Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Nota oor selfpublikasie

Hans Pienaar

Die heropbou en transformasie die afgelope dekade in die Afrikaanse kultuurindustrie het een ongelukkige resultaat opgelewer: die induiestorting van die Afrikaanse literêre stelsel. In die verskillende eras van apartheid is uitgewerye gefinansier deur kruissubsidiëring by wyse van staatskontrakte, ’n bron wat erg aan bande gelê is deur sensuur en manipulasie van die stelsel deur letterkundiges indirek in diens van die staat.

Die uitgewerswese het homself op die oog af gesuiwer van sensuurmaatreëls, en die meeste van sy bestuurders is nou ten volle gemoeid met hul weergawes van die transformasieproses, soos ook ander media. Met die geweldige groei in toeskouerdeelname aan kultuurbedrywighede in Afrikaans, soos uitgedruk in verskeie kunsfeeste, die vestiging van dienste op TV en die Internet, kom die agteruitgang van die letterkunde as ’n teenpool.

Een rede is die nuwe gereedskap waarmee Afrikaans toegerus is (“retooling”), die transformasie van die oue in nuwe kultuurtegnologiese vorme. Die kulturele “opbloei” is deels illusie, en in baie opsigte eintlik ’n teruggroei die verlede in, met nostalgiese heropvoering van sogenaamde “klassieke” stukke by kunsfeeste die kenteken.

Maar ’n ander rede is die nuwe finansiële opset waarin Afrikaans hom bevind. Onlangs het die establishment-uitgewerye hul kaarte op die tafel gelê in gesprekke met skrywers, in wat op die oog af bedoel is as ’n oefening in deursigtigheid, om vers en kapittel te bewys dat daar nie meer geld vir die letterkunde is nie. Sulke openheid is natuurlik prysenswaardig, maar soos so dikwels op ander gebiede, was die belangrikste insig dalk wat versigtig versluier gebly het.

Daar is geskimp hieroor in die versugting van een deelnemer dat die gebrek aan geld voor die regering se deur gelê behoort te word. Dit was egtrer ’n moment van kwade trou, want almal weet dat die regering werk in ’n paradigma waarin staatsgeld hoofsaaklik gaan vir niekulturele projekte, of dan vir projekte gekoppel aan transformasie, waarin die instandhouding van die Afrikaanse letterkunde, met sy ras-eksklusiewe geskiedenis, noodwendig ’n lae voorkeur moet geniet.

Wat hierdie moment en die oënskynlike deursigtigheid verhul, is die verhouding tussen die uitgewers en hul base. Daar was ’n dawerende stilte van die uitgewers se kant af oor hul base se finansiële opdragte, hul korporatiewe doelwitte en hul algemene ingesteldheid teenoor die letterkunde. Laasgenoemde is heel duidelik nie baie positief nie.

Soos vroeër te kenne gegee, is die redes hiervoor dalk eenvoudig die tegnologiese revolusie wat die inligting- en kultuurnywerhede dwarsoor die wêreld ondergaan het die afgelope dekade. Hieroor hoef daar nie verwyte te wees nie. Die suksesse wat die Afrikaanse kultuurnywerheid behaal het in die vestiging van ’n nuwe inligtings-infrastruktuur, spreek vanself. Hulle is loshande die leiers in die breëre Suid-Afrikaanse opset. In menige opsigte lyk die toekoms blink.

In die euforie van die oomblik, wat die geldgenerende beginsel van die nuwe TV- en Internet- en volksfees-tegnologieë is, is dit verstaanbaar dat die reflektiewe, allenige, naturalistiese bedryf van die letterkunde daartoe sal lei dat dit agterweë bly, uitgedruk in ’n klag soos “Mense het nie meer tyd om te lees nie.” Anders gestel: die geld lê altyd in iets wat ’n elektroniese spektakel van homself kan maak.

Indien dit uitsluitlik die redes is, hoef ons ons dalk nie soveel te bekommer nie. Daar is genoeg mense met insig en vernuf om te verseker dat die saak mettertyd sal regkom, en dat die letterkunde weer na waarde geskat sal word.

Maar daar kan ander redes ook wees, die moontlikheid waarvan ons ons moet vergewis, bloot vanuit ons ondervinding in die verlede met die Afrikaner-establishment, wat nog steeds oënskynlik sy kardinale besluite in die geheim neem (al is dit om bona fide kommersiële redes) en Afrikaanssprekendes beskou as mense aan wie leiding gegee moet word. (Vergelyk die Boetman-sage.)

