Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

PJ Philander

(25 November 1921 - 7 Februarie 2006)

Daniel Hugo

Sommige skrywers lÍ nader aan 'n mens se hart as ander, omdat hulle jou eie ervarings en herinnerings help verwoord. PJ (Peter John) Philander is vir my so 'n skrywer. Hy is op 25 November 1921 op Caledon in die Overberg gebore en het later onderwys gegee op Genadendal, 'n buurdorp van Caledon. In 1960 het my skoolloopbaan vyf kilometer daarvandaan op Greyton begin, waar my pa die NG-predikant was.

Van my vroegste herinnerings is besoeke aan Genadendal - die oudste sendingstasie in Suid-Afrika. Toe het ek nog niks geweet van die digter van die Overberg wat alreeds in 1955 (my geboortejaar!) met sy besonder sterk bundel Uurglas gedebuteer het nie. In daardie bundel staan die onvergeetlike vers "Aand op Genadendal". Maar ek sou eers op hoŽrskool in Windhoek daarmee kennis maak en dit onmiddellik eien as deel van my bewussyn. Veral die laaste twee strofes, met die subtiele simboliek oor ons tranerige, kortstondige aardse bestaan ("die donker Dal") met die hoop op 'n ewige saligheid (die "Sondereindrivier") bly my by:

Oumense kom van die nagwaak en praat
oor enkele lanterns hier en daar nog op straat,
wat swik met elke swaai in die stolpe Ö
Ja, klein is die liggies en onbeholpe.

Deur die donker Dal uit Baviaanskloof hier
vloei die stroom na die eeu-oue Sondereindrivier,
terwyl Wonderklippe teen die noordewind waak
en die vuurvliegies een-een uitgedoof raak.
Baie jare later verskyn Philander se kortverhaalbundel Hoefyster vir die hart (1983), en weer herken ek met vreugde en heimwee die Overbergse milieu. Die "hoefyster" van die titel verwys na Genadendal se U-vormige uitleg rondom die Baviaansrivier wat net buite die dorp by die Sondereindrivier aansluit.

PJ Philander was egter veel meer as 'n kontreiskrywer. Omdat hy in die ou bedeling die rasseklassifikasie "Kleurling" gekry het, was hy van vroeg af sosiaal en polities bewus. Dit sien 'n mens veral in die deurlopende motief van die "slaaf" wat alreeds in Uurglas voorkom. Sy latere bundels bevat uitgesproke politieke versetverse, soos "Doring in die horing" (Ostrakon, 1986), waarin hy die verslawende dopstelsel op die wingerdplase aanval. Van die leŽ wynbottel word uiteindelik 'n petrolbom gemaak.

Philander se bekommernis oor die uitgebuite arbeider blyk verder uit sy poŽtiese byskrifte by prente van sy Plettenbergbaaise oudleerling, die grafiese kunstenaar AA Langdown. Dit is in 1965 uitgegee as Die bruin kokon. By 'n potloodtekening van 'n visserman en sy vrou staan die volgende vers:

Agter stoot die see
met troffelveŽ
nader oor die strand
na ons huis se kant.

Die dreuning van die see
kom oor ons drumpel mee
tot in die kamer waar ons asiel
kry teen die storms as ons kniel.

Ver agter kom nog soveel aan
met dolpenne en roeispaan;
ons kinders gaan verlore
in ons eie spore.
Hierdie politieke verse is dikwels satiries en selfs humoristies van aard, soos in "Luistervink" (Konka, 1978):
Luister met jou stetoskoop
hoe oorspanne dit deur my are loop;
my hart in donker kamponge
klop om vars lug uit die longe.
En, as ek 'n klop of twee
oorhaastig is, moet jy toegee:
Ek loop as beeswagter
meer as drie eeue agter.
'n Mens lees hierdie gedig sedert 7 Februarie 2006 met 'n wranger glimlag, want dit is die dag waarop PJ Philander in die VSA aan sy hart dood is. Hy het al in 1969 saam met sy vrou Alice en drie seuns George, Dennis en Peter na die VSA geŽmigreer vanweŽ die apartheidsbewind in Suid-Afrika. Hy het sedert 2001 by sy jongste seun, Peter, in Las Vegas gewoon.

Philander het verse met 'n politieke strekking bly skryf tot en met sy laaste bundel, Trialoog (2002). Ongelukkig is sy blik van buite op die Suid-Afrikaanse samelewing daarin nogal verouderd. Dit blyk onder meer uit sy onbekommerde gebruik van die terme outa en aia. Vir hom is swart en bruin mense nog altyd onderdruktes wat hulle bitter lot ŗ la Adam Small op 'n kitaar "uittjingel" (vergelyk die gedig "Outa in sy kaia").

