ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Om weg te glip

Nadia de Kock, 2005

Hoe leef mens 'n draaglike lewe sonder verbeeldings- of werklike reise?

My eie verbeeldingsreise word aangewakker deur die stapels boeke wat my omring. Die alledaagse sleur in 'n steriele omgewing tussen roomkleurige mure, ligblou meubels en grys kaste word opgehelder deur berigte van wonderlike plekke en meesleurende stories van mense wat dinge doen wat jy maar net wens jy kon.

Op die omslag van Niall Williams se liefdesverhaal getiteld As It Is In Heaven is daar 'n verlate huisie. Die resensie lê voor my bed; dis die laaste ding wat ek gisteraand gelees het. "Die poëtiese taalgebruik asook die ondertoon van magiese realisme in hierdie boek beïndruk," sê die resensent. Ek is nie seker wat magiese realisme is nie, maar dit klink vir my slim, en … wel … magies. En ek wens ek was in daardie windverwaaide huisie op die Ierse kus saam met die "skaam protagonis" en die bedwelmende, besoekende violiste.

In Joanne Harris se Jigs and Reels-kortverhaalbundel is 'n foto van haar met donkerbruin hare, kersierooi baadjie en oë wat slim blink. In die eerste storie tel ek saam met Mr Leary die lotery-wenkaartjie in 'n Yorkshire-straat op, maar kort voor lank is ek saam met hom op die Eiffeltoring, vanwaar hy binne oomblikke met groot presisie sonder vlerke gaan afduik. Daarna ontsnap ek saam met twee ou tannies uit die ouetehuis Londen toe, op soek na 'n kopie van Lolita en 'n paar rooi stiletto's. My asem jaag van opwinding oor al die eienaardighede om my, maar die skrywer lag net en skud haar lang hare: "It's only dancing!"

Hierna maak ek 'n AC Grayling-filosofiebundel oop en beskou die aantreklike skraal outeur op die binneblad. Ek wens ek kon saam met hom onder hoë bome in sy Oxford rondstap en inkyk by groot, verligte vensters na rakke vol boeke met indrukwekkende titels in fluweel-en brokaat-studeerkamers. Hy sal sy tweedbaadjie aanhê en met sy hande agter sy rug gevou stap, wysvingers teen mekaar. Wat sal hy te sê hê oor die liefde? Ons sal seker oor die filosofie daarvan praat, en nie die temerige emosionaliteit nie.

Daar is parallelle tussen ontsnap deur fiksie en ontsnap deur reis. Ons lees om weggevoer te raak van die vervelige, banale of tragiese. Ons reis om dieselfde redes.

As jong kind het ek hierdie ontsnaproete deur boeke vroeg ontdek, en is my entoesiasme aangevuur deur die reeks boeke wat my pa kort na my tiende verjaarsdag by 'n deur-tot-deur-verkoopsman gekoop het. Terwyl my sussie elke middag na skool buite onder die lukwartboom op haar battery-orreltjie met die gekleurde note sit en speel, reageer ek op die Kinders van die Wêreld-verkoopsman se uitnodiging om "met hierdie maats in verre lande kennis te maak". Hier is fiksie en feite oor verre lande gekombineer; ek was verslaaf.

Die verkoopsman was skaars by die deur uit of ek begin die donkergroen boeke met hul swart-en-wit foto's verslind: die eerste "verre maats" wat ek ontmoet, is Viktor en Natasja, broer en suster wat in Moskou woon. Natasja is veertien jaar oud, maar lyk ouer omdat sy so groot is, sê die boek. Die Russe is vriendelik, maar trek glad nie mooi aan nie en gaan selfs strand toe in gestreepte pajamas. Almal is darem skoon, verseker die boek my. In 'n Moskouse park gly Viktor in 'n lang sneeutonnel af, onder 'n vet sneeuman deur wat blykbaar soos Sinterklaas lyk. Later vind ek uit dat Sinterklaas eintlik maar Vader Krismis is.

In Joego-Slawië hekel en borduur alle vroue pal, berig Kinders van die Wêreld. Voor my geestesoog sien ek rye hekelende en bordurende vroue in wit bolrokke deur Joego-Slawiese stede loop. Hulle oë is vasgenael op hul naaldwerk, en hulle praat oor kinders met name soos Jatska en Josip.

En dan is daar Haraldur, die tienjarige Yslander met woeste Wikings as voorsate, wat in sy wit t-shirt en swart tights in die balletklas, waarvoor hy self met sy koerantgeld betaal, staan. Al het hy 'n borselkop en groot voortande, lyk hy nietemin heel mooi in daardie tights. Vandag dink ek Haraldur sou 'n groter impak op my gemaak het as hy in kleur was.

Soms sit ek die boeke neer en gaan speel met my karretjies onder die lukwartboom agter die huis. My sussie kom sit langs my met die orreltjie tussen haar uitgestrekte maer bene. Sy speel "Skater's Waltz" terwyl ek figure eights met my rooi Cortina trek en dink aan die grote Natasja. Sy skaats al in die rondte, soos die buitenste skilpop, maar met 'n grynslag, en haar Russiese maats is om haar om haar regop te hou.

Vandag wonder ek hoe Natasja sou voel as sy in háár Kinders van die Wêreld sou kyk na 'n foto van twee dogtertjies van Suid-Afrika wat onder 'n boom in die stof sit en speel. Die grootste dogtertjie trek 'n karretjie rond, die ander een sit en kyk in die lug terwyl sy met een vinger op 'n orreltjie tokkel. Ek wonder of Natasja sou wens sy kon wegglip na ons toe? Ek vermoed sy sou.



LitNet: 19 Mei 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.