OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Bespreking van gedigte

deur Mildred Jacobs

As jy weer skryf — Ingrid Jonker | Bitterbessie dagbreek — Ingrid Jonker | Digter — D.J. Opperman | Die beiteltjie — N.P. Van Wyk Louw

As jy weer skryf — Ingrid Jonker

Kantelson, die bundel waaruit dié gedig kom, is ’n versameling wat postuum in 1966 verskyn het. In dié bundel word talle temas en motiewe uit haar vroeër werke herhaal.

Liefde en liefdesverhoudings staan sentraal in die oorgrote meerderheid van haar gedigte, wat dikwels op ’n afwesige geliefde gerig is. In “As jy weer skryf” is daar ’n persoonlike gerig-wees (volgens die ondertitel).

Opvallend in die gedig is die nostalgiese toon — aangebring deur die verwydering van die geliefde. Die gedig in sy geheel is ’n herinnering — die woord “onthou” kom twee keer as ’n enkelreël in die gedig voor. So verkry dié woord, deur die herhaling, en as enkelreël, beklemtoning. Die oomblikke wat onthou moet word, is intens intieme oomblikke, kleurryke beelde wat glashelder in die geheue opgeroep word: die “goue blaar”, die “blou moederkappie” (’n wilde orgidee). Sy vra die afwesige geliefde om die momente te onthou, terwyl dit in werklikheid sy is wat dit in herinnering roep: die “... afwesige wandelinge / teen Tafelberg” wat nou so duidelik opgeroep word.

Die rede vir die vervreemding tref ons aan in reël 7 (die langste reël in die gedig): sy het weggegaan en bevind haar nou in Lissabon. Dat dit nie net ’n tydelike weggaan is nie, blyk uit die woorde: “Ek wat my bloed vermeng het met die bloed van / Die son saans in Lissabon”. In reël 8 val die funksionaliteit van die allitererende klanke op: deur die herhaling van die s-klank word elke woord as’t ware “uitgelig” terwyl terselfdertyd die reëlmaat van die versreël verhoog word. Deur middel van die alliterasie word die verwydering verder beklemtoon.

Tog bly sy, ten spyte van die vervreemding, een met die geliefde. Hy is nie net deel van haar nie; hy is ’n weerspieëling van haar. Sy het hom met haar “saamgedra soos ’n spieël”. Prof. D.H. Steenberg wys in sy Simbolisme in die Afrikaanse Digterlike Tradisie daarop dat die spieël sedert die Middeleeue twee kante besit: ’n negatiewe kant wat die verganklikheid kan onthul en ’n positiewe kant wat die vermoë het om die ewige te weerspieël. Vir die digter gaan dit om daardie dinge wat verby is, maar ook om die dinge wat sy vir ewig met haar saamdra. Die momente wat verby is, skryf sy op die “oop bladsy / van (haar) treurigheid”. Dit is herinneringe wat haar tot weemoed stem, daarom is die hele toon van die gedig dié van somberheid. Die son — dit wat warmte en vreugde behoort te verskaf — is “... nou vir altyd bedek / met swart vlinders”.

Dit is ’n gedig wat spreek van eensaamheid, daarom die swaar nostalgiese toon, teweeggebring deur ’n liefde wat verby is, maar ’n geliefde wie se teenwoordigheid nie prysgegee wil word nie.

Die voorthunkering is opvallend ook in die vloeiende versbeweging, verkry deur die aanwending van die enjambemente, en sluit dit op hierdie wyse aan by die tema van nostalgie. Die gedempte toon van sagtheid en teerheid word betekenisvol deur die enjambemente ondersteun.

Met sy oneweredige verslengtes en die afwesigheid van leestekens is die gedig ’n vryevers. Let op hoe die gedig met sy herhaling van versreëls en die allitererende klanke ’n ritme opbou sodat die gedig uiteindelik ’n hegte eenheid vorm.

