OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Uit Douspoor — handleiding

Izak de Vries en Coenraad Walters

Nanette van Rooyen: Offerblomme

Kyk die film American Beauty
“Offerblomme” is dig en moeilik verstaanbaar. Dit is egter ook ’n uitstekende kortverhaal. Om die verstaan daarvan makliker te maak, sou ’n mens geweldig sterk kon aanbeveel dat die klas na die film American Beauty moet kyk voor hierdie verhaal enigsins bespreek word — selfs voor die verhaal die eerste keer gelees word.

Dit mag dalk logisties moeilik wees en as dit glad nie in ’n formele skoolverband kan geskied nie, sou die opvoeder die leerders kon aanmoedig om in groepe bymekaar te kom en by hulle ouerhuise daarna te kyk. (’n Lekker klaspartytjie een Vrydagmiddag kan dalk ’n goeie tyd wees om so iets te doen!)

Die film is een van die heel beste eksposisies van die ontluistering van die sogenaamde “American dream”. Dit toon ook die onvermoë van volwassenes om met tieners te kommunikeer. Verder is dit ook duidelik dat feitlik al die grootmense besig is om vir hulleself te jok oor die toestand van hulle huwelike en die manier waarop hulle met hulle kinders omgaan.

Die volwassenes in American Beauty dink ook telkens dat dit goed is om dinge te verswyg, op hierdie manier sal dit waarskynlik vanself weggaan.

In die bespreking van “Offerblomme” sal dus hier en daar na die film verwys word en u word aangemoedig om, indien moontlik, die verwysings in klasverband te gebruik. Die verwysings sal egter nie sentraal staan tot die bespreking nie.

Lees en bespreek eers “Aapstreke” van Patrick W. Davids
Dit kan vir u as opvoeder baie moeite spaar as u “Offerblomme” behandel nadat u eers “Aapstreke” bespreek het. Moet egter nie voor — of tydens — die eerste lees van “Offerblomme” die leerders se aandag op enige ooreenkomste vestig nie. Hulle moet self die afleidings maak! Later kan u natuurlik die ooreenkomste en verskille uitwys, as die leerders dit nie self raaksien nie.

Ná die eerste of tweede lees: Kyk ’n sitkom
Die meeste van u leerders sal waarskynlik toegang hê tot televisie. U ken u klas en sal dus weet hoe om om te gaan met die kyk van ’n sitkom. ’n Mens moet natuurlik sensitief wees teenoor diegene wat nie kan meedoen nie. Vandag is dit gelukkig dikwels die minderheid.

Die ideaal sou wees dat u ’n episode van ’n sitkom kies en dit opneem om aan die klas te vertoon tydens ’n lesperiode. Die tweede moontlikheid is dat u u klas aanmoedig om almal ’n spesifieke episode van ’n spesifieke sitkom te kyk en dit dan in die klaskamer te bespreek. ’n Derde opsie is om gewoon oor sitkoms in die algemeen te praat.

Die rede waarom sitkoms betrek word by hierdie bespreking, is die twee drade wat deur enige sitkom loop. Sitkoms word volgens ’n resep geskryf. Daar is gewoonlik ’n hooftema en ’n subtema. Die hooftema kan byvoorbeeld ’n troue wees, terwyl die subtema iemand se nuwe papegaai is. Hierdie twee temas, of storielyne, bepaal die gebeure in die episode — die subtema kry net minder tyd as die hooftema. Teen die einde van die sitkom word albei gewoonlik opgelos — die subtema heel dikwels met baie komiese gevolge.

Nie alle sitkoms kry dit reg om die subtema en die hooftema met mekaar te laat skakel nie. Een reeks wat egter baie sterk aanbeveel word — indien u enigsins ’n kopie daarvan kan kry — is die Engelse sitkom The thin blue line met Rowan Atkinson in die hoofrol. (Atkinson is ook bekend vir sy rol in Mr Bean, maar hierdie reeks sal glad nie deug nie, aangesien Mr Bean uit ’n reeks sketse bestaan en nie ’n sitkom is nie.) The thin blue line trek telkens die twee temas teen die einde saam.

