Argief
                            Koördineerder: Naomi Bruwer
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die verskil tussen populariteit en oppervlakkigheid

Herman Wasserman

Herman Wasserman is medeprofessor in die Departement Joernalistiek, Universiteit van Stellenbosch.

Die debat oor die veronderstelde vervlakking van die (Suid-) Afrikaanse media berus op minstens een foutiewe aanname: dat die media in die eerste plek ’n baie ernstige instelling is wat ernstige werk verrig.

Die media beweer dikwels dat hulle absoluut onmisbaar is vir demokrasie, dat hulle die sg. ‘Vierde Stand’ is  wat die regering op sy tone hou en waarsonder die demokrasie nie kan funksioneer nie, dat hulle inligting verskaf waarsonder die samelewing nie kan klaarkom nie en dat hulle ’n ruimte bied vir die uitruil van ’n veelheid van menings.

Kyk ’n mens egter eerlik en krities na die meeste media in vandag se geglobaliseerde, postmoderne samelewing, is hierdie stellings oordrewe ten beste. Die oorgrote meerderheid van die media bestaan uit vermaak – sowel in inhoud as aanbieding. Wat inhoud betref - kyk maar na die persentasie nuus wat ‘ernstige’ sake soos demokrasie, MIV/Vigs of armoede behandel, en vergelyk dit met hoeveel tyd en ruimte afgestaan word aan sport, selebriteite, vermaak, leefstyl, ens. En selfs waar ‘ernstige sake’ soos politiek of misdaad aangebied word, word dit gedoen met die onderliggende rasionaal van vermaak – dit moet lesers/kykers/luisteraars kan lok, dit moet aantreklik en verteerbaar aangebied word, toeganklik geskryf wees, dit moet, kortom, voldoen aan daardie ongeskrewe joernalistieke kriterium wat jy oral in nuuskantore sal hoor – dit moet ’n ‘lekker storie’ wees.

Om dus skielik ontsteld te raak oor wat gesien word as ’n vervlakking, is misplaas. Ja, in Suid-Afrika het ons voorheen geleef in ’n era waar media primêr gedefinieer was in terme van politieke ideologie, en is ons vir lank geïsoleer gehou van die globale tendense in media en kultuur. Maar ons is nou pens en pootjies deel van ’n postmoderne era waar die media allermins ’n kritiese instansie (’n ‘Vierde Stand’) op die rand van die samelewing is. Selfs in ’n ‘ontwikkelende’ land soos Suid-Afrika begin ’n mens sien hoedat die media binne die informasie-ekonomie self groot besigheid geraak het, en hoe inhoud op groot skaal gekommodifiseer word. Media-konglomerate soos AOL Time Warner het van vermaak en ‘inhoud’ ’n gesogte en verhandelbare produk gemaak, en Suid-Afrikaanse mediagroepe kompeteer nou ook met hulle. Die vooruitgang van tegnologie het meegebring dat media-gehore (of meer akkuraat dalk in dié konteks: media-verbruikers), ’n groter keuse het oor wat hulle wil aflaai van die internet, hoe hulle ’n musiek-speellys op hul iPod wil saamstel of na watter podcast hulle wil luister, of tot watter mate hulle self media wil maak deur middel van blogs. In Suid-Afrika geld hierdie wye vryheid van keuse wel net vir ’n bevoorregte deel van die samelewing, maar diegene wat weens infrastrukturele beperkinge ’n kleiner keuse het, se opsies lyk inhoudelik ook nie veel anders nie (behalwe miskien in die geval van media op voetsoolvlak, soos gemeenskapsradio, waarvan daar nog te min is). Paternalistiese stellings soos dat die media ‘die massas opvoed’ – is dus onvanpas en is eerder ’n retoriese aanspraak in die media se eie guns as ’n getroue beskrywing van wat die media in werklikheid meesal doen.

