Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Verspreide donderbuie en ’n reality check

Adriaan Basson


Oudminister Hendrik Schoeman het volgens oorlewering gesê as dit voor 10 Oktober in die Transvaal reën, gaan dit ’n droë somer wees. Verlede Vrydag was dit die 10de. En skuins na middernag het verspreide donderbuie oor Johannesburg uitgesak.

Die toeval raak erger. Ek het by ’n vriend gekuier en ons het Amanda Strydom se nuwe CD, Verspreide donderbuie/Scattered Thunder geluister.

“Verspreide donderbuie hou nooit lank nie. Verspreide donderbuie kom en gaan …”

Dit was ’n woeste week in die goudstad en die reën was goed vir my gemoed. Vroeër die week het dit bekend geword dat ’n 18-jarige meisie van Randburg moontlik die eerste slagoffer was van ’n sogenaamde snuff movie wat in Suid-Afrika verfilm is. Snuff movies is porno-moordfilms waarin ’n slagoffer op video eers verkrag en dan vermoor word. Reality TV op sy mees ekstreme?

Ek moes die storie vir Beeld dek en het gesukkel om die omvang van die misdaad te begryp. Hoe is dit moontlik dat ’n mooi, jong meisie met haar hele lewe voor haar vasgevang word in die net van sulke gewetenlose barbare? My kop wou nie rasionaliseer nie. Denial is, after all, ’n rivier in Egipte.

Snaaks hoe Johannesburg mens dwing om die lewe vierkantig in die oog te kyk: die wreedheid en omvang van die misdaad, die armoede langs die highways wat jou uitsig oor die veld verbloem, die mynhope en lugbesoedeling wat ons lugweë verstop, die eerste plate pienk en wit kosmosse wat tussen plakkershuisies die lente besing …

Hier lê “reality” ’n katspoeg ver. Die Nuwe Suid-Afrika-movie speel elke dag in volkleur voor jou af en jy raak sonder meer ’n karakter daarin. Hier is nie ’n see of ’n berg om heen te vlug nie. Ons is aangewese op mekaar vir vermaak, ontspanning en hoop …

Daarom dat ek ’n pryslied wil sing oor die rekonstruksie van Newtown - Johannesburg se nuutste hutspot vir die kunste en kuierplek vir die kreatiewe siel.

Onder leiding van die Johannesburgse Metroraad is Newtown afgestof, verlig, verbou en aan die res van die stad verbind met die pragtige, wêreldklas Nelson Mandela-brug. Die Markteater vorm steeds die hoeksteen van dié spot, maar daar is ook meer as genoeg kuierplekke met jazz, dans, visuele kuns, reggae, R&B en natuurlik ’n African cuisine by die heerlike eetplekke om die hongerpyne te stil.

Vrydagaand gaan kyk ons The Vagina Monologues by die Markteater. ’n Feestelike atmosfeer heers en ’n musikant met ’n kitaar vermaak ons. Die toneelstuk is snaaks, ontstellend, skokkend en aangrypend tegelyk. Onderdrukking van die vroulike seksualiteit. Mag aan die vrou! Molestering, verkragting en seksuele teistering van vroue. Seksuele frustrasie. Geboorte. Dawn Lindberg doen ’n interessante verwerking van Eve Ensler se beroemde toneelstuk. Daar is baie meer musiek en dié vagina kry ’n local geur.

Aan die einde van die stuk vra Dawn dat almal opstaan wat self seksueel misbruik is of iemand ken wat die slagoffer is van seksuele misdrywe. Meer as die helfte van die teatergangers is op hul voete.

Ek verlaat die gebou somber en drink saam met vriende wyn by die teater se restaurant. Ons stem saam dat The Vagina Monologues verpligte kykstof behoort te wees vir elke matrikulant in die land.

Ons ry terug oor die Mandela-brug en kyk hoe Johannesburg se liggies in die truspieël blink. Twee veiligheidswagte staan nou op die brug. Booswigte het glo reeds toegeslaan op motoriste wat hier ry, vertel ’n vriendin.

Melville is ons laaste stop en ek bestel ’n whiskey om die aand te vier. In die verte begin bliksemstrale die lig verhelder en rol die onweer stadig nader.

Verspreide donderbuie is meteens weer hier en die reën spoel die stad se paaie blink.

Dit is steeds 10 Oktober en ek lig my glas op Schoeman, die profeet.

Amanda sing vir ons op pad huis toe: “Die lig sal stadig deurbreek, die storms sal bedaar. Verspreide donderbuie hou nooit lank nie …”

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.