Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hoe om regstellende aksie reg te stel

Koos Kombuis

Nou die aand in Kimberley versoek iemand in die gehoor dat ek een van my ou songs weer speel: “Die Baar op de Aar”. Terwyl ek sing, met my oë toe (want ek moet vreeslik konsentreer om die liedjie te onthou), besef ek dat daar ’n vreemde woord in die eerste versie voorkom. Kyk of julle dit kan “spot”!

Op perron nommer ses
Het ek ’n dors om te les
Die stasie is multiracial
Maar die toilets is special

Dis ’n woord wat ek laas in die Ou Suid-Afrika gehoor het: multiracial.

Wat de hel beteken dit?

Multiracial (veelrassig). Klink soos die bril wat my oogarts onlangs aan my verkoop het teen vyf duisend rand: “multifocal”. Klink soos ’n sekere soort orgasme wat gedurende die sewentigs in die mode was (en toe klaarblyklik net ’n mite was). Klink soos … trifle.

Hoe meer ek sedertdien loop en dink oor hierdie woord, en hoekom dit in onbruik verval het, hoe meer besef ek waar die ANC se beleid van regstellende aksie verkeerd begin loop het (met rampspoedige gevolge vir plekke soos Eskom, en ook die res van Suid-Afrika).

Want met die eerste demokratiese verkiesing in die middel-neëntigs – hel, is dit al meer as tien jaar gelede? – wou ons almal ’n politieke orde daar stel wat net mooi die teenoorgestelde is van die vorige, rassistiese orde.

En hoe beweeg mens weg van rassisme? Jy het twee keuses: jy skep óf ’n “nie-rassige” sisteem óf ’n “veel-rassige” sisteem.

Maar vandag het ons nie een van die twee nie.

Die redenasie van die ANC vandag is soos volg: In die ou tyd is Suid-Afrika oorheers deur wit mense en gevestigde wit belange. Nou is dit die swart mense se beurt. Dit is ook mos ’n teenoorgestelde.

Die probleem is, dis nog steeds rassisties.

Die toepassing van regstellende aksie was nie aanvanklik so drasties soos vandag nie. Die proses het ’n baie geleidelike klemverskuiwing ondergaan die afgelope tien jaar. In die begin het regstellende aksie, in die praktyk, eenvoudig beteken: as jy ’n werkgewer is, en twee mense van gelyke meriete, een wit, en een swart, doen aansoek om dieselfde pos, bevoordeel jy die swarte. Vandag word swartes voor die voet bevoordeel, met of sonder meriete, en selfs – wie sou dit ooit kon voorspel? – ten uitsluiting van die bruin mense.

In koerante soos The Sowetan, word hierdie beleid sterk verdedig, en verstaan mens, teoreties altans, die beweegredes daaragter. Swart mense is al vir eeue deur witmense onderdruk, so lui die redenasie, en aangesien regstellende aksie tot nou toe, slegs tien jaar later, nog net ’n relatief klein persentasie van die swart bevolking kon ophef, moet almal aanvaar dat ons skaars aan die begin staan van die proses, en dat regstellende aksie nog baie jare moet voortduur, want die fout van drie eeue kan nie in slegs tien jaar reggestel word nie.

Maar dis ’n bietjie soos om te sê: “Jou oupa het my ouma baie stadig gerape, nou gaan ek jou vrou baie stadig rape.”

Die dilemma van ouens soos ek, wat nie hou van regstellende aksie nie, is natuurlik die feit dat ons nie kan ontken dat dinge nie kon voortgaan soos dit was nie. Regstellende aksie, of iets soortgelyks, móés ingestel word. Maar, aan die ander kant: two wrongs don’t make a right.
 
Die klem moet eerder val op die uitgediende begrip veelrassigheid as op swart oorheersing. Regstellende aksie gaan immers nie om wraak nie, maar gaan daarom om gelyke geleenthede te genereer vir almal, soos teenoor die ongelyke geleenthede van die verlede. Regstellende aksie, soos dit tans geïmplementeer word, maak swart mense lui en alle ander mense mismoedig en selfs bitter. Rassisme is besig om toe te neem pleks van af te neem in die Nuwe Suid-Afrika. Daar is ook ’n onrusbarende polarisasie van inligting: lees jy wit koerante, neem jy kennis van die grusaamste plaasmoorde, maar lees jy swart koerante, hoor jy van swart mense wat (om maar een voorbeeld te noem) sonder provokasie aangerand is in ’n kroeg in Vanderbijlpark.

Regstellende aksie het ’n verdelende swaard geword, ’n tydbom wat wag om te ontplof in ons almal se gesigte.

Om terug te keer na die begrip nierassig. Is so iets werklik moontlik? Was dit al ooit moontlik? Nierassig is ’n Amerikaanse idee, dis die ideal van die “melting pot”, ’n ideologie wat alle etniese verskille onder die mat wil invee en wil voorgee dat ons almal eintlik dieselfde is. Maar ons is nié. “Nierassigheid” is globalisering, want dit wil mense van die hele wêreld oor een kam skeer. Nie meer wit of swart of blas nie, maar een valerige modder-mengsel. En natuurlik moet almal op die ganse planeet Coca-Cola drink en Desperate Housewives kyk. Asof Amerika dan kwansuis so ’n edele, onbevooroordeelde land is net omdat hy die vryemarkstelsel en die atoombom uitgedink het!

