Argief
                            Koördineerder: Naomi Bruwer
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Mozart is ’n ringtone

Ilza Roggeband

Ilza Roggeband werk al ’n miljoen jaar vir Huisgenoot. Vir baie jare as vermaakskrywer, die afgelope paar maande as waarnemende promosieredakteur van Huisgenoot, YOU en Drum. Sy is Zac (amper vier) se ma en vermoed hy wil eendag ’n drommer in ’n rock band wees. Sy luister na amper enigiets, maar is in wese ’n rock chick. Sy glo die Rolling Stones is beter as wat die Beatles ooit kon wees en hou van Tom Jones. Sy is nie ongeneë om elke dan en wan brandewyn en Coke te drink nie, is ’n groot patriot (viva die Nuwe Suid-Afrika, viva!) en sien daarna uit om wanneer Zac agtien is en uit die huis gaan, weer boeke te begin lees.

Ons kan tog so wroeg. Behoede jou as Kurt Darren jou wil laat dans of as jy nie kan wag vir die nuwe Huisgenoot nie. Wee as daar ’n liedjie of twee of twintig van Steve Hofmeyr is waarvan jy hou of as jy jou kan verlustig aan die jongste skinderstorie in die wêreld van vermaak/sport/politiek. Dan is jy vlak, dom, kommin. Jy drink brandewyn en Coke, jy het ’n T-hemp met ’n ou Suid-Afrikaanse vlag op en daar is ’n ossewawiel in jou voortuin.

Blykbaar is daar deesdae nie ’n middeweg nie.

Die tyd waarin ons leef, is nie veel anders as tien of twintig of negentig jaar gelede nie. Ek was die samesteller van Huisgenoot se gedenkuitgawe vir ons 90ste verjaardag. Huisgenoot is begin as ’n kultuurtydskrif vir die nuwe jong taal Afrikaans. Die redakteurs in die eerste paar dekades was mans wat hul taal en letterkunde ernstig opgeneem het, maar tog skryf die eertydse redakteur, prof Smith, in die Maart 1918-uitgawe die volgende in sy redakteursbrief: ’’Ons tijdskrif is ’n populaire tijdskrif, en ons moet prakties sowel as wetenskaplik en opbouend wees. ’n Blad wat wil bestaan, moet betaal; en ’n betalende blad is gewoonlik net wat sij lesers hom wil hê.’’ Soos die aanhaling in die Kevin Costner-fliek Field of Dreams: “If you build it, he will come.’’ Met ander woorde: gee vir die mense wat hulle wil hê en jou kanse op sukses is soveel beter.

Ek raak vies as mense die sogenaamde populêre (ek haat die woord!) musiek van vandag uitkryt vir alles wat sleg is. Ek luister net so lekker na Kurt as na Valiant en net so lekker na Robbie Wessels as na Andries Bezuidenhout of Abel Kraamsaal. Net omdat ek ddisselblom of Klopjag in my CD-speler het, beteken dit nie ek kan nie die hoendervleis-lekker van “Engele Om Ons” van Steve Hofmeyr geniet nie. En dan sê ek nog altyd: ek luister eerder na ’n goeie kunstenaar met ’n goeie backtrack as na ’n band wat net geraas maak.

Anna Davel het die SAMA vir Godinne op die Grondpad gewen. Welverdiend. Sy het die stem van ’n engel en is ’n baie, baie talentvolle liedjieskrywer. Die toekenning gaan ongelukkig nie beteken sy gaan meer CD’s verkoop nie. Robbie Wessels se nuwe CD, Halley se Komeet, se verkope is net onder 100 000. Ewe welverdiend. Ek sal nie juis sy stem met ’n engel s’n vergelyk nie, maar hel, ek sukkel op die oomblik om die CD uit my CD-speler te haal! Is Anna ’n beter kunstenaar as Robbie? Is Robbie beter omdat hy beter verkoop? Moet mens dit probeer vergelyk? Kan mens dit nie sien as twee talentvolle kunstenaars wat elk doen wat hy/sy baie goed doen nie?

Ek is die eerste mens om te erken daar is baie gemors daar buite. Ek stel immers al sewe jaar lank Huisgenoot se program vir die KKNK en Aardklop saam. Maar daar is baie juwele ook. En daar is plek om jou ore oop te maak vir meer as net kommersiële of meer as net sogenaamde alternatiewe musiek. Loop oor die bruggie – jy sal dalk verbaas wees wat jy aan die anderkant kry.

Ek kan die óómblik onthou toe ek Theuns Jordaan die eerste keer hoor sing het. Ook toe ek vir Karen Zoid en DNA Strings die eerste keer in aksie gesien het. Maar ek het ook die eerste oomblik toe ek Nicholis Louw op ’n verhoog gesien het, geweet hier kom ’n ding. En of jy nou al sy CD’s het en of jy dink hy is die grootste onding ooit, jy kan hom sy sukses nie ontneem nie. Looks at the scoreboard, soos oom Boy Louw gesê het.

As Kurt ’n nier nodig het, sal ek vir hom een skenk. Mense kan so vinnig persoonlik raak. As jy nie van Kurt se musiek hou nie, moet hom dan nie persoonlik aanval en uitkryt vir enige ding wat sleg is nie. Kurt is seker een van die mees professionele kunstenaars saam met wie ek al gewerk het. Altyd op tyd, gee altyd alles vir sy gehoor, bly altyd tot die laaste aanhanger ’n foto of handtekening gekry het. Versigtig om nie op ander kunstenaars se tone te trap nie. Die grootste gentleman. Hy wil net sing en ’n sukses daarvan maak. En hy kán sing. As jy nog daaroor twyfel, moes jy verlede jaar by Skouspel gewees het en geluister het hoe hy “Jy Is Vrou” nootvaste noot vir nootvaste noot gesing het. En dit wil gedoen wees.

Hou op met wroeg. Solank jy net Afrikaanse musiek ondersteun, nie CD’s kopieer nie en doen wat nodig is om jou hare te laat terugwaai. En as jy iets wil kritiseer, luister of lees dit ten minste eers. Die grootste kritici van Huisgenoot is mense wat erken hulle koop of lees dit nooit nie. Die mense wat die meeste hul monde uitspoel oor sogenaamde populêre kunstenaars, het hulle amper nog nooit hoor sing nie.

Mozart is 250 jaar gelede gebore. Op sy dag en al die jare ná sy dood is hy vereer as ’n meester. Maar ons moet nooit vergeet dat hy vandag ’n ringtone is nie.



LitNet: 24 Mei 2006

Wil jy reageer op hierdie mini-seminaar? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

  • boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.