VRAE:
  1. Met watter tipe vers het ons hier te make? Motiveer jou antwoord.
  2. Hoe slaag die digter daarin om die gedig nog steeds as ’n hegte eenheid saam te bind?
  3. Skryf uit die gedig ’n versreël neer waarin alliterasie voorkom en onderstreep die allitererende klanke.
  4. Wat is die funksie van die alliterasie in die aangehaalde versreël?
  5. Watter stemming is oorheersend in die gedig?
  6. Watter funksie verrig kleur in die gedig?
  7. Wat bedoel die digter as sy sê dat sy hom “soos ’n spieël saam met haar gedra het”?
  8. Watter soort beeldspraak tref ons in bogenoemde uitdrukking aan?
  9. Inversie (omgekeerde woordorde) speel ’n belangrike rol in die gedig. Gee ’n voorbeeld van inversie en dui kortliks op die funksie van die omgkeerde woordorde.
  10. Waarom is dit funksioneel dat die woord “onthou” as ’n enkelreël in die gedig voorkom?
  11. Wat is die funksie van die herhaling van die woord?
  12. Waarom, dink jy, sê die digter “Ek het jou geskryf” (reël 10) in plaas van “Ek het vir jou geskryf”?
  13. Verduidelik die funskionaliteit van die enjambemente.
  14. Verklaar wat bedoel word met “swart vlinders”.

Bitterbessie dagbreek — Ingrid Jonker

AGTERGROND
Hierdie gedig is ’n volgehoue metafoor, vanaf die titel tot by die laaste strofe. Wat opval, is die ritmiese gang en die algehele afwesigheid van leestekens. Sy maak gebruik van ’n reeks assosiatiewe beelde sodat die leser telkens moet vasstel wat die dieper, eintlike betekenis van elke beeld is.

Die gedig is geskryf in die volksversmetrum, wat in ’n groot mate aansluit by die metrum wat Boerneef in sy verse beoefen. Daar kan baie gesê word oor die volksversmetrum, maar vir ons doeleindes is dit belangrik om te weet dat daar in die gedig ’n opvallende metries-ritmiese reëlmaat te bespeur is. In toon en vorm is die gedig, Bitterbessie dagbreek, dus nou verwant aan die volksvers. Wat gou opval, is die eenvoud in die toon en formulering, asook die sangerige aard en vloeiendheid van beweging in die gedig, grootliks teweeggebring deur die afwesigheid van leestekens.

BESPREKING
Wanneer ’n mens die betekenis van die woord “bitterbessie” nagaan, is dit insiggewend dat die twee titelwoorde eintlik kontrasterend tot mekaar staan. ’n Bitterbessie is ’n bossie met swart bessies wat ’n bitter smaak het. Dagbreek dui die begin van ’n nuwe dag aan — dus, in digterlike en figuurlike taal, die begin van ’n nuwe lewe.

STROFE 1
Die titelwoord, dagbreek, word twee keer in die eerste strofe herhaal (en ook in die slotstrofe) — eerstens met dagbreek en daarna in reël twee met son; dus ’n woord wat vooropgestel word en baie dringend onder die aandag kom. Albei natuurverskynsels suggereer in die literatuur vreugde. Hier word dit egter paradoksaal gebruik: as skynbare teenstrydige woorde. Metafories gesien gaan dit hier om die desillusie van die liefde en die geliefde: die verbreking wat die illusie van die dagbreek en son kon geskep het. Die dagbreek is soos ’n bitterbessie, en so ook die son. Dit wat dus vreugde moes verskaf het, laat ’n bitter smaak in die mond. Die rede vir die ontgogeling kom in die volgende twee reëls: “Die spieël het gebreek / tussen my en hom”. In die digkuns van Ingrid Jonker word die spieël dikwels gesien as die spieëlbeeld van mekaar, wat dui op die noue verbintenis tussen die geliefdes. Die spieël het simbolies gesproke twee kante: ’n negatiewe kant wat die verganklikheid onthul en ’n positiewe kant wat die vermoë het om die ewige te weerspieël. Wanneer die spieël breek, word alle bande tussen die geliefdes verbreek en is hulle vir ewig vir mekaar verlore. Die sentrale tema is gebou op dié liefdesteleurstelling.

STROFE 2
Strofe 2 begin met die soektog “na die grootpad” — die breë weg van verdwalinge. Die begeerte is dus nog steeds sterk om deel te wees van die verlore geliefde, maar “oral draai die paadjies / van sy woorde af”. Hier reeds ’n aanduiding van die oorsaak vir die verbrokkeling van die verhouding: die “paadjies” van sy woorde wat moontlik dui op onwaarhede. Opvallend in die strofe is die herhaling van die aa-klank (assonansie) wat die tema van somberheid / neerdrukkendheid sterk onderstreep. Let ook op hoe die rym die twee woorde “draf” en “af” beklemtoon sodat hulle as kernwoorde uitgelig word.