Die wrewel wat die apartheid-apparatsjiks in skrywers gehad het, omdat laasgenoemde waarhede omtrent die stommiteite van apartheid te effektief uitgebeeld het, is helaas ook herhaal in ander kerninstellings in die Afrikaanse wêreld, soos die kerke en veral die media, waarvan sommige tot diep in die jare negentig draers was van die rassistiese uitsluitings wat grondliggend aan apartheid was.

Die kru stelsels van direkte sensuur is mettertyd vervang met ’n meer gesofistikeerde gebruik, of misbruik dan, van die noodwendige weerstand wat daar by alle mense bestaan wanneer hulle met die kunste te doene kry: voor jy ’n kunswerk kan waardeer en geniet, moet jy eers ingewy word in die kodes, tradisies en konvensies van die kunsvorm, iets wat tyd en moeite verg. Die kunste is as nog ’n “ander” in die panteon van andersheid na sy eie tuisland verban met sy eie strooipopleiers, geheime konkelaars, forced removals en opstandelinge.

Daardie tuisland is nou weg. Maar die strukture en houdings is feitlik heelhuids oorgeneem uit die vorige era en nog nie werklik aangepas nie. Die INSTITUSIONELE GEHEUE is nog sterk, en wat die probleem net vererger, is die feit dat daar dalk net te veel mense is wat hom nog voer met tegnologiese geheuepille (maw vergeetpille: sien Neil Postman se teorieë) ook.

Die bedryf is op ’n erg Europese lees geskoei. In ander lande, met diep gewortelde literêre stelsels en veel groter bevolkings, geskied literêre keuring op ’n baie ondoeltreffende mog ‘t troffe wyse. Manuskripte word tipies op ’n reuse “slush pile” gegooi, en elkeen by die uitgewery wat maar wil, gryp een om te sien of daar iets in steek. Kry die skrywer dan sy verwerpingsbrief, stuur hy sy manuskrip eenvoudig na die volgende uitgewer. Die legendes is legio oor suksesvolle skrywers wat 29 of 17 of 60 keer verwerp is. (Die jongste geval? Ene JK Rowling, wie se eerste Harry Potter-manuskrip sewe keer verwerp is.)

Die probleem vir Afrikaans is dat ons nie eens sewe uitgewers het nie. Nogtans gaan die Kaapse Drie-eenheid, en in ’n mindere mate kleiner uitgewers, op presies hierdie wyse te werk om manuskripte te keur. By die Drie-eenheid, so verstaan ek, maak hulle dit nog moeiliker as oorsee deur nie EEN regmerkie van ’n keurder te vereis nie, maar TWEE.

Dis maar net by wyse van illustrasie. ’n Veel erger voorbeeld van institusionele geheue is die oënskynlike houding van die hoofstroomuitgewerye se baas/base. (Laat my hier kwalifiseer: omdat ek nie ’n lid van die binnekringe van die Afrikaner-geldmag is nie, is hierdie raaiwerk, maar dis ingeligte raaiwerk gerugsteun deur 30 jaar in die joernalistiek en as lid van ’n geheime organisasie in my skooldae.)

My raaiskoot is dat etlike geldbase hul diepe wantroue teenoor veral skrywers, wat oorleef uit die dae van apartheid, gebruik om die houding te versterk en te regverdig dat die kunste wêreldvreemd is en nie veel kan doen vir die gode van produksie en winsbejag nie. ’n Mens hoor nog dikwels dat jy dié of daardie persoon nie kan vertrou nie, wat nie beteken dat jy sy individuele integriteit betwyfel nie, maar dat hy “ons saak” en “ons mense” in die verlede “in die steek gelaat het” en daarom weer so sal maak in die toekoms.

Afgesien hiervan is daar etlike mense in die diepe establishment wat nie met skoon hande uit die katastrofe van apartheid gekom het nie. In die hedendaagse skryfkuns, waarin groot stukke werklikheid dikwels verbatim opgeneem word (bv Kroniek uit die Doofpot), is skrywers met vrye teuels dalk net ’n baie konkrete gevaar vir baie spesifieke mense.

Een van die dinge wat ’n mens kan verwag van ’n post-bellum-literatuur is ’n besinning oor die redes vir daardie oorlog, al die morele kwessies wat na vore getree het, die booshede en heldedade, ens. Dalk wil te veel lede van die establishment nie ’n te groot fokus hierop hê nie. Ek weet nie, miskien maak ek te veel hiervan, maar waarom sal ’n redakteur van ’n tydskrif dan vra dat ’n mens nie te veel “Boere-bashing” doen in ’n stuk oor rassisme nie?

