OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Toorberg

Saretta Otto

Dit wat ek in die klaskamer met Toorberg doen, deel ek graag met ander kollegas omdat ek hoop dat meer skole die “nuwer” voorgeskrewe werke sal probeer sodat ons leerders deel kan word van ’n ryker ervaring en dat ons nie vasgevang word in werke waarvan ons genoeg uitgewerkte vrae en vraestelle het nie.

Die feit dat jy hierdie bladsy lees, beteken dat jy ůf reeds die roman doen ůf belangstel om dit te doen. Toe ek vier jaar gelede by ’n verskaffer van skoolhandboeke navraag gedoen het oor Toorberg, was die reaksie: “Mevrou, weet jy watter moeilike boek jy nou wil doen? Ons het in elk geval nie baie boeke laat druk nie, want nie baie skole sal tog belangstel om dit te doen nie!”

Wel, ek het my kwota eksemplare gekry en hoeveel ander skole die roman doen, weet ek nie, maar wat ek wel weet, is dat ek nog nooit spyt was dat ek die ander voorgeskrewe romans vir ’n wyle skuins laat lÍ het en die Magistraat van Toorberg in my klas van die trein laat afklim het nie.

Dit is belangrik dat die bespreking van Toorberg deur prof Chris van der Merwe in ’n vorige uitgawe van Litnet eers bestudeer word. Dit is die letterkundige bespreking en vorm ’n basis by die onderrig van die roman. Wat hier volg, is bloot wenke van hoe dele van die roman in die klaskamer aangepak kan word. Ek sal graag kommentaar en wenke wil ontvang. Hierdie is nie ’n uiteensetting van wat presies met die roman gedoen word nie; eerder aktiwiteite om die bestudering daarvan vir die leerder aangenaam te maak.

Dankie aan dr Johan Anker wat vir my as student die “toormooi wÍreld” van Toorberg oopgemaak het.

Toorberg in die klaskamer
Die reaksie van die leerders, na die lees van die eerste paar hoofstukke van Toorberg, is elke keer dieselfde: “Wat ’n simpel deurmekaar storie!” “Ons weet niks wat hier aangaan nie!” “Kan ons nie ’n ander boek doen nie?”

Dan die reaksie aan die einde van die roman: “Dit was wonderlik!” “Die mooiste wat ek nog gelees het!” “Slim geskryf!” Dit is my ondervinding nadat ek vir die afgelope drie jaar Toorberg met die Graad 12’s aangepak het. Elke jaar is daar op verskillende aspekte klem gelÍ sodat plakkate en werkstukke nie van een groep na ’n ander oorgedra kan word nie.

Saam met die boeke deel ek ’n fotostaat (op manilla-karton) van die stamregister uit. Dit help die leerders met die verkenning van die karakters en verhoed dat hulle elke keer na die begin moet terugblaai.

Daar is ongelukkig nie genoeg tyd om die roman woord vir woord in die klas deur te lees nie.’n Leesrooster word opgestel en uitgedeel. Daarop is die hoofstukke in leeseenhede ingedeel, elk met ’n sperdatum wanneer die betrokke gedeeltes klaar gelees moet wees. Elke hoofstuk het ’n “bespreker”, een van die leerders wat die verhaal van die betrokke hoofstuk kortliks vertel en ook belangrike punte vir bespreking uitlig. Die res van die klas gee dan hul menings en ek vat elke hoofstuk saam, in konteks met die res van die roman. Die storie word nooit vooruit vertel nie ó hulle moet dit self ervaar. Die rede hoekom die Magistraat na Toorberg kom, moet wel bekend wees. Daar is leerders wat die roman vinnig deurlees en hulle hou graag die res van die gebeure geheim, maar hul kennis van die verhaal dra by tot die besprekings. Hierdie leesrooster werk veral vir die stadige leerders en trae lesers. Dit help ook die opvoeder om op skedule te bly, want tyd is ’n belangrike faktor. Daar moet mos nog ’n drama, kortverhale en ’n klomp gedigte ook gedoen word ó om nie te praat van genoeg taalleer- en ander leesoefeninge, skryf- en praatwerk nie. Dit alles tussen toetse, eksamens, atletiek, interskole, 40 days, matriekafskeiddrome, en so aan! Die leesrooster behoort ook voorsiening te maak vir toetsdatums, paneelbesprekings en ander aktiwiteite rondom die roman. Op hierdie manier kan die roman binne ses weke behandel word, met tyd vir toetse en ander aktiwiteite ingesluit. Die hele Afrikaanse program kan in hierdie ses weke rondom Toorberg gebou word. (Daar is interessante taaloefeninge in bv Kaatjie Danster se taalgebruik [p129: “nie so hol gevoel het nie”], diť van Waterwyser [p144: wat sy kinders “soos blaasbalkies” hoor asemhaal], “die suutjies patrone” van Tillie se voete [p142], poŽtiese taal, streektaal, ens.)