Nuwe tye vra nuwe verhale en nuwe perspektiewe op ou verhale: Hierdie geleentheid groet WKOD-Afrikaansonderwysers wat eerstetaalmatrieks in hulle sorg het in die nuwe skooljaar. Twee nuwe kortverhaalbundels is naamlik voorgeskryf vir 2001: Douspoor (Tafelberg) en Storiepalet (JL van Schaik). Vir albei kan onderwysers handleidings by die uitgewers kry.

Tafelberg-Uitgewers stel die volgende uittreksels uit Douspoor — ’n Handleiding (saamgestel deur Izak de Vries en Coenraad Walters) beskikbaar. Die uittreksels handel oor die ses verhale wat deur die WKOD vir 2001 voorgeskryf is. Vir volledige kopieë van die handleiding, skakel me. R. Doman by (021) 918-8603.


Die sitkom moet nie ter sprake kom voor die verhaal nie een of twee maal gelees is nie.

Die verskillende weergawes van “Offerblomme”
“Offerblomme” is ’n verhaal wat Nanette van Rooyen ingeskryf het vir gebruik in ’n slypskool wat op LitNet gehou is. Die verhaal is dus geplaas, herskryf na aanleiding van kommentaar, en toe ’n tweede keer herskryf. Dit mag vir leerders wat belangstel in skeppende skryfwerk baie interessant wees om ook die vroeëre weergawes van hierdie verhaal te sien en die vordering te volg. Indien u dit sou wou trek, LitNet is beskikbaar op M-Web se Afrikaanse blad, of by www.mweb.co.za/litnet.

U kan natuurlik ook leerders daarna verwys. Die verhaal is op LitNet gepubliseer onder die vaandel van die slypskool SkryfNet.

Moeilike woorde by die eerste lees
Daar is min werklik moeilike woorde in hierdie stuk, maar u leerders sal ’n aanduiding kan gee van wat hulle pla. Die woord obstenaat mag dalk aandag verg (ook die spelling van die woord is vreemd). Ma noem Phoebe op ’n stadium “Klimmeid”. Dit is belangrik om te besef dat die woord meid in Suid-Afrika ’n negatiewe betekenis gekry het, maar dat dit bloot “meisie” beteken. (In Nederlands is dit wat jy enige meisie of jong vrou noem, maar die woord is telkens verkeerd gebruik in die Suid-Afrikaanse konteks.) “Klimmeid” is ’n woord wat steeds — hoewel baie selde — gehoor word om ’n jong meisie te beskryf, dit maak nie saak watter ras sy is nie. Dit is egter argaïes en word vermy weens die negatiewe konnotasies daarvan (vgl. raspejoratiewe).

Die eerste reaksie

  1. Laat die leerders toe om hulle eie reaksie op die verhaal neer te skryf.
    1. Het jy die verhaal geniet?
    2. Was dit ’n moeilike of ’n maklike verhaal?
    3. Wat doen Meisie met Phoebe?

  2. Terugvoer
    Laat die leerders vrae a. en b. deur ’n stemming beantwoord. (Oor vraag b. ’n opmerking: Die opsteller van hierdie handleiding het die verhaal beslis nie verstaan by ’n eerste lees nie! Hy moes dit deeglik herlees voor die prentjie begin vorm het! Dít behoort die klas gerus te stel!)

    Vir c. kan hulle in groepe verdeel en dit bespreek. Dis ’n netelige onderwerp en spontane groepvorming is aan te beveel, sodat leerders gemaklik voel met hulle gespreksgenote.
    Wees bereid om vrae in groepsverband te fasiliteer. Laat die verskillende groepe na ’n rukkie terugvoer gee.

    Wees bereid om ’n verskillende aantal sieninge oor hierdie verhaal te aanvaar. By ’n eerste lees is dit uiters moeilik om die onderskeie heenwysers na ’n aborsie raak te sien. Moontlikhede soos ’n seksuele ontgroening, ’n lesbiese verhouding, ’n besnydenis (die klitoris wat verwyder word) kan geopper word. As nie ’n enkele persoon die moontlikheid van ’n aborsie noem nie, is dit nie ’n probleem nie.

