|
|
Bespreking van gedigteMildred JacobsKaroo-dorp: someraand N.P. van Wyk Louw Dié gedig kom voor in die bundel Tristia (1962) gedigte met hoofsaaklik n weemoedige stemming en n weerspieëling van Louw se afsondering in Europa gedurende sy verblyf in Amsterdam waar hy vir agt jaar hoogleraar in Afrikaans was aan die Gemeentelijke Universiteit. Opvallend in dié gedig is die eenvoud en oopheid n stemmingsvolle weergawe van n tipiese kleindorpse rustigheid in die Karoo. Die titel verwys nie na n spesifieke dorp nie. Die dubbelpunt dui slegs op n someraand. Reeds in die eerste reël van strofe 1, deur middel van die metafoor, word die rustige stilte voorgestel, n rustigheid wat in beide klank en inhoud registreer: die sagtheid en stilte, die hele oproep van rustigheid, vind sterk aanklank in die woordjie room. Die treingeluide klink ver en versteur geensins die rustigheid wat oor die dorpie heers nie. Verder verleen die teenwoordigheid van die skaapwagter n eiesoortige plaasatmosfeer aan die dorpie. In strofe 2 gee die herhaling van die voegwoord en n rustige en ontspanne opstapeling van indrukke. Die inwoners en hul onderskeie aktiwiteite is die toonbeeld van kleindorpse rustigheid. Die rook uit die lokasie dui aan dat dit die tyd van die dag is wanneer die mense besig is met die voorbereiding van die aandete. n Ontspanne atmosfeer word geskep deur die mense wat by die dorpsdam sing en die mense wat van die tennisbane terugkom. Net soos in strofe 1, lê die rustige en ryk stemming weer in die metafoor: die koper skemer. Die alliterasie in die twee woorde bind dié woorde nie net klankmatig nie, maar sorg ook vir n semantiese verwantskap. Koper is n diep en ryk kleur wat die gloed van die ondergaande son visueel illustreer. Strofe 3 begin met die nadruk op dóér die versterkte vorm van daar met die betekenis van daar ver. Uit die beklemtoonde woord lei die leser af dat die druk verkeer op die nasionale pad geensins die vreedsaamheid van die dorp versteur nie. Benewens die adjektiewe, onhoorbaar, hoog, suggereer die verkleiningsvorm, motortjies die afwesigheid van motorverkeer. Dat dit n Karoo-dorp is met n eie karakter, word bevestig deur die intieme spreekname in strofe 3 en in strofe 4. Oum-Appie-Slagkraal (waarskynlik so genoem uit die aard van sy werk) keer terug van sy werk. Let hier op hoe die digter die gevoel van die oom projekteer op die fiets: dit is die fiets wat moeg is. Deur middel van die personifikasie word die fiets en die mens één; n dagtaak is voltooi. Die laaste strofe fokus in sy geheel op die omstrede Tant-Tollie-met-die-kanker. Die liggaamlike kwaal het reeds deel van die personasie se naam geword. Die vraag ontstaan of sy werklik aan die kwaal ly en of dit n bynaam is wat maar net tipies is van die gemoedelike gespot van n kleindorpse gemeenskap. Ook hierdie nagtelike optrede (om die Here en die uile aan te roep), word geskets as tekenend van die rustige bestaan op die dorp. Opvallend in die slotstrofe is die suggestiewe plasing van die woordjie hoe wat tegelykertyd die uilgeluid en die uitroep van pyn suggereer. n Baie belangrike en opvallende aspek in die gedig is die funksionele aanwending van die enjambement. Die sintaktiese oorloop van een versreël na n volgende verseker n natuurlike ritme, n rustige voortvloei sodat die rustigheid ook in die versvorm gemanifesteer word. Ook opvallend is hoe die sleutelwoorde aan die verseindes dubbel beklemtoon word deur beide die rym en die enjambemente. Nog n belangrike aspek om op te let , is die geleidelike ontwikkeling in tyd. Die gedig begin met laat-middag en daarna volg, oor die vier kwatryne heen, n progressiewe tydsverloop tot vanaand. Dat tydsaanwending n rol speel, blyk uit die plasing van werkwoorde. Die gedig begin met het geword (strofe 1); daarna volg die teenwoordige tyd in loop (strofe 1) en weer loop (strofe 3), kom sit (strofe 4) en eindig met n toekomsblik gaan hoor (strofe 4). Met die aanvang van die gedig is daar dus reeds n aanduiding van n tydsverloop.
