NeerlandiNet - Neerlandistiek in Suid-AfrikaArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Posie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Nederlandse Taalunie

HOOFTREKKE

Nuus uit Nederland
Saamgestel deur Pieter du Plessis
KONINKLIJKE NEDERLANDSE AMBASSADE, PRETORIA

Kosovo
Nederland het deelgeneem aan die NAVO-bombardementsveldtog wat daarop gemik was om President Slobodan Milosevic te dwing om sy troepe uit Kosovo te onttrek. Die Nederlandse regering het ’n bedrag van 130 miljoen gulden vir vlugtelinghulp beskikbaar gestel, en in reaksie op ’n fondsinsamelingsveldtog het die Nederlandse publiek ’n bykomende 130 miljoen gulden geskenk. Nederland het ook aan ’n aantal vlugtelinge onderdak gegee.

Joodse geld
Na nege jaar se navorsing het navorser Gerard Aalders die Nederlandse banke van samewerking met die Nazi-owerheid beskuldig op grond van die feit dat hulle gedurende die Tweede Wêreldoorlog met Joodse eiendom handel gedryf het. Volgens Aalders het die bedrag destyds een biljoen gulden beloop, wat vandag aan ongeveer 14 biljoen gulden gelykstaande sou wees. Die Nederlandse banke het besluit om skadevergoeding te betaal, maar die bedrag is tot dusver onbekend.

Literatuurprys
Harry Mulisch het die Libris Literatuurprijs vir sy boek de procedure ontvang.

Rolprente
Die welbekende rolprentmaker Jeroen Krabbe is van plan om Harry Mulisch se veelbekroonde roman De ontdekking van de hemel te verfilm. Dit sal ’n Engelse produksie wees en sal na raming 20 miljoen gulden (R60 miljoen) kos.

Picasso
Picasso se “Vrouwelijk naakt voor tuin” is in die Stedelijk Museum in Amsterdam beskadig deur ’n geestelik ongebalanseerde pasiënt wat uit ’n inrigting ontsnap het. Dit sal geruimte tyd neem om die kunswerk te herstel.

Ongeluksvergoeding
Die kabinet het besluit dat fietsryers en voetgangers nie langer (soos gebruiklik was) outomaties skadevergoeding sal ontvang in die geval van ’n botsing met ’n motorvoertuig nie. Daar sal voortaan eers bewys moet word dat die botsing deur die bestuurder van die motorvoertuig veroorsaak is.

Verkeersknope
n Verbod op die gebruik van sekere paaie deur swaar voertuie is tans onder bespreking in ’n poging om verkeersknope op deurpaaie uit te skakel.

Onderwys
Nederland ondervind tans ’n tekort aan laer- en hoërskoolonderwysers.

Wapenwetgewing
Na die dood van twee meisies in Gorkum is die straf vir die besit van ’n onwettige vuurwapen van 9 maande tot 4 jaar tronkstraf verhoog. Die straf vir handel in onwettige vuurwapens is 8 jaar tronkstraf.

Diverse nuusbrokkies
  • Die polisie het ’n man aangekeer wat 40 jaar lank sonder ’n lisensie bestuur het.
  • Werkloosheid het tot 246,000 gedaal.
  • Die polisie is besorg oor die gedrag van toeskouers wat aggressief raak wanneer hulle gevra word om ’n ongelukstoneel te verlaat. Toeskouers kan verdere ongelukke en verkeersopeenhopings veroorsaak.
  • Die polisie het op die lughawe van Rotterdam op ’n groot besending kokaïen en dagga beslag gelê. Daar word vermoed dat die besending uit Suid-Amerika afkomstig is.
  • Polisieduikers het 50 ton rommel, insluitende winkeltrollies en honderde fietse, uit die Leidse gragte gehaal. Die meeste trollies en fietse is naby studentewonings uit die water gehaal. Volgens ’n woordvoerder gooi poetsbakkers hierdie items in die water. Hy het grappenderwys bygevoeg dat daar soveel rommel in die gragte is dat mens van die een kant na die ander kan stap.
  • Die ekonomiese groeikoers vir vanjaar beloop na skatting 2,25 %. Die inflasiekoers word teen 1,5 % bereken.

Nuus uit Vlaandere (België)
Saamgestel deur Renée Marais
UNIVERSITEIT VAN PRETORIA

Schelde mag verdiep word sonder ekstra verdrag
Die Antwerpse Hawebedryf het ’n regsmening by twee professore (van onderskeidelik die KU Leuven en die KU Nijmegen) ingewin oor die vraag of hy die reg het om, losstaande van die Waterverdrae van 1995, van Nederland te eis om die Schelderivier te verdiep na gelang handel en skeepvaart dit noodsaak. Die professore het bevestigend geantwoord. Hulle regsmening is gebaseer op drie elemente: artikel 113 van die Akte van Wenen (1815), die Scheidingsverdrag (1839, gewysig in 1925) en die feit dat Nederland die Ryn verdiep het. Die Schelde moet tot ’n gety-ongebonde diepte van 14 meter verdiep word, en die verdieping moet betyds genoeg uitgevoer word om te voorkom dat enige skade aangerig word. Gemeenskaplike beheer van die Schelde word gevolglik bepleit.

