KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Rooibaardt skop serious snaargat

Erns Grundling

1ste ontmoeting: Club Al Capone, KKNK, einde Maart 2005

Die nag trek noustrop. Baron van Rheede se gô is uit, maar ‘n handvol desperate kosstalletjies smous steeds verbete en groepies voortvarende feesgangers slinger-slinger straat af. By Rock Art Café sing Stean van Diff-Olie “With or without you” en die skare jil berserk. Skuins oorkant die pad doef-doef iemand by Klip-innie-Bos. Maar ek kies koers na Club Al Capone, wat gewoonlik effens verligting bied, die sluier snags laat sak oor die Boereworsgordyn.

Dis dáár waar ek die eerste keer met die groep Rooibaardt kennis maak. Al voorheen van hulle gehoor, glo ‘n viertal hippies van Bethlehem. Selfs ‘n koorsige Katvrou-verslag of twee raakgelees op SêNet. Gehoor die violis skop gat en jol deesdae saam met Anton Goosen en al wat ghoeroe is in die Noorde.

Maar niks kan mens voorberei op Rooibaardt nie, veral nie as hierdie kêrels eers begin spoed optel nie. Lanklaas het ‘n vierstuk-band my só omgeklits. Om van die dansende skare nie eens te praat nie, by wie ek terstond aangesluit het.

Die verskeidenheid musiekinstrumente wat Rooibaardt se trawante bemeester, slaan mens se asem weg. Kitare, viool, djembe, snaargedoentes uit Noord-Afrika, fluite, ‘n Kreepy Krauly-pyp (!), bekfluitjies, noem maar op ... selfs ‘n speelgoed-eend (soos Telly Quack, onthou julle?) wat ritmies saam met die hoofsanger kwaak.


Rooibaardt se hoofsanger raak liries saam met ‘n Telly Quack-variant.
Foto: Erns Grundling

Denzl Keenan is ‘n dier op viool én al die ander instrumente wat hy moeiteloos opsaal. Vanessa Mae se moer, wag tot jy vir Denzl sien lostrek op viool. Hensie van Staden is aan die stuur van sake agter die mikrofoon en kom elke nou en dan met ‘n nuwe klank en instrument na vore. Hy is heeltemal in beheer van sy gehoor, hy kyk hulle fyn. Langs hom looi Louis Esterhuizen die baskitaar met groot gesag. En op agtsteman is André van Niekerk wat met perkussie en flink tromspel die ritme aanvoer. Wat ‘n plesier!

Ek vang die laaste paar songs en ‘n toegif of twee. Johrnè van ddisselblom stap verby met pieringoë en duim in die lug. Rohan en Eldré van die Dorpstraat Teaterkafee glimlag breed – Rooibaardt gaan oor ‘n paar dae by hulle speel ...

2de ontmoeting: Dorpstraat Teaterkafee, Stellenbosch, 4 April 2005.

Dis die gebruiklike chaos op kantoor, veral post-KKNK en na ‘n dag of drie se asem skep in die Oos-Kaap. Dit kos ‘n gespartel om tred te hou met korrespondensie, die e-posse rol in. So iets na 3 nm kry ek ‘n e-pos van Rohan. Dis Rooibaardt-tyd vanaand, besef ek skielik, maar die bookings lyk stil; seker maar die kunstefees-blues ...

Ek betrek my woonstelmaat (‘n nagraadse musiekstudent) by die plan. Sy moet saamkom om Rooibaardt te gaan dophou. Dis goed dat sy by is, veral omdat ek – behalwe vir die verpligte laerskool-sangklas, senior koor en ‘n paar jaar se kitaarlesse – myself nie sal uitgee as ‘n fundi as dit by viole en dergelike klassieke instrumente kom nie.

Dis tyd vir die vertoning om te begin. Denzl stem sy viool doodluiters, woonstelmaat bewonder sy dreadlocks. Ons bespreek die drummer se prominente biceps; dis ‘n algemene tendens onder stokkieslaners. Louis omgord hom met die baskitaar en strek hom lui uit. Hensie stap nader na die mikrofoon.

En dan trek Rooibaardt los.

Ondermaans. Oers. Woorde skiet te kort.

Dis ‘n sonde om te moet sit. Die klein maar waarderende gehoor trek los in wilde applous soos Rooibaardt deur die musiekstyle en genres vleg. Iets Kelties, dan Meksikaans, Spaans … moeiteloos.