Nee, dan liewer: terug na veelrassig.

Veelrassigheid is ’n term wat ek assosieer met Mandela eerder as met Mbeki. Die woord klink so outyds en argaïes soos liberalisme, reënboognasie en rock ’n roll-ossewa.

Maar veelrassigheid kan weer meer word as ’n vae soort idealisme. Ek glo dat die woord ’n poging tot eksakte definisie verdien, en dat hierdie nuwe, eksakte veelrassigheid die sleutel kan word tot ’n nuwe soort regstellende aksie wat rêrig kan werk.

Vandag word maatskappye gepenaliseer as hulle nie wit werkers vervang met swart werkers nie. Waarom kan maatskappye nie beloon word wat werkers uit soveel moontlike diverse Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe aanstel nie? Ons is immers nie net ’n nasie van wittes en swartes nie. Daar is minstens sewe swart bevolkingsgroepe van wisselende grootte, elk met sy eie taal. Onder die bruines kry mens ook meer as een dialek en kulturele groepering. Dan is daar die randgroepe: Afrikaanse blankes, Engelse blankes, Sjinese, Indiërs, Grieke, en verskeie tipes wettige immigrante.

Ons is ’n reënboognasie, of ons nou dit wil erken of nie.

Ek glo dat “regstellende aksie op veelrassige grondslag” ’n broodnodige en onafwendbare Derde Fase van etniese diskriminasie of postdiskriminasie in ons samelewing kan word. Dit sal nie net die foute van die apartheidsregering finaal uitwis nie, dit sal ook die groeiende wanbalans korrigeer wat tot dusver deur ’n eensydige ANC-beleid veroorsaak is. Dit is die enigste manier om ons land te red van skeefgetrekte persepsies, wantroue, onkunde oor mekaar, korrupsie, swak dienslewering en nepotisme.

Iemand kan sê: “Wat weet jy tog van die situasie op grondvlak af? Jy’s ’n musikant. Jy kan maklik praat: geen soort regstellende aksie, nóg die nuwe nóg die oue, sal jou ooit raak nie.”

Verkeerd. Dit raak my direk. Dit raak my reeds geruime tyd.

Dit is deesdae al hoe meer algemeen om op te daag by ’n teater of musiek-venue en dan te ontdek dat jou klank-ingenieur of jou ligte-operateur swart is. Verby is die dae toe ons tydens die Voëlvry-Toer uit hotelle uitgeskop is omdat ons vrywilliglik ’n swart klank-ingenieur gehad het! Dit is deesdae hoog mode.
Nie al hierdie swart tegnici is onbevoeg nie. Party van hulle is beter met hulle werk as die wittes wat eers die job gedoen het. Maar dis ’n feit dat die meeste van hulle nog op ’n “learning curve” is. Dis ook my ondervinding dat nuut-aangestelde swart werkers die moeilike fase van “on the job training” vinniger en meer effektief afhandel wanneer hulle werk in tandem met blankes. Ek weet dat wat ek nou sê, klink soos die ou cliché, waar of nie, dat “swart mense net kan werk onder blanke toesig”. Die saak is egter nie so eenvoudig soos dit nie. Wanneer ’n mens ’n vaardigheid probeer baas raak wat vir jou nuut is, is dit beter om eerstehandse inligting by ’n meer ervare persoon te kry as om die heeltyd ’n handleiding te raadpleeg. Dieselfde geld vir my wat probeer om ’n swart taal baas te raak: ’n Xhosa-woordeboek kan my net tot op ’n sekere punt kry; as ek rêrig Xhosa wil vlot leer praat, moet ek oefen om te praat met ’n regte Xhosa.

Swart, wit, bruin, geel en rooi mense wat saam werk op die markplein is die enigste manier om ’n diverse mark soos ons s’n te laat werk. Dit is ook die enigste manier waarop ons almal mekaar in die afsienbare toekoms gaan leer ken, want as gevolg van die erfenis van ekonomiese ongelykheid en geografiese skeiding is die meeste woonbuurte tot vandag toe betreklik eksklusief. As ’n swart man – of ’n Katoliek, of ’n Moslem, of ’n Griekwa - dan nog nie my buurman is nie, kan ek ten minste elke dag vir hom “hallo” sê in die kafeteria by die werk. En, sowaar as wragtig, dis ’n begin.

Nóg deur die werklikheid van etnisiteit te ontken, soos die idee van “nierassigheid” probeer voorgee moontlik is, nóg deur te diskrimineer op grond van ras soos die Bothas en Thabo’s, maar juis deur ons individuele etnisiteit soos naamplaatjies op die bors te dra en daarmee as’t ware ons kwantitatiewe verskille en kwalitatiewe gelykheid ten toon te stel, kan ons vorder van ’n volk waar verskillende nasionaliteite mekaar voortdurend verorber en verskeur.

As ons dit nie kan regkry nie, kan ons net so wel emigreer na die Midde-Ooste …

www.kooskombuis.co.za

LitNet: 26 Julie 2006

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.