ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Letaba ruskamp - Krugerwildtuin

Dries Brunt

Rondawel D53 in die Letaba-ruskamp in die Krugerwildtuin kyk uit oor 'n oop stuk tuin wat soos 'n park voor jou uitstrek. Is daar so iets soos 'n tuinpark? Nou ja, as daar nie is nie, is daar nou, besluit ek. Tussen die bome deur, soos in 'n tonnel, sien jy die oorkant van die Letabarivier, 'n strepie geel sand, 'n rits bome en blou lug bokant. Rus is hier maklik bekombaar (hel! dis waarvoor ons hier is!), maar die ander loop rond. Suster Anita seker met die voëlboek byderhand, want dié wil voëltjies identifiseer. En bome! Daar is mos mense wat alles wil weet en sy is een van hulle.

Ek sit op die stoep, my bene uitgestrek en voete op die muurtjie. Kyk. Verwonder my aan die wilde vyeboom wat op linkerhand staan. (Ficus Sycomorus, sê Suster, wat gister al sy naam, spesie en geslag nagespeur het.) 'n Enorme boom met 'n gladde, vaalkleurige bas wat lyk of dit soos dik stroop afgeloop het; dik spiere bult waar elkeen in die grond vashaak.

Onder die blaredak van die tuinpark kyk ek deur die tonnel na die skerp lig wat anderkant die bome oor die rivier lê. Teen die lig sien ek 'n njala-bokkie wei en staan daar twee rusbanke, swart afgeëts langs die rivieroewer. So nou en dan loop mense verby en daar sit juis nou twee kinders op die een bank. Voor my, net anderkant die rondawel se stoep, staan die tafel wat ons gisteraand uitgedra het met die tafeldoek nog op.

"'n Mens eet nie aan 'n ongedekte tafel nie," het Suster aangedring en nou lê die wit-rooi geruite lap half vreemd en steurend in die groen-goud landskap voor my. Om die tafel staan die stoele soos ons dit gisteraand gelos het.

Dis alreeds warm, al is dit nog maar tien in die oggend. Die koue Hansa help darem om die sluimering wat my wil-wil bekruip, op 'n afstand te hou. Die tuinpark is wasig van die hitte. Skadu en goud lê in kolle voor my op die gras en in die sonstrale wat deur die blare filtreer, dans duisende muggies. In skakerings van groen en geel, oor en deurmekaar soos in 'n impressionistiese skildery van Seurat, lê die tuinpark. Verder weg, by die tonnel uit, is die kleure skerper geskei, lê geel en groen en blou in afgemete vlakke soos in 'n abstrakte kunswerk.

Ek staan op, en om my bene te strek, loop ek van die stoepie af tot in die tuinpark. Orals kwetter voëltjies en ek wonder of dit lekker sal wees om hulle nader te lok. Met 'n stuk brood in die hand gaan sit ek by die tafel en begin krummeltjies uitstrooi. Vinniger as in Hansie en Grietjie se bos kom sak die voëls uit die bome en pik waar ek gooi. Glansspreeus, grysloeries, neushoringvoëls en 'n menigte wat ek nie ken nie, skarrel binne oomblikke om my. Tog, 'n mens is nooit tevrede nie, nè, en ek sit 'n paar krummeltjies op die tafel net voor my – wil die spannetjie van naby bekyk. Spreeu se kind, brutaal soos spreeus is, is gou by, maar die ander is huiwerig. Lyk te veel na 'n lokval, dink hulle seker.

Tussen al die gedoentes kom sit 'n piepklein voëltjie met 'n oranje-rooi koppie voor my op die tafel en kyk skuins na my toe op. Sies tog, dink ek. Word seker deur die ander verwilder as hy ook iets wil pik en nou kom soek hy beskerming. Ek sit 'n paar krummels op my broek en daar spring kleintjie van die tafel af op my knie. Ek verbeel my hy piep "dankie" en begin pik. Rooikop vink, dink ek en sien hoe fyntjies hy geteken is, hoe grasieus hy beweeg; bekyk sy mooi kleure. Dis soos om 'n ou vriend in 'n besige straat raak te loop; ek en die vinkie. Nou gaan my gedagtes oor mens en dier: hoekom 'n vinkie tederheid by my opwek en ek die spreeus sommer wil voetsek. Jy plaas menslike eienskappe oor, dit weet ek. Die brutale gedrag van spreeus, hul lawaaierige en astrante vertoon, teenoor die skamerige houding van Rooikop is mos dieselfde wat jy om jou tussen mense gewaar.

"Hallo Rooikop. Hoe gaan dit? Is die kossies lekker?"

Rooikop steur hom nie aan my geselsies nie; is te besig. Ek begryp en gun hom sy oomblik van rustige, ontspanne aansit.

Kort voor lank kom die ander aangestap.

"Appelblaar!" roep Suster van ver en ek wonder wat nou aan die gang is.

"Waarvan praat jy, Suster?" vra ek, want ek kan nie dink dat ek mooi gehoor het nie.

"Wat bedoel jy met ‘appelblaar’?"

"Daardie boom, swaer Dries." Sy wys na 'n boom wat 'n entjie af in die tonnel staan. "Dis 'n appelblaar. Lonchocarpus capassa."

"Wraggies," sê ek.

Met hulle aankom het Rooikop weggevlie en is ek nou weer op menslike vlak teruggebring.

"Daar's vyf olifante in die rivier," sê Suster. "Kom saam dan wys ek jou waar hulle wei."

"Nee dankie, Anita. Ek sit lekker hier."

"Wil jy nie gaan kyk nie?" Daar is verwondering in haar stem.

"Ek sal jou sê wat ek wil doen. Ek wil nog 'n koue bier oopmaak en rustig hier onder die Fikus Sakkasomething se skaduwee sit."

"Ficus Sycomorus, Dries. Jissie, as almal soos jy is, sou mense nou nog in grotte gewoon het. Wag op weerlig om 'n vuurtjie aan te steek."

"Dis reg, Suster. Miskien sou die wêreld 'n beter plek gewees het."

Suster trek haar skouers op en verdwyn in die rondawel langsaan ons s'n; los my waar ek is.

Al my voëlvriende is nou weg. Selfs die spreeus het verskrik in die bome gaan skuil en waar Rooikop is, kan ek nie eers raai nie.

Alles het skielik anders geword in die tuinpark. Die magiese vertoon van kleurespel, die flonkering van groen en goud, en die bokkie wat netnou nog hier gewei het, is weg; plek gemaak vir gewone bome en gras.

Nou raak ons stoepie vol. Almal kom vanoggend hier sit om tee te drink en planne vir die res van die dag te bespreek.

"Daar's 'n trop buffels net so 'n entjie noord van die kamp," sê Jan.

"Die vrou langsaan het gehoor van leeus wat 'n kameelperd platgetrek het, net tien kilo's hiervandaan," sê suster Anita.

"Iemand nog tee?"

"Wat van Satara? Ons moet nog soontoe gaan."

Die gesprek raak deurmekaar. Dit is groot diereskouspel wat hier bespreek word.

"Olifante?"

"Nee hel, man, ons het genoeg van hulle gesien."

Uiteindelik stem ons saam: ons gaan die res van die dag deurbring by Orpendam net oos van Satara.

"Pak 'n mandjie."

"Moenie koeldrank vergeet nie."

"Gaan jy saam, Dries?"

"Natuurlik, Suster, gaan ek saam. Kan nie wag nie."

Ag, ou Rooikoppie. Sal ons mekaar weer sien?





LitNet: 26 Julie 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.