Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Manifes van 'n Cordon Bleu-boemelaar

Koos A Kombuis verduidelik sy obsessie met goeie restaurante

Mense vra my deesdae al hoe meer hoekom ek so maer lyk. Ek begryp dit nie. Ek is nie maer nie. Ek het net twaalf kilogram afgeskud. Goed, ek moes 'n belt koop omdat my jeans almal afsak tot op my knieë, maar maer is ek beslis nie. Eers as ek nog twintig kilo's afskud sal ek lyk soos ek gelyk het toe ek nog 'n gesonde en fikse jong drug addict was.

In ieder geval, hoe het ek die twaalf kilogram verloor? Nee, ek is nie op 'n dieet nie. Ek was net 'n week lank op Aardklop. In daardie week het nie net ek nie, maar my hele gesin, including die babysitter, voedselvergiftiging gekry. By verskillende stalletjies. Dit was die onaangenaamste week van my lewe. Dit was erger as die week toe ons tydens die Voëlvry-toer deur die Veiligheidspolisie ondervra is en toe regsgesinde terroriste ons tyres geslash het. Dit was erger as my eerste week in die army. Dit was selfs erger as my vorige besoek aan Potchefstroom.

Ek het niks teen die jongmense van Potchefstroom nie. Die gemiddelde Potchefstroomse student is meer ingelig en meer nuuskierig en meer entoesiasties oor die lewe as die gemiddelde Stellenbosch-student.

Dit is 'n sindroom wat mens dikwels kry op plekke waar daar 'n gebrek aan stimulasie is. Vat Worcester, byvoorbeeld. Waarom kom daar so baie Afrikaanse popgroepe uit Worcester (byna helfte van al die bands wat al op Stellenbosch naam gemaak het, kom uit Worcester!). Omdat jongmense milieu-gestrem is, natuurlik. Omdat daar fokkol is om te doen op plekke soos Worcester en Potchefstroom. Kyk hoe ryk is Vanderbijlpark aan talent! Kyk hoeveel interessante en gawe mense woon in Secunda!

Jongmense wat gedwing word om teen wil en dank groot te word of te studeer in sulke plekke, het nêrens om te gaan behalwe in hul eie koppe nie. Hulle bou netwerke van vriende en ontdek op hulle eentjie die helende krag van kreatiwiteit. Hulle vergryp hulle wel aan Spray 'n Cook as kleuters, maar hulle stig later garage-bands. Hulle ontwerp mal websites. Hulle laat goeters ontplof in skoollaboratoriums. In effek is hulle besig om die jeugdige patroon van die Ou Suid-Afrika te herhaal. Want die hele Voëlvry-era, of jy dit nou wil onthou of nie, was aan die gang gesit deur 'n groepie stout kinders uit disfunksionele gesinne. (Die meeste van hulle, byna almal wat nog lewe, is ongelukkig vandag net so disfunksioneel soos wat hulle ouers was, maar dis 'n heel ander storie waaroor ek nie nou wil praat nie.)

Nou is daar 'n paar mense wat hewig ontstel is oor twee rubrieke wat ek onlangs vir Rapport geskryf het. In die eerste gewraakte rubriek het ek Amerika beledig (nie al die mense van Amerika nie, maar die heersende tydsgees van die plek). In die tweede gewraakte rubriek het ek Potchefstroom beledig (nie al die mense van Potchefstroom nie, maar ook die heersende tydsgees van die plek). Die vrot kol in Amerika word vir my opgesom in die feit dat so baie Amerikaners vir Bush stem en bereid is om hamburgers te eet, selfs wanneer hulle op reis is deur lande waar daar interessanter goeters op die menu is. Die vrot kol van Potchefstroom word vir my opgesom in die feit dat die dorpsvaders die verstommende arrogansie het om 'n kunstefees te organiseer in 'n plek wat eenvoudig nie die infrastruktuur en geriewe daarvoor het nie.