STROFE 3
Die eerste twee reëls van strofe 3 staan weer paradoksaal teenoor mekaar. In reël een is daar die herinneringe, die onthou, maar direk daarna word die herinneringe, die oproep van oomblikke in die verlede “vergeet”. Die oomblikke wat sy saam met die geliefde gedeel het, moet nou vir ewig uit die geheue gewis word. As sy “ook verdwaal”, dus, terugdink aan die tye met die geliefde, besorg dit vir haar leed.

STROFE 4
“Papegaai-bont” dui waarskynlik op die geliefde; die geliefde wat soos ’n papegaai sinnelose, betekenislose woorde geuiter het, en die bont wat metafories gesproke die verskillende kleure van die geliefde suggereer — dus sy ontrouheid. Dit wat hy aan haar voorgehou het, was in werklikheid slegs ’n eggo — woorde wat teruggekeer het en dus geen egtheid in hulle bevat het nie. Die herhaling van die woord “kierang” gee die rede vir die opbreek van die verhouding — kierang beteken letterlik kullery (foppery) — sodat dit ook gesien kan word as die oorsaak vir die breek van die spieël (strofe 1). Sy is gekul en het “bedroë” daarvan afgekom. Bedroë is afgelei van die woord bedrieg. Opvallend is hoe die kernwoorde semanties op mekaar betrek word, omdat almal die konnotasie van onegtheid in hulle dra: “kierang”, “bedroë”, “koggel”.

Die laaste strofe begin met die woord “eggo” en dui op die slotsom waartoe die digter kom. Wat hier vooropstaan, is die onegtheid, die weerklank. Let op hoe die effek van die eggo verkry word deur die herhaling van “antwoord” in reël 2. Wanneer die aanvangsreël in die slotstrofe herhaal word, is dit soos ’n finale gevolgtrekking waartoe sy kom: daar is geen vooruitsig op die herstel van die verhouding nie.

VRAE:
  1. Die gedig is ’n volgehoue metafoor. Verduidelik
  2. Wat dra by tot die indruk van die volksversmetrum?
  3. Wat beteken die woord “bitterbessie” letterlik?
  4. Bring die woord nou in verband met die tema van die gedig.
  5. Watter kontras is daar reeds in die titel?
  6. Hoe word hierdie kontras voortgesit in die eerste strofe?
  7. Watter funksie verrig die assonansie in strofe 2?
  8. Verduidelik die funksie van rym in strofe 2.
  9. Verduidelik die paradoks in reël een en twee van strofe 3.
  10. Gaan na die betekenis van die volgende woorde: kierang, bedroë, koggel
  11. Hoe skakel die woorde semanties in by die tema van die gedig?
  12. Verklaar die eerste twee reëls van die slotstrofe.
  13. Wat is die funksie van die woordherhaling in die gedig?
  14. Wat is die funksie van die herhaling van die aanvangsreël in die slotstrofe.

Digter — D.J. Opperman

AGTERGROND
Die krygsgevangenes wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) uit Suid-Afrika weggeneem is na plekke soos Ceylon en die Bermudas, het om tyd om te maak skepe of tempels in bottels gebou. Vir die bannelinge was dit lang en moeisame arbeid, maar uiteindelik was daar die vervulling wanneer hulle selfvoldaan die skippie in die bottel op sy onbekende reis kon stuur.

Reeds met die titel van die gedig is dit duidelik dat dit in dié gedig om die digterskap gaan. Wat eerstens opval, is die reëlmatige strofebou en die verslengtes, planmatig gerangskik om ’n bepaalde patroon voor te stel.

In die gedig trek die digter ’n parallel met die moeitevolle opbou van die skip in die bottel en die planmatige opbou van die gedig voor dit na die leser gaan, dus op sy pad gestuur word. Hierdie parallelisme word regdeur die gedig gehandhaaf sodat die gedig tegelykertyd op twee vlakke beweeg: die bowevlak waar dit gaan om die bou van die skippie in die bottel en die dieper betekenisvlak (of die benedevlak) waar die digterskap betrek word.

