Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wat Zen nie is nie

Johann Sôhô Rossouw

Zen-monnik, dissipel van Meester Roland Yuno Rech
sohosoho@mweb.co.za.


Zen was nog nooit so modieus soos vandag nie. ’n Paar jaar gelede kon ’n mens ’n reukweerder genaamd Zen kry; ’n tydskrif publiseer ’n artikel “Zen jou huis mooi”; die interieurs van hipermoderne kantore in rolprente lyk “Zen”; en as iemand baie kalm is, is hy “Zen”.

Dit is te verstane dat Zen (en talle ander religieuse tradisies wat nou vir die eerste keer hul opwagting in Suid-Afrika maak) vandag so modieus is. Verskillende redes kan hiervoor aangevoer word:

  1. Ontnugtering, veral by jongmense, met die tradisionele Afrikaanse kerke en selfs die Christelike geloof.

  2. Die beeld wat die media van Zen in die besonder en Boeddhisme in die algemeen voorhou (gestrooptheid, kalmte).

  3. Die prominensie wat ’n figuur soos die Dalai Lama geniet.

  4. Die opkoms van selfhelptegnieke, ’n terugtrekking in die privaatbestaan en “leefstyl” teen die agtergrond van groot politieke en ekonomiese onsekerheid.

  5. Die neiging om religieë soos produkte in ’n supermark te hanteer, waar jy nou die een en dan weer die ander handelsmerk op die proef stel.

Dit is veral laasgenoemde verskynsel wat vir die praktyk nie net van Zen nie, maar van enige religieuse tradisie nadelig is. Mense is dikwels in ’n tyd van verkenning of krisis geneig om ’n nuwe religieuse tradisie op die proef te stel. Dit is goed so, maar die probleem is dat hulle by die eerste die beste uitdaging wat die nuwe tradisie aan hul vertroude idees en vooroordele (oftewel hul ego) stel, eerder die nuwe tradisie laat staan om weer ’n volgende een op die proef te stel. En so bly hulle vasgevang in ’n kringloop waarin hulle nooit verder kom as hul eie bonno’s (passies, begeertes en illusies waaraan ’n mens verknog is) nie.

Wat dikwels met die praktyk van Zen gebeur, is dat die leek wat daarin belangstel, begin deur ’n boek oor die onderwerp te lees, dikwels die inhoud daarvan belowend en oortuigend vind en gevolglik aan die hand van die aanwysings in die bylaag zazen (sittende meditasie) begin beoefen, gewoonlik met die verwagting dat hulle kort voor lank ’n soort serene, harmonieuse staat gaan bereik. Ongelukkig word hierdie verwagting meesal nie vervul nie, en dan is dit maar weer vort na die volgende kursus, klas, oefening of watter ander “tegniek” ook al beskikbaar is.

Dit is goed dat soveel mense vandag oop is vir ander religieuse tradisies, maar dit is amper onvermydelik dat voorgenoemde eksperiment met die praktyk van Zen sal misluk.

Die redes is voor die hand liggend: Zen is nie in die eerste plek ’n onderwerp waarvan ’n mens deur boeke ’n intieme kennis kan kry nie; dit is ’n praktyk wat eerstehands met liggaam en gees ervaar moet word. Zazen is ook nie ’n resep om my verwagtinge te vervul nie; dit is eerder ’n weg om my verwagtinge af te lê en sodoende vry te word. Bowenal is Zen nie ’n tegniek nie, maar ’n verreikende, diepgaande religieuse praktyk.

Wat kan die persoon wat werklik in Zen belangstel dan doen?

Die antwoord is eenvoudig, naamlik om die praktyk van zazen onder leiding van ’n legitieme verteenwoordiger van die tradisie van Zen te beoefen. Daar is vandag baie geestelike kwaksalwers en selfaangestelde ghoeroes, maar in die tradisie van Zen word hierdie uitgroeisels nie geduld nie. As iemand bevoeg is om mense die Dharma - hoe die werklikheid hier en nou is, die wysheid wat die Boeddha geleer het - te wys, is dit nie iemand wat homself bevoeg verklaar het nie (so iemand verstaan niks van die Dharma nie), maar iemand wat deur ’n meester van die lewende Zen-tradisie daartoe gesertifiseer is.

Wat is Zen? Eenvoudig: Zen is zazen. Dit is nie iets wat met woorde uitgedruk, in begrippe saamgevat kan word nie. Dit is nie ’n filosofie nie, en dit vereis nie ’n groot intellek nie. Wie in zazen sit, so het Meester Dogen (1200-1253, grondlegger van die Soto Zen) geleer, kan die Dharma wat reeds in haar is, laat manifesteer. En wie gereeld en toegewyd in zazen sit, kan algaande ontdek hoe elke ding en elke mens verbind is en dus met dieselfde religieuse gees van erbarming wat in zazen manifesteer, bejeën kan word.

Daar is baie paaie tot bo op die berg, maar wat belangrik is, is om die pad wat jy kies, enduit te stap. Dit is wanneer jy die pad met volle oorgawe, hier en nou, tree vir tree, stap, dat dit die Weg word.

  • Zazen word gedurende die volgende tye in die Durbanville Zen-dojo onder leiding van Johann Sôhô Rossouw beoefen: van Maandag tot Donderdag smiddae vanaf 17:30 tot 19:00 en soggens vanaf 06:00 tot 07:00; Vrydae soggens vanaf 07:00 tot 08:00 en Saterdae soggens vanaf 07:45 tot 09:15.

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.