ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Van Gogh Museum – Amsterdam

Dries Brunt

Met besoeke aan museums moet ’n mens versigtig wees, moet jy eerstens besluit of ’n bier op ’n sypaadjie in Amsterdam nie dalk ’n meer bevredigende tydverdryf is as om jou voete deur kamers vol kunswerke te sleep nie. Tog, ’n besoek aan die Van Gogh Museum kan jy nie verruil vir ’n Heineken, selfs op die mooiste somerdag van die jaar, nie.

Vandag wil ek my kop skoon kry oor Van Gogh – Van Gogh die mens, om meer presies te wees. Vandag wil ek probeer om iets te wete te kom oor hom, aanvul wat ek in boeke gelees het deur na hom te kyk, hom in die oë kyk!

By die deur kry ek al die selfportretposkaarte wat daar te koop is en gaan sit om hulle chronologies agtermekaar te kry. Daar is nogals baie en die pakkie kaarte kos my ’n klein fortuin.

Oor portretkuns het ek al heelwat gelees. Ek weet dat Jan van Eyck, ’n Vlaamse kunstenaar uit die Middeleeue, as die grootste portretskilder ooit beskou word. Sy portrette is karakter-meesterwerke; hy vervolmaak die kuns om geestelike én persoonlike eienskappe van die persoon wat hy skilder, op gelaatsuitdrukkinge oor te dra.

Wat lees ’n mens in Van Gogh se selfportrette? Ek bekyk die poskaarte, beweeg saam met die mense langs die uitstalling verby, staan lank stil voor portrette wat daar hang, en kyk die meester in sy oë.

Sy lewe is bekend, sy geestestoestand nagevors en uitgepluis in duisende artikels. My besoek en hierdie stukkie skryfwerk gaan dus niks nuuts bydra nie, gaan slegs ’n persoonlike belangstelling bevredig, ’n emosie ter ruste lê.

’n Vroeë portret geskilder in 1885, vyf jaar voor sy dood, toon ’n rustige mens. Hy is geklee in werkmansklere, dra ’n welige baard, effens slordig geknip, en rook ’n pyp. Hy kyk kalm uit die doek na my, sit daar tevrede en beskou my met ’n uitdrukking van toegeeflikheid en vriendelikheid. By die eerste kennismaking wys dit nie dat hy toe al, op 35, ’n lewe van ekstreme swaarkry en emosionele lyding agter die rug het nie. Ek dink, mooi Vincent, jy het jou berus by wat in jou lewe gebeur het, nou is jy uiteindelik op die pad waar jy nog altyd moes gewees het: die kunstenaarpad. Ek voel goed, gun hom die rus wat hy nou geniet.

Tog, kyk weer, en die swaarkry is te sien; dit kon hy nie wegsteek nie. Hy lyk eintlik oud, sy gesig plooierig, vir sy jare. Dit val my op dat, hoewel hy toe al verwronge en half mismaakte gesigte soos in “Die Aartappeleters” skilder, hierdie portret vrede en waardigheid uitstraal. Ek sien in sy oë ’n effense onrustigheid, ’n byna onnatuurlike penetrasie, asof hy wil sê: "Ek het nou lank genoeg so gesit, ek moet aangaan met my werk." Die oë verraai spanning, angs (?); met ’n paar penseelstreke beeld Vincent in hierdie oënskynlik rustige portret iets van die drama van sy lewe vorentoe uit.

Kort daarna vertrek hy na Parys. In ’n volgende portret staan hy netjies aangetrek met baadjie, boordjie en das, kyk hy na my met ’n fierheid wat byna uitdagend is. Sy baard en hare is netjies geknip, sy hoed sit windmaker skeef op sy kop. Vincent se skilderstyl is nou kleurvol en vermetel ekspressief, wat hom in die kunskringe van daardie dae ’n lagwekkende bespotting maak. Die gesig is smal, skerp uitgebeeld teen ’n liggekleurde agtergrond. Weer eens is dit die oë wat my aanspreek: "Hier is ek, wat dink julle van my?" sê hy.

Wat hulle van hom dink, wys hy in ’n volgende portret. Hy kyk verwilderd; in sy oë glinster ’n skynsel van ongemak en wantroue. Nie heeltemal wanhoop nie, maar tog ’n opsommende kyk, ’n kyk wat sê: "Wat de hel maak jy hier? Gee pad dat ek kan aangaan met my werk." Sy baard is rof, die mond half oop, linkerwenkbrou effens opgetrek. Hier is nie plek vir deernis nie. Hier is uitdaging, karakter en wilskrag om sonder toegewing kuns te skep presies soos hy dit wil. Tog wys die portret swaarkry, die emosionele las van verwerping. Sy wange is vlekkerig, plooie lê diep langs die mond, en die ken wys, ten spyte van die baard en die kleurvermenging met die agtergrond, swak, half teruggetrek, die oop mond, vogtig en papperig.

