Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Skrywersgesprek: Marlene van Niekerk en Koos Kombuis

Deborah Steinmair

Kaartjieloos en hoopvol daag ek voor die skrywersitkamer op. Onder die bome gaan crash ek aan die tafel van Petra Müller, Joan Hambidge (wie se kenmerkende laggie verkeerdelik by Fidelio op Robbeneiland gehoor is), Martie Meiring en Lisa Albrecht. Hulle sê die gesprek is uitverkoop en dis onmoontlik om in te kom, maar nou ja, ek is nie verniet ’n direkte nasaat van Debora Retief, barrevoet oor die berge nie. Ek het my substansiële lyf eenvoudig om die deur ingewig en met groot belangstelling gestaan en luister. Later moes iemand vertek en het ek ’n stoel gekry. Ek was ’n bietjie laat en het ingekom net toe Koos vir Marlene uitvra oor haar verblyf in Triomf, oor die “naai met vrugteslaai” en die “twee tannies”, waarop Marlene hom reghelp: “Hulle was nie tannies nie.”

Die gesprek was plek-plek pittig en het plek-plek ontspoor. Wie besluit nou eintlik watter skrywer die vraer en watter die antwoorder moet wees? Marlene het meestal die vrae gestel (’n hele gerf gestapelde papiere op die tafeltjie voor haar) en Koos het geantwoord. Ek voel byvoorbeeld dat ek baie meer van Koos weet as van Marlene, weens Koos se popsterstatus en publieke persona, maar nou ja.

Vir die trivia-vraat het tog ’n paar interessante feite aan die lig gekom. Het jy geweet … Dat Koos en Marlene in ’n stadium saam op skool was? Dat hy, toe hy haar die dag ontmoet, baie beïndruk was om uiteindelik iemand te leer ken wat slimmer is as hy? Dat hy haar na die interskoolbyeenkoms wou nooi omdat hy lus was vir intelligente geselskap? Dat sy vriend vir hom gesê het sy sal “kak lyk in ’n costume”? Dat iemand anders haar reeds gevra het en hy maar saam met ’n lang blonde pop met sweterige hande moes gaan? “Moes jy aan haar gevat het?” wou Marlene weet. “Ek het gevoel ek moes,” antwoord Koos. Lekker informeel.

Koos was darem ook nie links nie en het ’n hele paar opmerkings en vrae oor Marlene ingekry. Hy het laat val dat sy amper deel was van die Voëlvry-toer, maar dat Dagga-Dirk Uys op die ou end besluit het om die hele ding te bemark as male-chauvinist cock-rock, die regte idee vir die tyd. Ter illustrasie het hulle saam “Lente in die Boland” gesing, a capella. Luide applous. Waarde vir geld, of in my geval, vir gatecrash.

Koos het gesê dat Triomf vir hom punk-rock is en Die vrou wat haar verkyker vergeet het, jazz. Hy wou weet wat haar jongste boek is. “Country,” het sy hom verseker. “Ek het ’n gevoel jy gaan nie daarvan hou nie.” Waarop Koos antwoord: “Dan sal ek stilbly.”

Sy het hom uitgevra oor produktiwiteit. Hy het die afgelope paar jaar verwoed geproduseer en geniet nou sy writer’s block; neem in. Sy wou weet wat hy inneem — wat lees hy? “Vernon God Little. Jou boek.” Genugtig, slaan my maar oor die kop vir promosie van my maatskappy se produk, maar hy het genoem dat hy baie beïndruk is met Dirk Nagtegaal se Oopkop. En hy luister na Fokofpolisiekar.

Marlene het genoem dat haar jongste boek, wat binnekort verskyn, in Standaardafrikaans geskryf is, oor hoëmiddelklasmense, dat daar net ongeveer drie mak vloekwoordjies in is, maar dat dit oor dieselfde probleme as Triomf gaan. “Seks en skuldgevoelens?” het Koos gewaag. “Min seks en baie skuldgevoelens,” het sy geantwoord. Sy het hom uitgevra oor Kytie van sy song (“Kytie, jy was nie net ’n klimmeid nie, jy was soos ’n ma vir my”). Agaat, sê sy, gaan oor haar Kytie.

Koos het genoem dat Valiant Swart volgens hom een van die vyf groot digters in Afrikaans is. “Wie is die ander?” wou iemand weet. NP van Wyk Louw, Ingrid Jonker, Gert Vlok Nel, Breyten Breytenbach, het hy op sy vingers afgetel en toegegee: Antjie Krog skryf ook baie goed. Wilma Stockenström verstaan hy nie en hy het ’n idee Joernaal van Jorik gaan oor duikbote, dan nie?

Koos het genoem dat Marlene ’n legendariese student op Stellenbosch was wat die kanseliersmedalje ontvang het met punte soos 99 persent. Sy het dit afgemaak as oordrywing. Volgens hom het sy van bo af die deure oopgeskop terwyl hy dit van onder af, van die straat en die bergies af, oopgeskop het. Sy het nie saamgestem nie, gepraat van ’n horisontale skaal en baie ingewikkeld geraak, waarop Koos die handdoek ingegooi het en ruiterlik erken het dat sy hom vasgevra het. “Was jy baie eensaam?” wou hy weet. “Baie,” antwoord sy, en vervolg: “Ons was albei eensaam. Ons moes maar saam interskole toe gegaan het.”

Sy het hom uitgevra oor die army, oor ’n stelsel van kibboetse of kantons vir Suid-Afrika. Nou en dan het hulle verwys na “You know who” wat mense aanvat en die kop was omdat hulle hul boeke in Engels skryf of in die buiteland bemark. I knew who, maar iemand het die hand opgesteek en gevra wie YKW is. Marlene het volstaan met: You know who. (Moedervoet dink YKW is iemand wat baie te sê het op ons eie SêNet, oor Afrikaans en mure en so aan.)

My indrukke: Koos is sjarmant en witty, Marlene het nie ’n slegte sangstem nie en meng nogal haar tale in ’n gesprek.

Ten slotte het ’n ouer man in die voorste ry ’n lang, onhoorbare vraag gestel. Marlene het plek-plek herhaal wat hy sê in ’n poging om te probeer sin maak. Blykbaar het hy voorgestel dat hulle twee romanties verbind raak en Koos gewaarsku dat Marlene “’n brose dame” is. Wie is hierdie mense wat die kaartjies koop om na skrywers te kom luister?



LitNet: 15 April 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.