ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Clarens, Jaco Botha en die bedreiging van verstedeliking

Vincent Pienaar, 2005

Clarens is een van daardie plekke waar 'n geroeste slot en ketting om die voorhekkie nog as 'n “sekuriteitsmaatreël” beskou word – en dit is by 'n huis wat slegs twee of drie aande per maand bewoon word. By Lilliput House – 'n sjarmante klein vuurhoutjiebokshuisie met 'n enkele woonkamer onder en 'n reusagtige slaapkamer met 'n hemelbed bo, staan twee state-of-the-art fietse die hele nag voor die voordeur – en hierdie huis het geen heining nie.

Eddie se Crèche is anders. Dit het sekuriteit Jo’burg-style: 'n palisssade-omheining, 'n elektriese hek, 'n prentjie van 'n bloeddorstige hond en 'n bloeddorstige sekuriteitsmaatskappy se logo prominent uitgebeeld. Terwyl dit in die stad aanvaarbaar is, ervaar ek dit hier as onnatuurlik – afstootlik eintlik.

Ek kan nie help om aan die boodskap van Jaco Botha se roman Miskruier te dink nie: omdat dinge vandag redelik okay is, beteken dit nie dat dit môre nog so gaan wees nie. Die Afrikaner (en seker maar die mensdom oor die algemeen) het 'n eienskap wat hom laat glo dat daar wel “voor in die wapad 'n lig brand”, maar Botha se boek beeld die onheilspellende werklikheid uit dat omstandighede, soos die klim van die spreekwoordelike ghriespaal, treetjie vir treetjie beter word en bloedstollend vinnig agteruit kan gaan. Te min plek, te min kos, landsbestuur in onbekwame hande, en 'n wêreld kan soos 'n kaartehuis inmekaar tuimel. Onlangs het ek hom gevra of hy deur werke soos Harry Harrison se Make room! Make room! of George Orwell se 1984 beïnvloed is en hy is nie seker nie, maar Miskruier is realisties en goed geskryf, en 'n donker hoekie in my brein vra knaened die vraag: Wat sal gebeur as hy reg is?

Dit is nie my eerste besoek aan Clarens nie.

Gedurende my vorige besoek is ek betower en ek het myself 'n geheime doelstelling gegee om met hierdie besoek te probeer vasstel wat dit is wat hierdie Oos-Vrystaatse dorpie so besonders maak. Ek weet tog immers wat dit nié is wat my so laat voel nie. Dit is byvoorbeeld nie die berge nie. Die Golden Gate, net 'n paar kilometer in die rigting van KwaZulu-Natal, is majestueus, maar niks meer indrukwekkend as die pad van De Doorns af in die Hexriviervallei in nie. Clarens lê aan die voet van Berg Horeb en die uitsig oor die dorpie maak die voetslaan na die kruin die moeite werd, maar dit is nie meer asemrowend as die uitsig oor Groenpunt van Seinheuwel af nie.

Debbie Marx, die dame wat saam met haar man Bruce die suksesvolle omskepping van die Posthouse in 'n restaurant onderneem het, het ook Lake Clarens, 'n gastehuis oorkant 'n dammetjie omtrent 'n kwart die grootte van Emmarentia Dam, gebou.

“Is die naam Lake Clarens nie 'n bietjie te grand nie?” wil ek weet.

Sonder om op te kyk van haar ontbytvoorbereidings af, antwoord sy: “Jy stel seker nie voor dat ek dit Dam Clarens moes noem nie.”

Nee, dit is ook beslis nie die water se betowering nie en ek besluit dat dit meer as die natuurskoon is wat mens hier laat saamstem met die digter wat gesê het “A day in the country is worth a week in the city.”

Ek hou my reisvriende versigtig dop en ek kom gou agter aan hulle houding hoe gemaklik – amper gretig – hulle winkeltjie na winkeltjie inslenter. Clarens se uniekheid, besef ek, lê hier in die omgewing van die dorpsplein.

Dit lyk soms of reusegevolgtrekkings gemaak word oor nasies deur reisigers se ondervindings met kelners en winkelklerke. Die norse Franse kelner word dadelik as “tipies Frans” beskryf, die Ierse kelner wat oulik grappies vertel, propageer die geloof dat die Iere sjarmant is, ens, ens, en nogmaals, ens.

