oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eskom en Christiaans: nou moet die hof verduidelik

Jason Lloyd

Biologies is daar nog nooit bewys dat ‘n ras soos bruin mense of kleurlinge in Suid-Afrika bestaan nie. Bloot omdat biologie nie ras kan bepaal nie. Die kans dat medici ras in die toekoms kan bepaal, is skraal, omdat ras boonop nooit suiwer is of was nie. Inteendeel, daar is nie so iets soos ‘n suiwer ras nie. Die mens se bestaan is meer etnies – ‘n eie taal en kultuur – van aard. Etnisiteit gee weer aanleiding tot identiteit, maar selfs dit is moeilik om te bepaal, want identiteit is vloeibaar, nie konstant nie. Identiteit is ‘n konstruk wat voortdurend hersien word, dis ‘n proses van word eerder as wees.

In die donker dae van apartheid kon ras wel kunsmatig – in die vorm van wetgewing – bepaal word. Die destydse rasseklassifikasiewet – en/of die potloodtoets, waarvolgens mense se rasseklassifikasie (hetsy kleurling/bruin of swart) bepaal is volgens haartekstuur of algemene fisiese voorkoms – kom hier by mens op. Die apartheidswetgewing het gelukkig na 1994 verdwyn en alle rasseklassifikasies – soos bruin of kleurling – bestaan nie meer nie. Dit is dus nou rassisties om van bruin mense of kleurlinge te praat.

Die onlangse uitspraak van die Kaapse arbitrasiehof dat swart mense bo bruin mense en ander groepe met regstellende aksie bevoordeel moet word, is dus skokkend. Dié uitspraak is onlangs gemaak in die geding tussen Eskom en mnr Leon Christiaans, ‘n bruin Eskom-ingenieur nadat ‘n swart ingenieur – wat uit ‘n welgestelde familie kom met agtien maande ervaring as ingenieur – bo Christiaans – afkomstig van ‘n arm familie – aangestel is nadat Christiaans vir ‘n bevorderingspos aansoek gedoen het. Christiaans het Eskom daarna van rassisme beskuldig. Gevolglik het Christiaans – met tien jaar ondervinding as ingenieur – ‘n hofgeding teen Eskom begin nadat hy eers die pos aangebied is voordat dit later teruggetrek is. In die arbitrasieverhoor het Eskom geargumenteer dat bruin mense minder benadeel is deur apartheid, omdat hulle nie pasboeke gedra het nie. Die hof het saamgestem en Eskom het die saak teen Christiaans gewen.

Die arbitrasiehof se uitspraak is moeilik om te verteer en gee ‘n mens maagpyn, want alle voorheen benadeeldes is veronderstel om voordeel te trek uit regstellende aksie. Dit plaas ons eensklaps terug in die apartheidsera, toe ras jou lot bepaal het. Dit kan verreikende gevolge hê deur onder meer rassespanning aan te jaag en goeie menseverhoudings te versuur.

Die aanname (in Die Burger, 17 April 2006) van mnr Theo Venter, ‘n politieke ontleder, dat die hofuitspraak volgens Artikel 9(2) van die Grondwet bepaal dat die aangewese groep wat in die verlede die meeste benadeel is, met regstellende aksie bevoordeel moet word, is nie heeltemal duidelik nie; of miskien is hy verkeerd in die berig aangehaal. Inteendeel, my begrip van die Grondwet – en spesifiek Artikel 9(2) – is juis dat dit voorskryf dat alle groepe wat onregmatig benadeel is, deur diskriminasie bevoordeel moet word deur voorgeskrewe wetgewing.

Sulke wetgewing is die Wet op Gelyke Indiensneming. Die generiese term swart word breedvoerig in dié Wet gebruik en sluit swart, bruin en Indiër-groepe in. Al dié groepe moet dus ‘n gelyke kans kry wanneer dit kom by die regstel van die verlede. Die hof se uitspraak is dus nie net ‘n toonbeeld dat hy sogenaamde bruin mense se regte om voordeel uit regstellende aksie te trek, beperk nie, maar ook ‘n skending van bestaande wetgewing.

Andere argumenteer weer dat die hof se uitspraak op grond van ras bepaal is. Dit hou nie steek nie, want soos hier bo geargumenteer is, is bruin mense nóg ‘n rassegroep nóg ‘n etniese groep (‘n gemeenskaplike taal en/of kultuur ontbreek by bruines vir die kwalifikasie vir ‘n etniese groep). Indien Christiaans sou aandring dat hy swart is en nie sy apartheidklassifikasie van bruin aanvaar nie, sou geen hof die teendeel kon bewys nie (miskien moet Christiaans hierdie uitweg as ‘n opsie oorweeg). Weer eens: ras kan nie biologies bepaal word nie. En belangrik: diegene wat destyds as bruin of kleurling geklassifiseer is, het geen insae in hul klassifikasie gehad nie. Dit was deur die apartheidsregering op hulle afgedwing.

Ook word daar geargumenteer dat die hofuitspraak mense wat uit gemengde huwelike gebore is, in die toekoms kan benadeel. ‘n Mens hoef nie eens so ver te gaan nie, want sogenaamde bruin mense is reeds die produkte van gemengde herkoms. Christiaans kwalifiseer dan in dié geval as die eerste slagoffer. Dink maar net hoe gaan die duisende kinders wat daagliks uit gemengde huwelike gebore word, in die toekoms benadeel word.

Eskom se aanname – gesteun deur die hof – dat swartes slegter daaraan toe was onder apartheid as bruines is miskien gedeeltelik waar en gedeeltelik onwaar. Hoekom? Statistieke in die verkiesings vir die driekamerparlement in 1984 en 1989 toon dat die meerderheid bruines die apartheidstaat en die driekamerparlement verwerp het, en so ook dan die beperkte bevoorregting wat blankes hulle gebied het, van die hand gewys het. Bruines het eerder in hulle duisende by die destydse UDF aangesluit en geprotesteer teen die driekamerstelsel. So ook was politieke inspraak vir bruines en Indiërs in die driekamerstelsel en op kabinetsvlak beperk. ‘n Voorbeeld is dat wyle eerw Allan Hendrickse en mnr Amichand Rajbansi destyds deur oudpres PW Botha versoek is om die kabinet te verlaat as die “real business” bespreek was.

Dat daar ‘n klein gedeelte van die bruin gemeenskap was wat voordeel getrek het uit die driekamerstelsel, is waar. Net so ook is daar swartes wat voordeel getrek het uit die tuislandstelsel – wat ook ‘n apartheidstelsel was. As alle bruin mense dan alleen die prys moet betaal vir die deelname van ‘n klein groepie bruines (Hendrickse en kie) aan die apartheidstelsel, dan moet dit ook vir die swartes (Holomisa, Buthelezi en kie) en Indiërs (Rajbansi en kie) geld. Dan is ons weer terug waar ons in 1652 begin het.

Al die argumente hierbo bewys dan dat die arbitrasiehof se uitspraak verwarring skep eerder as duidelikheid. Die hof moet met ‘n logiese verduideliking vorendag kom aangaande sy uitspraak. Soos dit nou staan, blyk dit die hof was bevooroordeel deur die een swart groep bo die ander swart groep (sogenaamde bruines) te kies. Is die maklikste en veiligste uitweg – naamlik om jou aan die “African”-kant te skaar – miskien hier gevolg?



LitNet: 2 Mei 2006

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.