Die punt om te snap is dat sulke mense, indien ’n mens aanneem dat hulle nog genoeg invloed in genoeg getalle het, niks hoef te doen nie. Hulle hoef maar net te sorg dat die ou afstandelikheid van die establishment teenoor skrywers en afvallige joernaliste bly voortbestaan. Al wat hulle hoef te doen is om nuwe beginsels te formuleer wat dit lank genoeg in die toekoms sal bly handhaaf.

Een so ’n nuttige beginsel is die “harde waarheid” dat dinge nou verander het en ons nie meer kan staatmaak op subsidiëring nie. (Wat nou nie beteken dat mense wat aandring op winsbejag as ’n vereiste vir uitgewerye, noodwendig skarminkels is nie — moontlik is hulle net droëboontjietellers sonder verlangens en behoeftes.)

Dis natuurlik ewe moontlik dat ’n institusionele geheue bly voortbestaan eenvoudig omdat niemand daaraan dink om instellings wat kennelik uiters doeltreffend werk, te verander nie. Nasionale Pers, byvoorbeeld, het uiters suksesvol ingeval by die eise vir transformasie in die nuwe bestel sonder om te veel te verander aan sy basiese strukture. Vir hulle was aanpassing in die nuwe paradigmas, ten spyte van etlike groot foute, ’n geval van die aanlas van nuwe elektroniese bedrywe.

Dis hierdie sukses wat dit laat lyk of ’n mens maar sonder skrywers kan klaarkom. Dat daar so ’n houding bestaan, blyk dalk die duidelikste uit die eis om redelik drastiese besnoeiings, soos elders in die wêreld se media, aan poste vir skrywende joernaliste. Sinergie en duplisering uit ander bronne is finansieel so suksesvol dat basiese grondreëls van ’n koerant se bedryf sonder sprak of sprook oortree word, byvoorbeeld die strenge skeidslyn tussen advertensie-/bemarkingsfunksies en redaksionele funksies, of sulke ou “rules of thumb” soos dat ’n mens soveel verslaggewers in diens moet hê dat jy hulle soms na kroeë toe moet stuur om hulle besig te hou.

Maar hierin lê dalk die leidraad vir ’n oplossing, of minstens ’n aanknopingspunt: dat die geskrewe woord oral in gevaar is, nie net in die skryfkuns nie, maar ook in die media. En dat dit op kort termyn dalk nie saak maak nie, maar op die lange duur ekonomies of kommersieel teenproduktief is.

’n Ander voorbeeld van institusionele geheue is dalk die amper instinktiewe terugval op konfrontasie by skrywers (waarvan ’n mens dalk spore in hierdie stuk self kan sien). Dit word verbloem in die eufemismes “gesprekke met uitgewers” en “ongelukkigheid”. (Net omdat die vuiste nie klap nie of omdat skrywers maar versigtig lyk, beteken dit nie dat daar nie konfrontasie is of wil wees nie.) Eerder moet ons onsself sien as deel van ’n nuwe paradigma, waarin dit byvoorbeeld nie so vanselfsprekend is dat geheime organisasies per se uit die bose is nie.

Ons moet almal na die breë prentjie begin kyk. Wanneer mense in die ontsaglike Engelssprekende wêreld sê die geskrewe woord is in gevaar, is daar heeltemal ander implikasies as in die Afrikaanse wêreld. In Engels moet ’n mens dit in die debat oor high culture versus low culture plaas, een wat al ’n paar eeue oud is.

Vir ons beteken dit iets anders. Die nuwe baanbrekerswerk in die informasietegnologie is goed en wel (en iets wat my geesdriftig eerder as mismoedig stem), maar ’n mens moet naïef wees as jy dink dat die toekoms van Afrikaans daarin alleen lê. Krap net onder die oppervlak, en jy kom af op swakhede wat nie in staat is om die oormag van die Anglo-Amerikaanse tegnologies-kulturele neo-imperialisme te weerstaan nie. Nasionale Pers kan nie sy winste maak sonder Hollywood nie (sien M-Net) of sindikasiemeteriaal uit etlike ander Engelse hoofstede nie (sien Huisgenoot). Nasionale Pers is in sy strukture maar ’n kloon van enige ander internasionale mediakorporasie. En dis swakhede wat nie in die volgende generasie uit die weg geruim kan word nie.