Hier in Clarens is dit opvallend dat baie van die winkels, die oorgrote meerderheid lyk dit my, deur die eienaar self bedryf word. Dit is net by enkele winkels wat die verveelde klerk jou aankyk om te sien of jy iets gaan koop en (dink ek, sinies) of ek miskien iets wil steel – en wanneer dit blyk dat ek nie een van die twee gaan doen nie, is ek dadelik nie meer van belang nie. Maar by die meeste winkels is dit die eienaar, of iemand wat soos die eienaar lyk, wat wil weet of jy geholpe is, en kry jy die gevoel dat hulle regtig belang stel en nie net 'n ander manier soek om uit te vind hoeveel geld jy gaan spandeer nie.

By The Bibliophile kan jy na 'n groot verskeidenheid klassieke boeke kyk terwyl Tony Bennett sing hoe hy sy hart in San Francisco gelaat het. Die oorspronklike eienaar, 'n man wat jare gelede sy werk in Johannesburg by 'n drukker opgegee het om hierdie boekwinkel oop te maak, is onlangs oorlede en nou bedryf sy vrou, Debra Stewart, dit. Dit lyk of die tradisie van The Bibliophile behoue gebly het. Terwyl die boeke nie besonders in 'n spesifieke groepering inskakel nie, is dit alles hoëgehalte-leesstof. Die ou man het op 'n vorige besoek sy seleksiekriteria aan my verduidelik: “I stock the books I like,” het hy gesê.

By die winkel wat tuisgemaakte skoene verkoop, sit 'n rustige dame agter die toonbank en luister na Leonard Cohen-musiek omdat dit sy verjaarsdag is. Sy bespreek haar Portugese Waterhond se geskiedenis en roep die hond buite toe sodat ek saam met haar (die hond, nie die dame nie) afgeneem kan word. “Dis die mees gefotografeerde hond in die wêreld” noem sy terloops wanneer die dier verveeld wegdraf soos 'n filmster wat besluit het dat die photo opportunity nou verby is.

By die drankwinkel knoop ek 'n gesprek aan met 'n hondjie en word deur die winkeleienaar vertel dat hy Jackie heet (die hond, nie die man nie). Hy het twee van hulle, vertel hy my en ek vra of die ander een se naam miskien Russell is. “Jy’s reg,” erken die man trots: die twee Jack Russelltjies is gestraf met die name Jackie en Russell. Dit lyk nie of hulle omgee nie. Die een snuffel lekker in die gras rond, die ander pas die bakkie op deur uitgestrek op die sitplek te lê. Ook hulle word gefotografeer.

Miskien kan 'n mens by Johann Smith se kunsateljee die essensie van Clarens ontdek. Smith, wat as landboukundige gekwalifiseer het, het gou in sy lewe besluit dat hy wil skilder en hy is die man wat daardie bekende hemelkleure wat verander van wit na donkerblou optower met sy Oos-Vrystaatse landskapskilderye. “Seker air-brushing,” sê my vriend, maar ek is nie so seker nie. Eerstens dink ek dit sal verneuk wees en tweedens dink ek dat dit te egalig is. My vriend hou nie van die populierbome wat op omtrent al die skilderye is nie. Ek dink egter dit is juis hoekom die man se werk so besonders is en soos twee wafferse kunskenners praat ons oor die konstruksie van die werk. Die dame by die lessenaar glimlag vir my en ek is nie seker of dit van vriendelikheid is en of sy sommer net vir die twee omies lag nie.

Dis okay, dis Clarens, dis Woensdag, die Augustuswinde het soos altyd weer in September gekom, en die koel briesie laat my vergeet van die warm son. Hier voel ek tuis.

Tien minute later sit ek met 'n Castle in my hand by die buitetafel van 'n restaurant en wonder of ek iets vir middagete moet bestel en ek voel nog meer tuis. Ek staar na 'n water feature wat gemaak is uit 'n geroeste vuurkas (? boiler as jy nie die fancy woord ken nie) met groot geroeste krane wat water in 'n staalbak instort. In Johannesburg sou hierdie kunswerkie die taak gehad het om die klank van die verkeer en die doef-doef van bas-versterkers in Mazdas met oop vensters te verbloem. Hier, op die platteland, is dit natuurlik nie nodig nie.

Of is dit …?