STROFE 1
Die eerste strofe begin met die verwysing na die krygsgevangenes wat gedurende die oorlog (die “stryd”) verban is. Met die metafoor, “ ’n Ceylon”, verkry die stryd ’n metaforiese of dieper geestelike inslag. Met die “ek” plaas die digter homself gelyk met die krygsgevangene. Die digter beskou homself as ’n banneling. Terwyl hy hom besig hou met die skryf van die gedig is hy ’n gevangene in sy “Ceylon”, dus hier op aarde. In die ewigheid — êrens tussen hemel en aarde — voel hy verlate. Hiermee gee die digter te kenne die eensame taak wat hy in die skeppingsproses (die skryf van gedigte) op homself gelê het.

STROFE 2
Met die woordjie “waar” sluit die tweede strofe direk aan by die eerste en bevind die digter homself “geëiland”, afgesonder van mense. Dit is in sy afsondering dat hy gestalte gee aan sy “drange”, aangedryf deur die begeerte om te skep. Die “verlore vaderland” kan dui op die geestelike onvervuldheid wanneer hy nie skeppend omgaan nie. Hierdie onvervuldheid gaan gepaard met uitsigloosheid (“horisonne”) en “verlange”. Net soos die krygsgevangene verlang hy na sy eie “verlore vaderland”.

STROFES 3 EN 4
In strofe 3 en 4 word die digter één met die krygsgevangene — albei is besig met hul moeitevolle en selfopgelegde taak. Soos die banneling verrig die digter sy taak, skep hy sy gedig in die “geel gloed van die kers”. Die verband tussen die banneling en die digter vloei nou reël vir reël, byna woord vir woord ineen. Die nou nek van die bottel is vir die skeppende digter die “smal poort / van die wonder” — dus die inspan van sy geestelike vermoëns. Met dieselfde nougesetheid en inspanning waarmee die banneling te werk gaan om die “stellasies” (die raamwerk) van sy skippie in die bottel te plaas, skik die digter elke woord tot ’n vers.

Waar die digter in stofe 3 die klem laat val op die skeppende woord, nog steeds parallel met die bou van die skippie in die bottel, verskuif die aksent in die laaste strofe na die bou van die skippie. Maar dis nog steeds die “stellasies vers / wat groei tot boeg en mas / en takelwerk”. Opvallend hier is die wyse waarop die enjambement — die oorloop van strofe 3 na strofe 4 — die parallel tussen die twee onderskeie take ondersteun. Deur middel van die enjambement vloei die inspannende arbeid van die digter en die banneling ineen. Net soos die skippie stelselmatig opgebou word, ontwikkel (“groei”) ook die gedig.

Ná die moeisame en gekompliseerde taak voltooi is, kan die skippie in die bottel, en die afgeronde gedig, op hul onderskeie reise voortgaan. Belangrik hier is die aandagstreep (-) wat ’n aanduiding gee dat die taak voltooi is. Vir die digter beteken dit die “reis” na die leser en onbekende bestemmings, net soos die bottel met sy inhoud. Die alliterasie in die laaste reël (“geslote agter glas”) beklemtoon die volbragte taak. Net soos die banneling in sy verbeelding met die skippie terugkeer na sy vaderland, keer die digter terug na syne — sy geestelike vervulling by die voltooiing van sy skepping. Deur die verhewe taak onthef hy homself van sy bannelingskap en onderneem hy die reis na die land van sy drome — sy “verlange”.

VRAE:
  1. Waarom weet ons vanuit die staanspoor dat dit in dié gedig gaan om die digterskap?
  2. Watter geskiedkundige gebeurtenis word deur die gedig opgeroep?
  3. Verduidelik die progressie ten opsigte van die bou van die skip.
  4. Verduidelik die progressie ten opsigte van die skryf van die gedig.
  5. Watter parallelisme is daar tussen vraag 3 en vraag 4?
  6. Verduidelik die dubbele betekenis in “smal poort van die wonder”.
    1. Waarom gebruik die digter die onbepaalde lidwoord by “ ’n Ceylon”?
    2. Watter tipe beeldspraak tref ons in bogenoemde aan?
  7. Waarom sê die digter hy is met die “stryd verban”?
  8. Wat dink jy word gesuggereer met “ ’n verlore vaderland”?
  9. Waarom is “geëiland” ’n gepaste woord?
  10. Wat is die funksie van die alliterasie in “geel gloed”?
  11. Waarna verwys die “stellasies vers”?
  12. Wat is “takelwerk” letterlik?
  13. Watter verband is daar tussen die takelwerk van die skip en die gedig?
  14. Verduidelik die funksie van die enjambement in strofe 3 na stofe 4.
  15. Watter soort rym kom oorwegend in die gedig voor? Wat is die funksie van die rym?
  16. Verduidelik die funksie van die aandagstreep.
  17. Waarom is die vers- en strofebou van die gedig funskioneel?