Afrikaans is op tegnologiese vlak al so geïntegreer met ’n Anglo-Amerikaanse etos dat hy/sy nie meer daarsonder kan bestaan nie — hy/sy is nou as ‘t ware ’n dialek van Engels. Verstaan my goed, as iemand met ’n Engelse moeder en ’n half-Engelse agtergrond wat in die Engelse media werk, is ek nie op ’n Praag-tipe anti-Engelse trip nie, maar dit gaan om bronne van plesier, verkwikking en belewenis wat ’n mens wil bly voed ter wille van jou eie geesteswelstand en groei en dié van mense om jou.

Sodanige welstand en groei kan nie afhanklik wees van duur tegnologieë nie. Dit MOET wel afhanklik gemaak word van wat ons uniek maak in die wêreld. Die ooglopende antwoord, “ons taal Afrikaans”, is nie genoeg nie en ook nie die volle verhaal nie. Dit moet gaan om die uniekheid van Afrikaans wees, en dit sal moet insluit die hele treurmare van apartheid nog verder die geskiedenis in, en die leemtes en swakhede (soos ’n voortlewende rasseverdeeldheid) wat dit geskep het.

Waar ons as kunstenaars en die skuilende apartheid-apparatsjiks en die boontjietellers mekaar kan ontmoet, is om dit te sien as ’n moontlike produk waarin ander mense sal belangstel. Nie ’n materiële produk nie, maar ’n geestesproduk. Die “onderhandelde revolusie” soos Heribert Adam dit noem, die “wonder van die nuwe Suid-Afrika” wat allerweë geprys word, is in ’n baie groot mate ’n produk van die geesteswroeginge wat die meeste wit Afrikaanssprekende intellektuele en besluitnemers ondergaan het die afgelope paar dekades.

Hierdie geestesomwenteling is die ander ding wat Afrikaanssprekendes uniek maak, afgesien van hul taal. Die Amerikaners het die wêreld oorwin met rolprente oor die Wilde Weste — vandag is kulturele produkte die tweede grootste uitvoerproduk van die VSA (na wapens). Ons kan ons merk maak met kunswerke oor die omwenteling wat Afrikaanssprekendes ondergaan het (die tem van ons eie interne Wilde Weste?)

Die groeiende aantal niefiksionele studies oor die proses, krities of nie, help natuurlik, maar daar is geen beter middele as die drama (lees Danie Goosen se prikkelende geskrifte om te verstaan hoe dit nog steeds die oerbron van Westerse demokrasie is) of die roman nie (die voortreflikheid van Triomf, byvoorbeeld, word oorsee al meer erken). Selfs die poësie kan sy bydrae lewer, indien dit van al sy keurslywe ontslae raak.

’n Ander manier om daarna te kyk is natuurlik baie meer negatief: as ons nie self hierdie geskiedenis van ons pak en dit deel van ons sigbare identiteit maak nie, gaan ander dit vir ons doen, en met veel minder simpatie. Afrikaner-stereotipes heers reeds in die advertensiemedia, en elk paar maande word ’n Hollywood-produk geskep wat ons soort problematiek baie rassisties aanspreek.

Maar as ons hierdie perspektief aanvaar, hoe kan dit prakties help om sake anders te maak? Wat daarvan as mense eenvoudig nie Afrikaans wil lees nie?

My finale stelling is dat hierdie kyk vanuit die breë prentjie alles verander, want dit sal ons dwing om veel meer ambisieus te wees as wat ons tans is. Een uitgewer het byvoorbeeld opgemerk dat die belangrikste bemarkingsmiddel uitstalruimte voor in ’n boekwinkel is, maar dat die nie-Afrikaanse base van die boekwinkel-halfmonopolie dit net sal afstaan as sulke boeke verkoop — catch-22. Dis ’n ou probleem: hoe kan jy mense oorreed om genoeg boeke lank genoeg uit te stal dat mense naderhand begin koop?

Vanuit die breër prentjie beskou, is die antwoord eenvoudig: neem die halfmonopolie oor. As jy eers al die CNA-winkels in die land besit, is dit mos maklik om die opdrag uit te vaardig: stal Afrikaans voor in die winkel uit of jy verloor jou werk.

Goed, ek hoor mense lag in die agtergrond. Die eienaars van CNA (en Exclusive Books) oorneem? Maar waarom nie? frons ek terug. Nasionale Pers het die Argus-groep ore aangesit met die oorname van M-Net, waarom ook nie met wie ook al die CNA se nasate besit vandag nie? As die “mindset” net sal verander dat boekwinkels net so belangrik is as TV-ateljees.