'n Diep gerommel wat my herinner aan die dae toe Buddy Fuller nog by Wembley Stadium hotrods gejaag het, kom van onder uit die vallei uit soos 'n voorbode van iets angswekkend wat nader sluip, dan verskyn my nagmerrie in die pad voor my. 'n Harley Davidson cruise verby; so naby dat ek die selfvoldane belangrikheid in die oë van die man in swart biker-klere sien wanneer hy met 'n “Wat sê jy nou!?”-glimlag by my verby ry. Hy lyk presies soos Marlon Brando in Rebel Without a Cause. Wel, amper presies. Sy pens is te groot vir sy leerbaadjie, sy baard is te grys vir 'n ducktail en die fiets is so blink dat jy weet dat hierdie voorwerp tot laat in die nag speek vir speek gespit en gepolish is.

Harley Davidsons en hulle eienaars is die hadidas van die grootpad; hulle lyk prehistories, hulle kan nie beweeg sonder om geraas te maak nie, en hulle is nooit alleen nie. 'n Minuut of twee later en 'n trop Harleys staan die dorpsplein vol en dis nie lank nie of die stil plekkie waar ons sit, is toe onder motorfietstoebehore: helmets, baadjies, rugsakke, boots, skoonmaakgoed, mosdoppies met Kaiser Wilhelm-punte, en die simbool van die Harley ryer: die bandana van symateriaal, wat afgehaal word en versigtig oor 'n stoel gedrapeer word.

Die dae van die Hell’s Angels is agter die rug en ek is nie bekommerd dat iemand my skielik voor die bors gaan gryp en “Wat kyk jy!?” met 'n bierasem in my gesig gaan uitspoeg nie. Buitendien, hierdie is nie regte bikers nie, regte bikers ry Italiaanse of Japannese fietse. Hierdie is ouer mense wat biker-biker speel. Die gesegde is mos dat jy die Harley verniet kry – dit is die lidmaatskap van die klub wat R150 000 kos. Dit is net dat hulle verskriklik baie plek opneem en die restaurant is skielik vol.

“Hoe lank kan dit vat om 'n hamburger te kry?” vra 'n man met 'n kopdoek en kyk rond vir die kelnerin.

Ek wonder of hy iets soek om te eet en of hy 'n intellektuele debat probeer bewerkstellig. Miskien wonder hy of die bediening van 'n hamburger ontwikkeling aandui: “Forty-five-seconds-or-your-money-back” as jy by die McDonald’s Drive-thru is, sestig sekondes op high as jy die Woolworth’s-wegneemitem in die mikrogolf druk, en tussen tien en twintig minute as jy en dertig maatjies sonder waarskuwing op 'n rustige eetplekkie in die Oos-Vrystaat toesak.

Ons beweeg oorkant die straat na die Posthouse toe en bestel 'n toebroodjie, en aangesien Mabel, die kelnerin (? besonder lang vrou vir 'n Sotho) dit aanbied, 'n ietsie om te drink.

Die bikers is nou aan die anderkant van die straat en, ja, distance does improve the view. Ek voel dadelik beter. Totdat ek die logo op die sonsambreel oor my kop sien: Clarens Trout and Golf Estate, lees ek.
'n Agtien-putjie-gholfbaan met 150 huise is geproklameer en bouwerk begin een van die dae.

Was dit Oscar Wilde wat gesê het “Golf is an excuse to ruin a walk in the park”? Miskien so, maar 'n gholfbaan is nog al die tyd 'n park – en dit is nie so maklik om daardie soort park te vervang met, byvoorbeeld, 'n blok woonstelle nie, en ek het nie regtig 'n probleem met die gholfbaan self nie.
Maar ek wonder, terwyl ek kyk na die straatjie voor my met sy kunsgalerye, restaurantjies en curiowinkeltjies, hoe lank dit neem voordat die Steers franchise op die hoek van die stadsplein uitslaan. En dit sal – ter wille van kompetisie – verkeerd wees as McDonald’s nie op die ander hoek kan bou nie. En wat van die DVD-winkel, die Land Rover-handelaar, die disco en die pool parlour met 'n jong man met donker shades wat met sy hande in sy sakke rondloop – naby genoeg ingeval een van die jongetjies 'n behoeftetjie het om te bevredig?

