en hulle is, saam met baie ander, hier te sien. Die mees beroemde plantjie wat in Meiringspoort groei, is die wilde malva, moederplant van al die malvas wat in die wêreld se tuine en blompotte groei. Hendrik Oldenland, 'n botanikus, het in 1689 dié blommetjie in hierdie verlate kloof gekry, dit Kaap toe geneem en later is dit in Engeland veredel. Vandag is die malvabedryf die grootste in die internasionale blommehandel.

Vir die voëlliefhebbers is hier oorgenoeg om te sien. Die groot witkruisarend het hier sy tuiste, maar tussen die takke en op die grond skarrel en kwetter die kleingoed. Jangroentjies, bosduiwe, tortelduiwe, rooiborsduifies, kransswaels, Kaapse tiptolle, kwikkies, Karoo langsterttinktinkies, rooivlerkspreeus, Kaapse witogies, witpenswindswaels, rooiborssuikerbekkies, streepswaels, streepkoppies, Kaapse kliplysters. Wag nou! Ekskuus, maar net hulle name is al 'n streling vir my gemoed.

Om by die waterval uit te kom moet jy 'n entjie teen die berg opklouter. 'n Rowwe kliptrap help jou darem. Dié is uitgekap om dit vir sy Koninklike Hoogheid, die Prins van Wallis, makliker te maak om die waterval te besigtig toe hy in 1925 met sy gevolg deur Meiringspoort gereis het. By die waterval is 'n watergat waarin die poort se meermin 'n tuiste het. Legende of waarheid? Dit word vertel dat in die berg, Khoisan-rotstekeninge te sien is van 'n vreemde vis wat soos 'n meermin lyk, dat die mensvis al in die poel by die waterval opgemerk is. Hoekom nie? Plekke soos hierdie moet sy geheime hê.

Herriedrif tussen Witperdedrif en Sanddrif kan jou dalk laat besluit om Langenhoven se boek Sonde Met Die Bure weer 'n slag te lees. Lees jy van die ongelooflike olifant wat die Langenhoven-trek deur die poort neem en 'n spoor van verwoesting agter hom laat.

In De Rust hou jy stil by die Toerismeburo in Schoemanstraat, nommer 29, op linkerhand, waar Delia Booysen werk. Vra haar vir die brosjure "Meiringspoort. A scenic gorge through the Swartberg Range". Die brosjure het mooi foto's en hier lees jy van die geskiedenis van Meiringspoort. Die rol van Petrus Johannes Meiring, wie se nasate nog in De Rust bly; hoe die pad in 1858 gebou is en hoe dit talle kere verspoel; anekdotes en tragedies. Die geskiedenis van die pad is nou verweef met die ekonomie van die Groot Karoo in die vroeë tyd. Wolwaens het deur die poort gery om wol tot by Mosselbaai te kry, vandaar is dit na Kaapstad vervoer en so Engeland toe, Die pad het 'n hoofroete van die binneland na die kus oopgemaak.

As jy jou reis af Kaap toe kan beplan en jy het tyd, is De Rust 'n lekker oorblyplek. De Rust is dié dorp in ons land met die mees toepaslike naam. Bed-en-ontbytplekke is daar genoeg en weer eens kan Delia jou help om inligting te bekom. Haar telefoonnommer is (044) 241 2109. Doen dit eendag. Kry Meiringspoort en De Rust in jou gemoed. 'n Stokkielekker wat nooit opraak nie, eerder meer word.

(Bronne van die De Rust Toerismeburo)



LitNet: 15 Junie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.