Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Antjie Krog ontvang vertaaltoekenning


Die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut het die SAVI Toekenning vir Voortreflike Vertaling vir 2003 vandag aan die bekende Suid-Afrikaanse skrywer en digter Antjie Krog toegeken vir haar digbundel Met woorde soos met kerse, wat in 2002 uitgegee is. Sy is as die algehele wenner van die toekenning aangewys uit die vyf kategoriewenners wat vroeër vandeesmaand bekendgemaak is.

Die toekenning is oorhandig by ’n konferensie in Kaapstad wat gehou is ter herdenking van Internasionale Vertaaldag, wat wêreldwyd op 30 September gevier word. Dit is die tweede keer dat die toekenning gemaak word; die 2000-wenner was Leon de Kock vir sy Engelse vertaling van Marlene van Niekerk se Afrikaanse roman Triomf. Die Instituut se doel met die toekenning is om die vertaling en publikasie van werke in en/of uit die amptelike tale van Suid-Afrika aan te moedig, met die oog daarop om -

1. die kwaliteit van sodanige vertalings te verbeter;

2. meertaligheid te bevorder, in die besonder die gebruik en ontwikkeling van die inheemse tale;

3. kruiskulturele begrip aan te moedig; en

4. bewustheid te kweek van die bydrae wat vertalers kan maak om die mense van Suid-Afrika te verenig.

In Met woorde soos met kerse laat Antjie Krog ongetwyfeld meer as net kerslig val op die poësie-erfenis wat in die ander inheemse tale van Suid-Afrika opgesluit lê. Sy laat inderdaad — in ’n samelewing waar die kulture hulle vir meer as drie eeue naas mekaar bevind sonder om mekaar werklik te “ken” — ’n kollig val op hierdie poësie-erfenis sodat hierdie kulture op die voorgrond geplaas en oopgemaak word vir ’n ander inheemse kultuur, Afrikaans. Haar werk is dus ’n belangrike aansporing om die “onsigbaarheid” van die gemarginaliseerde tale te verreken: etlike van die gedigte was vroeër slegs in Engelse vertalings beskikbaar en die werk in die kleiner tale is nog glad nie vroeër vertaal nie. Terselfdertyd is haar bundel ’n kragtoer in die doeltaal, ook ’n inheemse taal en kultuur. Die waarde van hierdie bundel inheemse verse lê ongetwyfeld in die lig wat dit laat “skyn” op al die inheemse tale van Suid-Afrika.

Die bundel is in vele opsigte rigtinggewend. Naas die reeks tale en kulture wat gedek word, het Krog ’n hoogs vernuwende vertaalproses benut. Sy het taal- en vertaalkundiges en ook sommige van die digters self geraadpleeg en dikwels ook verskillende vertalings van ’n gedig nagegaan in sowel Engels as Afrikaans alvorens sy haar eie vertaling geskep het. Die aantekeninge in die inleiding oor die keuse van gedigte en oor die vertaalprobleme wat sy teëgekom het, is besonder verhelderend. ’n Vertaler wat in staat is om so diepgaande te besin oor vertaalkeuses en -prosedure het werklik die vertaalkuns bemeester.

’n Goeie versameling vertalings is vir vanjaar se toekenning ontvang. In totaal is 25 inskrywings in vyf kategoriëe genomineer: fiksie, niefiksie, poësie en drama, diensvertaling en woordeboeke. Die vertalings is in ses van die land se elf amptelike tale — Afrikaans (11), Engels (8), Sepedi (1), Setswana (1), isiXhosa (3) en isiZulu (1). Die woordeboek wat ingeskryf is, is in Engels en Afrikaans. Die brontekste is meestal Afrikaans of Engels, en die inskrywings het ’n Nederlands-Afrikaanse, ’n Latyn-Afrikaanse en ’n Italiaans-Afrikaanse vertaling ingesluit. Laasgenoemde twee is klassieke werke wat die akademiese korpus in Suid-Afrika uitbrei: ’n vertaling van Erasmus se Tot lof van dwaasheid en ’n vertaling van Dante se Goddelike komedie.

’n Hele aantal opwindende werke is benoem, onder andere drie vertalings van Nelson Mandela se Long Walk to Freedom, drie vertalings van The Plays of Zakes Mda, asook Antjie Krog se Met woorde soos met kerse.