Buiten die verse van verset en sosiale bewoŽnheid vind 'n mens by Philander 'n groot verskeidenheid temas: jeugherinneringe, natuurgedigte, reisindrukke, in memoriams, liefdesverse, ouderdomsgedigte, ballingskapverse en lang historiese gedigte soos Vuurklip (1960) en Zimbabwe (1968).

In 1996 het ek 'n bloemlesing uit Philander se gedigte saamgestel ter viering van sy 75ste verjaarsdag: PJ Philander: 'n keur uit sy gedigte. Die bundel bevat ook 'n afdeling "Nuwe gedigte", met onder meer 'n hele aantal in memoriam-verse vir sy vrou, wat in 1988 oorlede is. Die volgende vers het haar naam as titel en tema:

Alice

Nou na jou dood
kan ek die simboliek
van die dotjie in jou naam,
'n stippeltjie afsonderlik
in die ruim geprik,
'n titseltjie beter verstaan.
Hierdie gestroopte gedig bevat nie 'n lettergreep te veel nie.

In die kwatryn "Heimwee" in Trialoog word die verlange na sy vrou ewe eenvoudig en ontroerend beskryf:

In 'n stiller wyk van Las Vegas
sit ek stoksielalleen op my voorstoep,
luister ek, ja, luister ek tot ek my misgis,
ek hoor Alice van ver af na my roep.
Die trefkrag van hierdie "min maar suiwer woorde" word verhoog deur daardie wrange "tot ek my misgis", wat soveel sterker is as die normale "tot ek my verbeel".

Philander het egter nie net na sy vrou verlang nie, hy het ook na sy land gehunker - soos blyk uit die kwatryn "Heimwee":

Die winde huil rondom my huis,
al wat vermis word is die Suiderkruis
bo Swartberg, Grootkop, Outenikwas
waar daar altyd brandhout vir my kaggel was.
Die bergname dui die plekke aan waar hy in Suid-Afrika gewoon en gewerk het: Caledon (Swartberg), Genadendal (Grootkop) en Plettenbergbaai (Outenikwas). Wat hier kort, is verwysings na Kaapstad, Malmesbury en Calvinia, waar hy ook skoolgehou het. Oor Calvinia het hy wel 'n deels outobiografiese roman geskryf met 'n bergnaam as titel: Rebunie (2000).

PJ Philander se digkuns het aanvanklik sterk invloede van DJ Opperman vertoon. Vanaf die bundel Konka (1978) is daar egter geen sprake meer van Oppermaniaanse klanke nie. In Trialoog reken hy finaal met Opperman af in die vers "Torteldigter":

Oornag word my lied opgekrop
en deur te luister na die wind verfyn
tot dit diep binne-in my begin skryn
as houtkappers my teen dagbreek opklop
waar, sieligalleen op 'n tak Totiaans,
ek uiting gee aan iets minder ondermaans.
Hy voel hom duidelik meer verwant aan die teruggetrokke en geestelike digter Totius as aan die nasionalistiese en aardse Opperman. Dit beteken dat hy eerder identifiseer met Totius se tarentaal wat sy maat verloor het as met Opperman se bombastiese "tortels van die modder" wat "uit die slym/ berg en ster berym".

Opperman se karakterisering van Totius se poŽsie as "tintinkietaal" kan ewe goed op Philander se beste verse van toepassing gemaak word. Een van daardie verse is ongetwyfeld "Haar uitvaart" wat dateer uit die Genadendalse tyd en handel oor die dood van sy dogtertjie:

Al oor my dak het hul gemaal Ö
diť voŽltjies het vir haar kom haal.

Half-toegevoue vuisies klein
het ylings na die doodsgordyn

gegryp en dan weer moeg verslap Ö
die sweet het langs haar slapies afgetap.

Haar ogies sien ek duidelik nog,
hul het vir my gesmeek om tog

te help Ö die pyn te stil,
maar ek was magteloos teen Sy wil,

en halfweg na die hospitaal
het, asemloos, die dood ons ingehaal.
Ek sal Peter Philander altyd onthou as 'n ouwÍreldse gentleman met 'n vonkel in die oog. Hy het bewys dat medemenslikheid en beskaafdheid politieke onreg kan oorleef. Met sy poŽsie het hy vir ons 'n blywende alternatief verskaf.

PJ Philander is sedert 1955 'n onmisbare stem in die Afrikaanse letterkunde en hy sal dit bly solank Afrikaans gelees word.

Bron
My artikel oor PJ Philander in HP van Coller (red), Perspektief en profiel - 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Van Schaik Uitgewers, Pretoria, 2006.



LitNet: 06 Maart 2006

Stuur jou kommentaar aan webvoet@litnet.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.