“Jirre, hierdie violis se pitch, dis amazing!!!” laat woonstelmaat hoor. Sy’t dit skaars gesê of hy bring ‘n djembe na vore en begin dit wild te moker, alles in ritme. Verbete. Geolie. ‘n Fluit volg. Dan weer terug op viool.

Ons herstel nog van die eerste song, dan trek André los met Manu Chau se “Clandestino”. Denzl is nou op akoestiese kitaar. Dan ‘n selfoon. Louis bas bestendig voort met sy hare wat wapper in die lug, totaal in beheer. Op agtsteman hou André die skrum in toom; ‘n oorstootdrie is op die kaarte.

Hensie krap-krap in sy broeksak, bring ‘n bekfluitjie na vore. Doodluiters soek hy die gepaste kenwysie op sy selfoon terwyl hy voortsing. Druk dan die selfoon teen die mikrofoon op presies die regte oomblik. Hulle sal Manu Chau trots maak, dis verseker. Dalk selfs bietjie jaloers ...

Die volgende song, “Pula”, is in Afrikaans. “Daar is niks girls oor in Bethlehem nie, hulle almal gaan oorsee,” laat Hensie hoor. Hulle trek los met ‘n kwêla-beat wat herinner aan vroeë Johnny Clegg-tunes. En befokte lirieke:

Wakker in ‘n droom rook ek saam met die tokkelossie boom
En soos ‘n galbitter koeksister spel sy dolosse voorbodes van sinister
Want British Airways vat jou heen, saam met die roerstok en my reën
En alles voel so donker sonder jou, dis asof tyd my nou regeer
Want Afrika is nie dieselfde sonder jou nie
Afrika is net nie dieselfde sonder jou nie.

Die volgende song heet “Falling”. Hier is die ritme meer modern, maar steeds hipnoties. Eintlik mors ek my tyd om die songs te probeer beskryf. Maar vir wat dit werd is, “Falling” roep by my beelde op van die “Video and Visualization Window” op Windows se nuutste Media Player. Of vir diegene wat nie hiermee bekend is nie, dit maak mens so rustig en in tune soos daai famous screensaver van die visse wat van bakboord tot stuurboord oor jou rekenaar se monitor voortvin.

Reaching out to
The one I love
For peace of mind
The struggle within
Falling, falling
I keep on falling
In your love
Until the morning comes, breaking through.

Iewers, kan nou nie presies onthou waar nie, tokkel Denzl aan ‘n “Colongo”, ‘n instrument uit Ghana wat slegs twee snare het (Hensie verwys hierna as ‘n “pampoen met ‘n besemstok”). Mamba!

Die eerste set nader sy einde; na ‘n tune of twee in Zoeloe en Sotho boul Rooibaardt ons heeltemal om met “Irish Ting”:

Heya bula munyako ma
Hoza, kena hola
Face your fear
Find the new you
You know what to do.

Soveel van ‘n fusion tussen verskillende musiektradisies het ek lanklaas gehoor. En dit werk.

Hensie sluit die eerste set af met ‘n hoendervleis-weergawe van Sting se “Englishman in New York”, met so ‘n lekker township shuffle. Woonstelmaat skud die kop, skoon verbyster. Oor daai violis se pitch.

Dis laat in die aand; ons besluit om te reverse uit die Dorpstraat Teaterkafee. Daar is werk om te doen, deadlines om te reïnkarneer, katte om te voer, ensovoorts. Sal beslis meer hiervan sien in die toekoms.

Rooibaardt is briljant. Hierdie ouens verdien om op groot verhoë op te tree. In my geestesoog sien ek vertonings voor die Uniegebou, die Wêreldbeker-sokkertoernooi … ag, dis lekker om te droom. Want jy het hier te doen met kunstenaars in die ware sin van die woord, kêrels wat hulle craft ken en daai fyn balans tussen verstommende talent, tegniese kennis en die vermoë om te improviseer bemeester het.

Kunstenaars wat ook weet hoe om te entertain. En ‘n verskeidenheid invloede saamvleg. Met ‘n band soos Rooibaardt in die rondte is local musiek kerngesond.

Hulle eerste CD, Increase da peace, is pas vrygestel. ‘n Donnerse nice opname, gaan luister gerus.

Dit was so rofweg ‘n verslag van my eerste twee ontmoetings met Rooibaardt.

Nou is dit jou beurt ...



LitNet: 5 April 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.