’n Volgende portret, in 1887 geskilder, wys die eerste keer duidelik verontrustende tekens. Die agtergrond is met blou sirkelvormige swaaie geskilder, wat met sy jas en bolyf in dieselfde kleure meng. Die gesig, in die middelpunt van die sirkels uitgebeeld, skep die indruk dat dit in ’n draaikolk vasgevang is; kort penseelstreke wat van die kant van die wange sirkelvormig tot by sy neus ineenloop, versterk die beeld. Die oog van die storm! In teenstelling met die agtergrond is die gesig staties, die oë wyd oop, staar by my verby, kyk na iets in die verte. In die portret is daar ’n doodsheid, ’n gevoel van onbetrokkenheid, sê hy niks.

Dan, in 1888, sien ons Vincent van Gogh aan die werk. Hy sit voor sy esel, en met pensele en palet in die hand kyk hy na die skildery waaraan hy werk. Hy lyk ernstig; ’n effense frons wys die konsentrasie waarmee hy skilder. Hier is ’n vakman aan die werk, die meesterskilder wat, ten spyte van totale verwerping, weet dat sy kuns tydloos is. Hy straal selfvertroue uit, die laaste portret waar hy in beheer van homself en sy werk is.

Sy selfportret as ’n Boeddhistiese monnik, later die jaar gedoen, wys ontbering sowel as selfversekerdheid. Die vel, strak oor sy wangbene getrek, is dié van ’n uitgeteerde, verhongerde mens. Die wangbene is prominent en die lippe geswolle. Die kraag van die monnikgewaad is styf om sy nek gevou, wat die indruk skep dat sy hoof van sy liggaam geskei is. Tog is daar trots en weerbarstigheid. Die oë kyk half uitdagend en die houding van sy hoof, effens agteroor, skep die indruk dat hy my opsom, my vanuit die hoogte bekyk. Ten spyte van die voorkoms wek die portret nie simpatie nie. Dit is veel meer ’n statement van innerlike krag. "Ek kan dit vat," sê hy. "Julle kan my verwerp en belaglik maak; ek gee nie om nie."

Vroeg in 1890 skilder hy ’n portret waarmee hy sy dood aankondig. Dit is geskilder as ’n geestesverskyning uit die doderyk, ’n dooie mens wat met dooie oë soos dié van ’n mummie na my staar. Die mond is weggesak, die gesigspiere geatrofeer, en die vel oortrek met bruin vlekke, wat die indruk skep dat ontbinding reeds begin het. Geen emosie in die oë nie, behalwe miskien ’n effens listige, amper vermaaklike uitdrukking. Wat kan ’n mens daarin lees? Sou hy geweet het? Die portret vertel dat Vincent begin dink aan dood as ’n oplossing vir sy rustelose bestaan.

Vincent

You lit the night sky of our being,
As stars light up the fields and country roads,
Of your warm summer evening paintings.
Diamonds splashed on coarse linen,
And blue trees casting swirling shadows.
Wind-driven motion, rousing rigid souls.

You put the light of sun inside us,
The rising sun over ploughed fields,
Awaiting to give birth to life.
A thousand suns reflected in the seeds
You sowed abundantly on rough tilled earth
Ready to return in bounty the labour of your hands

You made us look at life in wonder,
Unlocked the hidden riches of our souls.
And freed the slumbering spirit of discovery.
The world we live in changed forever.
Shaped by the power of your vision,
We have become travellers on a strange and wondrous road.

Don McLean, 1971

Die museum maak toe en ek stap uit. Die hitte van die dag hang nog oor die stad, weerkaats van die straat af op. Nou het ek ’n tydjie nodig om te heroriënteer. “Vincent” van Don McLean maal deur my kop. Ek stap langs die grag, oor ’n brug tot by die Leidseplein. Daar, by ’n hotel se buiteterras, gaan sit ek, bestel ’n bier en begin skryf aan ’n gedig. Dit is een manier om ’n emosie te verwerk – skryf op die agterkant van die poskaarte.

In die laaste portret, ’n paar maande voor sy dood geskilder, is Vincent op sy gemak. Hoewel die gesig oud en afgetakel is, die oë diep in die plooie van sy vel lê, lyk hy waardig en kalm. Hy het nou aanvaar dat, nieteenstaande bomenslike inspanning, hy misluk het. Waarskynlik voel hy sleg dat hy sy broer Theo teleurgestel het, dié se persoonlike opofferings nie kon vergoed nie – maar wat sy skilderkuns betref, het hy vrede gemaak.

Vincent van Gogh het altesaam meer as veertig selfportrette geskilder; die mees treffende outobiografie wat ooit deur ’n mens nagelaat is. Die portrette vertel die verhaal van Vincent se versteurde lewe, sy geniale skeppingsvermoë en werkdrif, vernedering en eensaamheid, en ’n selfvernietigende gees wat hom na sy dood dryf.

Van Eyck en Van Gogh! Die een ’n meestervakman wat met sy kuns verborge gevoelens uitbeeld, die ander wat met drif ’n lewe van emosionele ontwrigting skilder. Al twee onsterflik in hulle grootheid, dog Van Gogh slaag die beste daarin om ons van die lewe te vertel.

Die wonder van kuns!



LitNet: 28 Maart 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.