oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bruines se bydrae tot die val van apartheid

Jason Lloyd

In sy jongste boek, The other side of History, skryf Frederik Van Zyl Slabbert die volgende:

One thing the “ old ” and the “ new ” South Africa have in common is a passion for inventing history. History is not seen as a dispassionate inquiry into what happened, but rather as a part of politicial mobilisation promoting some form of collective self-interest.

Met dit in gedagte het ek op 9 Augustus, Nasionale Vrouedag, die seldsame, maar tog ook welkome, verskynsel op SABC TV-nuus waargeneem. ‘n Bruin vrou spreek ‘n groot skare mense voor die Uniegebou in Pretoria toe. Sy praat oor haar ervaringe (en ook oor die groter rol van vroue in ‘n demokratiese Suid-Afrika) van 50 jaar gelede toe 20 000 vroue opgeruk het na die Uniegebou om die destydse eerste minister, JG Strijdom, te laat weet: die vroue van Suid-Afrika is moeg om passe rond te dra.

In 1956 was Sophie Williams-De Bruyn, vandag adjunkspeaker van die Gautengse Provinsiale Wetgewer, ‘n 18-jarige fabriekswerker wat soos die meeste Suid-Afrikaners die juk van apartheid nie langer kon verduur nie. Sy moes iets doen om haar situasie as vrou en die van ander vroue (en van alle Suid-Afrikaners) te verbeter. En so het dit gebeur dat sy saam met Helen Joseph, Lilian Ngoyi en Rahima Moosa dié protesoptog gelei het.

Vanjaar was sy op Vrouedag weer by die Uniegebou om aan die simboliese herdenkingsoptog deel te neem. Maar iets het my ná die TV-nuusbulletin bygeval: die naam Sophie Williams-De Bruyn het ek nog nooit voorheen gehoor nie. Nog nooit het ek haar naam in dieselfde asem as Joseph en Ngoyi gehoor nie. Trouens, as ek dit reg het, word haar statuur glad nie so hoog geag soos dié van Joseph en Ngoyi nie – nog een van baie sentimente wat die veronderstelde marginalisering van bruines na ‘n werklikheid laat klink. Net so ook was die uwe (en ek vermoed ek is nie die enigste persoon nie) verbaas om te hoor van Williams-De Bruyn en ander bruin vroue se rol in die 1956-protesoptog – ‘n merkwaardige en prominente rol wat altyd dig onder ‘n mat versmoor was, vermoed ek.

Benewens Williams-De Bruyn was daar die nou bejaarde Lillian Diedericks (80), van die Baai, wat instrumenteel was om die Oos-Kaapse vroue in 1956 te mobiliseer om na Pretoria op te ruk. Die toebroodjies, reiskoste en welstand van die vroue op die trein na Pretoria was die verantwoordelikheid van Diedericks. Die verhaal van ouma Annie Petersen, van Heidedal buite Bloemfontein, sou ook vir die eerste keer deur TV-nuus tot binne die woonkamers van baie mense gebring word. Ook sy was in 1956 in Pretoria (en weer op 9 Augustus vanjaar) om te protesteer omdat haar pa ook ‘n pas moes dra. Miskien moet haar verhaal ook vertel word aan Eskom, wat in sy omstrede regstellende-aksie-geding met sy (bruin) werknemer aangevoer het dié werknemer kan nie bevorder word nie, omdat hy nie so swaar soos swartes onder apartheid gely het nie, en ook omdat bruin mense nie passe sou gedra het nie.

Maar Eskom sou met gemak kon verklaar dat hulle nie bewus is van bruines se aandeel in die stryd teen apartheid nie. En moenie eers praat van bruines se pyn en lyding nie. Want, soos ek dit hier bo noem, dit is ‘n seldsame verskynsel dat bruines op TV verskyn. En al sou dit wel op TV verskyn, iewers in ‘n boek of ‘n koerant neergepen is, of oor die radio gehoor word, sou dit – glo my gerus – eensklaps vergeet word. Dit is juis om dié redes dat die name van Williams-De Bruyn, Diedericks en ouma Annie as helde van die 1956-vroueprotesoptog vir die jonger geslag bruines, en ander groeperinge, totaal onbekend is. Daarteenoor is die name van Joseph en Ngoyi vir die meeste Suid-Afrikaners sinoniem met dié optog en die hele stryd teen apartheid.

Nou kan ‘n mens verskeie redes oorweeg waarom dit die geval is, maar die enigste oplossing sou wees as bruines self die verhale van bruin helde op TV en oor radio kon vertel, en in koerante en tydskifte sou neerskryf. Ek het onlangs in Christopher Nicholson se boek Permanent Removal – who killed the Cradock four? gelees dat ‘n sekere (bruin) Michael Coetzee die aand voordat die Cradock-vier deur die veiligheidspolisie vermoor is, sy huis in die bruin Baaise buurt Gelvandale vir ‘n vergadering vir Matthew Goniwe en sy drie makkers en andere beskikbaar gestel het.

Coetzee het, net soos die (wit) Molly Blackburn van die toe nog Black Sash, ‘n belangrike rol gespeel in die mobilisering van aktiwiteite van die Cradock-vier (en van die destydse UDF) om die apartheidsregering te beveg. Maar Coetzee se naam word nooit in dieselfde asem as dié van die Cradock-vier of die struggle genoem nie; net dié van Blackburn.

‘n Begin sou gemaak kon word om bogenoemde teen te werk deur erkenning te gee aan alle bruines wat op hul eie manier ‘n bydrae gemaak het in die stryd teen apartheid. Daar is byvoorbeeld diegene wat by uitstek bruin “helde” genoem kan word, asook diegene wat as ‘t ware in die stryd teen apartheid ook “gesondig” het.

Daar is wyle eerw Allan Hendrickse, wat veroordeel word vir sy bevordering van die Driekamer-parlement, maar tog (volgens FW de Klerk in sy outobiografie Die laaste trek‘n nuwe begin) deur sy deelname daaraan gehelp het om blanke LP’s se vrese teenoor gekleurde LP’s te help besweer – blankes sou dus vir die eerste keer saam met gekleurdes in parlementêre komitees dien. Dit het glo gehelp om die NP voor te berei vir die onderhandelings met swartes (die ANC). Daar is mnr Conrad Sidego, wat in die voordemokratiese tydperk die NP-regering as ambassadeur in die buiteland verteenwoordig het, en dit was op daardie stadium in die land se geskiedenis doodsonde vir ‘n bruin persoon om te doen. Dr Allan Boesak en mnr Abe Williams sou onderskeidelik tronkstraf uitdien omdat hulle glo geld van die armes gesteel het. Dr Franklin Sonn het – soos hy self by die KKNK verlede jaar ‘n mens sou laat verstaan het – ook “gesondig” deur sy kinders Engels groot te maak. En prof Jakes Gerwel het deur sy transformasie van die UWK ongelukkig die bruin Afrikaanse karakter van dié universiteit prysgegee. En so kan ek aangaan …

Feit is, ons moet ons bruin helde – insluitend diegene wat “gesondig” het – se “sondes” vergewe en hul arms omhoog hou, anders gaan hulle altyd randfigure van ons struggle-geskiedenis bly. Hul verskyning op TV hoef dus nie vir altyd ‘n seldsame gebeurtenis te wees nie.





LitNet: 30 Augustus 2006

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.