Dit is belangrik dat die leerders ook agtergrondkennis oor die skrywer kry. Ek maak ’n klein uitstalling van Etienne van Heerden se werke en knipsels uit koerante en tydskrifte in die klas. Die leerders mag ook van hierdie werke huis toe neem om te lees. Afskrifte van resensies is teen ’n lae tarief by NALN in Bloemfontein beskikbaar.

In die eerste periodes word die omslag van die boek verken en bespreek. Ons probeer saam afleidings maak oor wat in die roman gaan gebeur. Ek verklein die omslag sodat dit maklik op ’n A4-vel inpas met genoeg skryf- en krapplek rondom. Die boek met die gekleurde omslag word ook byderhand gehou. Die leerders verdeel in groepe, en sonder dat hulle enigiets van die verhaal weet, bespreek hulle die illustrasie en die titel. Daarna rapporteer elke groep aan die klas en dit is nogal interessant watter afleidings daar gemaak word. Ons soek raakpunte met die verhaal (wat net ek ken) maar die inhoud word niks verder as die doel van die Magistraat se besoek bekend gemaak nie. Hierdie “omslag-aktiwiteit” word aan die einde van die roman herhaal en dit is ’n openbaring om hierdie resultate te sien.

Intertekstualiteit
Gebruik die koerantberig, “Baba sterf in ou boorgat na spelery” (Die Burger), oor ’n insident wat plaasgevind het nŠ die verskyning van Toorberg, en die gedigte, “Waar ruwe rotse” en “Die vertrekkende wildeganse” deur C M van den Heever om die kontak met ander tekste te ondersoek. Daar is ook parallelle met Kroniek van Perdepoort (Anna M Louw), Een vir Azazel (Leroux) en Houd-den-Bek (Brink) volgens resensies van NALN ontvang. Die koerantberig en gedigte is aan LOK-simposiumgangers uitgedeel deur prof Piet du Toit tydens ’n bespreking van Toorberg.

Karakterverkenning
Daar is ’n bladsy in die leerder se skryfboek met die naam van elke karakter bo-aan. Skaamfamilie, Stieffamilie, Moolmans en andere word gegroepeer. Die agterkant van gebruikte papier kan net so goed werk. Soos die verhaal vorder, word ’n profiel van elke karakter saamgestel. Elke karakter se funksie in die verhaal word in diagramvorm aangeteken. Sommige leerders knip prente uit boeke of teken sommer die karakter soos hulle dit sien. Die leerders kan ook die diagramme op groot velle papier teen die muur doen. Leerders is vindingryk en sommige maak hul eie oorspronklike stambome om te onderskei tussen die 21 fokalisators en die lewendes en die dooies.

Die spoke/voorvadergeeste se inligting kan ook op grafstene soos in ’n begraafplaas aangeteken word.

’n Skematiese voorstelling van die mense om die boorgat is ’n ander manier om die karakters by mekaar te bring. “Ons was almal daar.” (pp 38, 64)

Op dieselfde manier word inligting aangaande die Magistraat se ondersoek uit sy briewe en gesprekke bygehou ó ’n soort misdaadverslag word so saamgestel.

