Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Boekresensies

Piet Pompies

Healing Mantras: Using Sound Affirmations for Personal Power, Creativity and Healing

Thomas Ashley-Farrand

Uitgewer: Ballantine Wellspring.
Beskikbaar by: Vital Radiance, Winkel nr 20, Campus Square Sentrum, Kingsway, Auckland Park. Tel (011) 482-6903.
Prys: R180.

Hierdie insiggewende boek was ’n plesier om te lees en bestudeer, soos “magic” wat uit die blaaie spring. Dis ongeëwenaard as ’n gids tot lewensverruiming, en op sigself uiters boeiend in sy oorsig oor die agtergrond, geskiedenis en toepassing van klankgenesing.

Vediese kosmologie, wetenskaplike opinies oor klankvibrasie, karma, astrologie en die esoteriese liggaam — met gedetailleerde bespreking van die charkas — word ook behandel. Al die belangrike lewensterreine word gedek en spesifieke mantras word vir spesifieke situasies aanbeveel.

Daar is ’n fonetiese gids tot die uitspraak van die Sanskrit-mantras en Engelse vertalings daarvan. Een ding wat die outeur nalaat om te sê, is dat mens met net EEN mantra moet begin. Ek het dit aanvanklik effens oordoen en ietwat vreemd gevoel vir die duur van die program (psigiese oorbelading).

Daarna het ek die outeur hiervan laat weet en baie interessante gesprekke met hom gevoer. Sy webwerf kan by www.sanskritmantra.com besoek word. En o ja, die mantras werk!


Visions of God: Four Medieval Mystics and Their Writings


Karen Armstrong

Uitgewer: Bantam Wisdom.
Beskikbaar by Outer Limits, Mainweg 8, Melville. Tel (011) 482-3771.
Prys: R80.

Die vier Middeleeuse mistici wat hier bespreek word, getuig van die diepte en intelligensie van die spirituele belewenis in Engeland in die 14de eeu en kan dalk die oplossing bied vir ’n godsdiens wat steriel geword het, veral in sy Protestantse weergawe.

Armstrong bespreek die volgende “mistieke” in inleidings tot hul vernaamste tekste, wat volledig weergegee word:

  1. Die eksentrieke Richard Rolle van Hampole en sy werk The Fire Of Love.
  2. Die onbekende outeur van The Cloud Of Unknowing en dié roerende teks.
  3. Die nugtere Walter Hilton en sy werk The Ladder Of Perfection.
  4. Julian van Norwich en haar werk Revelations of Divine Love.

My gunsteling is die toeganklike Cloud of Unknowing met sy humor en klem op die innige spirituele ervaring, maar ek vind ook aanklank by Julian se meer ernstige benadering. Richard Rolle is bietjie eendimensioneel en ekstreem vir my, terwyl Walter Hilton nie vir my misties genoeg is nie.

Elkeen van hulle het egter ’n reis uitgevoer in die dieptes van die self in, en elk het ’n persoonlike geloof geskep wat ’n meer intieme ervaring van die goddelike beskryf.

Armstrong se insiggewende inleiding wys hoe die mistieke belewenis in alle godsdienste dieselfde is, en haar vertolkings van hierdie tekste dien as aanmoediging vir spirituele soekers in die Christelike tradisie.

Hierbenewens herstel Armstrong die grootste stemme van die lankverlore Westerse mistieke tradisie in ere. In die 21ste eeu sal meer lede van die Christendom dalk die mistieke weg as ’n meer betekenisvolle vorm van godsdiens herontdek, as plaasvervanger vir die konvensionele en dogmatiese praktyke van die huidige hoofstroom.


The Art of Meditation

Stuart Wilde

Uitgewer: Hay House.
Beskikbaar by Aquarian Books, The Colony Sentrum, Jan Smutslaan 345, Craighall Park. Tel (011) 880-9252.
Prys: R220.

Dié titel bestaan uit twee oudiokasette waarop hierdie gunsteling-outeur van my die A — Z van meditasie, metronome en die aard van die “trans-bewussyn” toelig.

Wetenskaplike eksperimente met EEG-toestelle het bewys dat breingolf-aktiwiteit deur klank beïnvloed word. As mens byvoorbeeld na ’n theta-metronoom luister (vier siklusse per sekond), pas die brein outomaties by dieselfde ritme aan. Deur die gebruik van metronome kan ’n mens moeiteloos — sonder enige vorige ervaring — dieselfde vlakke van bewussyn betree wat deur jogi’s en mistieke gebruik word.

Drie metronome word hier voorsien: die hartklop, delta en theta. Die pakket bevat boonop ’n klein meditasiegids met die volgende hoofstukke: The Blissful State; Benefits Of Meditation; Brain States During Meditation; How To Meditate; en Techniques For Meditation. Dis ’n uitstekende gids om nuwelinge te leer mediteer.

My enigste klagte is die steurende theta-klank — ek het intussen ander theta-metronome ontdek wat meer subtiel is, bv dié van dr Eldon Taylor soos beskikbaar op sy webwerf www.innertalk.com. Ek meen, ek hou van industriële musiek soos Battery 9 s’n, maar elke ding het sy tyd en plek.

Met hierdie voorbehoud beveel ek dié kassetstel aan vir mense wat graag die vreugde van meditasie wil ondersoek. Verder beveel ek ook Wilde se boeke aan, veral Affirmations, The Force en The Quickening, almal meevoerende werke oor die geestelike sy van ons bestaan in die outeur se kenmerkende humoristiese styl.


Mind Magic: Techniques for Transforming Your Life

Marta Hiatt

Uitgewer: Llewellyn Worldwide.
Beskikbaar by: Vital Radiance, Winkel nr 20, Campus Square Sentrum, Kingsway, Auckland Park. Tel (011) 482-6903.
Prys: R134.

Marta Hiatt skryf in die tradisie van die groot 20ste-eeuse “sielswetenskaplikes” soos Ernest Holmes (Religious Science), Joseph Murphy (Divine Science) en Charles & Myrtle Fillmore (Unity), maar uit ’n meer sielkundige eerder as gnostiese perspektief, waarin die insigte van byvoorbeeld Carl Jung deeglik geïntegreer is. Sy put ook uit haar praktiese ervaring as ’n huweliks- en gesinsterapeut.

In die eerste gedeelte, The Evolution of Consciousness, verduidelik sy die werking van die bewussyn/psige (“mind”). Die tweede deel voorsien transformasietegnieke soos bevestiging, selfhipnose, die inspan van die verbeelding, visualisering en die doelwit van transformasie: kosmiese bewussyn.

Die sleutel tot geluk lê daarin om te leer hoe om jou innerlike landskap te herskep sodat jy die hoogste lewensvervulling kan smaak. Hierdie boek is ’n moderne “classic” wat mens presies vertel hoe om dit reg te kry op ’n intelligente dog maklik verstaanbare manier. Ek beveel dit sterk aan vir almal wat voel dat die lewe meer moet wees as wat hulle tans ervaar.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.