Om die populêre ernstig op te neem, beteken nie ’n mens moet minder krities wees oor die representasies, perspektiewe en mate van openbare deelname in die media nie. Dit beteken ook nie dat ’n mens nie normatiewe oordele oor die media (die verwagtinge van wat die media ‘behoort’ te wees) moet formuleer nie. Om die populêre ernstig op te neem beteken egter dat ’n mens fyn ingestel moet word op die maniere waarop populêre kultuur ’n strydveld word, waar opponerende ideologieë met mekaar wedywer en magsverhoudinge voltrek word, en waar gehore betekenis skep deur hul interaksie met populêre vorme. Dit beteken byvoorbeeld dat idees oor seksuele oriëntasie, rasseverhoudinge, genderrolle, noem maar op, ook in ’n sepie soos Sewende Laan uitgespeel kan word (en op hul beurt teengestaan kan word deur gehore wat sekere uitbeeldings kan verwerp of herinterpreteer), en nie net in ’n ernstige nuusprogram soos Carte Blanche nie. Politieke opvattinge, sosiale rolle en hiërargieë word ook in Hollywood-films genormaliseer (of gekriminaliseer), en die feit dat ons dit op ons openbare uitsaaier sien, kan ook ernstige vrae ontlok. Dit beteken dat ’n mens nie jou neus uit die staanspoor moet optrek vir ’n populêre vorm soos die poniekoerante nie, maar eerder moet vra watter uitsluitings, eng perspektiewe en beheptheid met winsgewende markte in die hoofstroommedia daartoe gelei het dat daar so ’n groot aanvraag ontstaan het vir ’n alternatiewe vorm. Dit beteken dat ’n mens die nuwe Insig net so ernstig soos die ou Insig moet lees as ’n mens wil agterkom wat die heersende ideologieë in die Afrikanergemeenskap is – en onthou, ideologie funksioneer juis op sy sterkste daar waar dit verhul is.

Die punt is dus: ons moet ’n onderskeid maak tussen die populêre en die oppervlakkige. Die feit dat iets populêr is, beteken nie dat dit nie ernstig opgeneem moet word, of dat dit nie invloed het nie.

Wat die Afrikaanse media betref, kan ’n mens dan ook oppervlakkigheid anders definieer – iets is nie noodwendig oppervlakkig as dit ’n populêre aanslag eerder as ’n swaarwigtige een het nie. (As ’n publikasie egter beweer dat dit gravitas het, maar eintlik ligte vermaak aanbied, is dit natuurlik oneerlik en het lesers rede om verontwaardig te word. Maar die arrogansie van ’n publikasie wat sigself aankondig as ’n ‘dosis intelligensie’ is eweneens verontwaardiging werd).

Ek sou eerder die Afrikaanse media se oppervlakkigheid wou meet aan die hand van ’n ander kriterium as populariteit. Daardie kriterium is perspektief.

Die Afrikaanse media is oppervlakkig indien dit beweer om aan hul lesers ’n beeld van Suid-Afrika te gee, maar eintlik konstant net na sy eie naeltjie te staar. Die Afrikaanse media is oppervlakkig as een van die belangrikste kriteria vir nuus-seleksie die Afrikaansheid van sy onderwerp bly (met ander woorde, solank ’n Afrikaanssprekende in Australië een of ander prestasie behaal, of ’n Afrikaanssprekende entrepreneur suksesvol is, of as die heilige status van Afrikaans op skool of op universiteit verandering ondergaan).

Dis oppervlakkig as die ‘ernstige’ Afrikaanse media so behep met homself bly dat ’n nasionale ramp soos MIV/Vigs aansienlik minder dekking kry as taal en identiteit (volgens ’n studie van die mediamoniteringsmaatskappy Media Tenor). Dis oppervlakkig indien net wit (dalk nou en dan bruin) TV-sterre in ‘populêre’ tydskrifte of wit (dalk nou en dan bruin) mense op ‘ernstige’ nuusfoto’s die voorblaaie haal omdat swart mense nie deel is van Die Mark nie.

Die gevolg is dat Afrikaanssprekendes in die media later net met mekaar praat, dat hulle uiteindelik mekaar opsweep tot ’n histeriese paranoia oor wat in die ou bedeling as ‘Eie Sake’ bekend sou staan, en ’n breër blik op die Suid-Afrikaanse werklikheid verloor. Die media sien dit raak, besef hier is ’n onderwerp wat lesers/ luisteraars/kykers lok, en gee hulle meer van dieselfde. As ons wil weet of die Afrikaanse media vervlak, moet ons nie vra of daar genoeg swaarwigtige artikels in koerante en tydskrifte is nie. Eerder as om te vra of die toon waarin die Afrikaanse media praat swaarwigtig of hoogdrawend genoeg is, moet ons vra watter perspektief op die wêreld onderliggend is aan dit wat gesê word, wat gesê mag word en wat nie, en wie almal deelneem aan die gesprek

terug na miniseminaar-hoofblad



LitNet: 2 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie mini-seminaar? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

  • boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.