oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eerste besoek

Jason Lloyd

Die merkwaardige roman van Jeanne Goosen, Ons almal is nie so nie, het onlangs weer nuwe lewe gekry met my heel eerste besoek aan Pretoria.

Ek moet bieg - ek was aanvanklik skepties oor my besoek aan die Jakarandastad toe twee joernalisvriende, oorspronklik van die Kaap, wat nou in Johannesburg werksaam is, my gevra het om saam met hulle die voormalige “Afrikaner- en apartheidhoofstad” te besoek.

Dit was seker omdat ek nooit van Pretoria gehou het nie, want die mite bestaan vandag nog steeds dat dit ’n “Afrikaner- en apartheidhoofstad” is. Dat dit die stad is waar vernederende apartheidswette deur Verwoerd, Vorster en (PW) Botha onderteken is. En dan is die bohaai oor die Oom Paul Kruger-beeld - dat dit ’n “apartheidsimbool” is soos wat SAN-Parke-amptenare verlede jaar aangevoer het - nog vars in my geheue.

Dit is met hierdie stereotipering van Pretoria in my agterkop dat ek die rit van die Goudstad na die Jakarandastad aangepak het. Die rede vir die besoek: ons het die Prime Performer besoek waar Steve Hofmeyr se kykNET-program Dis hoe dit is met Steve lewend opgeneem word. Die groot aantrekkingskrag was natuurlik ant Grietjie Adams van Garies in Namakwaland, wat ’n gas was van Steve op die program. Ant Grietjie het bekendheid verwerf met die liedjie “Lekker Ou-Jan” en haar eerste CD, getiteld Lekker Ou-Jan se ma, is verlede jaar op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees bekend gestel.

Gedagtes van “Kyk wie kom hier? Wat soek hulle (die hotnotte of miskien kaffers) hier?” het my oorval toe ons die gebou met sy leliewit gehoor binnegestap het. ’n Ongemak het my oorval toe ons langs ’n tafel gaan sit het. Ek het toe rondgekyk. En toe weer besef: “O, Here, nou sit ek tussen die Afrikaners. En nogal in Pretoria.”

Maar ek het vinnig begin afkoel toe Isabel du Plessis, wat ant Grietjie gehelp het om haar CD die lig te laat sien, haar konserte reël en haar in Garies ontdek het, ons aan twee vriendelike wit mense, wat ’n tafel met ons gedeel het, voorgestel het.

Hulle was vriendelik en ons het land en sand oor die dietjies en daaitjies gesels. En toe oorval ’n wonder - bo wonder - my weer. “Miskien is hulle net vriendelik omdat hulle weet ons is joernaliste?”

Ek kyk toe rond en besef: “Ons drie is die enigste gekleurdes in die gehoor.” Ek kyk toe nog ’n keer ... en daar sien ek toe ’n swart man wat hom gate uit geniet.

Hy sit daar en lag ... en hou sy lyf net Happy (Sindane), terwyl Isabel met haar growwe-diep mooie stem ons aanhoudend bekoor oor haar trotsheid op ant Grietjie. Terwyl ek rondkyk, maak ek oogkontak met verskeie mense. Hulle glimlag vriendelik. ’n Vrou wat verbyloop, vra vriendelik: “Hoe gaan dit daar in die Vriendelike Stad?” ’n Man en ’n vrou sluit aan by ons tafel. Isabel stel ons voor. ’n Gesels, gesels en ’n gelag breek uit.

Met die opname van Steve se show bewonder ek hoe menslik hy sy gaste hanteer, want in my agterkop broei sy Agter Elke Man-skolliekarakter nog. En moenie eers praat van die voorval op die KKNK in 2002 toe hy die joernalis Jan-Jan Joubert (toe redakteur van die feeskoerant Krit) te lyf gegaan het en bo-op ’n tafel gegooi het omdat ’n resensent onder meer melding gemaak het van sy k*k skoene wat hy gedra het vir sy show Engele om ons nie

Dan het die teenwoordigheid van die Soweto String Quartet ook verbasing by my uitgelok. Maar toe hulle lostrek met “Sarie Marais”, het al wat ’n siel is op sy of haar agterpote gespring en die ouens gewys hulle effort om die grense te verskuif word hartlik gewaardeer.

Na tien jaar van demokrasie is dit so dat Suid-Afrikaners (die uwe ingesluit) nog steeds stoei met stereotipering, want dit is ook baie waar dat die mens geneig is om ander te kategoriseer. En dit gee natuurlik aanleiding tot stereotipering op grond van ras, geslag, etniese oorsprong, godsdiens, land van oorsprong, waar jy woonagtig is, seksuele voorkeur, politieke sienings, ensovoorts.

Omdat stereotipering die versoeningsproses en ons jong demokrasie in die wiele kan ry, moet ons reeds daarna streef om dit sover moontlik te vermy.

Maar hoe doen ons dit? Eerstens moet ’n mens aanvaar dat die volgende persoon, ongeag ras of kultuur, ook, natuurlik net soos jy, ’n mens is. Indien dit as ’n gegewe aanvaar word deur alle mense, sal dit dan aanleiding gee tot respek. Indien jy dan respek het vir iemand anders, dan ontwikkel dit in vertroue.

Gelukkig is die vertroue tussen wit en swart in Suid-Afrika aan die toeneem. Wit mense aanvaar in ’n mate dat hul “bangheid” vir ’n Kommunistiese bestel deur die ANC en sy bondgenote nooit (?) sal realiseer nie. Veral die ANC se hantering van die ekonomie die afgelope tien jaar bewys dat hulle die vryemarkstelsel - soos voorgestaan deur die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds - bevorder.

Dan is daar talle wit mense wat die afgelope tien jaar woelig besig is om te help met die afbreek van stereotipering. Die Oos-Kaapse NNP-leier, mev Anne Nash, is een van dié wit mense. Sy het vroeër vandeesmaand ’n merkwaardige toespraak in die Oos-Kaapse Wetgewer in Bisho gelewer waarin sy verskoning gevra het vir wat sy genoem het “my aandeel aan apartheid”. Maar die belangrikste wat sy gesê het was beslis nie die verskoning nie. Die belangrikste was: “Toe ek in 1994 hier aangekom het, het van die vloerwerkers tot die premier my met respek en soos ’n mens behandel. Die tyd het aangebreek dat ek dankie sê daarvoor.”

Ja, die tyd het aangebreek dat ons die goeie in mekaar raaksien, want oudpresident Nelson Mandela is reg wanneer hy altyd daardie eenvoudige lering van hom herhaal dat daar in elke gemeenskap en in elke politieke party goeie mense is.

Een ding is seker: Pretoria sal nooit weer dieselfde wees nie, want die skrywer en digter Clinton V du Plessis laat weet uit die Goudstad dat hy verbaas was toe hy die Jakarandastad onlangs besoek het. Hoekom? “Ek het per voet in een van Pretoria se strate geloop en ek moet sê dit wemel van die swart mense daar.”

En dit blyk vir my dat die lied “Snor City” van Bernoldus Niemand, wat handel oor die soeke na ’n man/manne sonder ’n snor in Pretoria, sy “soeke” bereik het. En as ’n mens mooi kyk, dan het selfs ’n man soos Dan Roodt nie ’n snor nie. Net ’n kopskuif is dus nodig, want die gesig van die selfaangestelde Afrikaner/Pretoria-vryheidsvegter is reeds mooi skoon geskeer.

LitNet: 17 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.