Die volledige lys nominasies is soos volg:

Fiksie

  • Janie Oosthuysen vir haar vertaling van JK Rowling se Harry Potter and the Goblet of Fire uit Engels in Afrikaans (Harry Potter en die beker vol vuur).
  • Catherine Knox vir haar vertaling van Elsa Joubert se roman Die reise van Isobelle uit Afrikaans in Engels (Isobelle’s Journey).
  • Catherine Knox vir haar vertaling van Etienne van Heerden se Die swye van Mario Salviati uit Afrikaans in Engels (The Long Silence of Mario Salviati).
  • Linda Rode vir die vertaling van drie kinderboeke: Yebo, Jamela! deur Nicky Daly, Christopher Gregorowski se Fly, Eagle, Fly! (Vlieg arend, vlieg hoog! ) (albei uit Engels in Afrikaans), en Vom kleinen Maulwurf, der wissen wollte, wer ihm auf den Kopf gemacht hat (Die storie van die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het) deur Werner Holzwarth en Wolf Erlburch uit die oorspronklike Duits in Afrikaans.

    Niefiksie
  • Drie vertalers vir hul vertalings van Nelson Mandela se Long Walk to Freedom:
    — Antjie Krog vir die Afrikaanse weergawe, Lang pad na vryheid
    — Prof Bheki Ntuli vir die weergawe in isiZulu, Uhambo Olude Oluya Enkululekweni
    — Prof Peter Mtuse vir die weergawe in isiXhosa, Indlela Ende Eya Enkululekweni.
  • Dr Marietjie Nelson vir haar vertaling uit Afrikaans in Engels van Sielie Laubscher se Donker verdwaalbos: Belydenis van ’n depressielyer (Dark Forest of the Soul: A Personal Journey through Depression).
  • Prof Jan de Villiers vir sy vertaling uit Latyn in Afrikaans van Desiderius Erasmus se Encomium Moriae (Tot lof van dwaasheid)
  • Vier van die tydskrif You se span vertalers — Victor Lampert, Genevieve Callaghan, Nicola Whitfield en John Phillips — vir vertalings van artikels vir You uit Afrikaans in Engels

    Poësie en drama

  • Antjie Krog vir haar vertaling uit Nederlands in Afrikaans van Tom Lanoye se Mamma Medea.
  • Antjie Krog vir haar bloemlesing Met woorde soos met kerse, wat vertalings en herbewerkings van poësie uit al die ander inheemse tale en een van die San-tale in Afrikaans bevat.
  • Drie vertalers vir hul vertalings van The Plays of Zakes Mda:
    — Deborah Mampuru vir die Sepedi-vertaling, Ditiragatšo tša Zakes Mda
    — Koliswa Moropa vir die isiXhosa-vertaling, Imidlalo kaZakes Mda
    — Dr Phaladi Sebate vir die Setswana-vertaling, Diterama tsa Zakes Mda.
  • Dr Delamaine du Toit vir sy vertaling uit Italiaans in Afrikaans van die derde gedeelte van Dante se La Divina Commedia, Die Paradys.

    Diensvertaling

  • Die ontwikkelingspan van die Potyi-boekereeks vir ’n meertalige gegradeerde leesreeks vir die Funderingsfase in Engels, isiXhosa en Afrikaans.
  • Marlie van Rooyen vir die Afrikaanse vertaling van die 2003-jaarboek van die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat.

    Woordeboeke

  • Die Sentrum vir Politieke en Verwante Terminologie in Suider-Afrikaanse Tale (SEPTSA) vir hul Nuwerwetse politieke woordeboek/Modern political dictionary.

    Die kategoriewenners is soos volg:

  • Fiksie: Janie Oosthuysen vir Harry Potter en die beker vol vuur.
  • Prof Bheki Ntuli vir Uhambo Olude Oluya Enkululekweni, die isiZulu-weergawe van Long Walk to Freedom.
  • Antjie Krog vir Met woorde soos met kerse.
  • Die ontwikkelingspan van die Potyi-boekereeks vir hulle meertalige leesreeks.
  • SEPTSA vir hul Nuwerwetse politieke woordeboek.


    Uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut.
    Kontak (Donderdag 2 Oktober): Marion Boers. Tel (011) 803-2681.

    Kontak (Vrydag 3 Oktober en daarna): Anne-Marie Beukes. Tel 083 675 8053.

    Indien u verslag wil lewer oor die Toekenningsfunksie in Kaapstad op 4 Oktober, tree asseblief met Anne-Marie Beukes in verbinding.

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.