    As daar egter wel ’n mate van konsensus kan kom — deurdat die leerders aan mekaar kan uitwys hoekom die verskillende rigtingwysers geïnterpreteer word op die manier waarop dit wel geskied, mag daar ander wees wat steeds nie sal wil glo dat dit die geval is nie. Dit is nie noodwendig ’n probleem nie. Wys die “afvalliges” daarop dat hulle geregtig is op hulle opinies, maar dat u later weer van hulle sal vra of hulle die tekens steeds dieselfde interpreteer.

    Die nuwe benadering tot die letterkunde is om elke moontlike lees van die teks te oorweeg. Dit moet egter gefundeer kan word aan die hand van verwysings in die verhaal. Ander opinies oor hierdie verhaal is beslis nie “verkeerd” nie. Daar is wel sterk merkers wat daarop dui dat die verhaal wel te make het met die verlies van ’n kind — en dit na die pleeg van ’n “sonde” (om die ma se woorde te gebruik).

    Wees baie bedag daarop dat hierdie scènes vir sommige leerders ou nuus mag wees, terwyl ander so onskuldig is dat hulle sal sukkel om die blote onderwerp van aborsie te bespreek — of selfs te verstaan. (The joys of being a teacher!) Party leerders mag ook sterk religieuse besware opper. Later in hierdie bespreking word die moontlikheid van ’n mondeling oor hierdie onderwerp geopper. Dit sou goed wees as die leerders nie “stilgemaak” word met ’n dwars antwoord nie, maar dat die morele besware dalk vir eers teruggehou kan word — met die belofte dat ’n mondeling en / of debat wel oor die onderwerp gehou sal word.

Die twee temas van die verhaal

  1. Die sitkom as voorbeeld

    Dalk kan u die “swaarmoedigheid” van die verhaal verbreek deur hierna die kyk van ’n sitkom te opper. Die volgende periode kan (indien enigsins moontlik) gewy word aan die kyk en / of bespreek van die sitkom. U sal hierdie gesprek kan aanpak na gelang van die wyse waarop u gekies het om die sitkom deel van die bespreking te maak, al dan nie. Die manier waarop u dus hierdie reeks vrae sal hanteer en aan die klas sal stel, sal afhang van die wyse waarop die sitkom bestudeer is.

    Die leerders kan in groepe verdeel en die volgende vrae probeer beantwoord:

    1. Stem julle saam dat daar dikwels twee (of meer) temas deur ’n sitkom loop?
    2. Is hierdie twee temas ewe belangrik vir die verhaalgegewe in die sitkom?
    3. Word daar ewe veel tyd spandeer aan beide temas?
    4. Identifiseer die onderskeie temas in die sitkom onder bespreking.
    5. Is albei temas ewe belangrik vir die verhaal?

    Gee die geleentheid om terugvoer te kry oor hierdie onderwerpe. Die uitkoms van hierdie bespreking is dat die leerders die moontlikheid van twee temas in die sitkom sal verstaan — al word daar nie noodwendig volledig saamgestem oor die detail daarvan nie.

  2. Die hondjie en Phoebe

    Laat die klas weer in groepe verdeel.

    Laat hulle:

    1. die twee verhaallyne in hierdie verhaal identifiseer
    2. die ooreenkoms tussen Phoebe en die hond uitwys.

    Laat die leerders toe om terugvoer te gee. U kan die gesprek stuur, maar die onderskeie groepe kan gerus mekaar se standpunte hieroor hoor. Dit is steeds nie nodig dat almal in die klaskamer saamstem nie.

Die karakters
Gee soveel detail as moontlik oor die volgende mense. Weet ons wat hulle doen? Waarvan hulle hou? Hoe oud hulle is (ongeveer)? Hoe hulle lyk? Hou julle van hulle? Is hulle belangrik vir die verhaal en hoekom sê julle so?

  1. Phoebe
  2. Ma
  3. Pa
  4. Pietie
  5. Oom Paul
  6. Meisie
  7. Adoons
  8. Die Loubser-seuns
  9. Die “hele spul Plessies”

Die verteller

  1. Watter soort verteller het ons hier?
  2. Is dit positief om die verhaal in die eerste persoon te “hoor”?
  3. Kyk na die manier waarop die meisie Afrikaans gebruik. Wat kan ons daarvan aflei?
  4. Sou die verhaal anders daar uitgesien het as ’n mediese dokter dit vertel het?

Wanneer speel hierdie storie af?
Daar is baie min aanduidings in die teks oor wanneer die storie afspeel, maar letterkundiges word geleer om goeie speurders te wees. Hier is ’n paar leidrade wat die leerders kan volg:

  1. Die manier waarop Ma vir Adoons opdrag gee om die boodskap aan Meisie te bring.
  2. Die manier waarop afstand aangedui word.
  3. Ma se kleredrag
  4. Meisie se manier van tee maak
  5. Meisie se musiek
  6. Die kers (is dit net vir lig, of ook om goed mee te ontsmet?)

Verdere speurwerk
Daar word amper meer goed ongesê gelaat word as wat vertel word, maar dis nou weer waar die leerder moet speurder speel. Goeie stories is almal soos misdaadtonele: daar lê oral merkers rond, maar tensy die skrywer / misdadiger nie veel gedink het nie, sal daar dikwels nie sommer ’n klinkklare ontknoping lê nie!

Hierdie verhaal het ’n groot aantal baie subtiele merkers — so subtiel dat die meeste mense sommer daarop sal trap en dit nie sal opmerk nie. Leerders is egter dikwels goeie speurders, so kom ons help hulle om die leidrade raak te sien.

  1. Let op die volgende sinsnede: “Ma se moer was hoeka los vir oom Paul …”

    Natuurlik is dit maar ’n manier van praat, maar die meisie (die verteller) wil al vir ons iets vertel hiermee. Die woord moer verwys naamlik onder andere na die uterus — die baarmoeder van ’n vrou. Dit is ’n woord wat dikwels nie eers in woordeboeke voorkom nie, maar vergelyk hierdie beskrywing in ’n mediese boek wat in 1919 hier in Suid-Afrika uitgegee is. In die hoofstuk getiteld “Miskraam (Aborsie)”, verskyn die volgende oor ’n spontane aborsie (dus nie mensgeïnduseer nie):

      Die baarmoeder (of moer) kan agteroor lê. In hierdie gevalle is die vrouw ook nie vatbaar vir bevrugting nie. As die moer nie reg lê nie, kom die vrug ook af tussen die derde en die vierde maand (Van Schalkwijk 1919: 258-259).

    Die meisie wíl hê ons moet weet wat met haar gebeur het, daarom bou die verteller leidrade in die storie in. Speurders mag selfs nie eers hierdie skunnige uitdrukking oorsien nie!

  2. Oom Paul sê oor die hond: “Dier bly dier.” Daarop skree Ma op hom: “Ja, Paul
    Verhoef, die dier!”

    Wat beteken dit? Is dit bloot ’n woedende uitdrukking? Is dit Ma wat aan hom wil sê sy weet iets?

  3. Oom Paul lag “gie-gie-gie” as Pa sê Meisie is ’n heks. Hy weet dus meer van haar af, maar laat ook nie val wat nie.

  4. Ma stuur ’n duidelike boodskap na Meisie dat sy moet reg wees. Dit kan dus nie sommer net geskied nie — daar moet reggemaak word. Ma pluk ook haar skourose — iets wat net tydens ’n “okkasie” gebeur. Hierdie wonderlike rose word die volgende dag aan Meisie geskenk.

  5. Oom Paul lag weer toe Pa protesteer oor Phoebe na Meisie toe moet gaan. Hy noem Phoebe “Poppie”. Hoekom nou skielik “Poppie”? Wanneer noem ’n man ’n meisie Poppie? Let ook op dat hy die sprokie aanhaal van die prins en die padda: Kan Meisie dus iets “slegs” of “leliks” in iets goeds omskep? Kyk hoe druk hy sy vingers in Phoebe in. Daardie vingers penetreer haar vleis. Het dit enige konnotasie? (Terloops: wat dink die meisies in die klas van hierdie smerige vent?)