Ander praktiese aktiwiteite:
Leerders werk in groepe aan blokkiesraaisels of ’n vasvra met bladsyverwysings uit die roman. Dis ’n pret-aktiwiteit wat die leerders help om die roman te verken. Die legendes en misterie van Toorberg is veral geskik hiervoor.

’n Hofsaak word gehou waarin leerders optree asof in ’n regte hof waartydens die aangeklaagdes in die saak van Druppeltjie se dood, volgens verwysings uit die teks, verhoor word.

Die maak van ’n koerant oor die gebeure op Toorberg: Die leerders besluit saam watter berigte nuuswaardig is en elkeen kry ’n berig om te skryf. Dit is ook ’n goeie skryfoefening diť. Die leerders het hier met die oorspronklikste berigte in hul uitgawe van Die Kolgans te voorskyn gekom. Die voorbladberigte: “Seun sterf in ou boorgat” en “Rooi vreugde op Toorberg” (die aankoms van die boormasjien) Verder: “Koue aankoms te Toorberg” (die Magistraat se ontmoeting met die gees van OuAbel), “StamAbel se trots” (die totstandkoming van die plaas Toorberg), “Stryd tussen Boere en Engelse verewig op tuinmuur”, “Dooies ontsteld oor rusverstoring”, “Man sterf onverklaarbaar op solder”, “Die Uitspraak en aktuele bladsye met Genadedood”, “Sondes bring droogte”, “Rassisme ruk hand-uit” (Oneday se inhegtenisneming) en “Velkleur maak saak” (die wegwysing van die Skaamfamilie by die kerk). Daar was ook ’n sterfgevalle-kolom met kennisgewings van die familie met Druppeltjie se dood, presies soos elke karakter dit in die werklike lewe (volgens die teks) sou gedoen het. Koppe en introparagrawe van hierdie koerantberigte kan ook as uitgangspunt vir vrae in ’n toets of eksamenvraestel gebruik word.

Die aktualiteit in Toorberg verskaf ook wonderlike onderwerpe vir ’n klasdebat of paneelbespreking, bv homoseksualisme, diskriminasie, die regstelsel, skuld en genade, reÔnkarnasie, genadedood, bloedskande, owerspel, ens. Die slot van die verhaal en die ironie van die werklikheid (die onvrugbare Moolmanbaas/vrugbare Skaamfamilie) kan ook ’n lewendige bespreking uitlok.

’n Interessante veilingplakkaat het ook die lig gesien: alles op die plaas is geadverteer en as gevolg van die droogte op ’n bankrotveiling te koop aangebied. Alles word gestaaf met teks- en bladsyverwysings.

Moontlike bladsyverwysings vir temas

Die Afrikanerhuis
4, 13, 19, 28, 32, 36, 44, 80, 81, 99, 100, 133, 156, 173

Mites, legendes, die misterieuse
4, 10, 11, 14, 40, 54, 74, 84, 85, 97, 103, 106, 110, 121, 134, 137, 138, 158, 160, 163, 164, 168

Die Magistraat
Karakter en eienskappe
8, 9, 10, 21, 23-25, 40, 41, 56-58, 102, 104, 134, 155, 157, 166, 178, 18

Sy briewe
39-41, 73-74, 85, 96-97, 102, 133-135, 157-158, 166-168

Droogte
1, 7, 8, 9, 59, 60, 66, 128, 142, 151, 154, 155

Water
1-5, 10, 39, 124, 142, 154

Skuld
7, 9, 10, 13, 40, 55, 56, 81, 85, 92, 102, 150, 158, 162, 169, 177, 178

Die Magistraat en skuld
9, 41, 55, 56, 73, 81, 82, 85, 90, 97, 102, 167, 177-179, 181

Die boormasjien
5, 9, 15, 35, 36, 39, 44, 51, 52, 112, 123, 124, 136, 142, 143, 159

Naamgewing
Toorberg (3, 8, 158, 162); Stiefveld (33, 34, 64, 130); Skaamfamilie (33, 48, 64, 117, 130); StiefMoolmans (92); Abels (33, 128, 162, 179); De la Rey (11); Posmeester (30, 31); KÍnsTillie (33); Koevert (53); Druppeltjie / Noag (5, 6, 142); Oneday (86); Abraham van der Ligt (10, 18)

