Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.


Jeanne Goosen: “ek lag my gat af.”

Deborah Steinmair

Jeanne Goosen: digter, skrywer, joernalis, is deur Sandra Prinsloo as ’n anargis en deur Ampie Coetzee as “almal se geliefde rebel” beskryf. Ek noem haar ’n natuurkrag. Sy gaan wys my in haar piepklein agtertuin op Melkbosstrand dat sy sowaar ’n sjoesjoe (tipe pampoen) aan die groei gekry het in die Kaap, blykbaar ’n grootse prestasie. Daar rank hy teen die pre-fab muur en stoot al twee klein pampoentjies uit. Teen haar kombuiskas pryk ’n opskrif uit Die Son: “Sexy Pam stik en naai haar oor ’n mik.”

  • Jy was in die struggle. Is die struggle nou verby?
    Nee, dis nie verby nie. Lank lewe die struggle.

  • Wat is oor om voor te struggle?
    Ek haal aan, met apologie, ek weet nie wie dit gesê het nie: dat die eerste plig van die skrywer is om sy rug te draai op die regering van die dag. Ons regering is byvoorbeeld anti-doodstraf, maar terselfdertyd sal dit hulle nie pla as die 70 Suid-Afrikaners die doodstraf opgelê gaan word in Zim nie.

  • Wat dink jy van die taalstryd?
    Ek dink nie daaroor nie, ek dink nie daar’s ’n stryd nie. Ek was nou die dag by ’n skool in Atlantis waar die vraag gevra is - sal Afrikaans bly leef? Die kinders het eenparig JA geantwoord. Ek het al voorheen gesê: Afrikaans is die taal van arm mense, dit is die toekoms. Ek beskou dit as ’n potensiële bevrydingstaal, dis hier gebore.

  • Dink jy witmense eien Afrikaans te veel vir hulself toe?
    Ja, dis te verwagte by mense wat insecure voel. ’n Taal is verhewe bo dit. Met Mbeki is almal ongelukkig weer in kompartemente.

  • Wie is jou gunstelingskrywer in Afrikaans?
    Anna M Louw en Elsa Joubert.

  • En van die jongeres?
    Kleinboer, Eben Venter, Nini Bennet, en een wat oor almal uittroon: Marlise Hobbs wat binnekort gaan publiseer.

  • En digters (internasionaal ook)?
    Breytenbach, Paul Celan, Raymond Carver, Ensensberger, Marianne Moore, Emily Dickinson.

  • Watter musiek inspireer jou by die skryfproses?
    Barok. Ook high opera, sangers soos Callas en di Stefano, Pavarotti.

  • Wat laat jou soggens uit die bed opstaan?
    My behoefte om na opera te luister, veral Tosca en La Boheme. Die groentetuin en die honde. Die kos wat ek gaan kook.

  • Het jy raad aan aspirantskrywers?
    Kap dit uit. Absorbeer en observeer. Alles om jou.

  • Wat sou jy wou wees as jy nie skrywer was nie?
    ’n Tuinier vir ’n instansie wat die natuur belangrik ag. Met genoeg plek om pampoene te plant. ’n Boer. Ja, ja, ja, definitief ’n boer. En ’n vegter vir diereregte.

  • Wat maak skryf vir jou die moeite werd?
    Die tjeks. En dis al wat ek goed kan doen. Ek het vanoggend ’n marvelous ding geskryf. It made me very happy.

  • Wat maak ’n rubriek geslaagd?
    Dis altyd ’n kommersiële saak. Hoe goed jy jou publiek ken. Of jy jou publiek gelukkig maak. Hoe jy kan infiltreer met sekere gedagtes om van ’n paar lesers vriende te maak. Dit is baie belonend. Dit verg baie geduld jeens lesers wat jou vyandiggesind is.

  • Waarmee is jy tans besig?
    ’n Roman, dag en nag. Oor die Karoo. Ek het ’n meevallertjie gehad en kan nou vir eers al my tyd daaraan bestee. Dit het nog nie ’n titel nie, maar ek belowe dit sal nie ’n titel soos Droogte hê nie. Niemand moet iets groots verwag nie. Die Karoo is die Karoo. Aartappels, rys en vleis. Schluss. Van daar gaan ’n ou maar verder.

  • Sal jy ooit weer poësie publiseer?
    Ek het ’n bundel, ja. Dis wel goedgekeur, maar ek is nog nie happy daarmee nie. Ek was 25 jaar gelede in my trap-der-jeugd-jare uitgekak en met reg. Ek dink my idee was groter as ek en van toe af het ek nie meer poësie gepubliseer nie, al het ek dit aanhou skryf. Ek dink come hell or high water, ek is nou reg vir ’n bundel poësie, al sê wie wat.

  • Ontwikkel ’n mens algaande ’n dikker vel?
    Weet nie of ’n mens kan praat van ’n dikker vel nie. ’n Mens leer uit al die bundels en goeters om nie alle kritiek kop toe te vat nie. Ekself bly maar sensitief oor wat die base gaan sê.

  • Het jy nog iets vir ons lesers te sê?
    Ek lag my dood. Elke dag. Elke dag lag ek my dood. Alles is so fokken befok in hierdie land en alles het so ’n kwessie van erns geword dat ek my doodlag. Maar die lag is ook erns. Ek kan nie meer anders as om die hele fokken lewe soos wat hy hom elke dag aan my voordoen, op te stuur nie. Ek sou graag weer jonger wees, met minder ervaring en glo dat daar wel hoop is vir ons samelewing. Alles wat ek skryf is ’n opstuur van alles. Ek mis my erns oor erns, weet jy. Maar die wêreld is een groot fokop.

    Die tradisionele skrywer gaan nog aan met ’n bleddie tema. Ofskoon ek die skrywers respekteer, lag ek my gat af oor die erns waarmee hulle die dag-tot-dag lewe konfronteer.

    Kyk noord en fok voort. Is daar enige ander uitweg vir ’n skrywer in Suid-Afrika?

    LitNet: 1 Junie 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.