Die beiteltjie — N.P. Van Wyk Louw

Dié gedig is ’n voorbeeld van ’n gedig wat hom tegelykertyd op twee vlakke handhaaf: ’n bowevlak en benedevlak. Op een vlak kan die gedig gelees word as die uitbeelding van die geweldige effek wat ’n oënskynlike nietige daad kan hê. Met die lees van die gedig ontvou algaande egter ’n tweede, dieper vlak wanneer die leser vermoed dat die beiteltjie inderdaad suggestief simbolies is. Die gegewens waarmee die digter werk, word op so ’n wyse aangebied en gemanipuleer dat die beiteltjie as onbeduidende voorwerp bo die natuurlike uitgehef word. ’n Baie eenvoudige omskrywing van die begrip simbool is dat dit ’n konkrete voorstelling is van ’n abstrakte idee; dus: ’n voorwerp wat iets anders, gewoonlik ’n abstrakte saak, verteenwoordig. Om vas te stel hoe ’n voorwerp as simbool figureer, moet daar altyd gekyk word na die konteks of verband waarbinne hulle gebruik word.

In die eerste reël van strofe 1 val die klem op die onbeduidendheid/onbenulligheid/nietigheid van die beiteltjie. Met die herhaling en die verkleiningsvorm word die voorwerp drie keer gereduseer tot sy kleinste vorm. Daarna tot in strofe 3 sê die digter wat hy met die beiteltjie gedoen het: hy het hom getik en geslyp en daarna op ’n klippie getoets om die effektiwiteit daarvan te bepaal. Ons let op hoe die digter nog in die eerste drie strofes beheer het oor die beiteltjie. Vanaf strofe 4 word die onstuitbare mag van die beiteltjie uitgebeeld; ’n mag wat progressief al groter word: eers breek die klippie, dan word die grys rots gekloof, gevolg deur die “sagte aarde”, die land, die planeet en uiteindelik die heelal (die bars wat “dwarsdeur die sterre loop”).

Saam met die groterwordende mag van die beitel ontwikkel ook die spreker se trots in die mag van die oënskynlike nietige beitel, en daarmee saam ook sy geloof in wat die beitel alles kan vermag. In strofe 5 sê hy: “so moet ’n beitel slaan / wat beitel is, of hoé?” en in strofe 7 sê hy: “met ’n bars wat van my beitel af / dwarsdeur die sterre loop”.

Die vermoede (wete) dat die beiteltjie simbool is van iets veel groter, veel dieper, noop die leser om die gedig weer van vooraf te lees om te kom by die dieper betekenis. Die vraag wat ontstaan is: waarvan is die beitel simbool? Van dié gedig het Van Wyk Louw self gesê: “Die poësie is te ryk vir een enkele -isme, net soos die simbool te ryk is vir een enkele betekenis”.

Vir N.P. Van Wyk Louw kan dit wel hier gaan om die mag van die taal of die woord, meer spesifiek die digterlike woord. Wanneer die digter begin met die “klein klein beiteltjie”, kom dit neer op daardie klein begin; net die idee wat uitgebrei moet word. Die woord “klink” is suggestief, want die poësie klink, werk met klank. Ook die woord “kry” is suggestief — dis immers ’n gawe wat hy ontvang het. Aan daardie idee word “geslyp”. Die herhaling dui hier op ’n voortdurende proses. Soos aan die beitel, moet daar vorm gegee word aan die woord; dit moet verfyn en afgerond word en eers as dit blink — hy dus tevrede is met die resultaat — kan hy dit toets. ’n Belangrike verstegniese middel wat in die eerste strofe deur die digter aangewend word, is die herhaling van die ei/y-klank. Deur middel van die assonansie word die kleinheid en die eenvoud van die instrument (taalinstrument) beklemtoon. Ook die reëlmaat van die versreëls word deur die assonansie verhoog.