Ek was nog nooit in Amerika nie, en ek hoop nie ek hoef gou te gaan nie, maar die gebrek aan infrastruktuur op Potch is tog duidelik. Hoe is dit moontlik dat die Potchefstroomse Dam ten tyde van die Aardklopfees nie 'n kroeg het nie? Waarom is daar geen teekamer in die Botaniese Tuin nie? Waarom verkoop Woolworths nie vars vis nie? Hoekom het die Potchefstroomse Superspar nie 'n Deli-afdeling nie (wel, hulle het iets wat hulle nóém 'n Deli-afdeling, maar dit bevat net polonie en paais). Dank die vader hulle het darem 'n Nando's.

Maar waar, o, waar, is pikante eetplekke soos De Fijne Keuken op Oudtshoorn, Reinholdts op Clanwilliam, Reader's en Paddagang op Tulbagh, La Ponita op Stellenbosch, ensovoorts? Ek kan my oë toedruk en my vinger druk op die kaart van die Nuwe Suid-Afrika en feitlik enige plek (behalwe dalk vir Worcester en Secunda, maar ek praat onder korreksie, want ek was lanklaas daar) 'n plek vind wat wonderlike kuier- en uiteet-venues het. 'n Restaurant-gastehuis op Graaff-Reinet het onlangs 'n internasionale toekenning gekry. Daar is wonderlike cuisine-ervarings te kry in Swellendam, Dullstroom, Franschoek, Windhoek, Bloemfontein, Hartenbos, Swakopmund, Ceres, Mellville en selfs Durban.

Vir die ouens wat nie weet nie, 'n kookrevolusie het Suid-Afrika die afgelope dekade getref. Darrel Bristow-Bovey het onlangs in 'n boek gesê (ek dink dis Darrel, mens kan nooit seker wees van hom nie, maar anyway, dit staan in een van sy boeke): "Cooking is the new sex. Well, it could be worse. Sex could be the new cooking." Dit het baie te doen met die ontdekking van skottel-TV, kanale soos BBC Food, en die feit dat die Naked Chef klaarblyklik so 'n sexy ou dingetjie is. As gevolg van ouens soos Jamie Oliver is dit nou hoog mode om jou hare deurmekaar te dra - 'n mode wat ek sou navolg as ek kon - en verkoop die meeste groot kruidenierswarewinkels (behalwe in Potch) nou goeters soos kruie met snaakse name, wildsvleis, en selfs nuwighede soos trout en free-range skaaptjops (wat dit ook al presies beteken).

Die kookrevolusie gaan natuurlik oor meer as net kosmaak en vreet. Dit is deel van die globale toerismegrafiek van ons land. Toe ek vir die eerste keer as relatiewe jongman oorsee is, was ek verbaas om op feitlik elke hoek en draai in Brittanje en Europa 'n B+B (Bed and Breakfast) te sien. In die Ou Suid-Afrika was sulke dinge feitlik onbekend. Intussen het die gastehuiskultuur ook hier posgevat en, moet ek sê, word dit oor die algmeen goed bestuur. Ek het sover baie minder nare ervarings in gastehuise in Suid-Afrika gehad as in hotelle (behalwe vir een of twee klein probleempies in Bloemfontein en - you guessed it - Potchefstroom).

Die gastehuis/restaurant-revolusie maak ook deel uit van die kunstefeeste-dinamiek, en is baie belangriker as wat die meeste pseudo-intellektuele debatvoerders besef. Goeie restaurante en akkommodasie is deel van die totale pakket van wat Suid-Afrika deesdae bied aan sy binne- en buitelandse reisigers (ek praat nie nou van sogenaamde "buitelandse feeste" soos Tannie Martie in haar infamous Beeld-interview nie - sy het waarskynlik na die jaarlikse Portugese-saamtrek in Rosettenville of iewers verwys). Dit gaan hand aan hand met goeie toneelstukke, goeie musiek, prikkelende kunsuitstallings en interessante straatmarkte. In Europa, soos in die Kaapse Waterfront, word selfs buskers (straatmusikante) gesien as deel van die kultuurlandskap, en word die beroep van "kelner" met groot agting bejeën - dit is 'n professie eerder as 'n casual job vir deeltydse studente.