? Wyse vriend met wie ek oor hierdie dinge praat, voel dat die kultuur van 'n plek die soort ontwikkeling bepaal. Hy dink mense koop 'n huis omdat hulle van 'n seker soort ambience hou en dus bly dit behoue.

Ek is nie seker dat ek saamstem nie. Jare gelede toe Kyalami Estate reg langs die renbaan gebou is, was een van die eerste aksies van die gemeenskap om te kla, en nogal venynig ook, oor die geraas van die renmotors!

Ons stem saam dat wat voorheen as Rivonia Village bekend gestaan het, nou 'n buitelug-inkopiesentrum geword het. Dit het oor 'n periode van jare gebeur, stem ons saam, en wonder of, aangesien ontwikkeling nie vermy kan word nie, dit behoorlik bestuur moet word.

Ek het op 'n vorige besoek aan Clarens toevallig 'n interessante gebeurtenis gesien … Dis Sondagoggend en ek stap langs die rivierbed wanneer 'n lugperspomp (dis 'n compressor, as jy nie weet nie) skielik die stilte aan flarde skeur. 'n Industriële, dieselaangedrewe binnebrandenjin sonder klankdemping in die middel van 'n bouterrein kan mens bangmaak, maar in hierdie Sondagoggend-dorpie is die klank angswekkend. Toevallig kan ek van 'n distansie die huis sien waar die masjien staan en rook en desibels uitblaas. Na 'n minuut of twee verskyn 'n man in 'n pak klere by die huis. Die dame wat uitkom is chic, die donker wrap-around donkerbril wat haar oë totaal versteek, 'n smaakvolle gebaar. Uit die manier waarop die man na die kerk wys, kan ek sien dat hy vir haar aandui dat daar 'n diens aan die gang is. Uit haar armswaaiery is dit maklik om te sien dat sy verduidelik dat dit nie haar probleem is nie. Later loop ek naby die huis verby en sy en haar honde is op pad, twee pragtige diere so groot soos Great Danes agter in die Land Rover. Ek begin met haar praat oor die honde, maar sy wil oor iets anders praat: “Kan jy glo dat iemand my vertel om die compressor af te skakel net omdat dit Sondag is? Weet hy nie hoeveel dit kos om die ding vir 'n naweek te huur nie!?” Sy lyk trots. Die honde lyk vriendelik. Ek lyk doodstil.

Ek besluit dat ek nie hierdie storie aan my vriende saam met wie ek op die stoep van die Posthouse sit, gaan vertel nie, want dit is nie daardie soort dag nie. Skielik spring die Harley-manne op en, asof per militêre bevel, rommel hulle in die straat af. 'n Minuut later is hulle weg en die dorpie herstel soos 'n platgetrapte grasperk na 'n rugbywedstryd – asof hulle nooit hier was nie.

Laatmiddag staan ons so twintig kilometer buite Clarens by Surrender Hill met 'n glasie Nederburg Cuvee Brut vonkelwyn in die hand en kyk na die sonsondergang wat die sandsteen van grys na blou na pienk laat verander en drink 'n heildronk op vriendskap, die derde of vierde keer wat ons dit op hierdie heerlike dag doen. Ek word herinner aan die 1961-rolprent, The Magnificent Seven (wat meesal deur kritici uitmekaar geskeur word omdat dit op die Japannese storie The Seven Samurai geskoei is). Aan die einde sê die ou man vir Yul Brunner (so min of meer): “Only the farmers won. The locusts come, and the farmers carry on, the droughts come and the farmers carry on …”

Miskien is die mense van Clarens soos die boere in die fliek. Hulle oorleef en ons is soos die cowboys – ons is net 'n rukkie daar. 'n Jaar of twee van nou af sal ons beter weet.


Meer oor Clarens
http://www.clarenstourism.co.za/

Meer oor Miskruier van Jaco Botha
Jaco Fouché se resensie op LitNet
http://www.dekat.co.za/leftlinks/dkw/dkw_inhoud/miskruier.htm

Meer oor die Clarens Golf and Trout Estate
http://www.platinumplanet.co.za/TheClarens/theClarens/

Meer oor Harley-Davidson
http://www.harley-davidson.com

Meer oor Surrender Hill (op Kanadese historikus John Goldi se meesterlike webwerf)
http://www.goldiproductions.com/BoerWar_Museum/Boer9a_relics1.html





LitNet: 20 Desember 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.