Aktualiteit
25, 30, 36, 44, 54, 59, 67, 69, 71, 81, 106, 118, 119, 148, 169, 170, 173, 181, 185, 186

Moontlike vrae vir leerders om te ondersoek:

  1. Bespreek die volgende vanuit die perspektief van die Magistraat:
    1.1 die ruimte
    1.2 die Moolmans
    1.3 die misterieuse
    1.4 sy bydrae tot die vestiging van die skuldmotief
  2. Die briewe van die Magistraat speel ’n belangrike rol in die verhaal.
    2.1 Hoe leer die leser die Magistraat uit sy briewe ken?
    2.2 Watter funksie verrig die briewe ten opsigte van die ondersoek?
  3. Ondersoek en verklaar die volgende Bybelse beelde uit die teks:
    3.1 Abels (en Kains)
    3.2 Noag
    3.3 Josef in die put
    3.4 die Christusfiguur (Noag)
    3.5 die Petrus-klok (die slaweklok op die werf)
    3.6 die sondes van die regterhand (Matt. 6:3)
  4. Watter bewyse is daar in die verhaal dat die Magistraat ’n gereÔnkarneerde De la Rey kan wees?
  5. Bespreek die Slams se rol in die misterie van Toorberg.
  6. Motiveer die volgende stelling:
    Die verhaal van Toorberg kan ook gesien word as ’n soort misdaadverhaal.
  7. Daar is karakters in die verhaal met ’n aanvoeling vir die bonatuurlike, diť met ’n binneste oog. Verduidelik.
  8. Verduidelik die simboliek/ironie rondom die volgende name:
    8.1 die Halte (waar Posmeester woon)
    8.2 Druppeltjie/Noag
    8.3 Oneday
  9. Hoe kan water/droogte verbind word aan vergifnis/skuld in die roman?
  10. Toorberg is ’n plaas gehul in misterie, “hier loop waarheid en verdigsel, geskiedenis en toekoms en lewe en dood deurmekaar.” Gee redes, met bewyse, vir hierdie stelling.
  11. Hoe leer ons die Moolmans en hul geskiedenis deur die gedagtes van hul voorvadergeeste ken?
  12. Vind bewyse dat die Moolmans gebonde is aan die ruimte in hierdie verhaal.
  13. Toorberg is ’n ruimte vol teenstellings. Noem en bewys kontraste uit die verhaal.
  14. Daar bestaan tog ’n mate van verweefdheid tussen die Moolmans en die Skaamfamilie. Bespreek.
  15. Hoe word spanning in die verhaal opgebou?
  16. Die verhaal bevat segmente van die Suid-Afrikaanse werklikheid. Motiveer.
  17. Watter betekenis, op ’n universele vlak, ontbloot hierdie verhaal?


Sommer vir die pret plaas ek elke jaar ’n briefie aan my leerders in die boek wanneer ek dit uitdeel. Ek sluit met een.

Liewe Leser

Ek hoop nie dat met die lees van diť verhaal die spoke jou nagrus sal versteur nie; jy moet net ’n goeie perspektief hÍ op alles wat vooraf gebeur het. Iewers sal jy die eenheid tussen die klomp fokalisators vind, maar daar is een op die solder wat baie belangrik is.

’n Ou man bo in die dak van die huis en ’n ou op ’n baaik met ’n kol op sy gesig sorg vir ’n klomp ironie, veral aan die einde. Ons sal maar moet kollekteer om al die skuld te betaal.

’n Man met ’n afarm kom soek na helder water, maar kry iets soortgelyks. Hoekom lyk hy so skuldig? Hy’s vir my meer van ’n speurder as ’n watersoeker; hy skryf net nooit ’n verslag nie, maar sÍ tog dat hy water gekry het. Wie sal weet wat hy ontdek het?