Vier gebede by jaargetye in die Boland N.P. van Wyk Louw Louw sluit sy tweede bundel, Die Halwe kring, wat in 1937 verskyn het, af met die sonnettesiklus. Hierdie gedigte word nog steeds beskou as die mooiste natuurpoësie in Afrikaans. Die skoonheid van die natuur is die mag wat aan die chaos sin gee; wat die mens in staat stel om sy bestaan sinvol te maak. Die drie sleutelwoorde van die titel is gebede, jaargetye en Boland. Eerstens word die geheel geplaas binne die gebedsfeer. Wat opval, is die intieme verhouding tussen God en die spreker: in die eerste instansie word God geloof, maar ook word daar gevra vir genade. Tweedens: alhoewel daar vier sonnette is, geniet slegs twee seisoene voorrang, nl. herfs en winter, soos die ondertitel ook wel aandui: Mei-Julie 1937 (die halwe kring van die jaar). Vroegherfs het as belangrike element die oorgang van die somer tot die herfs. Derdens gaan dit hier om n spesifieke geografiese gebied: die Boland met sy besondere herfs en winterse natuurprag. Aangesien ons kennis van die bou van die sonnet beslis bydra tot die verstaan van die inhoud van die gedigte, is dit belangrik dat ons op hoogte is van die algemene beginsels wat vir die sonnet geld. Vroegherfs toon die algemene kenmerke van die Italiaanse sonnet, terwyl die res van die sonnette in die siklus, veral wat uiterlike vorm betref, die kenmerke van die Engelse sonnet openbaar. Vroegherfs bestaan uit veertien vyfvoetige jambiese versreëls. Na aanleiding van die rymskema (abab; cdcd; efg; efg) is daar n oktaaf wat bestaan uit twee kwatryne en n sekstet van twee tersines. Kyk jy na die innerlike beweging in die gedig, is dit duidelik dat dié boupatroon planmatig uitgewerk is. In die oktaaf is daar dikwels n beeld, n waarneming of voorstelling terwyl die sekstet gewoonlik n toepassing word van dit wat in die oktaaf waargeneem is. Die skeiding tussen die oktaaf en die sekstet bring dan ook die wending wat met n dieper betekenis of n verinnerliking gepaard kan gaan. Die volgende drie sonnette bestaan elk uit drie kwatryne en n rymende eindkoeplet (volgens hul bepaalde rymskemas). Wat dikwels hier gebeur, is n waarneming of beskrywing oor drie kwatryne heen wat oploop tot n hoogtepunt in die eindkoeplet. Bespreking van die sonnette: Vroegherfs In die eerste kwatryn gaan hierdie verandering telkens met kleurwisseling gepaard. Opvallend in die oktaaf is die woorde wat die beweging aandui: deurspoel, val. Verder val dit op hoe die rustige en geleidelike veranderingsproses in die natuur op meer as een wyse verstegnies ondersteun word. Die enjambemente verseker n vloeiende versbeweging: die lug/ wat daglankdeur die son deurspoel word; die blare val/ so stilweg ... Die vloeiende versbeweging word ook aangehelp deur die assonansie (die herhaling van die lang aa-klank). In die sekstet word die natuurwaarneming van die oktaaf verinnerlik in die vorm van die gebed en deur die gedrae gebedsatmosfeer. Die digter vra dat hierdie dae heilig word, m.a.w. dat hierdie oorgang van somer na herfs vir hom n dieper betekenis moet verkry. Dan, na die dubbelpunt bekragtig hy dié versoek. Die geestelike groei waarvoor gevra word, val nou saam met die rypwordingsproses wat in die natuur plaasvind. Opvallend in die sekstet is die talle terugkerende motiewe. As die digter in die eerste tersine sê : laat alles val wat pronk en sieraad was, slaan dié woorde terug op die eerste blare, die goue akkerblare, maar nou betrek op sy eie lewe. Ook die motief van die wind keer terug, wanneer die digter sê; Laat u wind waai. In reël 14 vra die digter dat hy tot naaktheid gestroop word, net soos die populiere se takke witter, dus suiwerder, reiner gestaan het. Hy wil dus van alles wat oneg is (die pronk en