  6. Kyk na Ma se optrede. Sy vertel nie vir Phoebe hoekom sy na Meisie moet gaan nie, maar Ma is duidelik bekommerd. Haar nek vlek rooi. Sy sing Halleluja-liedjies. Sy trek haar beste klere aan.

  7. Meisie sê: “So jy is nou Phoebe.” Hierdie stelling beteken dat sy al van te vore bespreek is. (Dit kán natuurlik onskuldig wees. Ma’s praat tog maar oor hulle kinders.)

  8. Net mooi op die punt waar hulle in die kombuis sit en Meisie vasstel dat dit wel Phoebe is, word ons ’n duidelike beskrywing gegee van die hond wat sonder kleintjies terugkom. Hoekom presies hier? Kyk ook weer na die manier waarop oom Paul aan die hond vat. Is dit nie presies dieselfde wat hy met Phoebe gedoen het nie? Phoebe het dit onthou — dis hoekom die verteller die leidraad vir ons los om op te tel!

  9. Die tee word in hulle teenwoordigheid gemaak, maar die koppies is vroeër al reggesit. Phoebe se tee smaak na medisyne. Is daar iets in die regte koppie gegooi om haar deur die operasie te help?

  10. Net mooi in hierdie stadium begin Ma oor sonde praat. Sy is baie onspesifiek — praat oor ’n groep seuns en dan ook oor mense wat luise het. Is luise sonde? Kopluise dalk nie, maar lyfluise (“crabs” in die omgangstaal) word net deur seks oorgedra.

  11. Ma sê dan sy moet saam met Meisie gaan, en dat sy beter sal voel. Dan die baie belangrike merker: die naarheid. Phoebe wil sê sy kry dit altyd met eksamentyd, maar haar ma het duidelik ’n ander idee oor hierdie naarheid! Wanneer raak vrouens maklik in die oggende naar?

  12. Die kamer met die wit doeke — dit is presies soos ’n operasiesaal. Die warm water dui ook op ’n operasie wat gaan plaasvind.

  13. Ons weet nie wat gebeur nie — net dat dit seer was, en dat daar dalk ’n baie warm ding in haar opgedruk is. Sy ruik ook iets skroei — soos ’n mot wat brand.

  14. Drie dae later sê ma aan die rekenmeester dat die hond weet dat haar kinders weggeneem (dus “gesteel”) gaan word, daarom sou sy hulle elders wou kry.

  15. Daardie einste aand bring ma melk en hulle huil — vir die eerste keer — oor die hondjies. Huil hulle net oor die hondjies? Hoekom gee ma vir Phoebe van haar gunstelingrose? Is hierdie blomme ook offerblomme?

Terug na die sitkom

  1. Watter ooreenkomste is daar tussen Phoebe en die hond?
  2. Is die hondjie se probleme in hierdie geval ’n toevallige subtema, of is dit ’n integrale deel van die verhaal?
  3. Is die meisie se vertellings oor die hond, en nie oor haarself nie, ’n positiewe manier om die verhaal te vertel? (Met ander woorde, was dit ’n slim truuk, of het dit nie gewerk nie?)

Stiltes — dit wat nooit “gesê” word in die teks nie

  1. Hierdie verhaal verswyg ’n geweldige klomp goed. Kyk weer na die verhaal “Aapstreke” deur Patrick W. Davids en bespreek dan die volgende vrae:
    1. Watter verhaal lees die maklikste en die vinnigste?
    2. Watter verhaal is die moeilikste om te ontsyfer? Hoekom?
    3. Watter verhaal bied die meeste moontlikhede tot interpretasie? Hoekom?

  2. Wat dink die leerders van al die “stiltes” — dit wat nooit gesê word nie — in die teks?
  3. Is dit ’n goeie ding dat ons nie presies vertel word wat gebeur daar in die kamer by Meisie nie? Hoekom (nie)?
  4. Wat is die effek van die stiltes? Bespreek die volgende stelling:

      Die manier waarop die waarheid verswyg word in hierdie verhaal verhoog die spanning en die gevoel dat hier opsetlik die rug gedraai word op ’n baie groter probleem as bloot dit wat vir ons vertel word.


    Laat die leerders hierdie vraag bespreek, en tensy ’n soortgelyke stelling spontaan uit die klas kom, noem dan ’n tweede stelling:

      Die stiltes in hierdie teks toon aan dat die gesin bewus is van wat aangaan met Phoebe, maar gewoon te skaam is om hulle daaroor uit te laat.

    (Vergelyk die pa van die kameraman in American Beauty wat net glo wat hy wi l glo. Kan ons dus sê: “Sien is glo”?)

  5. Hoekom word daar nooit gesê wat met Phoebe gebeur het nie?
  6. Hoekom word die skuldige man / mans nooit genoem nie?
  7. Wat is oom Paul se rol in hierdie hele affêre, of is hy ’n onbenullige buitestaander?

Nabetragting

  • U as opvoeder ken die klas en dit is dus ten beste vir u om te besluit oor die maniere om die moontlike spanning in die klas oor morele kwessies te ontlont.
  • Hier volg ’n paar onderwerpe wat moontlik kan lei tot interessante navorsing deur die leerders. Elkeen van die onderwerpe kan in debatte gebruik word, of (dalk beter) in ’n mondeling waar die leerder sy / haar eie standpunt kan formuleer. Dit sou natuurlik goed wees as die individue / spanne ook moet probeer om opponerende of uiteenlopende standpunte te formuleer. Die onderwerpe kan lei tot emosionele pleidooie vir, of teen, die onderskeie gebruike en dit is vir die leerders noodsaaklik om te leer hoe om altwee kante van ’n saak raak te sien, al stem hulle nie noodwendig saam met die “opposisie” nie. Die onderwerpe hieronder word telkens in die positiewe gestel; die leerders kan dit uiteraard betwis:

    1. Aborsie is, danksy die liberale wetgewing in Suid-Afrika, vryelik beskikbaar aan die armes — ook in die platteland.
    2. Aborsie is ’n noodsaaklike euwel.
    3. Die mens moet drasties iets doen aan ons oorbevolking.
    4. Die regering moet baie meer doen om geboortebeperking (kondome, die pil en die inspuiting) aan jongmense beskikbaar te stel.
    5. Stilte is dikwels die gevolg van seksuele molestering in ’n huisgesin.

Ander tekste

  • Marita van der Vyver se roman Die dinge van ’n kind is beslis leesstof wat aanbeveel kan word vir die wat belangstel.
  • Wilma Stockenström se Uitdraai handel ook oor ’n meisie wat stilletjies ’n aborsie moet ondergaan. Dit word aanbeveel vir die sterk leser.
  • ’n Moeilike kortverhaal (in terme van tema) oor die vroulike besnydenis wat vir weetgierige lesers aanbeveel kan word, is Riana Scheepers se “Dom koei” uit haar debuutbundel Die ding in die vuur.

Ander tekste in Douspoor

  • Die verhaal “Wildegans, wildegans” van Elsabe Steenberg, wat elders in Douspoor voorkom, is nog ’n voorbeeld van ’n verhaal waar menslike verlies aan ’n dier gekoppel word. Dit is egter ’n baie meer gedwonge eksposisie en nie so goed, of subtiel, soos “Offerblomme” nie.
  • Petro Faasen se verhaal “Die Romany Creams” gebruik weer, heel subtiel, ’n flits as metafoor vir die fokus in die verhaal.
  • Manie Groenewald se “In grys se duisend kleure” het ook meer as een ouer-kindverhouding wat onder die loep geneem word.
  • Willem D. Kotze se “Die dag toe ek my pa verloor het” tel ook as een van die heel pynlikste verhale oor ’n ouer en kind se gebrek aan ware kommunikasie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.