Maar waar gaan die skrywers vandaan kom? Ook eenvoudig: deur subsidiëring deur die groot Afrikaans-beheerde maatskappye. Die Amerikaners het bewys waarom dit nodig is: elke groot Amerikaanse skrywer is op een of ander stadium van sy loopbaan gesubsidieer, en dan nie met ’n tien duisend randjies hier en ’n vyftig duisend daar vir ’n prys nie; wel teen ’n salaris groot genoeg en vir lank genoeg dat hy/sy vir die duur van die skryf van ’n roman (jare!!!) nie sy/haar tyd en energie aan die verdien van geld hoef te bestee nie.

Wanneer dit kom by bemarking, sal ’n nuwe kyk vanuit die breë prentjie kan lei tot drastiese veranderinge in die Afrikaanse media. Ek is oortuig daarvan dat elke groot Afrikaanse koerant elke week minstens twee bladsye kan opsy sit vir die plasing van kortverhale, roman-uittreksels en gedigte. Dit, glo ek, is die minimum wat nodig is om ’n leeslus by Afrikaanse mense te kweek.

Dis vir my nogal ooglopend waar: in ’n klein taal soos Afrikaans kan koerante nie lyk soos in ’n groot taal soos Engels of Duits nie. En ek sal nie verbaas wees as die plaas van skryfkuns nie mettertyd tot ’n styging in sirkulasie sou lei nie.

’n Kyk vanuit die breë prentjie sal ook help om ’n ander kardinale ding omtrent die skryfkuns te verstaan: dat dit ’n onontbeerlike skakel in die talige en geestesvoedselketting is waarsonder die elektroniese of filmmedia in elk geval nie kan bestaan nie. Elke tweede, derde Amerikaanse rolprent is gebaseer op ’n boek, elke tweede of derde boek het ontstaan uit ’n kortverhaal of ’n geestesingesteldheid en ’n openheid teenoor woorde, wat die beste gekweek word deur die poësie.

Die oplossing vir die krisis in die Afrikaanse skryfkuns is maklik: gooi dit toe met geld — dit is al wat Afrikaners nog oor het, in elk geval. Alleen die aanstel van genoeg uitgewerspersoneel sal ’n groot verandering meebring. Trouens, ek dink dis die enigste manier om dit te doen. Al die gesprekke met uitgewers en praatjies van nuwe organisasies het meriete op hul eie, maar op die ou end sal hulle eerder tot die probleem bydra as dit oplos.

Nou wat is die kanse dat al hierdie dinge sal gebeur? Een definitiewe vereiste behels ’n soort verplasing van die skrywer na die boonste strata van die Afrikaanse statuswêreld. Die goed wat hulle oor apartheid, of plaasmoorde, of ’n vermeende agteruitgang van Afrikaans, of die derde mag of die Illuminati skryf, sal gerespekteer moet word en op die algemene agenda moet gaan.

Ek kan egter nie sien dat dit gaan gebeur nie. Die Boetman-sage, en veral Pieter Fourie se dramatisering daarvan, het bewys dat daar ’n behoorlike sielelus onder Afrikaanse mense vir omgaan met die verlede is. Maar die manne met die geld, met kinders op skool oorsee, en vakansiehuise die wêreld oor, is nou eenvoudig nie die soort wat daarin sal wil belê nie.

’n Vriend het onlangs vir ’n uitgewer gevra waarom Nasionale Pers nie sy ontsaglike bemarkingsmasjien — waarvan die effektiwiteit bewys is by die kunsfeeste — gebruik om Afrikaanse boeke te bevorder nie. Waarop sy antwoord was dat die joernaliste dit nie wil hê nie. My kollegas in die joernalistiek doen baie goeie werk met beperkte middele, maar hulle het ’n teensin in die letterkunde wat te doen het met die sinisme wat ’n mens gou in die media ontwikkel: die gevoel dat skrywers nie die waarhede en werkinge van oppervlakkigheid verstaan nie.

As hulle eers ontdek wat die waarde van die fiksionele, “diep” woord is, en hoe dit hul eie produksie en status sal verhoog, sal hulle geesdriftige meehelpers word.

Die bottom line is die bottom line. Sonder ’n reuse-inspuiting uit die sakewêreld sal die Afrikaanse boek maar aan sy hartlong-masjien gekoppel moet bly. Intussen sit ek maar op die stoep en gee my eie boeke uit, wanneer ek tyd het. Daar is nie ’n verskil tussen ’n sirkulasie van 500 en 1 500 nie. Dis lekker en ’n mens kan maak wat jy wil. ’n Mens moet jou Afrikaanse vryheid geniet terwyl dit nog daar is.

Hans Pienaar se drama oor Che Guevara, Ching Chong Che, word by Aardklop opgevoer

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.