Poësiewedstryd vir die jeug
Digters jonger as 30 jaar kon tot 15 Julie gedigte instuur vir die internasionale poësiewedstryd Soetendaelle van Jeugd en Poëzie; die grootste wedstryd van sy soort in die Nederlandse taalgebied. Die beoordeling word deur ’n jurie van 14 volwasse en 14 jeuglede behartig. In 1998 het die jurie meer as 57,000 gedigte vir beoordeling ontvang en is meer as 200 pryse en 600 eervolle vermeldings toegeken, wat bestaan het uit boekpakkette ter waarde van altesaam 2,5 miljoen Belgiese frank. In die kader van die Gezelle-jaar sal die prysuitdelingsfunksie vanjaar op 20 November in Brugge plaasvind. Pryswenners en eervol vermelde digters mag alle Brugse museums gedurende daardie naweek gratis saam met hulle families besoek.

Bouwerk aan Centraal Station, Antwerpen
België was ’n baanbreker in die implementering van spoorvervoer in Europa. Die goedkeuring (in 1998) van ’n kredietbedrag van 3 miljard Belgiese frank vir die eerste fase van die bou van ’n tonnel onder Centraal Station in Antwerpen het een van die grootste spoorwegprojekte van die eeu in Begië ingelui. Die teikendatum vir die voltooiing van die projek is die jaar 2005, en die totale koste sal 18 miljard Belgiese frank bedra.

Die eerste fase van die projek het werk aan die trajek tussen Antwerpen Centraal en Berchem behels. In ’n hele paar strate om Antwerpen Centraal is tydelike bouwerwe opgerig, en van 24 Mei 1998 af was slegs drie spore vir treinreisigers beskikbaar terwyl daar aan 3 ander spore gebou is en een spoorlyn uitsluitlik vir die vervoer van boumateriaal gebruik is.

Op 19 September 1998 is die veranderde stasie weer in diens gestel. Aan die kant van die dieretuin is daar met uitgrawings begin, wat 900 m van die dieretuin se grondgebied vir minstens vyf jaar lank in beslag sal neem. (Dit behels ruimte wat deur tegniese personeel gebruik is. In die roofdierhokke, wat die naaste aan die bouery geleë is, moes daar egter bykomende isoleermateriaal ingebou word om te voorkom dat die lawaai van die bouery die diere steur.) Die stasierestaurant is in ’n loket omskep. In Oktober 1998 is die huise langs die Korte Kievitstraat gesloop. In 1999 moes die winkeltjies onder die spoor in Pelikaanstraat na houers op die sypaadjie verhuis en is daar met uitgrawings onder die pragtige stasiegebou begin.

In September 2000 sal spoorvlak +1 (die boonste van drie spoorvlakke) aan die kant van die Antwerpse dieretuin klaar wees en sal daar begin word met bouwerk aan die kant van Pelikaanstraat. Die fietsstaanplek sal verdwyn, en in die portaal sal elf lokette en inligtingstoonbanke geopen word. ’n Jaar later (in September 2001) sal daar met die boor van die eerste tonnelkoker tussen Dam en Astridplein begin word. Konstruksiewerk op Astridplein sal twee maande later begin, en in September 2002 sal die hele vlak +1 klaar wees. Dan sal vier van die ses spore vir treinverkeer oop wees (die ander twee sal uitsluitlik deur die konstruksiewerkers gebruik word).

In 2005 sal die “nuwe” Centraal Station in Antwerpen, met 14 perronspore en ’n spoorwegtonnel, volledig in gebruik geneem word. Die verbeterde stasie met sy tonnel op vlak -1 sal veral twee voordele inhou. Die eerste voordeel is dat “kopmakery” voortaan onnodig sal wees (kopmakery dui op die verwisseling van reisrigting van noord na suid en omgekeerd wat genoodsaak is deur die feit dat die treinspoor in die stasiegebou “doodgeloop” het). Die tweede voordeel is dat alle internasionale treine, insluitende die hoësnelheidstrein (HST of TGV, bekend as die Thalys) wat op die trajek Amsterdam- Antwerpen- Brussel- Parys loop, voortaan in die hartjie van Antwerpen passasiers sal kan oplaai in plaas van by ’n stasie in die buitewyke van die stad.

In 2005 sal die stasie dus op werklik internasionale status aanspraak kan maak. Ook die diens wat aan plaaslike pendelaars gebied word, sal soveel beter wees dat talle motoriste waarskynlik liewer na treinvervoer sal oorskakel.

boontoe



© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspiel nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.