Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kleinboer dodge die koeëlreën

Zani Botes en Erns Grundling

Heupvuur vs Kleinboer

1. Wat is die eerste ding waaraan die woord Heupvuur jou laat dink?

Diepsloot. Niks laat my egter ooit aan net een ding dink nie. Heupvuur laat my ook dink aan Queen se song “Another one bites the dust”, veral die liriek “Out of the doorway the bullets rip!”. Heupvuur laat my ook dink aan ’n masjiengeweer in die hande van Rambo, en springmielies.

2. Kan jy jou die lewe indink sonder die SêNet-sepie?

Nee. Dis net jammer sommige van die karakters klou so hardnekkig aan die lewe vas – hulle weier om hulself uit die storie uit te skryf. Maar ’n sepie het mos maar skurke ook nodig. Ja, ek’s verslaaf aan SêNet soos aan moerkoffie.

3. Voel jy geëerd om die Virtuele Dopper Joris-Oskar van LitNet te ontvang?

Baie geëerd, veral om dit ná Eben Venter te ontvang. Ek wonder net steeds wat beteken die skuilnaam van die kêrel (Pulvermacher) wat “Dopper Joris en Syn Seiltjie” geskryf het. En verwys die “Dopper” hier na ’n suiplap of na ’n kerkganger?

4. Het Kontrei jou stoutste verwagtings oortref?

Ja. Omtrent 600 van die 1 000 eksemplare wat gedruk is, het reeds die verspreiders (On the Dot) se voorraadmagasyn verlaat (nota vir Jackie Nagtegaal: ’n voorraadmagasyn is maar net ’n depot). Dit beteken nie dat 600 Kontreie alreeds op bedkassies bo-op Bybels lê nie. Baie van die 600 Kontreie is nog in boekwinkels. Maar hulle verkoop soos soetbroodjies oor ’n toonbank. Ek’s byna seker Praag sal voor die einde van Februarie nog Kontreie moet laat druk, hopelik meer as ’n duisend. Resensies van die boek begin nou verskyn, wat die verkope ’n ereksie behoort te gee, en dan gaan ek in April KKNK toe om die boek daar te help bemark.

5. Dink jy die uitgewers wat jou nie ’n kans wou gee nie, sit nou met hulle hande in hul hare na die goeie reaksie op die boek?

Ag nee wat. Mens & Rousseau verkoop genoeg ander boeke. Dis nou nie asof dit ’n Harry Potter-vis is wat weggekom het nie.

6. Indien jy ’n opvolgboek sou skryf, wat sou jy dit noem?

Ek het ‘n paar moontlike titels, en wil hulle eintlik geheim hou vir ’n paar jaar, maar sal één nou op LitNet se aandrang uitlap. Eers ‘n verduideliking. Die term fyndraai verwys mos na daai oomblik wanneer mens begin kom en jy die golf nie meer kan terughou nie. Ek het al agtergekom dat mens, terwyl jy seks het, nog al die geluide kan hoor (musiek wat oor die radio kom, die vrou se gekreun, die verkeer in die straat), maar net sodra mens begin kom, en ook terwyl die ejakulasie aan die gang is, word jy tydelik doof. Byna stokdoof. Selfs jou eie gekreun vervaag, en ek dink mens is meer bewus van die vibrasie in jou kop en keel wat deur jou stembande veroorsaak word as die klank self. Dis hoekom ek hiermee speel as ’n titel vir my volgende boek – mits daar seks in die boek is, bygesê: Doof naby fyndraai.

In ons oerdae, dink ek, was dit dikwels gevaarlik om seks te hê. Ek praat nou nie van die sessies in die grot met jou eie wyfie nie, maar van die seks wat plaasgevind het terwyl jy alleen of saam met jou mannetjie-trawante iewers ver op ‘n jagtog was vir kos. As mens dan ‘n begeerlike vreemde wyfie gesien het, en jy haar kon oorreed of “betaal” met kos om seks te hê, moes jy dit vinnig doen. Jy was dalk in die gebied van ‘n ander trop of stam, en hulle sou jou doodmoer as hulle jou op een van hulle wyfies betrap het. Natuurlik is Moeder Natuur so slim dat sy sorg dat die man meestal voor die wyfie ‘n orgasme het. Moeder Natuur is begaan oor die voortbestaan van die spesie, en sy weet die mannetjie wat die spermselle moet voorsien, is in gevaar – hy moet gou klaarmaak en spore maak. Maar sodra die sperms in die wyfie uitgeskiet word, laat Moeder Natuur die mannetjie in die steek. As die gevaar dan sou toeslaan, wil Moeder Natuur nie hê dat die mannetjie sy voël moet uitpluk en die saad op die grond moet mors nie. Hy’s dus heeltemal weerloos tydens orgasme; hy’s doof en onbewus van naderende gevaar – die wêreld buite sy eie liggaam en dié van die wyfie vervaag. Die senuwee-eindpunte in die voortplantingsorgane gaan so op in die heerlikheid van die orgasme dat alle ander sintuie uitgedoof word. Doof naby fyndraai. Mens maak selfs onwillekeurig meestal jou oë toe wanneer jy kom.
(Nou weet julle hoekom is mans so ekstra jags wanneer hulle ‘n vreemde stad vir die eerste keer besoek: dis oor Moeder Natuur variasie in die genepoel van die mensdom aanwakker.)