sieraad, die waan en hoogheid) gestroop word. Hierdie suiweringsproses gaan egter met pyn gepaard, want pyn word gesien as die voorvereiste vir die innerlike groei. Uit hierdie ligte herfs Waar die digter in Vroegherfs begin het met die konkrete en daarna beweeg het na die abstrakte, plaas hy die aksent in die eerste kwatryn op die abstrakte: die vervulling, die vreugde. Daarna, na die dubbelpunt aan die einde van die eerste kwatryn, volg die konkrete; daardie dinge waarin die vreugde vir hom opgesluit lê: die vleie ... vol en wit van waterblomme; die skemering oor die boorde en stoppellande. Alhoewel die gedig uiterlik die vorm van die Engelse sonnet vertoon, sluit dit met sy innerlike beweging aan by die Italiaanse sonnet. Die wending na die eerste twee kwatryne is skerp, en met opvallende kontraste. Na die vervulling en die vreugde staan die smart en pyn nou sentraal. Opvallend is die wyse waarop die smart weerklank vind in die allitererende klanke: stilweg skryn In die vraag: is alle wording pyn?, kom weer die gedagte dat pyn gesien word as noodsaaklik vir die rypwording, maar nou nie net vir hom as mens nie, maar veral as kunstenaar. Nou is daar nog die soeke (die tas) na nuwe name (die gepaste woord). Die kunstenaar ervaar die wondre uitbloei nou as leed. Volkome vervulling kom eers later, in die herskepping van die natuur in sy digkuns. Winter In die tweede kwatryn oorheers die rus, terwyl ondergronds n proses van groei aan die gang is. In kontras met die nat aarde van die eerste kwatryn word daar nou gepraat van die warm aarde, n aanduiding van hoe diep ondergronds hierdie groei plaasvind. Elke deeltjie van die aarde word geraak, omdat dit ver en naby alles duister bind. Die konkrete tekening stu voort tot aan die begin van die derde kwatryn waar oorgegaan word na die abstrakte: die groot verlange. Opvallend hier is hoe die drie kernwoorde in reël 9 (vog, vrugbaarheid, verlange) klankmatig d.m.v. die alliterasie op mekaar betrek word, en mekaar terselfdertyd semanties ondersteun. Na verlange (reël 9) is daar n kommapunt, n pousering voor die inlui van n nuwe fase. Dan, in reël 10, kom die wending in die vorm van n nuwe waarneming. Die digter sien die gras blink en die jong graan teen die hange. Uit hierdie nuwe waarneming kom ook die wete: dat alle rus die lewe dien dat rus die noodsaaklike element, eintlik n vereiste, vir die lewe is. In dié enkele reël word ook die tema of boodskap van die gedig kernagtig saamgevat. Die beskrywing van die winterlandskap en die geheime groei loop oor die drie kwatryne heen op tot n hoogtepunt en bereik in die rymende eindkoeplet sy finale inslag. Die gedig eindig met n retoriese vraag n vraag waarop geen antwoord nodig is nie omdat die digter in sy intense meelewing reeds die antwoord verskaf het. Wat deur dié vraag uitgebeeld word, is sy totale verwondering, veroorsaak deur die insig waartoe hy gekom het: dit wat stil, donker en vol geheime was, word uiteindelik in al sy volheid geopenbaar. Eerste sneeu Wat ook opval, is dat die eerste kwatryn, in teenstelling met Vroegherfs, met die abstrakte begin. Die tweede kwatryn word gewy aan die konkrete in die natuur: die ronde aarde wat oopgekelk en suiwer staan; soos n blom; die nuwe waters. Hierdie nuwe vreugde ervaar hy in sy hart, en dus in sy hele wese. Die dieper insigte kom tot uiting in die stil vermoede dat alle lewe bó sy volheid kry: dus die besef dat pyn deel is van die wordingsproses. Vervulling beteken dat die dood vir die digter geen verskrikking inhou nie: en heerlik gaan in die rustige dood se hoede. Uit sy kreatiewe vermoë kom die vervulling. Vrae: Vroegherfs
Uit hierdie ligter herfs
Winter
Eerste sneeu
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |