Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die boekwinkels van Melville

Piet Pompies

Liewe Leser, spring gerus in my motor en laat ek jou gids wees vir ’n daglange besoek aan die kleurryke boekwinkels van Groter Melville. Groter, want ons gaan ook drie plekke in Auckland Park aandoen.

In Wallis, so 200 km van Londen af, is daar ’n klein boekdorpie, Hay on Wey, met omtrent 20 boekwinkels. Die naaste wat ons in Suid-Afrika daaraan kom, is natuurlik hierdie area wat ’n klein kultuurmekka is en wat oorsese boekversamelaars en toeriste van regoor die wêreld lok.

Maar kom ons begin dadelik in die noordweste by die Spar-sentrum, waar die ou Melville-swembad eens gepryk het. Ons parkeer sommer hier reg voor die eerste winkel, genaamd Incredible Books, met sy groot vloeroppervlakte en netjiese uitleg. Alle onderwerpe word hier gedek, soos by Exclusive Books.

Die beste aspek van Incredible Books is natuurlik sy uitstekende voorraad Afrikaanse boeke, nuut en oud, sommige teen mark- en ander teen weggeepryse. Dis beslis die plek vir winskope as jy Afrikaanse boeke soek, van so min as R6 af.

Die Melville-tak het ook ’n besonder groot keuse in kinderlektuur en opvoedkundige speletjies en hou ’n groot verskeidenheid tydskrifte aan.

Die winkel is sewe dae per week oop en wanneer ek daar rondsnuffel, is daar twee dames en twee aantreklike jong mans (moontlik studente?) wat almal Afrikaans praat. Hier mis ek net die spesiale atmosfeer van sommige van die kleiner boekwinkels.

Right, nou steek ons die straat oor na Outer Limits in Mainweg, Melville, wat getrou is aan sy naam. Dié winkel bied ’n spektrum van literatuur en dinge wat nêrens anders te vind is nie.

In die eerste plek is dit die beste destinasie vir comics en grafiese romans. Titels soos 2000AD, Marvel, Image, DC, Avatar, Dark Horse, Vertigo en ander word gekoop en verkoop.

Op Saterdagoggende verander die plek in ’n wemelende massa babas en jong tieners wat Pokémon hier kom speel, aangesien Outer Limits ’n “Pokémon League” het. Eintlik verstaan ek niks hiervan nie, maar ek sal nie ’n besoek aan Outer Limits op hierdie tyd aanbeveel nie, want mens moet versigtig wees om nie die babatjies raak te trap nie — hulle krioel buite op die stoep en tussen die boekrakke.

Hierdie winkel verkoop ook “Trading Card Games” soos Helix en Cliffhanger, waarvan ek ook niks verstaan nie en wat maar ’n misterie kan bly. Dan is daar ook ’n rak vir “Role Playing Games” wat ook blykbaar ’n gewilde nuutjie is. Dis blykbaar iets soos teater maar vriende kan dit om ’n tafel speel. Ek kon nie help om vir die ou wat vir my probeer verduidelik het, te sê: “Don’t people have better things to do, like watching TV, listening to music or taking drugs?” nie, wat glad nie goed afgegaan het nie. (Maar eerlikwaar, mens kan nie bybly by al hierdie nuwe dinge nie — hierdie “Spinning”-ding is reeds vir my te veel.)

Daar is ’n hele paar rakke fiksie, veral die Stephen King-tipe, en dan natuurlik ’n watertand-verskeidenheid wetenskapsfiksie.

Wat vir my persoonlik so indrukwekkend van Outer Limits is, is hul asemrowende voorraad boeke oor die okkulte en die esoteriese. Hier is nou alles waaraan jy kan dink, van Aleister Crowley tot by Annie Besant, Madame Blavatski en die Dalai Lama, die beste boeke oor Wicca, Sjamanisme, die Hermetiese tradisie, die Golden Dawn en meer. Ook baie titels oor holistiese genesing en alles wat breedweg onder “spiritualiteit” verstaan kan word.

Outer Limits bied ’n mengsel van splinternuwe en tweedehandse boeke, en koop ook boeke by die publiek. Ek het die gewoonte om my boeke daar in te ruil vir ander. (Behalwe sekere naslaanwerke en besondere titels wat my na aan die hart lê, glo ek nie daarin om baie boeke ongelees op my rakke te hou nie.)

Hierdie winkel hou geen Afrikaanse boeke of Africana aan nie.

Outer Limits is sewe dae van die week oop van 10-uur in die oggend tot 10-uur snags, behalwe Sondae, wanneer hulle ’n bietjie vroeër toemaak.

Hier word mens bedien deur Lorraine, een van my gunsteling Melville-diertjies, wat Afrikaans praat. Die manlike diertjies lyk vir my heeltemal te veel aan die snykant van die Kontrakultuur om mee Afrikaans te praat.

Noudat ons sinne benewel is deur al hierdie volksvreemde dinge, stap ons straat op, verby Bill Craig’s Man’s Shop, Spur, ’n hoerhuis, en ’n Soedannese restaurant, na Melville se tak van Books Galore wat naby PostNet en oorkant die poskantoor geleë is. Die plekkie het ’n baie klein vloeroppervlakte, maar daar is heelwat juweeltjies tussen die beknopte rakke.

Hier was ’n “with it” jong manlike diertjie met rooi hare, en ’n meer akademiese dog steeds aanvallige jong dame my behulpsaam.

Die meeste onderwerpe word gedek, soos Geskiedenis, Atlasse, Kuns, Biografie, Fotografie, Kinderboeke, Film, Teater, Musiek, Troeteldiere, Diere en Africana. Hulle het ook ’n Erotika-seksie.

Wat mens hier beïndruk, is die grootformaat-koffietafelboeke en baie atlasse, en ’n besonder goeie versameling teaterstukke. Twee maal per jaar kry hulle ’n groot besending oorsese boeke (publishers’ overprints), waaronder regte juwele te vinde is.

Hulle koop en verkoop ook tweedehandse boeke en het ’n rak tweedehandse CD’s wat meestal pop en rock is. As jy ’n boek wat jy by hulle gekoop het, inruil, kry jy een derde van die oorspronklike prys terug.

Daar is ’n paar rakke Mills & Boon waarvan mens drie vir R25 kan kry.

Op die rak vir “South African Literature” kry mens wel ’n paar verdwaalde Afrikaanse boeke, meestal bekende bekroonde werke.

By die toonbank is daar klein geskenkboekies te koop en die winkeltye is 9-5 Maandag tot Saterdag en 10-4 op Sondae.

Op pad terug draai ons af in Tweede Laan vir ’n besoek aan Kalahari Books. Dis eintlik twee besighede op een klein perseeltjie, en Kalahari het ’n beperkte voorraad, meestal slapband-fiksie, maar ook wetenskapsfiksie, naslaan, misdaad, geskiedenis, diere, biografie ensovoorts. By die stoorkamer van Kalahari in Houghton vind daar op die derde Saterdag van elke maand ’n reuseverkoping plaas waar mens benewens fiksie ook uitdruk-boeke, eerste uitgawes en tegniese boeke kan kry, vertel Mbuti Welkom van Kalahari.

James Findlay bedryf ook sy Auction Explorer, ’n kuber-afslaery, van hierdie perseel af. Hy spesialiseer in rare werke, eerste uitgawes, antieke kaarte, Africana, Agatha Christie eerste uitgawes, sowel as dinge soos ou aandelesertifikate, sketse, posseëls, illustrasies, houtsneë en ander kunswerk. Elke vyf weke bied Auction Explorer so ’n bieëry op die net aan. James het my ’n boek van Jules Verne, oor sy besoek aan suidelike Afrika, gewys as ’n voorbeeld van dit waarin hy spesialiseer. Hy sê Afrikaanse boeke verteenwoordig net omtrent twee persent van sy omset.

Kalahari en Auction Explorer is weeksdae 8.30-5 oop, en Saterdae tot 2.30.

OK! Nou het ons die sogenaamde Nuwe Melville deurgedraf, en moet ons terugstap motor toe (gelukkig is dit nou afdraand). Ons ry met Vierde Laan verby die Hard Times Café en halleluja! — hier vind ons ’n parkeerplek reg voor Question Mark.

Out Of Print, met sy simbool van die alsiende oog binne die driehoek, lê regoor Question Mark en langs die haarkapper. Wolf Weinek het sy winkel in 1995 hierheen verskuif vanaf die Markteater-kompleks. Wolf is ’n bekende en beminde figuur in Melville, en die missie van sy winkel is “om die onmoontlike te vind”. Volgens hom was daar ’n onuitputlike voorraad boeke verbied tydens die sensuurjare, wat nog nooit in Suid-Afrika ’n verskyning gemaak het nie, en dis sy taak om hierdie titels te vind en verkoop. Hy het my onder meer ’n boek van Frantz Fanon gewys.

Die Africana-versameling is uitstekend, en verder word die meeste onderwerpe gedek. Die vloeroppervlakte is egter klein. Mens kry ’n paar Afrikaanse boeke onder die Suid-Afrikaanse fiksie.

Out Of Print se houtafwerkings is pragtig en gee die plek ’n regte ouwêreldse atmosfeer.

Wolf hou geen “trash fiction” aan nie en sê dat as hy die keuse gehad het, die hele winkel vol werke oor die filosofie sou wees.

Daar is ook ’n versameling vinielplate te koop, wat uit goeie rock en pop bestaan.

Stap jy dieper die winkel in, kom jy in die Cookbook Emporium — duisende boeke oor kos en die kookkuns. Hierdie gedeelte het ’n ander eienaar, maar geen eie personeel nie. Hier is selfs ’n verskeidenheid Afrikaanse kookboeke te vinde.

Stap jy nog dieper in, kom jy in Mervyn se Internetkafee, wat druk gebruik word.

Melville is aan die verander, en miskien nie ten goede nie. Wolf het benadruk dat ek vir mense daarop attent moet maak dat Melville gedurende die dag ’n boekdorpie is, en slegs snags deur jongmense oorgeneem word wat die watergate en restaurants besoek. Hierdie is ’n relatief nuwe ontwikkeling. Blykbaar was die sluiting van die Mixer/Koffiehuis ’n groot slag, want almal wat daar gaan ontbyt eet het, het ook ’n draai by Out Of Print gemaak. Nou’s dit skielik stiller.

Na die lekker kuier by Wolf, kan ons ’n blaaskans vat met koffie. By Mug & Bean is daar vier soorte, maar ons besluit om eerder Question Mark te besoek, omdat die plek meer atmosfeer het.

Heerlik! Of soos Breyten sou uitroep: “Heerlik heerlik heerlik!”

Net oorkant, langs De La Crème in Sewende Straat, vind ons Bookdealers of Melville, wat aan ene Doron behoort. Dit beslaan ’n klein vloeroppervlakte, maar ruimte word optimaal benut. Die voorste tafels loop oor van “publishers’ remainders”, splinternuwe boeke teen belaglike pryse.

Hier word alle onderwerpe gedek, en hul versameling oor reis is uitstekend, met al die bekende reisgidse en meer vir omtrent alle lande op die aardbol.

Op die rak vir Suid-Afrikaanse letterkunde kry mens soms goeie ou Afrikaanse boeke vir so min as R15. Daar is ook rakke met uitgawes van die literêre tydskrif Contrast, asook National Geographic.

Die afdelings vir holistiese gesondheid en esoterika is uitstekend, en hier vind mens baie klassieke werke vir so min as R30.

Die slapbandfiksie bestaan meestal uit die Wilbur Smith-tipe literatuur, hoewel daar ook goeie fiksie onder die “publishers’ remainders” is. Op die toonbank kan mens wragtig Bittercomix koop, asook ’n ryke verskeidenheid klein geskenkboekies.

Hierdie winkel koop tweedehandse boeke by die publiek, en het ook ’n klein versameling CD’s.

Die mense daar verwissel baie, maar hulle is almal baie beleef.

Die winkeltye is 9 vm-10 nm en Sondae 10 vm-9 nm.

Ons het ou Melville gedoen, en nou’s dit tyd vir Auckland Park, so kom ons spring weer in die motor. Dis lekker om al die mense so gade te slaan soos ons verby Nature’s Pharmacy, Spiro’s en Fullstop ry, en dan die afdraande verby die Auckland Park-poskantoor. Onder draai ons regs en parkeer voor die Wimpy.

Vital Radiance in die Campus Square Winkelsentrum spits hom toe op geskenke en alternatiewe parafernalia, hoewel daar ook ’n redelike versameling boeke te koop is. ’n Uitstekende spektrum van verskillende tipes wierook en ’n stewige keuse aromatiese olies beïndruk ’n mens. Daar is ook kristalle, sierstene, juweliersware soos hangertjies, armbande en halssnoere. Ook groetekaartjies, groot muurkaarte van byvoorbeeld astrologiese simbole en mandalas, Tibetaanse “Singing Bowls”, Amerindiese “Dream Catchers”, Afrika-tromme, wind chimes, kerse en ’n ryke verskeidenheid Tarotpakke. Hulle verkoop ook hemde, rokke en baadjies.

Verder hou hulle ook esoteriese tydskrifte aan, soos byvoorbeeld Oddyssey, en daar kan mens ook pamflette, strooibiljette en nuus kry oor relevante gebeure.

Hul boekversameling is veral op alternatiewe genesing gefokus, met sterk versamelings oor Reiki, Refleksologie, Irridologie, Natuurlike Terapieë, Klank- en Kleurgenesing. Maar ook snykant-kosmologie soos van Robert Anton Wilson, Drunvalo Melchizedek en so aan. Hulle koop tweedehandse boeke van die publiek, maar spits hul meer toe op nuwe boeke.

Die enigste Afrikaanse boek by Vital Radiance is Jade Groen se Spinnelap.

Die uitgebreide CD-versameling bestaan hoofsaaklik uit trans- en wêreld-trans-musiek, plus klankbane vir gebruik in meditasie en holistiese-genesingsterapie.

Dié winkel het ’n klein vloeroppervlakte, maar reg by die ingang is ’n heerlike goue chaise longue waar mens kan sit en lees en verlore raak terwyl die rat race net buite die deur plaasvind in die bedrywige Campus Square-sentrum.

Jason of Craig of ’n jong dametjie is ’n mens behulpsaam. Sedert die winkel hierheen verskuif het uit Melville, word hulle gereeld geteiken deur mense wat vir hulle preek, sê Jason. Nou onlangs het daar ’n man ingekom en gesê: “Jesus is very unhappy about this shop,” waarop hy geantwoord het met “And so is Elvis,” waarop die ou gelukkig verkas het.

Vital Radiance is sewe dae per week oop tot so 6-uur weeksaande en Saterdae en tot 2-uur op ’n Sondag.

Na die kuier by Jason-hulle stap ons verby die PNA en die Pick ’n Pay na Ballard’s Books, wat sy naam kry van die skrywer JG Ballard — daar is ’n volledige stel van sy boeke agter die toonbank, wat egter nie te koop is nie.

Daar is rakke met goeie voorrade boeke oor die esoteriese, filosofie, populêre wetenskap, troeteldiere, kinderboeke, tuinmaak, Africana en erotika, soos byvoorbeeld die Illustrated Kama Sutra. Op die Africana-rak was daar heelwat beroemde titels, maar daar is maar een of twee Afrikaanse boeke. Baie rakkies fiksie ook, meestal die massa-slapband-tipe.

Ballard’s koop en verkoop ook vinielplate en tweedehandse CD’s, waarvan ’n gesonde deel Afrikaanse titels is. Ek het byvoorbeeld ’n hele aantal titels van Anton Goosen en Johannes Kerkorrel daar gesien vir so R59 elk. Die CD-versameling omvat rock-, dans- en klassieke musiek.

Hulle het ook tweedehandse tydskrifte soos Q Magazine, Rolling Stone en National Geographic en ’n kleinerige versameling comics soos 2000AD.

Daar is nie juis plek om te sit en ontspan nie, en dis hierdie winkel se een nadeel.

Ballard’s koop tweedehandse boeke by die publiek en dryf sewe dae per week handel. Mark is die eienaar, maar ’n hele aantal verskillende mense werk op verskillende tye.

Nou gaan ons by Corinna kuier en vat die pad na Boekehuis, wat natuurlik bekend is aan die meeste LitNetters — dis die tuiste van die Afrikaanse boek in Johannesburg en is in alle opsigte ’n huis met ’n lieflike tuin. Hier kry jy al die jongste Afrikaanse romans en poësie, en selfs Bittercomix. Hulle hou ook Afrikaanse en Engelse nuustydskrifte aan en mens kan Beeld hier koop. Verder is dit ook die enigste plek waar mens Afrikaanse literêre tydskrifte kan kry.

Hulle Engelse boeke omvat meer die hogere literatuur van die filosowe en die sielkundiges, en fiksie van skrywers soos byvoorbeeld William Burroughs. Ook boeke van mense soos Graham Hancock in hardeband. As ’n boek in die nuus is, kan mens seker wees om dit hier te kry. Dis die beste plek vir woordeboeke en ons Afrikaanse intelligentsia se geliefkoosde skrywers soos Foucault, Lacan en diesulkes. Ek dink daar is ook ’n rak met tweedehandse Afrikaanse boeke, en dié word in beperkte mate soms by die publiek gekoop.

Een van die grootste pluspunte van Boekehuis is sy oulike versameling nuwe Afrikaanse CD’s, met inbegrip van Breyten, Rikku Lätti, Battery 9, Brixton, Moord & Roof, Wilde Als, Petronel Baard en nog vele meer.

Dis ’n uiters gesellige winkel met ’n koffiekroegie waar mens kan sit en gesels en koffie drink met ’n keuse van southappies en koek. Die stoep en tuin met ’n borrelende fonteintjie bied mens ook die geleentheid om heerlik in die buitelug te sit en ontspan.

Daar is ’n kamer gewy aan uitstallings en voorlesings deur skrywers.

Die personeel is besonder vriendelik en hulpvaardig en laat mens dadelik tuis voel. Corinna se handlangers sluit ’n elegante lang blonde dame en ’n wakker jong Boerseun in. Almal praat Afrikaans.

Boekehuis is oop van 9-uur tot so 5-uur Maandag tot Saterdag, maar daar vind saans gereeld boekpraatjies en -bekendstellings plaas.

Dankie vir jou geselskap, Liewe Leser, en mag jy ure se jouissance en plaisir du texte ervaar met die stapel boeke wat jy gekoop het.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.