In strofe 2 begin die toets — ’n klein begin — met die klippie op die rots. Die kernreël begin met die aandagstreep: “mens moet jou vergewis” (dus sekerheid kry), gevolg deur die dubbelpunt. Daar moet nou gekyk word of die instrument die toets kan deurstaan.

In strofe 3 span die digter al sy vermoëns in om die toets uit te voer. Hy gebruik die woord “slaat” — ’n versterkte vorm van slaan en toon daardeur die krag wat hy uitoefen. Die sterkte van die beitel; die krag van die woord volg na die eerste dubbelpunt in strofe 3. Die tegniese vaardigheid is reeds merksaam in die vergelyking: “so skoon soos langs ’n voeg”. Wat nou volg, is die figuurlike gevolge van die kap van die beiteltjie, ingelei deur die woordjie “toe”. Die digter se betrokkenheid word nooit uit die oog verloor nie. Dis opvallend in die eerste drie strofes hoe die “Ek” telkens aan die begin geplaas word. Wanneer hy praat van “my tien vingers”, “langs my voete”, plaas hy hom te midde van die kettingreaksie. Deur die werkwoorde volg die leser die pad wat die beitel oopgekloof het: eers “bars”, dan “skeur” en in strofe 5 “loop” “die donker naat deur my land” tot dit uiteindelik “na die wortel” toe “kloof”, dus na die kern; die begin van die bestaan. Op hierdie stadium is dit nog ’n “donker” pad: die gevolge is nog duister vir die digter. Ook dit wat duister is, sal uiteindelik na die lig kom.

Wanneer die digter sê: “so moet ’n beitel slaat/wat beitel is, of hoe?” is dit asof hy vir ’n oomblik terugstaan om sy handewerk, maar ook sy geestelike intellek in oënskou te neem. Uit die “of hoe” spreek ’n tevredenheid.

In strofe 6 word die gevolge van die eerste daad voortgesit op sy progressiewe pad. Opvallend in dié strofe is die kontraste tussen duisternis en lig — die goue afgronde wat tegelykertyd duisternis en lig suggereer; die hoogtes: die kranse, en die laagtes: die vlak groen see — die digterlike woord wat hoogtes kan bereik, maar ook laagtepunte. Kenmerkend in die strofe is die talle allitererende kombinasies wat telkens die stukrag van die woord beklemtoon. Vgl. goue afgronde; verdwyn — vlak.

Die gedig eindig in strofe 7 met ’n hoogtepunt wanneer die voorafgaande gedagtes tot ’n kern saamgetrek word. Die dag wanneer die “... nag/daar anderkant oop” gaan, is vir die digter ’n wonderlike ervaring — uiteindelik sien hy die lig. Die bars of beiteltjie loop “dwarsdeur die sterre”. Aan die vermoë van die intellek is daar geen perke nie. Opvallend is hoe die voortvloeiing, die stukrag ook deur die enjambemente in die laaste strofe onderskraag word.

VRAE:
  1. Hoe beklemtoon die digter die feit dat die beitel nog aan die begin van sy vermoë staan?
  2. Watter woorde in strofe 1 suggereer dat die beiteltjie simbool van iets anders kan wees?
  3. Van watter vermoë van die mens dink jy is die beiteltjie ’n simbool?
  4. Watter woord dui aan dat die spreker die beitel as ’n gawe ontvang het?
  5. Op watter wyse word die instrument verfyn en afgerond vir sy taak gemaak?
  6. Verduidelik die funksie van die dubbelpunt in reël 1 van strofe 2.
  7. Wat is die funksie van die aandagstreep in strofe 3?
  8. Waarom gebruik die digter die verouderde vorm “slaat” i.p.v. “slaan”?
  9. Watter beeldspraak tref ons in strofe 3 aan?
  10. Dui die progressie aan vandat die klippie stukkend geslaan word.
  11. Op watter wyse word die digter se betrokkenheid end-uit gevoer?
  12. Verduidelik wat die digter bedoel met: “en kloof hom wortel toe”
  13. Waarom dink jy word gepraat van ’n “donker naat”?
  14. Skryf ’n aanhaling neer wat dui op die digter se tevredenheid.
  15. Haal ’n voorbeeld van alliterasie uit strofe 6 aan.
  16. Wat is die funksie van die alliterasie?
  17. Wat is die funksie van die enjambement in strofe 7?
  18. Dui die kontraste in strofe 6 aan.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.