Natuurlik is daar feeste waar die totale spektrum nie gedek word nie. Mens moet liefs nie Oppikoppi toe gaan vir die volle drie dae as jy 'n toegewyde vegetariër is (of nie bereid is om jou eie coolbox te pak nie). Maar Oppikoppi gee hom nie uit as 'n oorkoepelende "kunstefees" nie; dis 'n spesialiteitsfees waar uitsluitlik gekonsentreer word op musiek (en ook nie eers alle soorte musiek nie - slegs die nismarkte van rock, African jazz en sogenaamde Afrikaanse Alternatief). Dit het my nog nooit gepla dat mens nie catch of the day by Oppikoppi kan kry nie. Dit pla my wel dat die Elgro Hotel se kroeg in Potchefstroom nie 'n enkele wynglas besit nie, slegs brandewyn- en bierglase. Hulle kon my nie eens voorsien van my belangrikste stage prop nie! (Bygesê, ek het baie genotvolle ure in die Elgro-kroeg deurgebring toe ek eers vriende gemaak het met die kroegman en met sy bystand hierdie vreemde verskynsel emosioneel verwerk het.)

Die bottom line is dit: kunstefeeste is deel van 'n baie groter prentjie, en die debat tussen kunsvrate en koeksistervrate is 'n mors van asem as dit nie gesien word teen 'n veel meer omvattende backdrop nie.

Een of ander irriterende niksnuts sal waarskynlik môre op SêNet vir my aanvat en sê: "Jy praat sover net van yuppie-aktiwiteite. Wat beteken gastehuise en upmarket restaurante vir die agtergeblewene gemeenskappe?"

Dit beteken alles! antwoord ek sommer nou al. Benewens die skep van werkgeleenthede en die algemene stimulasie van die ekonomie, is toerisme besig om een van ons land se grootste produkte te word. Dis iets wat om ideologiese redes, en ter wille van sielkundige selfkastyding, gering geskat word deur ernstige nasionaliste, Praag-lidmate en Marxiste, maar feit bly staan, ons het die klimaat, ons het die mense, ons het die natuurlike hulpbronne, ons het die inheemse resepte, ons het regte braaivleis, for fuck's sake (nie die rooklose vure en nagemaakte patties van Brittanje en Amerika nie), ons het Peter Veldsman, ons het vir Nataniël, ons het Rocco vir die cocktails, en ons het ook, behalwe vir Potchefstroom, die kuier- en uithangplekke wat geskik is vir glansgeleenthede en suip en vreet en sommer net menswees. Weet Marthinus van Schalkwyk dit, of sien hy net gholfbane? Besef die minister van kuns en kultuur (as daar nog so 'n portefeulje bestaan) hoe interconnected al hierdie dinge is?

En wat die teater-snobs betref, julle wat mense wil verbied om in gratis tente te kuier: Wil julle regtig teruggaan na 'n era toe die enigste drommels wat plays gaan kyk het, hulle vrouens ten duurste moes opdres in fake pelsjasse en opgedaag het by die Staatsteater in limousines op skuld gekoop wat stink na aftershave?

Nee, o, hel. Gee my liewer die vryheid van spraak en bekkige bontheid van die Nuwe Suid-Afrika. Gee my liewer lekker landgoedwyn en local Witblits en mampoer en wildspastei en varswater-trout en Karooskaap en snoek en galjoen (waar moontlik). Dit red miskien nie my siel nie, maar dit maak beslis die crime-statistiek en regeringskorrupsie en plaasmoorde meer draaglik. Burp.



LitNet: 15 Oktober 2004

Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.