7. Die vroue wat deur jou hoofkarakter besoek word, is altyd in ekstase oor sy seksuele vermoëns. Word daar nie juis van prostitute verwag om vol pluimpies te wees oor mans se vermoëns in die bed nie?

Ja, maar nie alle pluimpies wat prostitute uitdeel, is fake pluimpies nie. En ’n man weet wanneer hy ’n diepe indruk maak. Om uit Kontrei aan te haal: “Paula hou haar asem in, en met omtrent elke sewende stuwing van my in haar lyf kom ’n oersteunkermkreun uit haar keel waarna ek nie genoeg kan luister nie. Daar’s selfs iets sangerigs daaraan, ’n noot van ekstase, versugting.”

8. Watter ander temas, behalwe prostitusie, sal jy graag wil aanpak in jou werk?

Kulturele kruisbestuiwing. Die chaos van Rockeystraat in Yeoville. Tsotsi-taal. En dan wil ek ook ’n trip na Kenia inpas vanjaar. Ek het ’n joernalis-vriend wat daar werk by wie ek verniet kan oorbly. Hy’s egter ’n groot liefhebber van bier en brandewyn. Die geld wat ek op huisvesting spaar, sal sy kurkkeel moet natmaak. Ek sal probeer om ’n joernaal te hou van die reis en dit in my volgende boek inwerk. Dan sal die naderende middeljare seker ook ’n invloed op my skryfwerk hê, alhoewel dit hopelik ’n kwarteeu te vroeg is om Viagra te betrek.

9. Wie is die laaste persoon saam met wie jy in ’n hotelkamer toegesluit wil wees?

Freedom, die skelm wat ek amper in Kontrei geskiet het. ’n Ander persoon wat ek ten alle koste wil vermy, is Willie Hofmeyr, die regering se assets forfeiture unit head. (Jackie, hier’s dit in Afrikaans: hoof van die bateverbeuringseenheid.) Ek het Hofmeyr gelukkig nog net op TV gesien; hy’s die grysste persoon wat ek nog aanskou het, selfs valer as Carl Niehaus. Hy krys soos ’n papegaai wat se vere uitgepluk is.

10. Watter beroemde vrou se klere wil jy graag om haar enkels sien?

Susanna van Agulhas. Ook ’n jong Tina Turner. En dan ook die drie vrouens van die Amerikaanse rap-groep Salt-n-Pepa wat in die tagtigs en negentigs musiek gemaak het. Hulle name is Cheryl James, Sandi Denton and Dee Dee Roper. Nie dat ek ’n groot rap fan is nie, maar ek het een video van hulle gesien wat die stoom uit my TV-stel laat trek het. Ongelooflike pakgee-diertjies. Ek sal wat wil gee vir ’n karavaanvakansie saam met hulle. Hoe lekker sal ek nie met die wulpse drietal braai nie! Hulle kan speserye bring, en ek sal die res van die condiments (Jackie, vertaal asseblief!), soos rissiesous, voorsien.

11. Wat is jou gunsteling boek?

Habakuk in die Ou Testament. Nee, ek speel alweer. Dis Breyten Breytenbach se Woordwerk. Die boek is in 1999 deur Mens & Rousseau uitgegee, en moes veel meer aandag getrek het, voel ek. Dis verstommende prosa. Luister na hierdie stukkie: “So hinkepink almal aan dood toe en al draal party mense ook in herberge om te kyk hoe dans die skaapvangers, op die ou einde kom almal wel tuis, mens moet net versigtig genoeg wees om nie te verdwaal nie.”

12. Wat is jou gunsteling broek?

My klere-situasie is benard. Ek sal voor KKNK iets daaraan moet doen, of dalk kan ek in Oudtshoorn aan die begin van die fees by ’n vlooimark ’n paar kledingstukke koop. My gunsteling broek is tans my industrial-strength (Jackie?) grys Jockey-onderbroek.

13. Skryf vir ons een sinnetjie onsin.

Dis ’n uiters onredelike versoek, waaraan ek nie kan voldoen nie. Om my, ’n spesialis-skrywer van onsin-sinnetjies, te beperk tot een sin is gemeen. Hier volg agt sinnetjies onsin:

  • Sedert ek my honde in die sendelingposisie betrap het, is my gedagtes ‘n warboel.
  • ‘n Noodvoertuig hie-hô-hie-hô in my kop, en ‘n wit poeletjie verskyn eensklaps in die kuiltjie van Pamela se keel.
  • As jou opblaaspop dans, dans jy saam, of sit jy net vermakerig en wag vir haar om in jou skoot te val?
  • Ek weeg myself voor en ná elke opelyf en doen dan ‘n ingewikkelde aftreksom en rond die antwoord (in kilogram) af na drie desimale plekke.
  • Die vierkantswortel van ‘n jaarring is ‘n blokkie hout.
  • Ek dra Braille-klere nie om blindes die harnas in te jaag nie, maar om myself makliker in die donker te kan aantrek en uittrek.
  • Niekwaadaardige vratjies maak jou piel wel op die oog af dikker, maar ook onaanskouliker, en stel jou bloot aan ’n koue skouer se wegstoot.
  • Nadat ek gepie, gekak, gekots, my neushare gesnoei, dieselfde neus geblaas, geskeer, gebloei, my draad getrek, gestort, en twintig van my naels geknip het, het ek gaan loop, verby ‘n kleuterskool onder skoenlappers, verby note aan ‘n boom, gestop om my hare te laat kap, en toe venster-inkopies gedoen, veerlig.




13 Februarie 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.