Argief
                            Koördineerder: Naomi Bruwer
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Om diepsinnig te wees in oppervlakkigheid

Joan Hambidge

Joan Hambidge is digter, teoretikus, kritikus en romanskrywer. Haar poësie is bekroon met die Eugène Marais-, Litera- en Poetry Institute of Africa-pryse en daar het al sestien bundels uit haar pen verskyn. Sy het ook drie romans gepubliseer. Lykdigte is reeds in die tweede druk en was sowel Beeld as Die Burger se boekklubboek van die kwartaal. Haar jongste bundel, Ruggespraak, verskyn in November 2002.

Haar belangstelling in literêre teorie, veral die psigoanalise en metafiksie, vind neerslag in haar kreatiewe werk. In Judaskus word die versoening tussen teorie en praktyk byvoorbeeld vernuftig uitgewerk. Etlike artikels oor Roland Barthes, dekonstruksie en ’n studie oor die Postmodernisme (1995) is van haar bekendste teoretiese bydraes. Sy behartig 'n weeklikse reisrubriek, Wegkomkans, vir Die Burger en is 'n aktiewe resensent.

Sy is professor in Afrikaans en Neerlandistiek aan die UK. Sy bied onder meer ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aan, en ook ’n MPhil in kultuurstudies.

Oscar Wilde het geweldig baie mense op sy dag laat skeef opkyk oor sy klem op die speelse. Die klem op “camp” en Susan Sontag in haar beroemde essay "Notes on Camp" – opgeneem in Against interpretation (1966) – huldig “camp", en meer spesifiek Oscar Wilde se puntige, speelse opmerkings oor die weggooi-opmerking. Trouens, dit was mos die einste Wilde wat opgemerk het dat net die diepsinnige persoon op sy baadjie getakseer kan word ...

"Notes on camp" is die eerste keer in 1964 gepubliseer; dit wil dan lyk asof die verskynsel van die "opper"-vlak 'n langer tradisie het as wat ons wil erken. Hierdie essay het in die Partisan Review verskyn en is later gebundel.

Die nuwe oppervlakkigheid?

Dalk word alles verhewig deur internet, e-pos, sms, faks, rekenaar, telefoon, selfoon, drarekenaar – alles ekstensies van onsself. Juis omdat ons op sovele vlakke gerepresenteer of  verleng word, het kommunikasie makliker, dringender en vinniger geword.

Nie noodwendig slegter of swakker nie.

Dit is waarskynlik 'n mite dat die suurdeeg-gedagte 'n dieper, kundiger of belangriker insig na vore sal bring. Vele teoretici en skrywers sal bely dat die werk wat onder druk geskryf is, dikwels insigryker en meer kompak is. "Less is more" was 'n dictum, maar "More is better" is 'n teken van vaartbelyn en intellektueel geoefen(d) wees.

Die vraag oor oppervlakkigheid is 'n tersaaklike vraag in die post-postmoderne tydvak.

En die kritiek op die verskynsel dat alles 'n gejaag na wind (en geld) is, dui op 'n keerpunt of wending.

'n Oorgang van fases, sal filosowe verduidelik, het dikwels 'n soort vraagstelling tot gevolg met 'n veralgemenende aantyging. Dit is egter só dat tussen al die oppervlakkighede daar steeds uitmuntende digbundels gepubliseer word. Trouens, minder, maar steeds oorgenoeg. Daar is George Louw se Kraai en Izak de Villiers se Jerusalem to Johannesburg. Gilbert Gibson, Rustum Kozain, Arthur Attwell, Robert Greig, Ken Barris, Hennie Aucamp, Gabeba Baderoon, Antjie Krog … as ek die stapeltjie digbundels van net die afgelope paar maande nadertrek. Al hierdie bundels is deur my gelees en geresenseer – en daar is nog bundels wat ek nie eens vermeld nie.

Miskien is die groot probleem van die aanklag van oppervlakkigheid dat ons juis meer en meer wil hê en nie by die tersaaklike stilstaan nie. En nie raaksien hoeveel belangrike bundels daar wél verskyn nie.

Elke dag sug na nuwe vermaak.

As jy jou oë en ore toemaak vir die "white noise" en al die "empty speech" (aldus Jacques Lacan, die Franse psigoanalis), is daar steeds belangwekkende boeke en polemieke. Boeke wat 'n mens kan herlees. En verteer.

Hoe seg die Franse nou weer? Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde ... Of hoe oppervlakkiger dinge skyn te haas, des te belangriker is dit in die aanskoulike oomblik.

Maar selfs op LitNet is daar 'n argief waar die letterkundige navorser in die argief – oftewel die onbewuste van die kuberruim – kan navors, naspeur en dalk onthou dat Derrida mos geskryf het dat die onbewuste soos 'n argief sonder 'n klassifikasiesisteem is ...

Die kwessie is dus nie of ons dink alles het oppervlakkig geword nie; dis eerder tersaaklik om na te dink waarom ons nou (alweer) hierdie vraag vra.

… En 'n antwoord verwag – onmiddellik – in nie meer as 700 woorde nie. Daar's nou 'n bekvol vir jou.

Endnotas

Lesers word gelei na Seminaarkamer om die stuk oor skokfoto's te lees en
Madame Lacoste se bydrae oor die fracas tussen Stephen Watson en Antjie Krog, eweneens in Seminaarkamer op www.litnet.co.za, en dan verder te beweeg na my uitgebreide essay oor Susan Sontag, die kenner van die oppervlakkige. Haar Against interpretation is waarskynlik die belangrikste bronteks vir 'n soeke na die oomblik, weg van die teoretiese, na die orgasmiese, na die Barthesiaanse jouissance.

Wie is Madame Lacoste? As hulle nie brood het nie, gee vir hulle gedigte om te eet!

terug na miniseminaar-hoofblad



LitNet: 2 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie mini-seminaar? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

  • boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.