Die vrou met die fyntuin het sekerlik die afarm-man beÔnvloed. Gelukkig glo ek nie aan reÔnkarnasie of spoke nie! Maar wat van die bloed teen die muur elke jaar?

Wat is die sin tog daarin om briewe aan ’n dooie te skryf? Wat wel sin maak, is die besondere name wat sommige mense en plekke gekry het ó daar is tog simboliese betekenis daarin, al is dit soms ook ironies. Maar wat die sondvloed en droogte nou met ’n kind se naam uit te maak het, bly vir my ’n raaisel.

Baie grillerig is die “oog” wat so loer en die misterieuse stories aan die hange van die berg. Het dit alles te doen met die mense wat met hul regterhande nie diť met linkerhande wil groet nie?

Dit lyk bra moeilik om tussen waarheid en leuen te onderskei. Hoe nou gemaak as niemand iets wil sÍ nie? Of is die kÍns een die enigste wat weet?

Die antwoord, liewe leser, lÍ in jou hande en jy moet seker maak dat jy nie ook aandadig is aan wat gebeur nie. Sů sal jy die helderste water vind.

Geniet die leeswerk so tussen die geroep van die kolganse en die mistigheid teen die berg deur.

Groete

Saretta Otto
HoŽrskool Heidelberg


Werklikheid volg fiksie: gebeure vind plaas na die verskyning van Toorberg in 1986 ó Oorgetik uit Die Burger

Baba sterf in ou boorgat na spelery

Van Ons Kantoor

PRETORIA. ó Die pa van ’n babameisie van Tzaneen het wanhopig toegekyk hoe brandweermanne langer as veertien uur gespook het om sy kind uit ’n boorgat naby die dorp te bevry.

Klein Cindy Roos van die Yamorna-hoewes naby Tzaneen het nog sowat ’n halfuur om hulp geroep nadat sy Sondagmiddag sowat 7m diep in ’n ou boorgat geval het.

Toe brandweermanne die volgende oggend omstreeks vyfuur met ’n tonnel tot by haar deurbreek, was sy reeds dood.

Cindy, wat skaars sewentien maande oud was, het waarskynlik al die vorige middag gesterf.

’n Gebroke mnr. Pieter Roos het vertel dat sy dogtertjie en haar tweejarige boetie, Pieter, Sondagmiddag oudergewoonte in die veld gespeel het.

Twee boorgate is verlede jaar in diť omgewing gesink, “maar ek het voor my heilige siel geweet hulle is toegemaak”, het mnr Roos gister gesÍ.

OP DIE STOEP GESIT
Hy het egter nie geweet dat ’n trekker die vorige dag per ongeluk een van die gate oopgeploeg het nie.

Die middag omstreeks twee-uur het mnr. Roos en sy vrou, Hantie, op die stoep voor hul huis gesit toe hulle hoor hoe Pieter skreeu. “Cindy gat val ó Cindy gat val”, het hy geroep.

Hoewel die gat sowat 30m diep is, het Cindy se heupe in ’n vernouing ó sowat 7 m van die oppervlak ó vasgesit.

“Ek kon niks doen nie”, het mnr. Roos gister gesÍ. “Sy het bly roep: ‘Pappa, help! Pappa, help!’ Maar ek kon niks doen nie!”

Cindy het nog ’n halfuur lank geroep en toe het dit stil geraak.

Mnr. Roos-hulle het die brandweer op Tzaneen ontbied en mnr. Kobus Visser, brandweerhoof, verskeie lede van die burgerbeskermingseenheid op die dorp en stadsingenieurs het hulle onmiddellik na die toneel gehaas.

Mnr Visser het gister gesÍ hy het die afstand na Cindy met toue gepeil en, hoewel hulle dit reggekry het om ’n tou aan haar klere te haak, kon hulle haar nie uitkry nie.

Die span het besluit om ’n gat sowat 2 m van die boorgat te sink en van daar ’n tonnel na Cindy oop te breek.

Die volgende oggend omstreeks vyfuur het hulle eindelik ’n tonnel tot by Cindy oopgegrawe. Sy was egter reeds dood.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.