Argief
                            Koördineerder: Naomi Bruwer
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Viagra God

Theo Geyser

Gebore op 13 November 1962. Produk van Standerton Hoër. Studeer op RAU vir eeue en eindig met ’n D iets. Hy begin die TV-program Voete wat deur die Kerk verban word. Hy sing sedert 1983 in Prophet saam met Koos van der Merwe en word ook vir nege jaar op radiostasies verban. Prophet wen na die ontbanning agt ATKV-Lier-toekennings en word twee keer genomineer vir SAMA-toekennings. Theo vang fanaties vis en leef Gen 1:26, “… heers oor die visse van die see …”, ten volle uit. Met die res van die Bybel sukkel hy. Hy verhuis ses jaar gelede na die paradys en woon in Stellenbosch saam met sy twee kinders Carissa en Milan. Hy is leraar by Stellenbosch Gemeente. Hy praat baie binne en buite die land. Niks meer kan oor hom gesê word nie; sy woorde en weë word, net soos sy vriend Koos, nêrens in die boeke van die profete genoem nie ...

As ek gedagtes griffel oor oppervlakkigheid, dan is dit nie vanuit die ondeurgrondelike dieptes waarin ek tans leef nie, maar eerder vanuit my soeke na en gebrek aan diepte, “soul” en ’n ware konneksie. Hierdie soektog het my in godsdiens laat eindig, waar ek vandag as predikant bedien. Ek het my as jong seun uit ’n gebroke gesin, seker soos die verlore seun om baie selfsugtige redes met ’n honger maag, na godsdiens gewend. Al my verdraaide motiewe en passies – of opium, in Karl Marx se woorde - is vandag nog my stryd, behalwe dat ek iets voel van ’n konneksie met ’n Vader en broer en ’n huis wat my oppervlakkige verdwaal betekenis gee.

Vandag is daar nie meer tyd om te verdwaal nie. Danksy die Allesgenesende Monderniteit kon die mens bevryding vind in die rede soos gemond in die wetenskap en godsdiens. Dit is die era van “tegnologies-halfmens-individu” met kitswonderwerke in die alomteenwoordige virtuele gees. Dit laat ons met teologiese rekeningkundiges, teologiese tegnici en teologiese wetenskaplikes. Van profete en digters is daar nie sprake nie en fiksie en misterie behoort aan die domein: Harry Potter. Die nuwe godsdiensdomein is Viagra-teologie. Dit is die nuwe ereksie-sondespel sonder die voorspel van ware liefde in ’n diep verbintenis met verantwoordbaarheid aan God, die mens en die kosmos. Toenemend bevind al hoe meer mense hulle buite die drukgange van blits-pseudodiepte.

Suid-Afrika het in 1994 geboorte gegee aan ’n nuwe bedreigde spesie: die Wit Afrikaner. Die rykes kon vlug en die gemiddeldes en armes het die angs van ’n krisisgemeenskap gevoel. In enige krisis wend mense hulle tot spiritualiteit, soos gesien in die teologiese landskap van Suid-Afrika. Ongelukkig dra die verwonding van die apartheidsteologie daartoe by dat vele hulle met weersin na ’n nuwe geestelike alternatief wend: Die Virtuele Viagra God, beter bekend as TBN of The God Channel. Sy teenwoordigheid is nou nie net meer in charismatiese kringe nie, maar ook gereformeerde kringe word daarmee betower. Elke keer as ek dit sien, wil ek eerder ’n Moslem of Boeddhis word. Sou hierdie senders nie boet onder ’n gevlegte sweep as Jesus hier was nie? Ek twyfel geensins. Statistieke oor die kitswelvaart en kuberwedergeboortes in die baarmoeder van die TV wil jou laat opgooi.

Die wetenskap van suksesvolle uitsaai is vrees. Ons word in kennis gestel van linksgevreesde sameswerings wat die gesin (soos die Dobson-alliansie goed doen) gaan vernietig. Dan moet ons weer veg teen die gevare van homoseksuele of sekulariteit of godslastering (so asof God regtig minder word deurdat iemand laster) en kry dan belasting-aftrekbare donasies (of “geloofsmosterdsaad” wat oornag ontkiem in ’n kar of groter bediening in Viagra-lingo omdat die regering van Bush die regse spreekbuis nodig het. Sakdoekies en geseënde gebedsmatte kan gekoop word. (Ek salueer Fred (?) by die KKNK met sy uitstalling oor Benny Hinn - kommentaar oor die verkommersialisering van godsdiens – dalk hoef die gospel-geestelikes nie meer so erg te veg vir ’n stukkie sonskyn op die KKNK nie - daar is gospel buite julle gospel ook ...) Die mag van die media bepaal nou die mark en ongelukkig verander die Christelike Boekhandel ook nou na ’n selfhelp-, resepteboek- en moralistiese meerderwaardigheidsontsnappingsbiblioteek. Die TV-persoonlikhede is dan nou ook die beste verkopers. Buite die Kerk is dit ook nie anders nie.

Die probleem met kuberspiritualiteit is realiteit en diepte. Wie onthou die speeches wat prinses Diana gemaak het? Wie het al haar boeke gelees? Niemand ... maar almal woon haar begrafnis by, want sy woon in ons huis. Die kuberruim maak dit moontlik dat ek my eie spiritualiteit kan kies sonder enige verbintenis.

Vernuwing in die Kerk word sinoniem met popkultuur. Dit is tragies, want hieraan behoort jy nie te vat nie, al het jy asbeshandskoene aan. Australies-Amerikaanse aanbiddingsliedere, drie-akkoord-kunstefeesbraaivleisliedjies met gedimde teaterliggies is nou aan bewind. Inheemse, oorspronklike, spontane kreatiwiteit word verpletter deur mainstream. Dit is ’n tipe Neo-Fordisme, soos Henry Ford massaproduksie aan die gang gekry het, waar mense nie hoef te dink nie maar net breindood parte aan mekaar moet sit dat die massategnologiemotor kan voortbeur. Waar godsdiens vroeër die geboorteplek van kuns was, is dit nou die afgestompte en voorspelbare. Selfs die metafore, poësie, briewe, verhaalkuns en ander genres in die Bybel word kitsbewyse van die rede met vraag-en–antwoord-metodiek. Designer Bybels hoef jou nie meer te laat twyfel of te laat wroeg nie.

Die Europese droom van individualiteit en tegnologie het ons genoeg van oppervlakkigheid geleer. Dalk kan ons mooi Afrika ons leer. Dit is die plek waar die Kerk nou die vinnigste groei. Dalk met die verkeerde teologie, maar ten minste woon mense nog die begrafnis van hul geliefdes by ...

Ek bid saam met Johannes Degenaar nie dat mense moet Christene word nie maar dat Christene mense moet word ...



LitNet: 24 Mei 2006

Wil jy reageer op hierdie mini-seminaar? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

  • boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.